Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Toe ek in die huis ingetrek het, was daar ’n privetbos. Ek het sommer dadelik gedink: hierdie moet net bietjie gesnoei word, dan kan dit ’n mooi laning maak. Maar toe ek mooi nader gaan kyk, sien ek iets wat my laat stilstaan — ’n roos wat tussen die privet probeer uitkom. En toe ek verder kyk, sien ek nog rose… almal vasgevang, verdring, verstik. Ek het ’n hele middag spandeer om die privet weg te sny en die rose weer kans te gee om te skyn. Maar vir die meeste was dit te laat. Hulle was te lank onder die vinnige, mooi, maar verstikkende groei vasgevang. Maandagoggend tref dit my: ons doen presies dieselfde in ons lewens. Ons wil God hê, maar ons wil self beheer hou. Ons wil genade hê, maar tog ook kan sê: “Kyk hoe goed hou ek die wet.” Ons wil burgers van die hemel wees, maar ook gemaklik inpas in die wêreld. Ons wil gered wees, maar tog leef soos ons wil. En omdat ons niemand seermaak nie, voel dit vir ons heeltemal normaal. Want baie gelowiges leef so — dus voel ons veilig, tuis, “okay”. Maar die ou verskoning: “Ek maak niemand seer nie”… dit mis die punt. Ons erken nie dat ons onsself seermaak nie. En ons Here. Ek vermoed die voëls het die privet tussen die rose gesaai. In die begin was dit mooi — ’n sagte grondbedekking. Maar toe niemand meer aandag gee nie, het dit oorgeneem. Die privet het vinnig gegroei, mooi gelyk… en die rose stilletjies verstik. As ons eerlik is, is daar baie dinge wat ons duld — soms selfs geniet — wat die mooi wat God in ons herskep het, stadig toegooi. Klein wit sondetjies wat vinnig groei, mooi lyk, en môre jou roos verstrengel… dan toe gegroei… dan doodmaak. Geloof is die roos. Privet is die klein sondetjies wat ons nie ernstig opneem nie. Psalm 51 is ’n goeie plek om te begin snoei — om weer ruimte te maak vir die roos wat God geplant het.