Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
GENESIS 37:1-11 (Vaalmarina) Hoekom gebeur dinge met ons? Hoekom val ons gesin uitmekaar? Hoekom laat God dit toe? Hoekom is Hy nêrens te sien in my donkerste uur? Hoekom voel ek so bitter alleen? Vergeet die maklike antwoorde. Ja, sonde is deel van die prentjie: jou sonde; my sonde; ander se sonde. Maklike antwoorde troos my nie. Veral nie die antwoorde van hulle wat in perfekte gesinne sit, of alles darem net sooo bymekaar het nie. Kom klim vanoggend in die gesin Jakob se skoene in. Kom sien die onlogiese logiese: hoe jy jou eie kleintydse seerkry net herhaal in jou eie gesin in; Kom voel die wrewel, of sal ek dit by die naam noem?, haat wat tussen kinders onderling kom. Kom wees die slagoffer van die klikmond broer; geniet jou wraak en verdrink later in jou spyt. Of kom wees die voortrek kind! Vertel jou drome van hoe jy eintlik beter is as jou boeties en sussies. Wees verwonderd oor hoe hulle dit dan nie kan sien en na jou wil draai vir raad nie. Feit is jy is te blind om te sien dat hulle jou houding klaar gelees het daarom is daar die kloof tussen jou en hulle daar. Kom, wees die pa wie se kinders vir hom lieg. Kom, verkoop daardie mislike broer van jou in ‘n slawe-hel in. Toe! Wat gee jy om: hy het dit tog op homself gebring. Bring jou kleintyd en jou seertyd. Jou vrese oor jou kind, jou ontroue vrou, jou afwesige man, bring wat jy ookal wil en staan saam met my hier en skree ten hemele: Here waar was U toe? Waar is U Here? Ek sien U dan nie! Welkom in die gesin Jakob. Net nog ‘n normale gesin! Maar sal jy gesinne wil Jakob wil ruil? Is dit erger in jou lewe as in hulle s’n? Is jou pyn en vrese groter? Is God nog meer onsigbaar vir jou? Het u raakgesien: God word nêrens genoem in hierdie deel. Op die oog af is hy afwesig. Maar … as jy verder lees dan ontdek jy Hy is oral. Ontdek jy hoe Hy agteraf, ongesiens werk so tussen die gesin se haat, jaloesie en swakhede heen. Dit kan net God wees wat vir Josef die droom gegee het … daardie een waaraan Jakob so bly dink het. Daardie droom wat hoofstuk 42, daar in Egipte waar geword het. As jy verder lees ontdek jy hoe God Josef regop hou deur al sy terugslae en hom keer op keer weer voorspoedig maak: Eers in Potifar se huis. Maar toe slaan die lewe weer toe in die rol van Potifar se vrou en haar verkeerde luste. Dan weer in die tronk maak God hom so voorspoedig dat hy, ‘n gevangene, die tronk bestuur. Totdat God hom 2de in bevel van Egipte het en so die gesin Jakob van dood deur hongersnood kon red. So moenie dink dat net omdat jy nie God kan sien nie … dat Hy nie daar is nie. Moenie dink omdat jy net donkerte om jou sien dat God nie by jou is en Hy besig is met lig en hoop skep nie. Moenie dink dat omdat jou sonde jou laat struikel het dat God, nes jou familie en die gemeenskap van jou af wegstap nie. Mense sal jou afskryf. God nie! Maar Hy gaan jou ook nie onveranderd laat nie. Kyk vir Jakob. Kyk sy sondes: • Het hy nie saam met sy ma, sy pa bedrieg nie. • Hy wat weet hoe dit voel om nie jou pa se gunsteling te wees nie, gaan doen hy nie dieselfde aan sy kinders nie? Gaan trek hy nie Josef gruwelooslik voor bo al sy ander seuns nie. Leer die man dan nooit? • En wat van die spanning tussen Jakob se twee vrouens: hulle wat ‘n kompetisie aangehad het oor wie het die meeste kinders vir Jakob gegee nie. • En die seuns se moordplanne en leuens? As God van ‘n familie sou wegstap, sou dit nie van hierdie een wees nie? Maar God stap nooit weg nie. Niemand ruk jou uit Sy hand nie, nie eers jy nie! En ja, ons sonde skop duike in ons lewens in. Soos Josef moet ons soms ‘n pynlike pad stap as gevolg van ons en ander se sondes, ‘n pynlike pad omdat ons nes Jakob skynbaar nooit leer … nooit tot selfinsig kom nie … en daarom die fout by almal soek behalwe by myself … ‘n skynbare onvermoë het om te verander. ‘n Pad so pynlik dat jy jouself wil weggooi … en ander jou in elk geval weggooi. Maar as jy aan God vashou, as jy rekening hou met God in jou lewe dan ontdek jy • dat God jou gebruik as instrument van genade ook in jou familie se lewe. • Word jy deel van Sy genade-plan wat hulle red na die lewe. Maar jy, jy moet met God oor hulle praat. Hou op wroeg. Praat met God en begin luister na God. Moenie na mense en hulle haat, hulle jaloesië en swakhede kyk nie. God werk deur en ten spyte van dit. Is dit dan nie die waarheid van Genesis 37 nie? En omdat God by jou is kom daar weer vrede vir jou: Bevry Hy jou van die boeie van jou verlede. Maak Hy die ou wonde heel, bring Hy families weer byeen in vrede. Dra Hy opstandige en weerbarstige kinders selfs deur hulle “fases” … heen na vryheid. Sy vryheid. Want Hy is die Here God, ja, ook die Here JOU God. • Hy hou Sy beloftes, • Hy laat vaar nie die werke van Sy hande nie. Want Hy het belowe, aan jou ouers belowe toe hulle julle as kinders gedoop het, en Hy het aan jou belowe toe jy jou kinders laat doop het: Hy sal die pad met julle loop. Hy sal ons God wees. Hy is die Verbondsgod. Die God van Abraham, Isak, Jakob en Josef. Die God van Carlie en Allen en Ria en Sarie en Gert en Monique en … Hy is jou God! Hy IS daar vir jou al sien jy Hom nie. Vertrou Hom. Hy sal dinge bestuur. Ook jou gesinsdinge. Amen.