Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Kan jy glo: Dit is al Januarie. En ons het heerlike reën ontvang, die dam is tot op sy nate vol. God het reën gegee, Hy weet ons het dit nodig. Hy het als geskep. Die natuur ook en Hy hou alles in stand. God het nie laat los nie. En die blomme is mooi. En daar is orals nuwe groei. En so ontvang ek ‘n Whatsapp van ‘n vriendin af in reaksie op een van my vroeëre stories oor marathonne. En sy sê: Diëte werk ook soos ‘n marathon. Sê sy my, dit is maklik as jy op ‘n dieet is, want jy is gefokus ... maar as jy daar klaar is, wat dan? Sy het nie veel meer uitgebrei nie, maar my kop het op loop gegaan. En ek het uitgekom by brullende leeus. Nee, jy kan hulle nie eet nie. En ja, hulle kan maklik jou ondergang wees. Ek dink aan Petrus wat vir ons skryf dat die duiwel is soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind. En ons moet daarom nugter wees, helder van denke en fokus. Wakker wees. Want anders is dit die begin van die einde. Die laaste frase is my toevoeging by 1 Petrus 5: 8. In die taal van diëte: as jy eers een keer begin kroek het op jou dieet, word dit al moeiliker om by jou dieet te hou. En die een sny roomkoek, word more iets anders en ewe skielik is die al die lekkerte wat weer oor die lippe gegly het, vas gegiet soos beton om jou middel. Kom ek trek die gedagte oor in wat ek dink die gevaar nog meer uitspel: jy gaan hierdie liefdes- verhouding in en die verwagting is julle gaan getrou bly aan mekaar. En dan soos jy by al die dieet geleer het, dink jy ook hier kan ek myself mos maar so een cheat toelaat. Net nou is dit nie ‘n lekkerny, maar iemand anders... Jy kan dink dat dit die einde van jou verhouding gaan beteken. Jesus is die groot liefde in ons lewe. Ons het Hom so lief dat ons op ‘n dieet van die wêreld af gaan. Geen wêreldse vir ons nie, net Christus. Wil ek rêrig nou myself die ruimte laat om te cheat? Nee. want die duiwel is ‘n brullende leeu. En soos met ‘n dieet is een keer se sonde doen more ‘n tweede en ‘n derde keer en gou-gou ‘n nuwe stroom van sonde in my lewe. En daardie stroom se water is so brak jy kan dit nie drink nie. Petrus is reg. “Bly standvastig in die geloof en staan hom (dis nou die duiwel) teë. Ons vriendin het gesê terwyl jy dieet is dit maklik, maar wat kom daarna? God het jou sy kind gemaak, wat kom nou hierna? Fokus daarop om te lewe op maniere wat God behaag en die sondes van jou lyf af weg hou.