Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 45: 22 - 25 Wat ‘n geseënd en wonderlike dag was gister nie! Ek kan God nie genoeg dank en loof vir dit wat Hy weereens laat gebeur het en gegee het. Ek word tegelyk ook hartseer as ek hoor mense dink God is veraf, of stel nie belang nie of God wil net jou siel red. God gee om vir jou hele menswees. God het vir jou lief soos jy hier sit. En God gaan uit Sy pad uit om ons as mense te red. Soms dink ek dat God op die vreemdste maniere werk. Op maniere wat nie sin maak nie. Toe Israel in die woestyn gesondig het en God ‘n klomp giftige slange tussen hulle ingestuur het was die redding eenvoudig. Maak ‘n beeld van ‘n slang en sit dit op ‘n paal. Wie ookal gepik word en soontoe kyk, sal gered word. En toe die wereld weer redding nodig gehad het, toe stuur God Sy seun. Maar as ‘n baba. In ‘n arm skrynwerkers gesin in. Nie in koninlike weelde nie. Maar arm. En hierdie Seun meng met die gewone mense. Alles so anders as die wereld se manier. En uiteindelik sien jy die reddingsplan van God aan ‘n kruis op Golgotha. Die Man in wie geen sonde was nie. Die Man van Wie die regter gesê het: Ek vind geen skuld in Hom. Wie in my glo, het Jesus gesê, sal ewig lewe.(Joh 6: 47) Jesus het baie gepraat van God se koninkryk. Baie keer het Hy vir mense gesê: Volg My! Hy het Sy dissipels so geroep. Vir die ryk jong man het Hy gesê gaan verkoop al jou goed en kom volg My. Maw Gaan raak ontslae van dit wat keer dat jy my werklik kan volg. En kom dan en volg My. Dit bly egter vreemd: Al wat ons moet doen ... Al wat God se reddingsplan behels is een Mens wat sterf en opstaan uit die dood en elkeen wat na Hom kyk en in Hom glo sal gered word. So eenvoudig. Dit is niks nuuts nie. In Jesaja 45 vind ons dieselfde eenvoud: Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op aarde ...”(22) en in vers 24 “Net van die Here kom daar redding en krag.” So eenvoudig: “Kom na My toe.” Jesaja se boodskap gaan uit so 700 jaar voor Paulus soortgelyke dinge skryf in een van sy briewe. Jesaja se woorde voorspel die opgang en val van die Babiloniese ryk. Ten spyte daarvan dat die Babiloniers gedink het hulle afgode is die sterkste. Hulle afgode kon hulle nie red van die Mede en Perse nie. God daar in teen het dit alles reeds 100 jaar van te vore voorspel en toe laat gebeur. As Jesaja sê “kom na My toe” dan gaan dit oor die fisiese omstandighede. Bekeer jou tot God en God sal julle red uit Babel uit. Jesaja is besig om die volk voor te berei vir die terugkeer na Jerusalem. Dit is ook op hierdie vlak wat ons na die Here gedraai het met die basaar. Trouens met alles in die gemeente en in die land. Ons het na God gedraai vir redding. Ons het God gevra om die basaar ‘n sukses te maak. Vanoggend dank ons God daarvoor. ‘n Mens kan egter ook kyk en sê dat Jesaja ‘n dieper redding voorspel het: God wat die mensdom kom red. Hy praat hier van dat almal op die aarde na Hom toe sal draai. Elke knie sal buig voor God en in God se Naam sal elke tong ‘n eed aflê. As jy lees wat Paulus skryf in Fillipense 2, die bekende woorde in Sy loflied aan Jesus, dan besef jy dit is dieselfde God aan die werk. Dieselfde Here van die Ou Testament en die Nuwe Testament wat hier aan die werk is. En vandag steeds by ons is. Dieselfde Here voor Wie almal die knie sal buig en elke tong erken: Jesus Christus is Here! (vers 11). Dit is die redding wat ons vandag vier. God wat in alle situasies vir ons sorg. God wat werklik as ons Vader na vore tree en ons Sy kleutertjies versorg en help en seën. Die nagmaal vanoggend wys dat ons nie oppervlakkig moet dink en omgaan met God nie. Ons word gewys op die diepte van God se liefde. Hoe intens Hy ons lief het. Maar ons moet ook hoor: Alle nasies . Almal op