Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Die afgelope maand het ons saam gestap, saam gegroei en saam weer ontdek: God gee die wind. Hy is die Een wat voorsien, wat werk, wat harte verander. Maar gister het ons weer ‘n baie belangrike volgende stap gehoor – die seile word nie net gespan om mooi te lyk nie… dit word gespan om te beweeg. ’n Skip is mos nie gemaak om net in die hawe te bly nie. En miskien is dit juis waar die uitdaging nou lê. Dis goed en reg dat ons saam groei, saam leer en saam opgebou word. Maar dit kan nie daar stop nie. Alles waarvoor die Here ons die afgelope maand gelei het, was nog altyd bedoel om deur ons te werk – nie net in ons nie. Die dissipels het dit ook beleef. Jesus het hulle gestuur, en toe hulle gehoorsaam was, het die wind begin waai en dit het moeilik geraak. Maar dit is juis daar, in die middel van hulle reis, waar hulle Jesus self ervaar het. Nie toe hulle veilig op land was nie – maar terwyl hulle op pad was. Dis vir my die uitdaging vir hierdie week: Moenie net terugkyk op wat die Here gedoen het nie… moenie net dankbaar wees vir hoe jy gegroei het nie… gaan leef dit uit . Miskien is dit eenvoudiger as wat jy dink: ’n woord van hoop, ’n uitnodiging, ’n gesprek, of net om raak te sien waar God reeds besig is. Die waarheid bly dieselfde: Ons span die seile… God gee die wind. Kom ons bly nie in die hawe nie. Kom ons gaan maak ’n verskil.