Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kinderdiens 16 September 2018 Skriflesing: Matteus 16: 13 - 16 Wat is ‘n hero? Wie is jou hero? Hoekom is juis hy of sy jou hero? Kan vrouens nie heros wees nie? Wie se ma is hulle hero? Wel ek het nie heros nie. En nee, Jesus is nie my hero nie. Want baie mense se hero’s is net mense wat hulle op ‘n afstand bewonder. Ja. Party trek soos hulle held of heldin aan. Ander sit plakate met hul held se foto op teen hulle mure. Maar dit is gewoonlik waar dit stop. Jesus is vir my baie meer as net ‘n held. Baie mense dink die wêreld van Jesus. Hulle bewonder Hom. Hulle dink dit Hy was die grootste mens op aarde. Die beste filosoof. Maar Jesus wou nooit een van daardie dinge wees nie. Hy het nooit daardie opsie vir ons gegee nie. Sy opsies was glo in My of glo nie in My nie. Toe Jesus nog as mens hier op aarde geleef het, het Hy eendag vir die dissipels gevra: Wie, sê die mense is die Seun van die mens? Die dissipels het gesê: Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete. Toe vra Jesus weer: “Maar julle,” het Hy gevra, wie sê julle, is Ek?” (Matt 16: 15) Persoonlik, die keer. Nie wat sê ander mense nie, maar wie sê jy is Ek? Wat sê julle, wie is Jesus? (Luister na kinders se antwoorde). Jesus is my God, my Koning. Hy is die Christus, die Redder van die mensdom. Hy is God self. En Hy is hier. Geen hero het nog ooit sy of haar lewe vir my opgeoffer nie. Jesus het. Hy is baie baie meer as wat mense dink. 1. Wat maak Jesus so groot! Maar voor ek julle dit verduidelik, kom ek vertel hoekom Jesus so besonders is: Jesus is my hero want Hy het met Sy liefde die wêreld verander. Jesus is nie n boelie nie. Hy sal eerder self geboelie word as wat Hy ander sal boelie. Hy sal die wat Hom seermaak vergewe. Hy kry eerder self seer as wat iemand anders moet seerkry Jesus praat nooit lelik van ander nie As Jesus jou maatjie is dan is Hy dit more en oormore ook Wat Hy vandag sê is more nogsteeds so. Jesus praat nie net Hy doen. Daar is niks leliks in Jesus nie. Jesus het my lief al verdien ek dit nie. Ek dink as almal soos Jesus optree sal die wêreld n beter plek wees. Dit is hoekom ek soos Jesus wil wees. Julle wil altyd weet wat is ‘n superhero se “superpower”. Maw wat kan hierdie “superhero” vir jou doen. Wat maak hom of haar so spesiaal. So ek gaan vir julle sê wat Jesus vir jou doen. Jesus het alle mag in die hemel en op die aarde. (Matt 28) Jesus is die Woord en alles wat jy ken en kan sien en selfs baie meer is deur Jesus geskep. (Joh 1) Jesus het duiwels uitgedryf. Die duiwel is baie baie bang vir Jesus. Selfs net vir Jesus se Naam is hulle bang. Jesus het siekes gesond gemaak, blindes laat sien, verlamdes laat loop. In die middel van ‘n erge storm het Jesus vir die wind gesê gaan lê en die wind en die golwe het bedaar en stil geword. Jesus het water gevat en dit in wyn verander. Hy het die brood en vissies vermeerder en so baie baie mense kos gegee. Maar al hierdie dinge is nie waarvoor Jesus geken wil wees nie. Al hierdie dinge is net om te wys Jesus is Wie Hy gesê het Hy is. Hy is die Seun van God. God self. Hy is die Begin en die Einde van alles. Wat Jesus wou gehad het het is dat elkeen van julle moet weet: Hy het jou lief. En as jy in Hom glo sal Hy jou vir altyd by Hom hou. Die ewige lewe gee. Jesus het ons ook geleer hoe om met God te leef. Hy het ook gesê ons moet Hom volg. En met God leef soos Hy met God leef. 2. Volg Jesus. Jesus het die dissipels geleer om te kan doen wat Hy gedoen het. Om met God te leef soos God dit wil hê. Sê as jy verkeerd is. Bely jou sonde teenoor God. Maar ook teenoor die mens wat jy verkeerd gedoen het. Vra God om jou te vergewe. Vergewe ander mense, wees vinnig om te vergewe. Wees iemand wat dinge vir ander doen, ‘n mens wat dien. Soos Jesus. Al is dit moeilik en al het jy nie lus nie, wees jy die een wat ‘n verskil maak en help. Wees jy die