Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 3: 12 – 17 (Klem op verse 16 en 17) Hoe weet ‘n mens God is rerig? Hoe sal ek kan weet die Here is in jou hart? Ek meen: God is gees en ons kan God nie sien nie. Maar ons kan sien wat God doen. 1. Wind. Kom as vat die wind. Wie het al die wind sien waai? Was dit die wind of was dit wat die wind doen wat jy gesien het? So as jy nog nooit die wind gesien het nie, beteken dit dan dat die wind nie bestaan nie? Nee. Want jy kan die wind voel as dit teen jou kaal arms waai. Dws as dit hard genoeg waai. En jy sien dit in die bome se blare en in stof ens. Kom ek wys jou: Waaier met linte aan. Die waaier is nou af. Ek kan dit aansit en weet jy wat, die mense daar agter sal my moet glo as ek sê die waaier is aan want hulle sal dit nie kan voel nie. Hulle is te ver. Selfs hier waar ek is kan ek nie die wind sien nie. Ek kan nie die lugstroom wat deur die waaier veroorsaak word sien nie. Ek kan dit net voel as ek naby genoeg is. En as ek reg voor dit staan. So terloops, die woordjie in Hebreeus vir wind is ruach. En dit is die woord wat ook gebruik word vir die asem en meer spesifiek vir God se Gees. Die Heilige Gees. Dit laat ‘n mens dink, nê? In Handelinge 2, met die uitstorting van die Heilige Gees kon mense nie die Heilige Gees sien nie. Hulle het wel tekens gesien, die effek gesien? Wie kan my sê wat dit was? Rukwind. Tonge van vuur. Skielik kon almal in vreemde tale praat. Ewe skielik kon Petrus en die ander in die openbaar sonder om bang te wees oor Jesus praat. Voor dit het hulle weg gekruip uit vrees vir die Joodse raad. En voor dit het hulle Jesus verloën. Hom in die steek gelaat want hulle was bang. Kom ek vra weer: Hoe weet ‘n mens God is rerig? Hoe sal mense kan weet die Here is in ons lewens? Hulle sal kyk na wat God in ons lewens doen. Hulle sal raak sien dat God ons verander het. Ek het hierdie week met iemand gesels wat verskriklik baie kon drink en lelik praat. Vandag drink hy nie ‘n druppel nie en hy vloek ook nie meer nie. Hy lees baie meer Bybel en bid. Ek vra sy vrou: Het hy verander? Sy sê: Baie. Hy is nou ‘n baie beter mens. Hoe hierdie man se lewe een Februarie omgeswaai het is God se werk. En ek hoef net na hom te kyk om te weet God lewe. Daar is baie ander mense ook in wie se lewens ons iets van God kan sien. Kan sien wat God doen. Verlede week het ek van die spoorsnyer gepraat en van die oumas wat stry oor na wie lyk die nuwe baba. Ek het gesê ‘n mens kan sien hoe God lyk as ons liefde leef. As ons mekaar lief het. Netso baie lief het as wat Jesus ons lief het. Ons het gelees ons moet geduldig wees met mekaar. En ons moet mekaar vergewe. Die lelike woorde, die seerkry, ons moet die mense daardie goed vergewe. En ons moet in vrede met mekaar lewe. Nie altyd moeilikheid soek of moeilikheid tussen mense veroorsaak nie. Vrede is wat ons uitleef. Al hierdie goed, is goed waaraan mense God sal kan sien werk in ons lewe: AS ons liefhet, as ons vergewe, as ons vredemakers is, as ons geduldig is met ander mense. Paulus noem ook: meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam in vers 12. Kom ons gaan nou verder met dit wat mense sal help om God te sien en te ervaar. 