Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek sit in die Bybelstudie en ons praat oor keerpunt in een van die psalms. By ‘n sekere vers is daar ‘n duidelik ommeswaai. In Psalm 139 is daar ‘n duidelike beweging. So ook in Psalm 13. Jy kan sien hoe die digters se kop skuif. En hy met nuwe oë en ander kere met meer nederigheid na God kyk. Verlede Donderdag lê ek wakker en kon nie slaap nie. En ek dink oor die keerpunte in my lewe. Daar is baie sulke oomblikke. Oomblikke van bekering. Oomblikke van bewuswording. Maar ek bly by een, nee twee, vashaak. Dalk was dit ‘n subtiele skuif. Subtiel ... want dit het oor tyd gebeur. Ek gaan jou nie verveel met al die detail nie. Die eerste was die skuif in die kontemplatiewe in. In stiltes in. Om in stilte by God te sit met die versugting dat God in my sal werk en my sal verander. In daardie stil word oomblikke het wat ek in my kop geweet en bely het, in my hartsake ingesak. God se teenwoordigheid as nie meer net ‘n belydenis, wat ek self al weerspreek het met goed soos, dit voel ek bid vandag teen die plafon was, na die ervaring, die besef, God is hier. Om my in my. Ook ek is tempel vir die Heilige Gees. Ek moes Hom tuis laat wees en al die deure oopgooi vir Hom om vrylik te kan beweeg en beheer. Ek wil nie hê die Heilige Gees moet voel soos iemand wat ‘n huis gekoop het en die sleutels ontvang en dan agterkom die vorige eienaar sluit hom steeds uit sekere dele van die huis uit .. net omdat dit nog nie reg is om te laat gaan nie. Geloof is om te laat gaan en die beheer ten volle aan God oor te gee. Die tweede kopskuif was rondom hoe ek Jesus volg. Soos jy, het ek ook geweet van dissipelskap en Christen-wees. Kursusse ook gedoen. Trouens toe ek jare gelede hier aangekom het toe was die gemeente besig met die dissipelskap reeks. Nou is dit anders. Nou wil ek elke dag by Jesus wees. Elke dag leer hoe om in die koninkryk van die hemel te leef. Nou is ek ‘n dissipel wat weet my appy-skap sal nooit voltooi wees nie. Ek sal altyd agter Jesus aan wil leef. ‘n Skotsman se woorde lê my diep aan die hart. Ek het dit iewers raakgelees rondom begrafnisse. Al wat ek kan onthou is die frase: “If I die I am with Christ. If I live Christ is with me.” ‘n Dissipel glo nie soseer om eendag hemel toe te gaan of die ewige lewe te hê nie. ‘n Dissipel wil nou reeds hier elke dag leef soos daar in die koninkryk van die hemel gedoen en geleef word. Ons fokus is nou meer op Jesus is nou reeds by my en in my, as op eendag sal ek ten volle. Ons wag nie en droom nie van eendag nie. Ons gryp vandag aan as geleentheid om Jesus beter te leer ken en meer in aanbidding voor Hom te wees. Dissipelskap is nie meer net nog ‘n taak van gemeente lewe nie. Nou is dit wie jy is. ‘n Leerling van Jesus. Hoor weer Matteus 4: 17: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom” en in vers 19 “Kom hier! Kom volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Kom, Ek sal jou lewe dieper betekenis gee. Koninkrykswaarde.