Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 2: 1 - 12 Is kersfees nog relevant? Maak dit enigsins nog sin om kersfees te vier? Dit is dalk goed vir die ketting winkels en sekere besighede. Maar het dit nie te duur geraak nie? Veral in ‘n arm land met soveel armes. Ek vra die vraag ook te midde van al die politieke gewoel en onsekerhede. Kom ons wees pynlik eerlik. Hierdie land voel niks vir jou en my nie. Hierdie wêreld ook nie. En dit is juis dan wat ek wil sê ek het nodig om kersfees te vier. Ek het nodig om net weer te sien die uiterstes tot waar God bereid is om te gaan, vir jou en my. Ek het nodig om weer die spanning en gewoel en koudheid rondom Jesus se geboorte raak te sien. Want in dit lê baie hoop. Daar is ‘n paar rolspelers in hierdie verhaal. Hulle het ‘n manier om hierdie deel van die storie oor te neem. 1. Sterrekykers Daar is die sterrekykers of wyse manne. Mense is al deur die eeue baie ingetrek deur hulle. Hulle het name gekry. Ouderdomme is gegee. Daar is ‘n Russiese mite wat praat van ‘n 5de wyseman genaamd Propasin. En nee, ons teks sê nie hoeveel wyse manne daar was nie. Net drie geskenke: goud, wierook en mirre. Navorsing is oor hulle gedoen bv dat hulle konings sou kon wees. Dit sou inlyn wees met hoe bv Tiridates, die koning van Armenië, met `n groot geselskap in 66 nC na Rome gereis het. Hy wou aan Nero hulde gaan bewys. Nero ontmoet Tiridates by Napels, waar die Armeense koning voor die keiser neerbuig en op dié wyse aan hom hulde bring. Ooreenkomste hiermee, word in die optrede en handelinge van die sterrekykers gevind. Hulle het opgetrek Rome toe om eer aan die nuwe keiser in Rome te bring. Hy het voor die keiser gekniel as ‘n teken van eer en geskenke gebring. Net soos die sterrekykers met Jesus doen. Op die oog af is die sterrekykers in die hoofrol. Die sterrekykers is aktief. Hulle soek, hulle reis, hulle doen navraag. Hulle is besig. So ook Herodus. 2. Herodus Herodus die grote is die ander besige rolspeler. Hy doen alles in sy vermoeë om sy troon veilig in sy eie hande te hou. Hy laat navraag doen. Hy beveel die sterrekykers om te kon terug rapporteer. En Herodus word hewig ontsteld as hy hoor daar is ‘n nuwe koning gebore. Ons lees dat die hele Jerusalem saam met Herodus ontsteld was. Geleerdes meen dat dit was omdat hulle geweet het dat hierdie nuus Herodus nuwe wreedhede op almal sal laat afkom. Hy was bekend daarvoor dat hy hoe ouer hy geword het hoe wreder het hy opgetree. Hy het selfs sy seun laat vermoor En tog gaan die verhaal nie oor Herodus nie. Hy is hier maar net ‘n rolspeler van die bose wat God se plan wil ontwrig. Die hoofrol gaan aan Een wat passief is. En aan die een wat aktief agter die skerms is: God. En Jesus, weerloos in ‘n krip. En Maria wat by Hom is. 3. God As die ster uiteindelik gaan stil staan bo die huis waarin die Kindjie was en hulle ingaan dan sien hule die Kindjie en Maria. Selfs Josef word nie hier genoem nie. En hulle bring eer en geskenke. Dit is so aangrypend. God bring wysemanne uit ‘n vreemde volk en land om ‘n reis aan te pak en vir die “wêreld” te kom bevestig: Hierdie Kindjie is ‘n Koning. ‘n Groot besonderse Koning oor Wie se geboorte ‘n vreemde ster verskyn het. Dit is die enigste glans aan die geboorteverhaal. Die res is allerdaagse koue werklikheid. Opgeroep om te gaan registreer omdat ‘n vreemde koning wat hulle oorheers dit so beveel het. Hulle lewens en beplannings ontwrig. Maria hoogswanger moet ‘n lang reis onderneem of dit nou