Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiërs 4: 7 – 16 Niemand bou ‘n boot om in ‘n veilige hawe op anker te lê nie. ‘n Mens bou ‘n boot om die oop waters in te seil, die storms te trotseer en die opwinding en die rustighede van seil te beleef. Christus het nie Sy kerk gebou om in geboue veilig weg gesteek te wees nie. Maar om na elke mens, elke stam taal en nasie te gaan en dissipels te gaan maak (Matteus 28). Om met die krag van die Heilige Gees te gaan (Hand 1: 8). So lees ek in ‘n kommentaar van William Hendrickson: “On the ship of the church, there are no passengers; all are crew members.” In Efesiërs 4 hoor jy veral twee dinge: eenheid en opbou. En albei gebeur in Christus. Ek het gewonder: Hoekom hieroor praat? Hoekom moet ons die kerk opbou? Is dit nie maar genoeg dat ons deel is van ‘n gemeente en eredienste bywoon? Die probleem met my vraag is is dat dit Jesus se woorde van “volg My!” misken. Ek dink aan veral die ryk jong man, toe Jesus klaar vir hom uitgewys het wat tussen hom en God staan, het Jesus vir hom gesê “Kom dan terug en volg My.” Geloof, en ewige lewe, gaan duidelik oor meer as om net te erken dat Jesus die Seun van God is, Wie Sy lewe kom gee het om ons van die mag van sonde te bevry. Dit gaan oor verhoudings. Die tipe verhouding wat Jesus met Sy Hemelse Vader gehad het. Die tipe verhouding waar ek en jy met Jesus leef soos Jesus met God geleef het op aarde. Volledig oorgegee aan Sy wil. Ons krag, doel en beplanning vir elke dag by God gevind. Die soort verhouding waar dit 100% oor God gaan en nie oor my nie. En as jy dit snap en Jesus begin vra om jou lewe te bestuur dan raak my volgende vraag irrelevant. Baie mense se lewens is reeds so vol, hoekom nou nog ‘n las op hulle laai? Want Jesus is nou nie nog iets of Iemand wat ek iewers in my besige skedule moet inpas nie. Hy is my skedule. Hy is Wie ek leef. Die “antwoord” wat hierdie hoofstuk oor gelowig-wees en kerk wees bied is: Want slegs as ons ons eenheid om arm en erken, en alles in ons vermoeë doen om die eenheid tussen ons te bewaar, kan die evangelie van Jesus Christus hierdie land en wêreld met krag omkeer. Dit strek dieper. Ons moet teenoor onsself erken dat dit wat ek is, is kerk. Ja, weliswaar net ‘n deeltjie van Jesus se kerk, maar elke deeltjie is kerk. Omdat ons dit is, kerk is, gemeente is, lewe ons in lyn met ons roeping; verdra ons mekaar in liefde; is ons beskeie, vriendelik en geduldig (Efes 4: 1,2). Omdat ons Jesus se liggaam is is ook Sy liggaam prioriteit in ons lewens. Dit is doodgewoon wie ons is. In die tronke praat die gevangenes hulle eie soort van taal. Hulle sal bv vir jou sê: Hy loop kerk daardie een. Hulle het dit verkeerd. Hy loop nie kerk nie, hy is kerk. Jy is kerk. Ons is saam kerk. Steeds enkelvoud. En ons ontdek dat God ons raaksien. Dat jy vir Hom belangrik is. 1. God sien jou raak. God het vir ons elkeen iets gegee wat ons kan doen wat ons as Sy gemeente sal opbou. God ag jou en my maw so belangrik dat Hy die opbou van Sy liggaam in ons hande plaas. Ons moet dit doen. Onthou ons het reeds die Heilige Gees ontvang. Dieselfde Gees wat in Jesus was en is en wat in Bybelse tye gewerk het. Hy werk steeds vandag hier. Hy bly in ons. Hy gee ons die gawes waarmee ons kan opbou aan mekaar en dus aan die gemeente. As ek Kain se woorde kan omdraai: Jy is jou broer se hoeder. (OV). Ek besef Donderdagoggend, dat toe Petrus en Johannes en Jakobus Jesus begin volg het, is hulle lewens onherroeplik aan mekaar verbind. Hulle het nie Jesus elkeen in sy eie ruimtetjie gevolg nie. Hulle het Jesus as ‘n groep gevolg. Geloof word nie in afsondering geleef nie. In afsondering ook maar dit moet altyd terugspoel na mense toe, in die groep in. Jy het ‘n gawe twv ander. En in die mate waarin jy met jou gawe ander dien, neem jou lewensvreugde en vrede toe. Tsv hoe die ander reageer. 