Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Saterdagoggende maak ons ontbyt. Ons doen 'n bietjie meer moeite. In die week is dit oatspap of iets vinnig. Maar Saterdae is anders. So verlede Saterdag maak ek ’n omelet. Daar is niks om in die omelette te sit nie so ek vat 'n ekstra eier. So breek ek die eiers in 'n bakkie om te klits. En die Heer se genade is groot, want toe ek die vierde eier kraak om in die bak oop te breek toe breek die dop snaaks oop maar die membraam hou en onder die membraam sien ek 'n toekomstige hoender wat lankal nie meer die toekoms gaan sien nie. Of moet ek sê 'n verlede tyd aspirant-kuiken, want die reuk was, ... heel membraan en al, ... onplesierig. Dis nou waar ek baie dankbaar raak, want solank die membraan hou is die reuk draaglik en ek kan dit gou ver weg gaan weggooi en... En ek het dit dankie tog nie by die ander eiers ingebreek nie. Ontbyt is gered! Maar sê nou net ek het nommer 4 in gebreek by die ander? Sou dit gewerk het as ek met 'n wasgoedpennetjie, om my neus toe te hou, die vrot deel versigtig uitgeskep het? Nee. Want die res is reeds besmet. Dit sou ons dodelike siek gemaak het. So is dit ook met ons lewens. Dit is wat Paulus in die Romeine brief sê. Een sonde besoedel ons hele lewe. En dan moet God ons hele lewe weggooi. Ja, daardie een ou klein sondetjie, daardie een ou slegte gewoontetjie, daardie een wit leuentjie besmet jou lewe tot toksiese vlakke en God moet van jou iewers ver ontslae raak. Net 1 sondetjie. Net een vrot eier. Genadiglik is God nie soos ons nie. God het lief dit wat Hy geskep het. God word mens in Jesus en Jesus, Seun van God word in God se oë ons vrotheid en dra die straf op ons sonde. Deur Jesus word ons gered. Efesiërs 2: 1 - 10. Dus ... alles is net genade. Ons het niks om op te roem nie. Ons is deur genade alleen gered. As ek 'n oomblik kan terugkeer na my beeld van omelet maak, na die genade dat die vrot eier raakgesien en weggegooi is voor daar besmetting kon wees, besef ek dis ook genade om na die stem van die Gees te luister soos die Gees ons lei, sodat die res van die eiers, die res van ons lewens skoon en onbesmet kan bly. As jy al 'n vrot hoender eier geruik en beleef het, hoop ek dit inspireer ook jou om jou lewe volgens God se standaard skoon te hou.