aarde. En ons moet die wonder van God uit vat na almal. Die basaar is ‘n gesprekspunt waarmee ons vir mense kan vertel van wat God vandag doen. En as hulle belangstelling geprikkel is dan vertel jy van die wonder van die kruis en die opstanding. Van God wat deur al die eeue vir mense sê: Kom na My toe. Kom ek vertel ons wat God met hierdie vers gedoen het. Charles Spurgeon se bekering. Hy vertel dat dit nie goed met hom geaan het nie. Hy was sielsongelukkig. Sy hart was in stukke. Ses maande lank het hy gebid. Nooit ‘n antwoord gekry nie. Hy het al die denominasies besoek wat hy kon. Hy wou God vind. Gesmag na bekering maar in geen preek het hy gekry wat hy nodig gehad het. To die een aand. Dit het erg gesneeu. Hy was opsoek na ‘n plek en het beland by ‘n smal straatjie. Hy het ‘n klein kapelletjie gesien. Die sang was oorverdowerend en hartlik wat uit die kerkie gekom het. Hy het ingegaan en gaan sit en die diens het aan gegaan maar daar was geen dominie nie. Uiteindelik het so ‘ maar mannetjie opgestaan die Bybel oop gemaak en gelees uit Jesaja 45. “Kom na My toe dat julle gered kan , almal op die aarde.(vers 22)” Spurgeon sê die man het hom direk aangekyk en asof hy geweet het wat in sy gemoed woed, het hy vir hom gesê: “Jong man, jy is in die moeilikheid! En jy sal nooit uit dit uit kom tensy jy na Christus toe draai nie.” Spurgeon het tot bekering gekom en van die grootste predikers van sy tyd geword. Die antwoord vir ons lewens, die weg na ‘n beter manier van wees is Christus. Jesus was duidelik daaroor in Johannes 10: Hy het gekom om lewe te gee en dit in oorvloed. Jesus het ook gesê (Matt 11: 28): Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is.” Ons toekoms, ons lewe in hierdie land, die oorlewing en groei van hierdie gemeente is in Christus se hand. En as jy dink dis net waar van Spurgeon en ander mense wat God wou gebruik, maar nie van jou nie. Dan moet ek antwoord: Dit is vir jou. Dit is vir jou wat Christus kruis toe is en dit is vir jou wat Hy daar gesterf het sodat ook jy met God kan lewe op maniere wat jy nie eers van kon droom nie. Kyk na die nagmaalstafel. Jesus het die nagmaal ingestel, die tekens van brood en wyn gegee sodat ons nooit ooit hoef te twyfel aan Sy liefde en omgee nie. En nee dit gaan nie net in die kerk oor eendag, oor die ewige lewe nie. Dit gaan daaroor om nou reeds met God te mag lewe. En ja, jy kan net in Christus sterwe en ewige lewe in gaan as jy nou reeds vir Christus geleef het. As jou geloof nou reeds op Christus gerig is en jy vanuit Sy heerskappy en genade leef. Dit is hoekom ons selfs met die basaar alles van God verwag. Ons werk en gee aan God en ons vertrou dat God sal seën en sal gee selfs verby ons wildste drome. Geloof, Christus, het jou nou lief en wil nou met jou leef. Hy wil hê jy moet nou reeds lewe in oorvloed beleef. Kom na Hom toe. Deurlopend, eeue lank, klink God se stem op: Kom na My toe en jy sal lewe vind. Lewe in oorvloed, is wat God se Seun gebring het. Kom na die Here met jou hoop, jou drome, jou alles. Die nagmaal wil jou verseker ky mag maar kom. God sal jou hoor. Daar is genade en lewe ook vir jou. Kan ek ten slotte iets opmerk? In Spurgeon se storie het die dominie nie opgedaag nie vanwee die sneeustorm. ‘n Gemeentelid, Robert Eaglen, het maar die diens gelei. En kyk wat het God gedoen. Wil jy nie anders oor jouself dink en anders oor wat God deur jou kan doen nie? En anders oor jou lewe dink. Het die Seun ons nie almal uitgestuur om deur Sy Gees se krag die wêreld te nooi om na God toe te draai, na God te kom want net van God kom daar redding en krag. “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde want Ek is God, daar is geen ander.” 24 “Hulle sal sê: Net van die Here kom daar redding en krag.”