Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek sien ‘n bordjie in ‘n Spar supermark wat iets sê in die lyn van: “ Its is human to eat; its divine to eat well.” Ek hoop ek onthou dit reg. Nietemin, dit het my laat dink aan Hilda van Sewende laan, en nee, ek is al baie jare oor dit, maar wat jy gehoor en gesien het kan jy nou ook nie aldag ont-hoor of ont-sien nie. So onthou ek Hilda kon sulke vreemde goed bymekaar sit as sy kos maak. Sy was ietwat berug vir haar bak en brousels. En tog was sy eintlike ‘n wonderlike mens in die storie. Ek wil nou gesels oor bestanddele. Want om hemels te eet het jy goeie bestanddele nodig. En nee, ek dink ek is klaar met vrot eiers. Ek is nou ook oor dit ook. Ek vertel eerder stories uit die binnekamers van ‘n Sondagoggend in ‘n konsistorie iewers. Daar is ‘n besoekende dominee, en hy vra vir een van die ouderlinge om te bid. En die ou oom, hy was ‘n plaasboer, begin bid: Vader, ek haat karringmelk. En dikmelk ook.” En die dominee maak so een oog oop om te kyk of hy nie kan sien wat gaan nou volgende kom nie. En die oom bid verder “en ek haat vet ook. En soos U weet, Here, haat ek ook daardie wit koekmeel wat die vrou aldag aanskaf.” En nou kan jy self dink hoe ongemaklik raak dit daar in die konsistorie, waarheen gaan die oom met die gebed!?! Maar hy bid passievol voort: “Here, maar as U al daardie goed vat wat ek so haat en U meng dit saam en dit word gebak, dan lief ek daardie koekies baie. En Here, help ons as die lewe moeilik raak en ons haat wat gebeur, en die lewe is moeilik, en ons verstaan nie wat U vir ons probeer sê nie, help ons om geduldig te wag tot U alles mooi gemeng en gebak het. Want ek weet dat alles wat U doen, baie beter is as die beste koekies wat my vrou kan bak. Amen. So maak baie goed in die lewe nie altyd sin nie, nê? Kom ons leer om God te vertrou dat Hy met die bestanddele van ons dag iets moois en geurigs sal bak. Kom ons leer ook om anders as die oom nie sekere bestanddele te haat nie, maar liefs te wag vir hoe dit in samewerking met ander iets goeds voortbring. Ek sien by die kleinkinders dat hulle van die meeste bestanddele niks hou nie. Ek hoor gereeld hulle eet nie dit nie of nie dat nie. So het hulle ‘n girls night by hul ouma en ouma maak pizza. Ouma vat toe kortpad en koop sommer ‘n klaargemaakte gevriesde pizza en druk dit in die oond. En o wee, die lys van goed wat die jonge dames nie eet nie is alles op die pizza! Maar ‘n ouma is slim. Sy sit ekstra kaas op, druk dit in die oond. Sit vir hul ‘n storie op tv aan en sit die lig af. En daar in die donker eet die madêmpies alles op. Wys jou net, sekere bestanddele moet jy net eers in ‘n kombinasie ontdek. Soms werk ‘n verhouding of ‘n vriendskap nie uit nie, want die bestanddele werk nie mooi saam nie. Dikwels is nie een van die twee mense ter sprake, inherent sleg nie. Albei is goeie bestanddele, maar die mengsel saam werk net nie uit nie. En dit is omdat ons Hilda-oomblikke het waar ons dink alles wat lekker lyk of proe sal saam ook lekker wees. Of in Bybelse taal, omdat ons nie God se wil volg nie. Ons vra nie die Meester of hierdie bestanddele saam gaan werk nie. Ons almal staan in talle verhoudings elke dag. Ons moet saam met baie mense werk, of in die winkels rondbeweeg. En sommiges is aangenaam en vriendelik en bedagsaam en ander is, wel hoe sal ‘n mens dit mooi stel ... hulle is mense wat dink almal skuld hulle en hulle moet bedien word. Koninklikes sou ‘n mens kon sê. Die versoeking is om dan negatief te raak en toe te laat dat sulke mense jou dag bederf. Moenie ingee vir daardie versoeking nie. Moet ook nie ingee vir die versoeking wat sê haat hulle, of sê hulle sleg, of wys hulle waar het Dawid die wortels begrawe het nie! Sê vir jouself: Dis eintlik goeie bestanddele. Ek sal die Groot Chef van die Heelal, ons Vader vra, hoe gemaak met daardie bestanddeel? En dan het jy daardie mens lief al is dit net omdat God hulle lief het. Toe hulle vir Jesus gevra het wat is die heel belangrikste wat God van mense verwag toe sê Hy: Jy moet liefhê! Jy ken die vers. Ek gaan dit nie aanhaal nie. Net sê liefhê. Hieraan, aan jou liefde sal mense weet jy is ‘n kind van God, ... of nie.