Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Nehemia 1: 1 - 11 D aar is baie cliches. Bv Ons moet God se hart hê. Dit is natuurlik ‘n vers in Esechiel wat sê God sal ons harde hart uithaal en ‘n hart vanvlees gee. Ek dink met hierdie deel is ons waar ons iets van God se hart kan sien. Dit is al baie en op baie plekke gesê en geskryf dat ons Suid-Afrikaners afgestomp geraak het vir al de geweld en swaar kry. En as dit na aan ons huiskom dan is ons vir ‘n oomblik geskok en dan gaan ons maar net weer aan. Want ons moet. Kyk nou na Nehemia. Dit is die jaar 445VC. Hy is in ballingskap. Hy kry slegte nuus van die huis af. En hy gaan sit en huil en vir dae lank treuer hy. As jy die boek lees dan besef jy dit is ‘n sterk mens hierdie. Eintlik sommer in die eerste hoofstuk sien jy dit reeds. Hy sit nie voorop wat hy al bereik het nie. Hy sê nie ek is die koning se skinker nie. Hy sê dit so terloops na hy jou iets van sy hart en lewe laat beleef het. ‘n Swakker mens gryp eerste na titels en posisie. Nie Nehemia nie. En nee, hy is nie maar ‘n koninklike kroegman nie, of die een wat die wyn moet proe om te sien of daar gif in is nie. ‘n Koning se skinker was ook die koning se raadgewer. ‘n Jood, in ballingskap en in die posisie van skinker vir die koning. Dit wil gedoen wees nê? Duidelike ‘n wyse man met dryf. Waar begin hy? Jy leer hom ken as ‘n man wat bid en glo in God. Jy ontdek ‘n man wat sonde bely voor God. Gebroke is voor God oor sy land se mense. Ek kan nie anders as om vanoggend te sê dat in hoofstuk 1 beleef jy wat God doen. 140 jaar na die val van Jerusalem en God sê dis nou genoeg. Ek keer dit nou om. En is dit dan nie God wat die nuus uit Jerusalem laat kom? En is dit nie God se hand wat so op Nehemia druk dat die nuus hom so diep ontstel en hy vir dae huil en bid. Nehemia se vas en gebed is nie ‘n poging om God te oortuig om tog nou in sy genade te begin optree nie! Dit is eerder Nehemia wat besef hy is nog lank nie gereed vir die groot taak wat op hom wag nie. Hy besef wel dit is hy wat iets gaan moet doen. Dis nie sommer net dat hy keer op keer na homself verwys as die Here se dienaar nie. En dit is ook nie verniet dat hy in vers 11 so terloops byvoeg dat hy die koning se skinker was nie: niemand is in ‘n beter posisie om toestemming te vra vir die groot werk in Jerusalem nie! Nehemia is ook bang, want hy weet nie hoe nie! En koning Artaserxes 1 was berug vir sy plofbare geaardheid. God het hierdie Nehemia geplaas waar Hy hom kan gebruik. En die man wat Hy kies is ‘n man van gebed. Langer gebede en een sin gebede. Dit is ook ‘n man op wie God ‘n stuk meegevoel plaas vir die ballinge wat swaarkry onder droogte, blootgestel en weerloos is tov vyande en aanvalle. ‘n Situasie waar kinders verkoop is as slawe twv oorlewing. Die eerste ding wat Nehemia my leer is dat ek my hart moet terug kry. Ek moet God se tipe hart hê 1. Harte wat omgee. Ek dink ons het dit verloor. Suid-Afrikaners leef van slegte nuus. Ons is al afgestomp daardeur. Ek weet iemand sal vir my talle voorbeelde van omgee harte wys. Bv Burre Burger met sy graan en voer insamelings vir die droogte geteisterde gebiede. En ander whatsapp videos. Maar ons praat oor jou en my. En die tipe hart wat ons oor praat is anders. In Hebreeus, as daar na hart verwys word, dan trek die woord jou hele menswees in: emosies, intellek, siel en gees. En as ek na Christus kyk, in Wie ek God die duidelikste kan sien, sien ek ‘n hart wat huil oor die sonde van Jerusalem, wat alles prysgee in die hemel om soos iets te word wat deur Hom geskep is want hulle het redding nodig, ‘n hart wat sterf aan ‘n kruis oor die sonde van die mensdom. En op die skerpste sy omgee aan die kruis as Hy vir Johannes sê Seun hier is jou moeder ... sodat Sy aardse ma versorg kan wees. En Sy vyande? Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. ’n Hart wat omgee is ‘n hart wat huil oor die pyn en seer wat ander in die wêreld beleef. As ons weer na Nehemia kyk: Hy het gaan sit en gehuil en vir dae lank getreuer. Hy het gevas. Hy is so geraak dat hy kos opsy gesit het en net gefokus was op hierdie verskriklike ding en om daaroor te bid. Vir dae lank. En as hy bid verklap hy sy geloof. Hy sê ‘n paar belangrike dinge oor God. Dat God ontsagwekkend is.Dat God Sy woord hou, sy ooreenkomste en Sy liefde handhaaf. Hierdie God kan jy vertrou en by Hom is daar hierdie ongelooflike perfekt liefde. ‘n Liefde wat heelmaak. Verandering kom in jouself eerstens, as jy kan sien dat God groter is as jou probleme. As jy kan insien dat God nie gebind is deur ons realteit nie. Daar is niks wat ‘n mens se probleme en vrese so gou in die regte perspektief stel as om eers ‘n helder uitsig te kry op presies hoe groot en ontsagwekkend en magtig God is nie! Ja, my probleme is groot…maar U is baie groter! Ja, my hart is vol angs…maar nóg voller met ontsag vir U! Ja, ek is bang…maar ek sien U beloftes raak. En ek ken U liefde. En as jy tussen die lyne lees en God se vroeer beloftes nagaan, dan sien jy hoe God op Sy tyd ‘n Nehemia in ‘n posisie plaas om te doen wat God gedoen wil hê. Nehemia is nie besig om God se arm te probeer draai nie. Nie deur te vas of deur sy gebed nie. Nehemia is besig om te gaan met die stroom wat God hier skep. Sien God aan die werk hier. Sien wel ook dat dit vloei uit ‘n verhouding wat vir Nehemia meer belangrik is as enige posisie of status wat hy al bereik het. Sy verhouding met God is wat Nehemia definieer. En jy sien dit in sy gebedslewe. Nehemia vra dat God sy gebed sal verhoor “Gee tog ag op die gebed wat ek U dienaar, sonder ophou tot U bid.” En wat bid hy? 2. Vergewe tog Here. Hy bid oor die volk se sondes. Hy bely hulle sondes voor God. Hy gaan staan namens sy mense in die bresse voor God. En hy sluit homself nie uit nie. Ook hy is skuldig voor God. En ek glo dat dit ook is wat ons vandag moet doen. Voor ons bid oor enige landskwessies moet ons ons eie sonde diepgrondig eien en bely. Ons hoogmoedigheid; ons neerkyk op ander mense; ons gebrek aan meegevoel. En nou ook die feit dat ons instaat is om te haat. En met bely bedoel ek nie net ons Afrikaans sprekendes se sondes nie, ons staan voor God namens elke mens in hierdie land. Ongeag die taal of kultuur. Ons is vanoggend die mense deur God gekies om te bid. En ons is God se mense hier gelaas om God se hart te hê vir alle mense. Dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor God. God se koninkryk wat moet sigbaar word in Suid-Afrika. Deur vandag te bid namens almal druk ons die bose terug in die Naam van Jesus. Vergewe ons Here want ons gaan aan asof alles oor ons gaan. Soos Nehemia gesê het ons eër U nie na behore nie en ons is ongehoorsaam. Ons gehoorsaam U waar dit ons pas of waarmee ons gemaklik is, ons volg U nie Here Jesus na waar U ons lei nie. Vergewe ons Here. Besef dat wanneer ons bid is God besig om ons te verander. Bid dus meer. Sit meer by God. Sodat God in ons kan bewerk die vrug wat Hy in ons lewens wil sien. 3. Die Here alleen. Nehemia het geweet dat uit eie krag gaan hy nêrens kom nie. In hoofstuk 2 sê hy ook hoe bang hy was. Koiing Atasarxis 1 was berug vir sy ontploffings. En as jy kyk wat Nehemia hom alles wou vra dan verstaan jy die situasie was delikaat. Jy besef ook dat Nehemia goed voorbereid was. Sy lysie van benodighede was deeglik beplan. Dit onderstreep dat dit voortvloei uit dae in gebed voor die Here. Ons sê vir mekaar net God kan hierdie droogt finaa breek. Net God kan die waansin in hierdie land omkeer en vrede gee. Net God kan ‘n bloedbad voorkom. Maar bid ons dit deur? Huil ons uit die hart uit oor wat ons sien en hoor? Wat my laat besef die begin van verandering is by ons in aanhoudende gebed. Gebed waar ons vra om God se hart te mag hê, wetende dat ons in trane sal wees meeste dae. Gebed waar ons diepgaande sonde bely: ons eie en die land s’n. Genoeg gepraat. Kom ons bid.