Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 3-5 Lank gelede, in die tyd toe ketels en potte nog staangemaak is op oop vure, het die pot ewe grootmeneer die ketel so uit die hoogte bekyk en gesê: Hoekom is jy so swartgebrand? Jy behoort jou te skaam. Die ketel het ewe verward opgekyk na waar die pot op die tafel staan gemaak is, en verbysterd gewonder wat gaan aan. Vanoggend was hulle nog saam in dieselfde vuur. En nou? Die pot self was dan vol duike en onderlangs nog swart gebrand. Die ketel was seer gemaak en die pot kon dit sien. Van die hitte van die vuur het die stoom uit die ketel uit begin trek. Die pot het weer van haar laat hoor: Dit help nie om te huil nie! Jou soort sal altyd so lyk. Die eienaar het met ‘n glimlag sy geliefde ketel uit die vuur getel en gesê: Aa, nou vir lekker koffie. Ek is so bly vir jou my ou keteltjie. Ek gaan nou iets moet uitspel wat ons nie graag wil hoor nie. Of dalk nie wil waag nie. Net vir my en baie ander, raak dit by die dag al minder van ‘n waagstuk. Laat my verduidelik. As jy jou lewe aan God toewy, dan betree jy die koninkryk waar sagmoedigheid en broosheid soos ‘n kleipot kentekens raak. So ook totale afhanklikheid van God. Jy laat jou mure om jou verwyder. Jy stroop jou van jou jouself (sterf aan jouself sodat jy in Christus jouself mag terug vind. Jy word breekbaar, want die mure wat jy so sorgvuldig om jou gebou het om jou te beskerm is nou weg. Jy is in God se hand, en in God se koninkryk waar mure onvanpas is. En terselftertyd is jy ook tussen mense wat se woorde nie brieke het nie. Iewers gaan daar seerkry wees. Daarom: ‘n Kleipot wat maklik breek moet liewers nie die pot of die ketel skel oor hul vol swart roet gebrand is aan die buitekant nie. Glo my, in so ‘n proses van net uit Christus uit te lewe, wil jy nie oordeel hê nie. Dink mooi, as jy al jou maskers laat sak het, jou selfverdedigingsmeganismes aan God oorgegee het en jy jou ego in die pad gesteek het ... dan is jy broos. Word jou velletjie uiters dun. Wil jy dan wees waar mense elke dingetjie aan ander uitmekaar skeur? As jy met jou seerkry na God kom, of Hom kom soek in ‘n erediens, wil jy mense om jou hê wat jou gaan oordeel? Ek glo nie. Daarom is hierdie ‘n oordeels vrye zone. En daarom, omdat God jou lief het en geseën het,(Matteus 5: 3 ev), skep jy orals waar jy beweeg oordeels vrye zones. Veilige hawens. Want die koninkryk van God het in jou gekom. En jy is ‘n vreemdeling in hierdie dorp en land. Ons is anders. Ons dryf nie soos dooie visse met die stroom saam nie. Ons oordeel niemand nie. Twee weke terug het ek dit ook uitgewys in Johannes 3: 17 Jesus het nie gekom om te oordeel nie. Hierdie deel is deel van die bergreek. Die bergpreek is ‘n eenheid wat stelselmatig opbou, of dieper gaan. Dit begin met geseënd wees. Dan word ons gesê ons is die lig en ons is die sout vir ons wêreld. Maw ons word soos Abraham nou tot seën van die wêreld deur sout en lig te wees. En eers dan praat Jesus oor jou stukkende verhoudings herstel .... dws voor jy gaan offer gaan maak eers reg met jou medemens. En dan word die verhoudings verdiep na moenie met begeerte na die teenoorgestelde geslag kyk nie. Wees rein. Vergelding volg so bietjie verder. Moenie wraak neem nie. Gevolg deur jy moet selfs jou vyande liefhê. En Jesus leer ons dat ons nie ons dae in bekommernis moet deurbring nie. En dan: Moenie oordeel nie. As iemand wat deur God geseën is en deur God versorg word, hoef jy regtig nie bedreigd te voel en ander te oordeel nie. Ons is juis in ‘n goeie plek. Geliefde kinders van God. Ons het nie die behoefte om die ketel te verneder of seer te maak