2. Wees altyd dankbaar. Dankbaarheid. As ons bly is oor al die mooi wat ons het en geniet en dan vir God dankie sê vir dit. Ek het iewers gehoor dat julle elke Sondag in ‘n sirkel staan en dan sê elkeen dankie vir iets waaroor julle bly is. So, wie gaan my gou vertel waarvoor is hulle dankbaar vanoggend? (Gee geleentheid) Paulus gebruik die woord “dank of dankbaar” drie keer in hierdie 2 verse. • Wees altyd dankbaar. • Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. • En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. Wat ons ondankbaar maak is ons verwagtinge. As jy verwag iets gaan so wees en dan is dit anders dan raak jy ongelukkig. Twee mense kan na dieselfde plek reis en in die dieselfde plek bly. Die een het voor die tyd gedagdroom oor hoe idillies die plek gaan wees en hoe die son gaan skyn en en. Die ander het ‘n rowwwe tyd by die werk beleef en het nie tyd gehad om te dagdroom of enige verwagtinge te koester nie. Die een wat vol verwagtinge was is sielsongelukkig oor die vakansie. Die ander een dank God en is bly oor al die mooi wat sy kon beleef. Kom ons aanvaar dinge vir wat dit is. Dit is wat dit is. Sê vir God dankie vir die mooi wat jy ten spyte kan raak sien. En besluit dan wat jy kan verander. Niemand het lus vir ‘n onddankbare of ‘n sielsongelukkige mens nie. Leer uit die Woord: leer om ten alle tye dankbaar te wees. Al is jy net dankbaar dat God saam met jou is in jou donker situasie. Wees dankbaar dat God ook dit ten goede sal laat uitwerk. Ons mense het negatief geraak. Mense kla oor alles. Ons is afbrekend krities. Hoe gaan die wêreld God kan sien as ons almal om ons altyd afkraak en ondankbaar is en met niks tevrede is nie? Trek ‘n dankbare mens jou dan nie aan maar ‘n onddankbare mens sit jou af nie? Kom ons wees wat God vra: Dankbaar. En ons kan dankbaar wees want vglo ons dan nie dat God elke dag in ons daaglikse brood voorsien? 3. Alles. “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Sê en doen alles in die Naam van Jesus. Alles. Niks word uitgesluit nie. Jou hele lewe leef jy in die Naam van Jesus. Dit beteken dat jy orals op so ‘n manier praat dat enige iemand wat jou hoor, vir Jesus hoor. Mense moet iets kan beleef van God se geduld met mense, van God se omgee en liefde en van God se vergifnis in hoe ons is en leef en praat. Orals moet mense in jou iets kan sien van Jesus. Dit beteken dat jy nêrens, nêrens kan lelik wees met mense, of iemand kan afkraakof liefdeloos wees nie. Niks haatliks sal deur jou gesê word nie. En jy sal niks leliks doen, of iemand seer maak of nie iemand help wat hulp nodig het nie. Orals moet dit wees asof Jesus jy is. Nie net by die erdiens nie. Orals. Belangrik is om te besef dat ons alles doen met die krag wat ons by Jesus kry, en ons doen net wat ons by Hom gesieen en gehoor het. Dit is dalk nie aldag waar van ons nie maar ons strewe daarna. Ons begeer om elke dag te leef wat God wil hê ons moet leef. Jesus is ons voorbeeld. Self het Hy niks gedoen of gesê wat Hy nie eers by die Vader gesien en gehoor het nie. Dit verander ons gebedslewe. Voorbidding word inderdaar om te bid voor ek doen. Met die klem op die voor. En ons doen ons werk so goed sodat Jesus trots op ons kan wees. Ons doen alles so goed dat Jesus sal kan sê: Mooi man, dis soos Ek dit sou gedoen het as Ek jy was. En ons sê vir God dankie deur Jesus. Want dit is Jesus wat Sy lewe gegee het om ons te red, wat dit moontlik maak vir ons om met God te mag praat. Waaraan sal mense sien dat God rerig is? Deur wat jy doen en sê. As hulle iets van God kan beleef in jou.