Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Daar is heelparty van ons gemeentelede wat met of kanker of ander ernstige siekte stoei. Daar is ander wat met werksveranderinge sit, finansiële probleme, mense wat dalk moet oor begin, of wat se toekoms onseker is. Ek sien hulle sê al hoe meer, wees gaaf, of wees sag met elke mens wat jou pad kruis, want jy weet nie wat hulle deurgaan nie, en as jy hoor wat mense beleef en mee worstel, dan praat ‘n mens versigtiger met ander. Vanoggend gaan nie oor versigtig praat met ander nie. Ek het die behoefte om vir elkeen wat met iets wat vir hulle moeilik is sit, vanoggend bietjie moed in te praat. Ek het nodig om twee goed by jou neer te sit. Kyk mooi na dit, en mag die Here vir jou dan die krag gee om op te staan en aan te gaan. Die eerste een wil ek in die vorm van ‘n vraag neersit. Ek wil vra na jou identiteit. Wie is jy? As jy vir my antwoord dat jy is so en so, getroud / ongetroud. Dis my beroep en stokperdjies en dis die motor wat ek ry of van droom, dan wil ek jou weer vra: Wie is jy? Want al daardie dinge is soos klere wat mens kan aantrek. So wie is jy? Kom ek sit die woord “geliefde” en die woord “kind” langs mekaar neer by jou. Op grond van jou geloof in Jesus is jy nou ‘n geliefde kind van God. Al die ander antwoorde wat jy my gegee het is onbelangrik gemeet aan hierdie een. Die diepste waarheid oor jou lewe is dat jy ‘n geliefde kind van God is. Jy is ‘n geliefde kind van God. Kom tuis hierin. Laat hierdie besef jou deurdrenk. Sit by God met dit tot jy in jou diepste bewustheid dit eien: Ook ek is ‘n geliefde kind van God. En as jy wonder hoekom gaan jy deur wat ook al jy deurgaan, ek weet nie. Ek weet net dat goed en sleg oor alle mense kom. Dit reën selfs waar daar geen mense is nie. Dit bepaal egter nie ons lewens nie. Dit kan niks wegvat van wie ons is nie. Onthou asb. Paulus se woorde: 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Romeine 8:31-39 Jy is ‘n geliefde kind van God en niks kan dit keer of verander nie. Bly by wie jy in Christus nou is. Hy is ons hoop en krag en genesing. Die tweede een is jou doop. God wat jou gedoop het. Jou doop is ‘n teken dat God by jou is, jou lief het en jou nooit sal los nie. Doop en geloof het dieselfde betekenisse. Ek gaan nie hierop almal in nie. Ek wil net sê, maak nie saak met hoeveel water jy gedoop is nie, vat aan jou voorkop en voel die “klammigheid” en weet dat God jou beseël het as Syne. As twyfel aan jou deur kom klop, vat aan bewysstuk A, jou voorkop, en onthou, ook ek is ‘n geliefde kind van God. Ek is nie alleen in hierdie ding nie. God is by my.