Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Maandag oggend begin ek skryf aan die week se boodskappe. Marisa vra my wat wil ek vir ontbyt hê. En ek sê: Ek wou sê ‘n eiertjie op ‘n sny roosterbrood, maar toe onthou ek en nou is ek te bang om te sê ‘n eiertjie. Dit maak sin. Vir my in elk geval, maak dit baie sin. Want wie sê daar is nie nog vrot eiers in daardie eier houer nie? Ek het regtig nie lus om weer van ‘n vrot eier ontslae te gaan raak nie. En skielik is dit irrelevant of al die ander eiers goed is, daar was ‘n vrotte, en die vrotte was ook in daardie houer. Nee wat, hou verby. Is dit nie wat ons met onsself doen nie? Ons bly onsself kasty met foute gemaak. En ons kasty ons oor goed wat jare terug gebeur het en ons doen dit met die kennis wat ons nou, jare later het. As jy mooi daaroor dink, die verlede bestaan nie meer nie. Al wat ons het is die nou, hierdie oomblik. Die volgende oomblik is nooit ‘n gegewe nie. So maak die beste van hierdie oomblik. En vergewe jouself die gisters en die eergisters se misstappe. Dit is nogals vreemd dat mense ander mense sal vergewe, selfs erge dinge met die tyd saam, sal vergewe. Maar daardie selfde mens kan hulself nie vergewe nie. Moenie so wees nie. Vergewe jouself. En vergeet daardie ... sal ek maar sê vrot oomblik. Dit is ook netso vreemd dat mense kan bid Vader, vergewe ons ons oortredinge soos ons die wat teen ons oortree vergewe, en dan van hul kniee af opstaan en steeds verseg om ander te vergewe. As ekself dan vrot is, of vrot was, hoe kan ek iemand anders wat nes ek is, nie wil vergewe nie, maar self wil ek vergifnis hê? Dit maak nie vir my sin nie. Ek kan verstaan as jy na ‘n slegte ervaring met iemand, lugtig is vir hulle en hul dalk liefs vermy. Dis nie reg nie maar ek kan dit verstaan. Want as jy eenmaal ‘n vroteier ervaring gehad het, dan is jy lugtig vir nog so ‘n episode. Dan dink jy twee keer of jy regtig uit daardie houer eiers wil eet. Sê nou net ... daar is nog ‘n verrassinkie. En in dieselfde trant voel ons oor mense ook so. Jy het my een keer diep seer gemaak, sê nou net jy het nog ‘n paar vrot ervarings in jou mandjie vir my? En tog maak God nie so met ons nie. Vergewe God ons keer op keer al weet Hy ons gaan dit weer aan Hom doen. En as dit by mekaar kom, dan sê Jesus ons moet mekaar selfs 70 x 7 keer vergewe. Jesus bedoel oneindig kere vergewe. Miskien moet ons nie te gou die spreekwoordelike kind saam met die bad water uitgooi nie, of liewers in my geval, dalk moet ons nie te gou die res van die houer eiers weggooi nie. So ek het toe Maandag maar ‘n eier op roosterbrood geëet. Maar my kop was maar steeds effe negatief jeens die eiers. En daar tref dit my soos ‘n hammer hou tussen die oë. As ek en jy sondig, ander seer maak, dan bly daar ‘n talmende negatiewe gevoel jeens God. Want as ons as God se kinders dit kan doen , wie weet wat ons nog kan aanvang. Vader vergewe ons t.w.v. U heilige Naam. Moet tog nie dat ons lewens ander ‘n weersin aan U gee nie. Nie ons meerderwaardigheid of beterweterigheid, nie ons kuier maniere of ons taalgebruik, of selfs ons bestuur, mag geen aspek van ons lewens vir ander ‘n vrot smaak nalaat nie.