een wat alles uit liefde doen en niks sal doen wat nie uit liefde is nie. Daar is een iets wat ons altyd moet onthou van Jesus. Hy het gesê: Kom volg My! ‘n Rabbie het net leerlinge geneem wat hy gedink het sal eendag kan doen wat hy doen. So hulle het die bestes van die bestes gekies. Jesus het ook mense gekies wat Hy geglo het sou eendag kan doen wat Hy gedoen het. Jesus het geweet as Hy deur die Heilige Gees in hulle werk sal hulle kan soos Hy gedoen het. Johannes 14: 12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Duidelik moet ons nie net glo nie. Alles stop nie by glo nie. Glo word doen. Glo word om dieselfde dinge mee besig te wees as waarmee Jesus besig was en steeds is. En ook: Johannes 20: 21 “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 3. Ons volg U, Jesus. En so is ek en jy ook gestuurdes. Netsoos Jesus gestuurde was van die Vader is ons nou God se gestuurdes. Mense wat gaan doen wat Jesus gedoen het. Dit is net moontlik as jy jouself heeltemal oorgee aan Jesus. As jy Jesus vra om in alles jou lewe te bestuur en jou denke te beheer. As jy soos Jesus uit die Vader uit leef. Dink aan Jesus se gebedstye, deur die nag gebid, gebid voor elke groot gebeurtenis. Hoe Jesus gesê het dat Hy net gedoen het wat Hy by die Vader gesien en gehoor het. En as jy so ‘n pad met Jesus loop dan word jy minder en Hy meer. En God gebruik jou al hoe meer. In Matteus 28 sê Jesus vir die dissipels gaan en maak dissipels. Gaan doen wat Ek gedoen het. Ek het van julle dissipels gemaak. Gaan herhaal julle die proses met ander. En leer hulle om dit op hulle beurt weer met ander te doen. So word ons almal dissipels. Mense wat by Jesus leer. Mense wat soos Jesus optree en is. Mense wat nie belangrik wil wees nie maar eerder ander help om belangrik te word. Gebed Kollekte: Kinderdankoffer Eredienskollekte Geloofsbelydenis deel. Die dissipels se belydenis is niks nuuts nie. Blaai saam met my terug na 14:33. Daar waar Petrus op die water probeer loop het, gesink het en gered is – en dan as hy veilig terug in die boot is -- toe het die dissipels voor Jesus gekniel en bely: “U is waarlik die Seun van God.” So hoekom nou weer die vraag? As jy kyk na waar vra Hy die vraag dan begin dinge skielik helder word. Naby – in die gebied van Sesarea Filippi. Dis soos om te sê ... reg om die hoek van die hoof aanbiddingsplek van die afgod Pan of Panias. Die half bok half man afgod. Daar, by die groot rotsformasie met die skeur wat diep in die aarde insak -- ja net daar waar die mense van Sy dag geglo het die geeste heen en weer – in en uit die hel beweeg. Daar vra Hy vir sy dissipels: Wie sê julle is Ek? En as hulle antwoord dan sê Hy oa 2 dinge: 1. Op hierdie rots (belydenis) sal ek my kerk bou. 2. Die poorte van die hel sal dit nie oorwin nie. Het u fyn geluister? By die plek “Die poorte van die hel” -- sê Jesus vir hulle: die magte van die doderyk sal dit – die kerk en die belydenis -- nie oorweldig nie. Dis een van twee plekke in Matteus waar van die kerk – die ekklessia gepraat word. En voor die plek wat mense gedink het dis die poorte van die hel, sê Jesus nie eers die hel se magte kan die kerk oorwin nie. By die plek van die mens wat homself god laat noem het en die plek van die god wat deur mense uitgedink is ... daar naby ... kom die vraag terug: Wie sê julle is Ek? Dis een ding om in die veiligheid van die bootjie, weg van mense wat anders dink te bely Jesus is die Seun van God ... dis 'n gans ander saak om dit te bely in die aangesig van mense wat in bokgode glo ... of ateiste is ... of niks van jou geloof wil weet nie. Ons belydenis dat Jesus die Seun van God is, ons Here en ons Verlosser, is maklik om te bely op 'n Sondag in die erediens. Maar die vraag word nie hier gevra nie. Dit word gevra ... op verskillende maniere ... juis daar waar jy jou geloof liefs vir jouself sou wou hou. Geloofsbelydenis op melodie van lied 464 Seën Amen.