Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Timoteus 2: 1 -2 Die perikoop of eenheid is langer as net hierdie verse maar ons gaan dit maar stukkie vir stukkie moet neem. Dit is net te belangrik. Ek gaan ook moet terug gryp na iets wat Paulus in die eerste hoofstuk geskryf het. Met dit gesê, ek sukkel om verby die eerste twee verse te beweeg. Vers 1 gryp my aan: “ Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het.” Wat ek van hou is dat Paulus nie net skryf wees sterk nie maar ook vir ons sê hoe ons sterk kan wees. Timoteus het reeds besef hy is nie sterk nie. Hy het genoeg gehad. Paulus skryf om hom moed in te praat. Dit sou hom niks help om net te sê wees sterk nie. Sê vir hom hoe om sterk te wees. Deur die genade wat ons in Christus Jesus het. 1. In genade is krag. Hoe kom genade en sterk wees by mekaar uit? Dink nou aan toe Paulus geworstel het met die sg doring in die vlees. Toe iets hom onder gekry het en hy daaroor gebid het. Toe het die Here vir hom gesê: 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. Dalk maak dit vir jou nie sin uit nie. Maar kyk vanuit Jesus se perspektief: As jy uit die pad uit staan dan kan Hy met volle mag werk. As ons swak is bid ons meer en met groter verwagting en selfs smeking want ons weet ons kan dit nie self doen nie. Dan werk God die beste. Genade is Jesus wat vir ons gee wat ons nooit kan verdien of self kan verwerf of vermag nie. Genade is meer as net ons sondes wat vergewe word. Genade is ook God wat deur Sy Gees in ons woon en deur ons werk. En genade is te beleef in die gawes wat God ons gee. Genade is God in ons lewe. En genade is om in Christus te mag wees soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok. En as ek soos die loot aan die wingerdstok al my krag uit Christus uit kry dan is ek sterk al is dit ver buite my eie vermoeens. Trouens, as loot kom niks vanuit myself nie, ek kry dit van die Wingerdstok af. Nie eie krag nie, net genade. Net die liefde van God wat in jou en my aan die werk is. Timoteus, moenie fokus op jou vrese en op dit wat jy nie kan doen nie en nie voor kans sien nie. Fokus op dit wat God doen en gee. Fokus op die genade wat Jesus gee. God se genade is groot en veel wyer as wat jy dink. So groot dat Hy raaksien ons sukkel en ons hou daarom terug van iets wat ons almal baie goed weet ons moet doen of leef. God weet ons gaan nie voluit vir dit nie. Uit vrees uit. Uit onvermoeë uit of om baie ander redes. Onthou u nog ( laas week se gedeelte)? “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” Ons het geen rede om terug te hou nie. Terughou van wat? Nou is ons by iets wat aan die hart van die evangelie lê. Dit is deel van hoekom ook ek en jy gered is voor. 2. Gevul en die hart van die evangelie. Ons is gered en geroep om aan God toegewy te wees. Om dit moontlik te maak, dat ons gered en geroep is om toegewy aan God te kan lewe, het Jesus Sy lewe gekos. Ons ontvang dit uit genade uit. God gee dit vir ons al verdien ons dit glad nie. Nou is dit deel van wie ons is. Ons is gered en geroep om aan God toegewy te wees. ‘n Groot groot voorreg. Nog groter as jy besef God gee Sy Gees ook nog in ons. Voor ek sê waar ons terughou, moet ek net daarop wys: Hoofstuk 1:9. Die Gees wat God ons gee vul ons met krag. En ons is gevul met liefde. En ons is gevul met selfbeheersing. (Kantlyn nota: Niks meer van voor ek myself kon kry toe het ek klaar gesê of gedoen tipe stories nie). Ons is gevul met selfbeheersing. Dit opsig self moet klaar vir jou sê: God het ‘n plan met jou lewe. God het ‘n plan met hoe jy lewe. Jou lewe vir Hom is dalk net die inspirasie vir iemand wat soekend na beter is. Toegewy beteken my lewe draai om God. Wat ek doen doen ek vir God. Wie ek is is ek vir God. Enigiets in my lewe wat God nie dien nie kap ek af. Jy, ons almal, is gered en geroep. Geroep om wat te doen? Kom ek begin by geroep om Jesus te lewe. So te lewe dat Jesus al hoe meer sigbaar word in jou lewe. (Rom 8: 29; Gal 4: 19; 2 Kor 3: 18 ea). Mag ek sê ons deins terug hiervan? Hoeveel van ons jaag dit gefokus na? ‘n Dissipel, ‘n leerling van Jesus is altyd besig om te kyk wat het Jesus gedoen en hoe het Hy dit gedoen. En dan gaan doen hulle netso. Ons spandeer tyd met Jesus, volg Hom deur ons dag en deur die Woord, sodat ons kan word soos Hy. 3. Gaan, dra dit aan ander