Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lees 1 KOR 11: 17 - 34 Die nagmaal is 'n gelaaide gebeure. Dis 'n gebeure waarin God direk met jou en my wil besig raak. Dit is die oomblik vir wonderwerke en onverklaarbare vernuwing in ons. God wil jou aandag skerp gefokus op Hom hê. God wil opnuut insny in jou lewe in en jou hoop gee ... en jou vorm ... en ons terug trek in Hom in. Dis vir my 'n bewus word van met Wie het ons elke dag te doen ... ja ons, ons wat so kragloos lewe asof God nie 'n duit omgee of ons survive of nie. Die Heilige Gees wil jou terugvoer in Jesus se lyding in. Hy wil jou vat na die verskrikking van die geseling – daar waar die stukkies been in die kats Sy rug aan flarde geruk het --- die intense pyn --- die vernedering deur die strate gepak vol mense oppad na die plek van kruisiging. En die hel van die kruis – ek het nie 'n ander woord om Sy lyding en pyn en die wreedheid van die kruis te beskryf nie. Ons word teruggevat na Jesus se woorde “Gebruik dit tot My gedagtenis.” In die nagmaal word ons herinner ... dis vir jou! Die straf op jou sondes is volledig gedra! Jou vonnis ... dis volbring. Daars nou vrede tussen jou en God. 1. Oordeelsbeker: drink dit! Die Ou Testament praat van die beker van oordeel wat gedrink moes word – 'n skrikwekkende beker van oordeel. Esegiel 23: 33 – 34 “Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry; die beker wat jou suster Samaria moes drink, is 'n beker vol angs en skrik. Jy sal hom leeg drink, alles opdrink.” Jer 25: 28 “Wanneer hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, moet jy vir hulle sê: so sê die Almagtige: Drink sal julle drink!” Die genade vat nie God se geregtigheid weg nie. God spreek niemand sonder meer vry nie (Eks 34: 7b) Iemand gaan betaal vir jou en my onverskilligheid, eiewilligheid en ander sondes. En as dit nie jy is nie ... Wie se lyding maak jy daagliks erger? Vandag mag jy ervaar – daardie oordeelsbeker – al is dit hoe geregverdigd, al skree al die getuies jy moet dit drink, jy verdien dit ... jy sal dit drink. Wel, aan die nagmaalstafel mag jy die goeie nuus hoor en beleef: jy mag die oordeelsbeker laat verby gaan – jy hoef dit nie te drink nie. Jesus het dit reeds namens jou gedoen. 2. Die genade: Dit is vir jou! Mag ek dit weer sê: Jy mag die oordeelsbeker laat verby gaan – jy hoef dit nie te drink nie. Jesus het dit reeds namens jou gedoen. (Laat dit insink.) Jy hoef dit nie self te drink nie. Jesus het dit vir jou gedrink. Jy is vry. Daar is nou vrede tussen jou en God (Romeine 5: 1, 2). As ek dit my eie maak, en uit dankbaarheid my lewe gee aan Jesus my Verlosser en ek maak die keuse om Hom te volg. Dan sal ek die slaggat vermy wat die vroeë kerk skynbaar in vasgeval het op ‘n stadium. Iewers het hulle nie die konneksie getrek tussen geestelik en allerdaags nie. Iewers het hulle kerk en lewe geskei. Het hulle nie orals hulle verlossing geleef nie. En die ergste is is dat dit juis rondom die gesamentlike maaltye gebeur het. Rondom die nagmaal. Ons het in die laaste weke gehoor hoe belangrik is die eenheid tussen gelowiges vir die Here. Die gemeente in Korinthe van ongeveer 55+ nC het dit vergeet. Paulus skryf: 18 “Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook.” Hulle het saam geeet, en dan as deel daarvan saam nagmaal gebruik. Die ander het gemeen dat die nagmaal is als maar wat die res van die aand se dinge betref ... wel dis minder belangrik. As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie, want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink.(20-21) Baie was slawe en moes eers klaar werk en hulle eienaars het nie vir hulle kos gegee nie. So hulle het honger gekom. Hulle het tydens die liefdesmaal nie om gegee dat ander gelowiges niks het om te eet nie. Hulle het hulself geniet. Paulus het gevoel hulle verneder die armes. Hulle het nie eerbied vir die gemeente van God nie. As jy dieper dink dan kom ‘n paar goed navore: Die eenheid wat die Gees geskep het, was nie belangrik vir hulle nie. Hulle het nie liefde bewys nie anders sou hulle plan gemaak het en gedeel het rondom die maaltyd. Hulle het nie genade bewys nie. Genade in die vorm van kos gedeel. Iewers het hulle vergeet oor wie dit eintlik gaan en dat hulle almal uit genade alleen gered is. 3. Christus alleen. As daar iets is wat ons vandag nog graag vir mekaar sê dan is dit genade alleen. Dit is net genade dat God ons gered het. Ons verdien dit nie. Die nagmaal sê dit ook. Die Hervorming het dit uitgedruk in 5 solas. Genade alleen. Christus alleen. Om net 2 te noem. Paulus self skryf in hierdie deel dat dit die gemeente van die Here is. God se gemeente. Wat ons skerp herinner: Hierdie is God se gemeente. Nie ons s'n nie. God s'n. Al die tekens aan die nagmaalstafel, die brood die wyn, sê tog duidelik ... dit het die Seun van God Sy lewe gekos. Hy is oorgelewer. Hy het dit gedoen omdat Hy oor ons begaan was. Ek en jy ... is God s’n. Sien Jesus se voorbeeld. Volg Hom in omgee in ... weg van selfsug en jou eie belange af. Eenheid. Liefde. Omgee. Wag op mekaar en saam buig voor die Here, ons God. Dis elemente van die nagmaal wat ons miskyk. Die instellingswoorde wat Paulus ons gee is mooi omraam deur die gemeente in Korinthe se vergrype. Dit herinner mens skerp: jou lewe moet nie 'n vergryp wees aan God se genade nie. Jy moenie ligtelik omgaan met die nuwe lewe wat Jesus aan die kruis vir jou verdien het nie. Paulus reken dis hoekom dit so sleg met die mense in daardie gemeente gegaan het. Hulle het hulle respek vir die heiligheid van wat God in die nagmaal doen, verloor. En ongelukkig is dit waar van baie sg gelowiges in hierdie land. ‘n Land wat ook God s’n is. Jou nagmaalsviering moet sigbaar word in hoe jy met mense is. Dit moed oorspoel in alles wat jy doen en is. En vanoggend spesifiek, maak jou oop vir die Gees van God om deur die brood en wyn jou lewe te kan verdiep of selfs vernuwe. Wat ookal die Gees nodig ag. Sê dit netnou in gebed: Hier is ek. Laat U wil met die nagmaal vanoggend geskied. Laat U wil met my geskied. En mens, raak weer bewus van met Wie jy te doen het. Voor Wie jy elke oomblik leef. Dit is die lewende Heilige God. Daar is nou geleentheid om die Here te vra om hierdie nagmaal verder in ons te omskep in iets veel meers as net ‘n tradisie.