Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Tessalonisense 1: 11-12 I 1 Samuel 12: 23 staan daar ‘n baie interessante vers. Samuel staan op die punt om Israel se eerste koning te salf. Hy is teen dit maar die Here het gesê hy moet dit doen. Hy is besig om ver oulaas ‘n paar dinge vir die volk te sê. En dan sê hy hierdie interessante ding: “Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad.” Kom ek lees dit weer. Sodat dit kan insink. Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. Samuel onderstreep die erns van gebed. Veral gebed vir ander. 1. Moenie ophou bid nie. Om te bid is die asemhaling van die gees. Om vir ander te bid is God se wil vir jou en my. Soos Paulus hier vir die gemeente bid. Hy sê nie net ek bid vir julle nie. Hy sê presies wat hy vir hulle bid. So dadelik weet jy dis nie leë woorde nie. Of die gepaste ding om vir iemand te sê nie. Hy bid werklik vir hulle. In sy eerste brief aan die gemeente, trouens Paulus sluit sy brief daarmee af, het hy geskryf “bid gedurig (5: 17).” En ook “Broers, bid ook vir ons (5:25)”. Dit is seker een van die belangrikste dinge, en ‘n liefdevolle ding om te doen: om vir ander te bid. Verandering, herlewing volg op gebed. Jy kan nie teveel vir iemand bid nie. Jy kan nooit teveel bid nie. Maar onthou gebed word altyd gevolg met dade van omgee en liefde. Bid en doen loop saam. As ek weer vir ‘n oomblik kyk na Samuel se woorde dan besef ek ook dat deur nie te bid sê jy eintlik baie oor waar jy staan tov God. Oor hoe jy oor God dink. Bv dat jy nie bid nie want God gaan in elk geval niks doen nie. Of selfs net ek gaan nie bid nie want ek kan self reg kom. Ek kan self dinge hanteer. Daar was so vier jaar terug ‘n liedjie, dit was, ek dink deel van ‘n opera of iets oor Don Quichet. Iewers sing iemand : Why does he do the things he does? Why does he do these things? Why does he march Through that dream that he's in, Covered with glory and rusty old tin? Why does he live in a world that can't be, And what does he want of me... What does he want of me?” Daardie laaste sin kan vassteek in ‘n mens se kop. veral as jy dit vergeestelik en begin echo “What does God want of me? As ek na Paulus se gebed hier kyk dan hoor ek antwoorde op die vraag “Wat wil God van my hê?” “What Does God Want of Me?” 1. God wil jou waardig maak. God wil ons waardig maak vir die lewe waartoe Hy ons geroep het. Die vraag is seker of ek saam met God werk en of ek deur my eie koers te kies soos ek goed dink, teen God in werk. Wat duidelik is hier is dat ons nie instaat is om self so te leef dat ons vir God aanvaarbaar is nie. Ons is onwaardig en slegs deur Jesus Christus word ons waardig gemaak vir die koninkrykslewe. Dit klaar herinner my dat ek leef in hierdie wêreld maar nie as inwoner maar as reisiger, vreemdeling want ek en jy is koninkryksmense. Ons leefstyl is anders en staan uit. Wat wil God van jou en my hê? Dat ons lewens rym met Christus. Dat Christus sigbaar word in ons. Onthou Jesus het gesterf as jy en nou leef jy as Hy. Kan mense dit sien? En dit kan net so wees as ons elke dag bid dat dit ook vandag so sal wees. Bid dat ons vandag so sal leef soos wat Jesus sou geleef het as Hy in ons skoene geleef het. Jy lyn jou woorde en dade en jou ingesteldheid op met Christus s’n. Dit is jou roeping: Om waardig te lewe as mens wat aan God behoort, deur Hom geroep en gestuur is. In Efesiers 4: 1 - 3 1 Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. In die verse net daarna (vers 2 en 3) skryf Paulus dan oor beskeie wees, vriendelik, geduldig en mekaar in liefde te verdra. En om die eenheid te bewaar wat die Gees tussen ons gesmee het. ‘n Hele mondvol. Maar gaan sit en kyk mooi deur jou laaste week. Vat jou woorde en vat daarna jou dade en dan kyk jy na die gesindheid wat dalk verskuil agter jou woorde en dade aan die werk is. En vra jouself: Hoe lyn dit op met hierdie deel? Elders lees ons van wees heilig want julle hemelse Vader is heilig. Kom ons leef soos God ons herskep het. Kom ons leef so in ooreenstemming met Christus, met ons roeping sodat ons vir God eer inbring. Ek sê weer: Elke oggend bid dat God jou waardig sal maak en elke aand vra jy God of jy dit was vandag. 2. Glo soos Jesus. Die tweede gedagte vloei uit die eerste uit. Paulus bid: “ ... en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.” Dit is duidelik in die Grieks dat die liefde verbind is nie net aan die goeie nie maar ook aan die werk van die geloof. Maw “ ... en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en julle liefde vir die werk van die geloof volkome maak.” God doen dit. Hy doen dit deur sy groot krag. In effek bid ons dat God dit wat Hy reeds in ons geplaas het, sal meer maak, meer liefde vir dit wat in God se oë goed is. En meer liefde vir die werk van die geloof. En ek hoop jy sien dat geloof nie net ‘n saak van die hart is nie maar ook van doen. Van lewe in lyn met wat jy glo. Van optree in geloof in God. Ons moet nie net glo in Jesus nie, ons moet ook glo soos Jesus. 3. Verheerlik. As ons hierdie pad van gebed en afhanklikheid van God loop dan word Jesus verheerlik. Afhanklikheid want in gebed bely ek ek kan nie self waardig wees en ek kan nie self groei in liefde vir die goeie en in liefde vir die werke van geloof nie. Trouens my eie ek soek die teenoorgesledde. Daarom bid ek. Die effek van ons waardig lewe en die effek van ons liefde vir wat goed is in God se oë en die effek van hoe ons uit geloof uit lewe, is dat Jesus verheerlik word. Vergeet “praise en worship” vir ‘n oomblik, vir die meeste gelowiges is dit ‘n halfuur of so per week, en sien raak die eintlike aanbidding en verheerliking gebeur in die week. Verheerliking van God gebeur by jou werk, in jou huwelik en gesin, by jou vriende as jy vanuit die geloof wat God jou gee lewe. Dit alles vloei uit gebed uit. ‘n Mens hoor die echos van Jesus se gebed in Johannes 17 hier. Ons Here deur ons verheerlik en ons deur Hom. Soos die Vader in Jesus is en Hy in die Vader, en Jesus in ons en ons in Hom. Bid en vra die dinge by God. En onthou Samuel se woorde : “Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. En fokus dan en leef vanuit Christus tot eer van Christus. Hy het as jy gesterf. Leef jy nou as Hy.