oor. En ons dra wat ons leer en beleef aan ander oor. Ons vertel van ons groot liefde. Ons is soos verliefde tieners wat nie uitgepraat kan raak oor hoe wonderlik ons geliefde Here is nie. Hier is my probleem na aanleiding van 2 Timoteus 2 vers 2. Alles stop by ons. Ons is soms soos die dooie see wat water inneem maar nie uitgee nie. 2 Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. Ek weet jy is nie Timoteus nie. Ek ook nie. Maar ons is almal gered en geroep om aan Jesus toegewy te wees. En Jesus se opdragte is ons almal s’n. Ook ons moet onderhou wat Matt 28 vers 19 en verder sê want dit is deel van alles wat Jesus geleer het. Wat ons vandag het is nie wat Jesus in gedagte gehad het nie. Kom ek wys dit grafies (ek het dit op Twitter gekry en Afrikaans gemaak) Kyk die verskil. Ons vandag, ons neem in en gee min uit. Dit gaan oor ons en ons belewings. Kyk maar hoe goed gaan dit met kerkverbande wat fokus op dit wt mense wil hê. Hulle is ingestel op mense se behoeftes. Mens hou daarvan. Jesus is anders. Hy sorg vir Sy mense. Maar, en dit is belangrik, Matteus 10, Hy stuur hulle soos skape tussen die wolwe in. Gaan getuig. Gaan praat. Gaan vertel. Gaan wees Jesus tussen mense. Jesus maak 12 dissipels. Een val weg. Hy stuur hulle om elkeen nog dissipels te gaan maak wat op hulle beurt nog dissipels moet gaan maak. Almal moet die mense leer om te leef soos Jesus geleef het EN dissipels gaan maak. Kom ek staaf dit: Jesus se laaste groot opdrag was volgens Matt 28: 19-20 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” En volgens Handelinge 1:8 was Jesus se laaste afskeidswoorde: 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Maak die mense my dissipels en leer hulle. En hulle moet alles onderhou wat Jesus geleer het. En julle sal krag ontvang en julle sal My getuies wees. ‘n Dissipel is ‘n vakleerling. ‘n Persoon wat by iemand leer en doen terwyl hulle leer. Indiens opleiding. Moet ons dan nie dringend verander nie? Terugkom in lyn met die Skrif. God se wil. Ek wil vir jou opkom vandag. 1987 tot 1996 omtrent moes ons elke jaar vir die Ring ‘n staat van godsdiens invul en inhandig. Jy moes sê hoeveel huisbesoeke jy gedoen het. Sover ek kan onthou is daar nooit gevra hoeveel dissipels het jy hierdie jaar gemaak. Ek kan nie onthou dat iemand my ooit in 31 se bediening dit gevra het nie. Baie mense wil besoek word maar verder wil hul self niks doen nie. Sending, evangelisasie en die goed is vir kommissies gelos. Ander mense moes dit doen. Ons, as lidmate is besoek en moes help by basaars en dis wonderlik as jy darem bybelstudies bybring ook. En vandag sit ons met christene wat soos die wêreld lyk. Wat glo maar ongelowig leef. Besef u dat ons oor ‘n tydperk heen gemaklik geraak het om alles vir die dominie en vir die kerkraad en vir sendelinge te los en ons eie roeping versaak het? Die gemeente se primere doel is nie om besoek te word by ons huise nie maar om self uit ons huise uit te gaan na ander en Jesus se liefde na hulle te vat. Ek gebruik doelbewus die woorde “Jesus se liefde” en nie die evangelie nie want ons gawes verskil en daar is mense wat ter dode sal neerslaat as hulle voor groepe moet praat. En somige gawes is diens en barmhartigheid en meer doen dinge. Maar in al daardie dinge is ons besig om Jesus na die mensdom toe te neem. Onthou nou: Jou grootste “selling point” is die bewys van dat wat jy sê werk – en daardie bewys sal jou lewe moet wees. Jesus se liefde wat uit jou uit straal. Jy wat goed doen, vriendelik is, opreg is, vrede lewe. Kyk maar later na 2: 22. Ek sal netnou 2: 11-13 opsit ook. As ek terugkom na vers 2. Dit beteken dat ons elkeen, moet dit wat ons leer op ons beurt weer aan ander gaan leer. Soos laas Sondag se boodskap. En vandag s’n. Vir wie gaan u dit leer? En as om ander te leer nie jou gawe is nie, hoe gaan jy daardie boodskap so uitleef by ander dat hulle dit sal kan beleef? Dit beteken ook dat ons gefokusd Jesus sal moet lewe. Sy liefde. Sy vergifnis. Sy genade. Vers 11 tot 13: Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. Lewe nou saam met Jesus. Lewe Jesus. Moenie terugsit en wag om besoek te word en bedien te word nie. Gaan uit, maak dissipels, woeker met jou gawes. Lewe nou saam met Jesus. Maak dra dit wat jy leer by die Here oor aan ander en pas dit self ook toe in jou eie lewe. Amen.