Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Tessalonisense 1: 1 - 10 Vanoggend bid ons “saam met” Paulus. En ons leer om soos Jesus te reageer op die wêreld. Ek weet nie of jy al agter gekom het nie, maar Jesus se reaksie op die wêreld van Sy tyd was altyd anders as die res. Jesus maak ons anders. Sy dissipels, ek en jy word herskep tot mense wat vreemdelinge in ons eie gemeenskappe is. Ons dink nie meer en doen net nie meer soos wêreldse mense nie. Ons kies ander reaksies op wat met ons gebeur. En dit net omdat Jesus al hoe meer duidelik word in ons lewens. Kom ek gee ‘n voorbeeld. Die gemeente in Tessalonika trek swaar onder seerkry vanuit mense in hul gemeenskap.Hulle word vervolg omdat hulle aan Jesus behoort. En in plaas van om onder die druk te swig, groei hierdie mense in geloof en in liefde vir mekaar. En dit maak Paulus so opgewonde dat Hy in gebed God dank vir wat hy hoor oor die gelowiges. 1. Opgewonde. Paulus en sy span is opgewonde oor die gemeente. Of jy dit nou in die oorspronklike Grieks lees of in ‘n vertaling, jy hoor die diepgaande blydskap oor wat hulle sien. En soos altyd vat Paulus dit na die Here. Hy gaan sê vir God dankie vir wat in die gemeente aan die gebeur is. Onthou nou ook: Paulus was nie lank tevore in die gemeente nie. So hy ken ook eerstehands die omstandighede. En hy kan meet aan wat hy self gesien het en aan die terugvoer wat hy kry dat iets aan die gebeur is. En dit maak hom opgewonde. Byvoorbeeld: In 1 Tessalonisense 3:12 het hy geskryf “En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.” Al sou die twee briewe enkele maande uit mekaar geskryf gewees het, wil ek steeds sê: Kyk die gebedsverhoring. In die eerste brief bid hy vir die liefde om toe te neem. In die tweede brief dank hy God vir hoe die liefde tussen die gemeentelede toegeneem het. En in sy eerste brief, in 4: 1, 10 vra hy dat hulle hulle nog meer daarop moet toelê. God self het hulle geleer hoe om te lewe, lê julle nog meer daarop toe om te lewe soos God wil julle moet lewe. En nou in sy tweede brief sê hy vir God dankie vir hulle groei. Kom ons kyk nie in die ooglopende vas nie. Kyk dieper. Twee goed het in hierdie gelowiges se lewe gebeur. Hulle het besluit om hierdie Christus wat uit die dood uit opgestaan het, te volg. En hulle het besluit, my afleiding, om te doen soos Jesus gedoen het. Jy sien dit in hul geloof wat sterk toeneem en in hulle liefde vir mekaar wat altyd meer word. Hulle het gekies dat Jesus al hoe meer gestalte in hul lewens kry. Dit is nie so maklik nie. Baie mense vandag glo in Christus maar glo nie soos Christus nie. Hulle glo dat Jesus hulle sondes betaal het aan die kruis maar hulle glo nie om soos Jesus te leef is die oplossing vir hulle lewe nie. Hulle soek Jesus maar nie gehoorsaamheid aan Hom nie. 2. Binne spoel oor na buite. Stephen Covey praat van “inner victory” wat eers moet plaasvind voor daar ‘n “outer victory” kan wees. Inside out is sy slagspreuk. Hier binne in jou moet jy absoluut oortuig wees dat Jesus beter as jy weet hoe om te lewe. En daarom fokus jy op jou geloof. Doen jy dinge in geloof in God. En so spoel dit wat binne is na buite toe. Dit is waarvoor Paulus gebid het. Want as hulle innerlik sterk is en gevul is met God se soort liefde, dan sal hulle uiterlik sterk staan tsv wat om hul aan die gebeur was. Vervolgings om een te noem. Kom ook ons begin by gebed. Onthou u nog in pinksterweek het ek gevra dat ons sal aanhou om veral die eerste drie bedes van die onse Vader te bid? Die doel is om te bid dat God hierdie gemeente sal laat groei in geloof, in gehoorsaamheid en dat Sy koninkryk duideliker sigbaar kan word hier in Deneysville/Vaalmarina. En ek vertrou dat u sedert die Pinksterreeks dit steeds bid. Vandag vra ek om ook te bid dat ons in die liefde sal bly toeneem. Mag ons ‘n gemeente wees waar mense God sal dankie sê oor ons onderlinge liefde. Kyk na wat God in ‘n paar maande in ‘n gemeente gedoen het. God kan en wil dit hier ook doen. In jou doen en in my. En terwyl jy vir dit bid, kyk uit vir maniere om jou liefde te leef teenoor ander. Terwyl jy bid kyk jy hoe jy nog meer kan lewe soos die Here jou geleer het. Nog meer Jesus se voorbeeld kan naleef. Nog meer kan liefhê. Alles in Tessalonika was nie perfek nie. Daar was probleme. Daar was