of af te breek oor haart swart gebrandenheid, of ‘n ander kleipot te hammer oor die haarlynkrakie wat vir ons soos ‘n breek lyk. Oordeel is onnodig. Oordeel skop die deur toe op liefhê en op barmhartig wees. As jy lief is vir iemand dan kyk jy hulle gebreke mis. Jy sê dalk jy is nie blind vir hul foute nie, maar eintlik is jy want jy kyk dit mis. Jy fokus op die mooi en dit wat kosbaar is. So, so is ‘n koninkryksmens ook: Dit word vir ons netso onverstaanbaar soos dit vir Jesus is dat ‘n mens die splinter in iemand se oog kan raaksien. Hoekom sal jy wil? Jy het daardie een lief. En nee, God het jou nie aangestel om te oordeel nie. Dit is God se reg om te oordeel. En ek en jy is nie God nie. Dink ‘n bietjie hoekom oordeel mense so maklik? Dit is ‘n stuk selfbeskerming. Want as ek kan uitwys hoe sleg jy is dan kyk almal na jou en niemand sien my euwels raak nie. Of ons oordeel om mense te manipuleer. ‘n Maklike voorbeeld: Hoeveel ma’s het al vir hul kind gesê “maar war gaan die mense dink? Of wat gaan die mense sê?” Uit vrees vir ander se los praatjies en oordele, bly hulle liewers in die boks en versmoor. Jesus se manier is anders. In die koninkryk van God, en in God se gemeentes leef ons so uit God se genade uit dat ons nie meer ander mense wil meet en pas en oordeel nie. En ons wil nie meer ander met ons woorde en oordele manipuleer nie. Ons skep die ruimte vir mense om te kan wees wat God hulle gemaak het: wedergebore diensknegte van Hom. Want ons weet ons kom uit dieselfde vuur en ons is netso swart gebrand soos hulle. Ons word netsoos hulle deur genade alleen gered. Ook ons is die oorsaak van Jesus se verskriklike lyding en dood. Ook vir my het Hy aan die kruis gehang. Gesterf. En die offer betaal vir my sonde deurdrenkte lewe. Hier is ons dankbaar vir elkeen wat gered is, dankbaar vir elkeen wat na God vra. Want dit was ons gewees en dit is op ‘n manier steeds ons. Ons is steeds ketels in die vuur, steeds swartgebrand. ‘n Mens sien in Jesus se woorde in verse 3 en 4 en 5, in die beeld wat Hy gebruik, dat dit vir Hom erg is om te dink ons kan die splinter in ‘n ander mens se oog raaksien maar blind is vir die balk in sy eie oog. “Haal eers die balk uit jou eie oog uit ...” Hoe doen ek dit? Ek vra omdat ‘n mens dikwels blind is vir jou eie dinge. Of so lief geraak het vir dit of dalk pas dit so goed in vandag se tydsgees in dat jy voel maar almal praat so, almal doen dit, so dit kan nie verkeerd wees nie. Ek vra nie vir jou om jouself te oordeel nie. Ek vra dat jy vir God gaan vra om jou sonde en verkeerdhede uit te wys. Vra die Here om alles wat nie na Jesus lyk nie weg te kap. Bely jou sondes. Bely dit by die naam en breek daarmee. Hoor weer wat Jesus vir die vrou wat in owerspel betrap is gesê het: “Ek doen dit ook nie” Bedoelend Hy voltrek ook nie ‘n oordeel oor haar nie. Toe sê Hy: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Balk uit eie oog uit haal is om te bely en die vergifnis te aanvaar en te gaan en nie meer te sondig nie. Wat nou van die splinter in my broer se oog? My liewe mens, bid vir hulle dat die Gees dit in hul mag uitwys, hulle mag oortuig van hulle sonde (Joh 16:8). Gaan vra by Jesus die regte woorde en die regte gesindheid om met hulle te praat. En as jy praat dan praat jy soos een wat vergewe is wat vir die ander dieselfee vergifnis kom wys. Dit sou liefdeloos wees om nie die splinter te aat uithaal nie. Dit sal haatlik wees om dit te wil doen as jy ‘n balk in jou eie oog het. Moenie die pot op die tafel wees wat vergeet hoe swart gebrand jyself is wat na die ketel in die vuur skel oor die swartgebrand is. Moenie oordeel nie.