goed is vir haar en haar baba of nie. Sy moet gaan. Geen plek om in te oornag nie. In ‘n wêreld waar regeerders niks vir jou voel behalwe vir die belasting wat hulle uit jou uit kan wurg. In ‘n wêreld waar die plaaslike koning wreed is en moor, word God se Seun gebore as een van ons. Dit is maklik om vas te kyk in die Herodusse van die wêreld. Hulle impak op ons lewens is dikwels hard en genadeloos. Hulle het nie altyd die mag nie, maar deur hulle selfsug en selfgerigtheid tap hulle ander leeg. As ons te midde van sulke mense nie kersfees vier nie gaan ons die risiko loop om te dink God gee nie om oor wat met ons gebeur nie. Ons kan ook begin om God in ons eie gietvorms in te dink. Byvoorbeeld dat God moet vergeld en dat God met mag en krag die boosdoeners van ons dag moet weg vee. En as God dan nie met krag wil ingryp nie dan gee Hy seker net nie om nie. Kersfeestyd daag ‘n mens uit om God te begin sien soos Hy is en nie soos mense Hom uitbeeld nie. Kersfeestyd laat jou God se liefde sien. Laat jou besef dat God ons wêreld ken en vir ons omgee. Dat Hy raaksien met wat in jou lewe gebeur. En jou uitnooi om saam met Hom te stap. Om Hom te vertrou met jou seer en jou heel word. ‘n Skyfie wat ek op Facebook raakgelees het, sê iets van wat God in ons lewens doen, mooi. Wel, ek het so gedink. (Skyfie van in nood) Die skyfie sê as iemand deur ‘n moeilike tyd gaan moet jy net by hulle sit. Geen preke, geen raad. Net daar wees en omgee. En luister. Die Jode het ‘n gebruik gehad van sitting shiva (of so iets). Waar iemand treur of rou dan sit jy by hulle, jy praat as hulle praat, jy bly stil as hulle stil is. Jy is net daar vir hulle. Iets daarvan is waar van wat ons beleef. In Jesus sien ‘n mens dat God saam met ons ly. Hier in die deel wat ons gelees het sien jy reeds hoe die “wêreld” teen Hom planne smee. En in die deel net hierna moes Sy ouers vlug om Sy lewe en seker ook hulle lewens te red. Immigreer na ‘n vreemde land met vreemde mense en ‘n vreemde taal toe. En in vers 22 lees ‘n mens dat Josef bang was om terug te keer. En jy besef maar Jesus is reeds besig om by mense te wees deur te kom insit, by sit in die aanvalle en moeilikhede wat ons as mense beleef. Hy verstaan. Hy is hier by jou. Steeds by jou. God is egter nie soos ons wat dikwels magteloos is om iets te doen nie. God werk met krag in ons wêreld. Die goeie nuus, die moedskep oomblik is die moment wat jy raaksien dat God nie alle bedreigings weg gevat het en alles laat reg loop het nie maar dat God die heeltyd teenwoordig was en dinge bestuur het. Jy sien dit toe Josef in ‘n droom gehoor het dat Maria se swangerskap was God se werk. En jy sien dit as God die sterrekykers in ‘n droom waarsku om nie terug te rapporteer aan Herodus nie. En in vers 19, 20 as God Sy engel stuur om vir Josef te sê om terug te keer na Israel toe. En as Josef steeds te bang is om terug te keer dan is dit God wat hom aanwysings gee. En dis God wat Josef en Maria en die Kindjie in Nasaret laat opeindig. Al maak baie dinge nie sin nie, eendag sal ons terug kyk en sien hoe God ten spyte van mense en gebeure Sy pad met ons geloop het. Ek besef ek vra ‘n groot stuk vertroue in God. Ek vra eintlik dat jy God so totaal sal vertrou dat jy minder besorg gaan wees oor wat gebeur as wat jy besorg is oor dat God jou moet lei en by jou teenwoordig moet wees. Kersfees gaan altyd oor die Kindjie en altyd oor God wat nou hier teenwoordig is. Kersfees is relevant solank jy by God bly en in Jesus bly.