Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 6 Het jy al gewonder wat die balk in jou eie ook sou kon wees? Waarop sinspeel Jesus? Sonde? Wat is die balk in jou oog? Bely dit by die naam teenoor God en vra Sy vergifnis. Daar is nou geleentheid om dit te doen. As ek na net 7: 1 – 6 kyk dan is die balk in jou eie oog oordeel. En die aksie wat daarmee saam loop: veroordeling. Maw Ons gebrekkige liefde wat dit nog goed vind om ander te oordeel oor hul geringe sondetjies. Sit dit teenoor die koninkryk se hoofwaarde: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ook jy moet selfs jou vyande liefhê. En as jy gesoek het vir ‘n definisie van naasteliefde, kyk dalk net na vers 12: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Dis tog sekerlik die mees basiese wat naasteliefde vra? As jy liefhet dan wil jy nie oordeel nie. Ook nie veroordeel nie. Maar liefde dring ‘n mens om vir iemand wat jy liefhet ook te sê daar is ‘n splinter in hul oog. Die splinter kan nie daar bly nie. Liefde vra ook: hoekom sien ek die splinter? Liefde wil weet wat is jou dieper motief. Wil jy beheer? Manipuleer en so iemand kry waar jy hulle wil hê? Is dit selfsug wat maak dat dit jou pla? En dan maak jy aan jou kant skoon en met opregtheid in die hart help jy die een met die splinter. As jy dan die splinter begin uithaal uit jou medemens se oog, hou Galasier 6 in gedagte. Jy kan Jesus se stem hoor in hierdie woorde van Paulus: 1 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp.2 En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. Die Griekse woord vir oordeel wat Jesus hier gebruik, se kern betekenis is, om ‘n onderskeid te tref tussen, om ‘n waardasie te maak. Die feite word gekry en dan word ‘n mening uitgespreek ogv die feite. Bv ‘n Regter kan slegs ‘n oordeel fel as hy of sy al die feite deeglik geweeg en oorweeg het. Ons moet nou versigtig wees om uit vrees om te oordeel onsself blootstel aan allerlei verkeerde dinge en situasies. Die omgekeerde is seker ook waar: ons kan maklik weer begin oordeel onder die vaandel van ons “treë onderskeidend op” of ons doen net ‘n waardasie van die persoon of situasie. Die toets lê in liefhê. In om iemand te hanteer soos jy in daardie situasie gehanteer sou wil word. Dit is vir my interesant dat Jesus nooit wat ek van weet gebroke sondaars geoordeel het nie. Nie die sondige vrou nie. Nie die besetene van Gadara nie. Nie die Samaritaanse vrou by die put wat in haar soveelste verhouding was nie. Nie Matteus die tollenaar nie. Hy het tyd gespandeer met hierdie mense en vir hulle van God vertel. Maar die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het Hy soms skerp blootgelê. En die dissipels na die verheerliking op die berg, wat ek meen uit pure frustrasie of moedeloosheid uit, mooi vertel het “Ongelowige en ontaarde geslag. Hoe lank moet Ek nog saam met julle wees?” (Matt 17: 17). En in al hierdie gevalle is dit mense wat van beter moes geweet het. Maar die res het Hy ten spyte van die feite nie veroordeel of etikette om gehang of enigsins ogv ‘n waardasie afgeskryf nie. In 1 Korinthiërs 5 lees ons van ‘n situasie wat groot golwe gemaak het in die gemeenskap van Korinthe. So groot dat die ander inwoner negatief gepraat het oor wat hierdie een man mee besig was. Paulus skryf hieroor aan die gemeente en jy kan sy ontsteltenis aanvoel. Hy skryf: 9 In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10 Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11 Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. 12 Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!” Ek wil iets uitlig in vers 12: “... Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!” Hierdie is nie ‘n uitsondering op die reël van jy mag nie oordeel nie. Hierdie is vir my ‘n praktiese voorbeeld van vers 6 se moenie wat heilig is vir die honde gooi nie. As Paulus hier oordeel is dit om die gemeente te beskerm. Om die evangelie nie voor die wêreld te gooi waar dit verskeur kan word nie. Paulus leer ons die hoe van splinters uithaal. Vir Timoteus sê Paulus as jy iemand gaan aanspreek doen dit met respek. Asof die jou pa of ma is met wie jy praat. Dit is duidelik dat daar situasie is wat beoordeel moet word waarbinne ‘n vorm van oordeel onvermydelik is. Soos in Korinthe as voorbeeld. Vers ses se waarskuwing, “moenie wat heilig is vir die honde gooi nie”. Kom ons praat bietjie naderby oor dit. Daar is mense wat nog nie vêr genoeg hulself afgesterf het ten bate van Christus nie. As jy so persoon se splinter wou verwyder, al doen jy dit in die grootste liefde en met die mooiste bedoeling, dan is die kans goed dat hulle wêrelds sal reageer. Hulle sal dit vat as ‘n persoonlike aanval. En hulle sal jou aanval en uit mekaar uit skeur. En nee, jy kan hulle nie probeer ettiketeer met die honde of die varke van vers 6 nie. Jy mag nie oordeel nie. Jy mag nie mense veroordeel nie. In vandag se tye verstaan mense nie die beginsel van haat die sonde, maar wees lief vir die sondaar. Vir hulle is dit, as jy my optrede bevraagteken dan bevraagteken jy my. En dan is dit oorlog. So ons sal mooi moet leer wanneer om te praat en wanneer om te swyg. Daarom is dit so belangrik dat ons vanuit gebed moet leef. Bid dat die Heilige gees ons die gawe van onderskeiding mag gee. Bid vir wysheid. Bid vir die regte tyd om te praat en wanneer om te swyg. En vra dat God ons sal wys met wie moet ons praat en wie nie. Dit vra ‘n verhouding met Jesus wat strewe om te wees soos Jesus se verhouding met God. Een waar ek vooraf vra na God se wil vir hierdie dag en vanaand terug rapporteer oor die dag aan God. En is dit nodig om te sê: Lees die Bybel. Ken die Woord. Want die Woord vorm ons in God se wil en verstaan in. Vers 6 dra ook die betekenis, of sal ek sê, die waarskuwing om nie mense met die Woord te manipuleer nie. Moenie die evangelie in mense se keelgate af forseer waarvoor hulle nog lank nie gereed is nie. Jesus sê nie dat jy nie goeie dinge moet doen vir mense wat dit gaan misbruik of in jou gesig terug gooi nie. Ons moet nogsteeds wees soos ons Vader in die hemel. Lukas 6: 35 Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” God kies om goed te wees vir die ondankbares en slegtes. Dallas Willard sê die probleem in vers 6 is nie die onwaardigheid of die onrein wees van varke en honde nie. Die probleem is dit is liefdeloos om vir varke iets te gooi wat hulle nie kan eet nie. Hulle sal die perels nie kan verteer nie. Jy in teendeel is kos vir ‘n verhongerde dier. Wat jy doen moet die persoon help. Gee eers die brood en help eers om werk te kry dan kan jy die evangelie oordra. Wees jy eers die antwoord wat hulle nodig het voor jy vir hulle van God se beter manier van optree vertel. Wees jy eers liefde wat hoor en help en dan kan jy deel met hulle oor dit wat verkeerd is. Oordeel is maklik. Enige mens kan dit doen. Liefhê is moeilik. Maar liefde is die taal, die manier van wees wat ons as Koninkryksmense leef. Moenie oordeel nie. Gaan wees lief vir mense.