Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Galasiërs 4: 1- 7 Ek wil begin met ‘n ware storie. Die storie van die hoof van die sg Bali 9 wat in Indonesia gevang is vir dwelm smokkelary. Hy is in April 2005 gevang en tot 29 April in die dodeselle aangehou. In die Kerobokan gevangenis het hy tot bekering gekom. Hier is sy storie. Aan die begin, so het hy gedink, is die tronkstorie nie ‘n groot ding nie. Hy sal los kom. Hy sal daar uit kan kom. Toe hulle hom in alleen aanhouding sit, toe het hy begin besef hy gaan homself nie uit hierdie ding kan loswikkel nie. Inteendeel, hulle gaan hom doodmaak. Hy het nog nooit so hopeloos en alleen gevoel soos toe nie. En het begin dink voor hulle hom doodmaak sal hy dit maar self doen. Toe hy begin planne maak om selfmoord te kan pleeg toe tref die gedagte hom: As daar ‘n hemel en ‘n hel is, dan het hy nodig om eers dinge reg te kry met God. Hy het nie eintlik geweet hoe om dit te doen nie ... so hy het maar net opgekyk en gesê “God, if you’re real ...” en vir die eerste keer in sy lewe het hy begin huil en op sy kniee neergesak. “God if you’re real, send someone who cares about me to see me” Hy het aan die slaap geraak. Die volgende oggend het ‘n wag hom wakker gemaak en gesê daar is ‘n besoeker. Dit was sy broer. Nie lank daarna het ‘n ander vriend, Luke, vir hom kom kuier, en vir hom ‘n Bybel gegee en hy het begin lees maar nie veel wys geword nie. Luke het hom uitgedaag: “you pray and ask God to help you understand and if He doesn’t help you, I’ll take the Bible back and we’ll throw it away!” Markus 11 het hom gevang. Die deel van die vyeboom wat verdroog het. Hy het ‘n parallel gesien tussen sy lewe en wat daar staan. Hy is die vyeboom wat nie vrugdra nie. Sy lewe het niks beteken en vir God het hy geen vrug gedra nie. Hy het gevoel die Here wil sy lewe omkeer en hom nog ‘n kans gee. Vers 23 en 24 het hom kort voor sy hof datum getref. Die deel oor geloof wat berge kan versit. En hy het gebid “Here, as U werklik is en die vers is waar, vra ek dat U my vrymaak. En as U my vrymaak sal ek elke dag van my lewe U dien.” Toe hulle die doodsvonnis uitspreek, het hy net geskok bly sit. Terug in sy sel het hy gebid. Die Here het gesê “Andrew, I have set you free from the inside out; I have given you life.!” Van daardie oomblik af het Andrew die Here gedien. Hy het gepreek in die tronk. Mense begin oplei vir as hy nie meer daar is nie. Toe hy en die ander uitgelei is op 25 April 2015, om tereg gestel te word, het hulle genade onbeskryflik groot gesing. En toe voor die vuurpeleton, Halleluja gesing. By die middel van die tweede vers was dit alles oor. Pastor Karina de Vega vertel “They were praising their God, it was breathtaking. This was the first time I witnessed someone so excited to meet their God.” Dit het die tronk gevat om Andrew Chan te kry, om sy lewe opsy te sit twv Jesus. In die tronk het hy Jesus geleef, nie meer homself nie. Maar Jesus. Hy het vrugte gedra in die laaste 10 jaar van sy lewe, vrugte wat hou. Die deel van die storie wat my bybly is: Die Here wat gesê het “Andrew, I have set you free from the inside out; I have given you life.!” Ons is vrygemaak. Ons is vrygemaak om as kinders van God te leef! Reg deur die Bybel kom dit op die een of ander manier terug. Eksodus en Hosea praat van Israel as God se kind, Sy seun. Jesaja skryf dat God kinders grootgemaak het. En Johannes vertel van die wonderlike voorreg: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Dit is God se uitnodiging aan jou: Kom word My kind. Ek het jou lief. Kom, dat Ek vir jou nuwe lewe kan gee, lewe in oorvloed. Laat ek jou vry maak van al die dinge wat jou vashou en aftrek. Want natuurlik kan jy nie vir jou kind iets probeer leer wat jy nie self eers is nie. Kom gryp jou andersheid aan vandag. Kom herontdek jou eie kindskap by God. En leef van hier af aan as ‘n vrygemaakte. ‘n Kind van die Almagtige. En nie as ‘n slaaf van wêreldse goed en maniere en sonde nie. Ons leer ons kinders waardes. Ons leer hulle dat ons in ons huis nie altyd doen soos hulle in hulle maats se huise sien nie. Die uitdaging wat ek vanoggend aan u stel: ● Leer hulle dat hulle anders is. ● Leer hulle dat hulle in God se oë spesiaal is. Hy het hulle spesiaal gemaak. Sy kinders gemaak. ● Leer hulle dat God altyd iets beters vir hulle in gedagte het as wat die wêreld hulle wil bied. Want God het hulle en ons Sy kinders gemaak. Hoe het God dit gedoen? Paulus skryf in Galasiërs 4 dat Hy dit deur Sy Seun gedoen het. Dat die hele doel van Jesus se geboorte en aardse lewe was sodat God ons status kan verander. Ons kan transformeer. Kan aanneem. Ons was soos slawe. Mense wat geen regte en geen kanse of hoop meer gehad het nie. Mense wat moes leef soos ander vir hulle voorsê. Soos kinders en tieners wat moet hoor: solank jy in my huis bly maak jy soos ek sê. Net in hierdie geval was die reëls dinge wat jou dieper en dieper vasgetrek het in die mag van sonde. Dinge wat die lekker van die lewe wegneem en jou laai met bekommernisse, vrees en spyt. Selfs in die godsdiens van daardie tyd was dit dinge wat jou met skuldgevoelens oorlaai het. Jou laat voel het, jy is nou maar eenmaal nie goed genoeg nie, jy sal dit nooit maak nie. God het dit alles verander. Jesus het jou vrygekoop. Hy het in jou plek gaan sterf. Hy het in jou plek al die straf vir jou tekortkominge gedra. Nou is jy nie net vry nie. Jy is iets veel beters: Jy is 'n kind van God. Vat aan jou voorkop. Komaan: Wees 'n sport. Vat aan jou voorkop. Voel u? Dis nog nat! God het jou laat doop sodat jy altyd kan onthou: Jy is nou spesiaal. Jy is Sy kind. Jy hoef nie tweede beste te lewe met alles wat die winkels en wêreld as “moet hê's en moet-wees” voorskryf nie. 'n Wêreld wat daarvan hou om lysies te maak van wie's in en wie's uit, wie's “hot” en wie's soos sardyntjies wat al 'n week in die son gelê het. Besef u wat God ons gee? En wat Hy deur die doop waarborg? Besef u nou wat God u gee? Wat Hy ons maak? Hy gee ons Sy Gees in ons harte en Hy roep in ons uit: Vader. Hy laat ons besef: God is nou ons Vader. Met alles wat daarmee saamgaan. Hy laat jou besef jy is nou so deel van God se gesin dat jy 'n erfgenaam is. Die doop is vanoggend 'n uitnodiging aan ons almal, om op te hou om tweede hands te leef. Om vanoggend opnuut jou lewe in God se hand te plaas en te ontdek wie jy eintlik in Hom is. En wie jou kinders in hom is. Stap vandag hier uit en gaan leef dit wat God jou gemaak het: Sy kind. Gehoorsaam aan ons Vader, gesteld op Sy goeie Naam. En onthou: Ons is anders. Spesiaal. Sy erfgename. Amen.