Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Timoteus 2: 8 – 13 1. Onthou . Onthou altyd. So begin vers 8. 8” Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.” Sou ons vergeet dat Jesus die Seun van God is en dat Jesus Sy lewe aan ‘n kruis opgeoffer het, gesterf het in ons plek en uit die dood opgewek is, as ons dit vergeet, dan gaan ons nie soos Paulus en elke gelowige, ons deel van die lyding vir Christus kan dra nie. Paulus het swaar gekry twv die evangelie. Hy is geslaan, met klippe gegooi en vir dood laat lê, koud gekry en warm gekry, honger gely en het in die tronk opgeëindig. En in die laaste gevangenskap, ter dood veroordeel oor hy in Jesus geglo het en Jesus verkondig het. Paulus sou dit nie kon doen as hy nie vers 8 se waarheid die heeltyd voor oë gehou het nie. Jesus het vir hom gesterf en uit die dood opgestaan. Daarom ... daarom het hy Christus geleef en selfs gedeel in Christus se lyding. Daarom. Daarom is Paulus se lewe op Christus en op ander gerig. Kan hy van homself af wegkyk, sy eie belange prys gee, sy eie veiligheid en oorlewing op die spel plaas, solank die evangelie verder kan gaan en ander dit ook kan hoor en Jesus kan vind. Dit is fokus! Dit is absolute toewyding aan Jesus die Christus. En dit gebeur as jy besef Jesus is die opgestane Here. Hy leef. Hy regeer vir ewig. As jy nooit vergeet Hy het vir jou gesterf. As jy Jesus volg as Sy dissipels, dan is dit wat jy doen: jy gee jou lewe vir Jesus. Elke dag in die klein dingetjies gedoen vir Hom en vir ander. En sou dit ooit gevra word, ook in die groot dinge, in die neerlê van ons lewens vir Sy Naam en eer. 2. As. (As ons saam met Hom) Soos Paulus sy redenasie verder uitspel, gebruik hy 4 keer die woordjie “as”. Elke keer verbind hy dit met ‘n gevolg. Die eerste twee is positief. Dit raak gelowiges wat getrou aan Christus bly. End uit getrou bly. Die laaste twee keer wat hy “as”gebruik is dit negatief. Hierdie keer met die oog op mense wat op ‘n stadium geloof bely het maar nou onder druk en uit vrees vir teenkanting terug deins en ongehoorsaam raak. 11 “Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; ...” Twee dinge word vir ons voorgehou: Om saam met Christus te sterf en die tweede is om te volhard in die geloof. Sterf en volhard. Volhard kan jou jou lewe kos. Dit gaan in die direkte konteks/agtergrond, daaroor om bereid te wees om ter wille van Christus te ly, geslaan te word, in die tronk gegooi te word en selfs dood gemaak te word oor jou geloof. Maak nie saak wat die wêreld doen en wat mense om jou sê en doen, jy moet volhard in Christus. Niks mag vir jou meer werd wees as Christus nie. Ook nie jou eie lewe nie. Soos Paulus wat ly en op die punt van ‘n teregstelling staan. En nie soos Timoteus wat wou terugdeins nie. Volhard Timotheus want om handdoek in te gooi het ‘n prys. So probeer Paulus vir Timotheus aanmoedig. Om met Christus te lewe beteken om by Hom te wees. Om in ‘n noue verhouding met Hom te leef. Om Jesus werklik lief te hê en te begeer om soos Hy te word en om Hom te verheerlik. Om Hom werklik te dien. Die teendeel is as ons nie saam met Hom sterf nie. Kom ek gebruik Paulus se woorde: As ons Hom verloën. As ons ontrou is. As ons Christus verloën sal Hy ons verloën. Die Grieks gebruik nie die woord verloën nie maar apisttoumen, ongelowig. Dus wat ons doen in verloëning is om ongelowig op te treë. En dan in die laaste deel van vers 13, letterlik vanuit die Grieks: “want Hy kan nie ontrou aan Homself wees nie.” Dink aan Jesus se woorde in Matteus 10: 32 “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33 Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.” Ons moet besef: Wat jy hier lewe, spoel oor na die volgende lewe. (Rom 14). 7 “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Dit is wat Paulus by Timoteus probeer tuis bring. Moenie terugdeins oor teenkanting nie. Dit gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor Christus. Jou lewe gaan oor Christus. Leef vir Christus en wees bereid om te sterf vir Christus as dit moet. Die Boodskap se vertaling van 2 Timoteus 2: 12 en 13 klink so: “Ek praat die waarheid: As ons saam met Jesus gesterf het sal ons ook saam met Hom leef. 12 As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê. 13 As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie ... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie.” Watter wonderlike sekerheid gee dit nie aan ons nie. Christus sal nie toe laat dat jy in ontrouheid volhard nie. Hy het Petrus na Petrus se verloëning terug gebring. Sohet Hy ook Timoteus deur dra. So sal Hy ook jou en my by Hom hou. En dit net omdat Christus, ons Here, Homself nie kan verloën nie. Hy bly getrou aan Wie Hy is. Hy hou Sy beloftes. Daarom, kan dit nie anders as om Hom te wil verheerlik in alles. Daarmee beweeg ons verby lofprysing. Die woord verheerlik sê ons verklaar Hom tot Here oor ons lewe. Eienaar. Hom vir wie ons leef en Hy vir Wie ons sterwe. 3. Christus ons alles. As ek mag vra, lees later weer die eerste 13 verse. En kyk dan oor wie gaan dit werklik hier. Nie Timoteus in die eerste plek nie, ook nie oor Paulus nie, ook nie oor die dissipels wat in vers 2 gemaak moet word nie. Dit gaan oor Jesus Christus. Paulus sit in die gevangenes as ter dood veroordeelde oor Christus. Wetende sy lewe kan eindig maar die opgestane Here sal ewig heers. Sy evangelie sal verder en verder uitkring. En meer en meer mense sal Christus vind en hulle lewe gee vir Hom. So kom dit ook by jou en my. Sal jy jou lewe vir Christus gee? Hy het Syne vir jou gegee. Gee dit daagliks in die klein dinge. In gehoorsaamheid aan Hom. In die uitdra van Sy liefde, in jou toegewy wees aan Hom, in die maak van dissipels, in diens in die woeker met jou Gees gegeefde gawes. Christus as Opgestane Here het Paulus op die Damaskus pad geswaai. En nou is Christus sy lewe. En hy nooi ons uit, roep ons op, om saam met hom vir Christus te lewe. En dit kan net gebeur as ons saam met Christus gesterf het. Petrus, voor die kruis, het Christus verloën. Maar die opgestane Jesus het Petrus gaan haal en weer heel gemaak. Jesus, getrou aan Homself, het Petrus behoue laat bly. Skep moed, Hy is by jou tot aan die einde van die wêreld.