gemeentelede wat probleme veroorsaak het. Soos daar in elke gemeente is en sal wees. Maar die meerderheid het gegroei en toegeneem in hulle liefde. Daarvoor dank Paulus vir God. God wat ook oa liefde is. By die laaste kerkraadsvergadering het ons ‘n vraag vanaf die Ring gehanteer. Die vraag was: Waarmee is die Here in die gemeente besig? Daar was so ‘n stilte soos die lede daaroor nagedink het. En toe kom die antwoorde: In hulle eie lewens, veral, is die Here besig om ons te leer liefhê. En dat ons Sy Woord suiwer moet uitleef. So uitleef dat die mense Jesus in ons kan raaksien. Daar is gepraat van ‘n verdieping in ons verhouding met die Here. ‘n Groter wordende erns met Jesus. Hoe ons moet voorbeeld wees. Dit is van die dinge waarmee die Here hier besig is. Hy is besig om ons uit te bring by wat Hy ons gemaak het: Sy dissipels. Sy gestuurdes. Elkeen ‘n dissipel. Elkeen van ons ‘n gestuurde. Klink dit nie soos dit waarvoor Paulus gebid het vir die gemeente in Tessalonika nie? En toe gesien gebeur het? Ko ons bid met nog groter erns vir dit hier. Paulus sê ‘n paar groot dinge van die gemeente: • Hulle geloof neem sterk toe • Sonder uitsondering word hulle liefde vir mekaar meer • Hulle volhard in die geloof. Selfs al kry hulle swaar en ly hulle agv van hulle geloof, hulle het aangehou met glo. • God het hulle geskik geag vir Sy Koninkryk. Kyk mooi na wat hier staan. Sê my as dit nie waar is van jou nie. Maar dit is nie die wenpaal nie. Sien dit raak. Dit is ‘n reis met Jesus deur jou eie lewe heen waarin Hy jou laat groei in geloof en liefde. Lê jou daarop toe om nog meer in geloof toe te neem; om nog meer liefde te leef teenoor ander. Hou aan met glo ook op die dae wat niks sin maak nie. Byt vas in geloof, volhard. En onthou wat God gedoen het. Hy het jou geskik geag, en geskik gemaak vir Sy koninkryk. Aanvaar dit. Jy hoef dit nie te word nie. Wees dit deur dit te leef. Daarmee bedoel ek dat jy as koninkrykmens moet leef, en die koninkryks-leefstyl van liefde en vergifnis en geloof en hoop aangryp en jou eie maak. Doen dit nog meer. Ek moet iets sê oor die woordjie “mekaar”. Sonder uitsondering word hulle liefde vir mekaar meer. Liefde is altyd gerig op iemand anders. Liefde word gedoen aan iemand anders. Jy het ander lief. In die Nuwe Testament kom die woordjie ‘mekaar” 144 keer voor. En in baie van hierdie kere is dit rakende die liefde. Beweeg uit na ander toe. Reik uit na mekaar. Doen liefde. Wees liefde. Laat God se liefde meer en meer jou vul en ook dan oorstroom na ander toe. 3. Prys. Dit lyk vir my soos ‘n universele beginsel dat hoe liewer jy vir God is en vir Hom alleen probeer leef, hoe meer sal iemand iewers jou probeer terugdruk daaroor. In die geval van die gemeente in Tessalonika was dit vervolging. Hulle het dikwels swaar gely vir hul geloof. Nou, jy kan vaskyk teen jou lyding. Jou omstandighede kan jou asof gehipnotiseer vasvang. Of jy kan dit alles in God se hande plaas. Paulus sê hier in soveel woorde: Sien raak dat God vir jou geskik ag vir Sy koninkryk. Sien raak dat God ook regverdig is. Dat niemand met niks wegkom nie. Gelowiges dra dalk nie self die straf op hulle sonde nie, maar Jesus dra dit. Dit bly definitief nie ongestraf nie. En nie gelowiges sal dit self moet dra. Lyding, swaarkry, krisisse kan jou so absorbeer, insuig dat jy God begin miskyk. Spandeer eerder jou tyd en energie om God beter te leer ken. Paulus bedoel met ken ‘n verdieping van jou verhouding met God. Soos die jonges dit sal sê “Vat dit na die volgende level.”. Lyding is ‘n geleentheid om God te sien werk. Lyding is ‘n geleentheid om na die kruis te kyk en ‘n dieper besef te ontwikkel vir wat Jesus in Sy lyding vir jou en my gedoen het. Dit maak ‘n mens diep bewus dat die lydende Here by ons in ons lyding is, en dat Sy liefde vir ons intens en groots is. Juis in ons donker tye groei ons geloof meer en beleef ons God as by ons. Christus kom weer. Paulus is duidelik hieroor. Christus kom. Dan straf Hy die mense wat nie vir God ken nie. En vir ons, ons kry die geleentheid om Hom te verheerlik en om aan Hom die eer te bring wat Hom toe kom. Julle sal ook daar wees want julle glo die getuienis oor Christus. Kom wees saam met my opgewonde oor wat God hier doen. Kom ons sê dankie vir God vir hoe Sy liefde hier toeneem. Gebed.