2. Jy met jou God geskenkte gawes. Ons praat nie van jou talente nie. Ons praat van geleenthede wat God jou gee om Hom en mekaar te dien. 1 Kor 12 se lysie is nogal uitgebreid: diens, ondderrig, woord van wysheid, woord van kennis, geloof, gesondmaking, God se boodskap te verkondig, diens, en nog ander ook. Alles deur die Gees gegee. Hier in Efesiërs lig Paulus uit apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Die laaste twee gooi hy saam as een. Die groot vraag is hoekom gee God juis hierdie gawes aan Sy gemeentes? Vers 12: “Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.” Christus as hoof van Sy kerk wil Sy mense oplei. Toerus vir hulle diens. Ek kan nie hier verby kom nie. Elkeen van ons het ‘n dienswerk om te doen. En dit moet tot opbou van die gemeente wees. Die fokus van die diens is die opbou van die liggaam van Christus. Ons moet dat die Heilige Gees ons oë al hoe meer oop maak vir ons eie rol in die groter geloofgemeenskap. Niemand is te gering om nie van waarde te wees nie. En al weet jy nog nie waar God jou wil gebruik nie, bid solank daaroor. Erken teenoor die Here dat jy gehoor het en dat jy besef ook jy ‘n rol te vervul hier. Vertrou die Here om te antwoord. En terwyl jy op die antwoord wag, bou jy jou eie lewe op deur dit in lyn te bring met die roeping wat jy in Christus ontvang het. Word jy al meer gehoorsaam. Werk jy aan jou kennis van die Woord. Werk jy aan jou verhouding met Jesus. Dit is belangrik. ‘n Boot se gevaar is nie die water buite om nie maar die water wat binne in kom. Ons ondergang is as die wêreld in ons vastrap plek kry. As ons lewe nie meer oplyn met Christus nie, en ook dus nie met ons roeping nie, sink jy. En jy trek die gemeente saam. Die gawes wat die Gees gee se doel is om dit te voorkom. En die gevolg, die effek wat die gawes in ons lewens gaan hê / moet hê is: a. So sal ons uiteindelik almal kom tot werklike eenheid. b. Ons sal groei in kennis van die Seun van God; Ons sal Jesus regtig kan ken c. Ons sal so volmaak en volwasse wees soos Christus d. Twyfel sal die wyk neem en ons sal nie meer verlei word deur al die vroom profete en meer op facebook en die internet wat snaakse dinge kwytraak nie. Ons sal nie aanhangers van mense wees nie maar net van Christus. e. En ons sal in liefde in die waarheid kan bly. Let wel in liefde want sonder liefde is jy net ‘n leë blik, ‘n klinkende simbaal (1 Kor 13). f. En ons sal in alle opsigte na Christus groei. 3. Christus. Ons mag dit nie miskyk nie. Paulus maak seker dat ons dit raaksien: Dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor Christus. Ons groei na Christus toe. Christus is die hoof van Sy liggaam, van die kerk. En so is hierdie gemeente Christus s’n. Die kerk is soos ‘n legkaart wat een prentjie uitbeeld: Christus. En as elkeen van ons in ons plek in pas dan word die prentjie voltooi en kan die wêreld Christus duideliker sien. En so ook Sy liefde in ons tussen ons. Kyk gerus self vers 16: en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. In liefde! Ek vra vanoggend net dat jy God sal lief hê met groter fokus en intensiteit. Dat jy God sal prioriteit maak en meer tyd in gebed met Hom deurbring. God sal die res doen. En natuurlik, dit wat jy by God ontdek, leef dit. Eugene Peterson: “A changed world begins with us ... and a changed us begins when we pray.” As ek dit kan verdraai: Gemeente opbou en groei begin met ons wat bid. Begin deur die onse Vader te bid, elke dag, stadig en met fokus en dan ook te bid oor vandag se gedeelte. Praat met God oor dit wat hier staan en waar God jou sien in hierdie prentjie.