Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Levitikus 10: 1 – 7 Levitikus 10 is soos ‘n emmer yswater wat iemand op jou omkeer. Dit skok. Dit ontstel. En jy kan dit nie net daar los en aanlees nie. Hoekom het God so hard en wreed opgetree? Dis tog die priesters se werk om die offers te doen. Is God dan nie liefde nie? Liefde doen mos nie so iets nie. Aaron en sy ander twee seuns word verbied om te rou. Hulle moet op diens wees. Toegewy bly aan God en die diens rondom die ark van ontmoeting. En natuurlik besef ‘n mens dat God nie ons maat is nie. Hy is Anders (met hoofletters geskryf. Ons kan God nie iets hier op aarde vergelyk nie (Jes 46). Vir ons om met God te verkeer moet ons verhef word uit hierdie aardsheid en wêreldsgebondenheid van ons, om by God aan te pas. Ons by God en nie andersom nie. God is heilig en ons moet heilig word. Ek sal later hierna terug kom. Vir nou moet ons raaksien dat God heilig en anders is en dat wat God doen heilig is. En natuurlik moet ons ook raaksien God is werklik. God is teenwoordig. God is tussen ons en om ons en in ons. Later sal ek ook deel oor hoekom ons nog nie verswelg is deur vuur soos Nadab en Abihu nie. Ons verdien dit tog. Netsoos U, beleef ek God as werklik en teenwoordig. God sien raak. God is besig ook in ons wêreld elke dag. Hoeke sny en eie wil gaan nie goed af nie. Kom ons maak seker dat ons die nuwe jaar reg met God begin. En reg leef. 1. God is heilig. Ons praat oor die kant van God vanoggend wat mense nie van wil weet nie. Ons praat oor God se heiligheid. Dit is belangrik, dit is nodig omdat, en jy kan nou vir jouself lees: Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” Vers 3 is God se verduideliking vir wat gebeur het. Maw Die twee priesters se besef van Wie God is, hoe heilig God is, het tekort geskiet. Hulle het nie genoeg ontsag gehad nie. En God het dit gesien in hoe hulle hoeke gesny het. Ja hulle het die wierook offer gebring. Maar hulle het hulle eie kop gevolg, of dalk die maklike pad gekies en sommer net gloeiende kole geneem ipv kole van die bronsaltaar af. Kole wat, deur die volk gesien is as, kole deur God gegee. God is heilig. God weier om as vanselfsprekend gehanteer te word. Trouens ek dink God weier om gehanteer te word. God is te groot, te Anders vir ons om lukraak met God om te gaan. God is ons Vader. Maar Hy is steeds die Vader wat met respek en heilige eerbied mee verkeer word. Die hartseer is, en ek stel dit as ‘n vraag: Leef ons nie ook asof God maar gedwee moet aanvaar as ons by geleentheid kom aanbid? En dan dinge hê soos dit ons pas. En sonder gedagte kom, onvoorbereid, dikwels sonder enige selfondersoek of skudlbesef. Ons eerbied en toewyding aan God lê dikwels of by baie maar dun en yl gesaai. Ons kinders ken nie die Woord nie. En dan dink ons God moet tevrede wees. Onthou jy nog vir Ussa wat net die ark van die Here wou stut toe die osse struikel en die Here hom net daar doodgeslaan het? Hy het lukraak, sonder om te dink, omgegaan met dit wat vir God heiig is. Dit was in die tyd van Dawid. Die sonde by Ussa hulle lê dieper. Dit is nie net die hand uitsteek om te raak aan wat jy nie mag nie, dit is dalk net die laaste strooi van disrespek aan God. Die eerste was om die ark op ‘n wa te laai. Al dink jy ‘n nuwe wa is spesiaal, dit is steeds nie wat God beveel het nie. Die priesters moes dit dra en op ‘n sekere manier boonop. En as jy Nuwe Testament toe gaan dan is daar Annanias en Safira wat gelieg het oor wat hulle vir God sou gegee het. Albei net daar dood. 2. Genade Ons het ‘n heilige God wat absolute gehoorsaamheid eis. Onvoorwaardelike trou aan Hom (Eksodus 20). En aan die anderkant het jy vir ons wat leef asof die lewe om ons draai. Wat as ons bid ons wil wil laat geskied. En om dinge te vererger is ons beste pogings vol sonde: ons weier om ander te vergewe; ons haat; ons weier om lief te hê; ons is nie diensbaar nie. En ons hou daarvan om te kan sê (soos die liedjie sê) “I did it my way”. Dit is ‘n wonderwerk, absolute genade dat God ons nog nie vernietig het nie. God se haat vir sonde is intens. En Sy andersheid en verhewe wees bo alles is wat ons heilig noem. As ek sê God is heilig dan bedoel ek God is bo alle dinge en God is anders as alle dinge en God en sonde rym nie met mekaar nie. Heilig tov ons as mense beteken om eenkant gesit te word, afgesonder te wees om net vir God te lewe. As God ons in Jesus heilig maak, dan is dit deur ons sondes weg te was en ons so vry te koop uit enigiets anders uit sodat ons in alles net vir God kan lewe. Heilig beteken jy is nou God s’n. Jy is God s’n omdat Jesus met Sy lewe betaal het vir jou sondes. So is jy vrygekoop uit die mag, die greep van die sonde. En behoort jy nou aan God. Ons het Hom lief. Ons het God lief. So ons wil so leef dat God bly kan wees oor ons. Ons wil dinge doen soos Hy daarvan hou. Hier is ‘n paar frases wat ons aan aandag moet gee. Die eerste: “Vir die Here aangebied.” In die eerste 8 hoofstukke het die Here uit gespel oor sonde en offers vir sondes. Hy was presies oor hoe dinge gedoen moet word. God is heilig. Wat bedoel ons daarmee? God se heilig wees verskil van ons eie heilig wees. God se heiligheid plaas Hom ver bo enigiets anders. Dit dui ook op God se radikale afkeer aan elke vorm van sondigheid. Dit is nie vir ‘n mens om sommer te besluit maar dis goed genoeg of ek sal dit so doen nie. God is duidelik reg deur die Skrif hoe ons Hom kan lief hê. En God is duidelik oor wat ‘n mens vir Hom gee en hoe. Eintlik weet ons die dinge. Maar dit kan gebeur dat ons te opgevang raak met ander dinge en God so bietjie een kant skuif. Ons het Hom lief maar ons is ook net te besig om met Hom kwaliteit tyd te spandeer. Ander dinge trek ons aandag af. Dit kan gebeur dat ons die dinge van God doen sonder om mooi te dink met Wie ons besig is. Dat ons vanuit dit wat oor is in ons lewens bv tyd of energie of van dit wat oor is in my beursie vir God gee. Sodat ek kan voel ek het mos gegee. Ek het mos myself in tyd en energie gegee. Net om soos Nadab en Abihu te ontdek dit werk nie. In ons tye gaan dit nie nou dadelik in jou gesig ontplof nie. God gaan jou die kans gee om tot inkeer te kom. Jy kry die kans om in Jesus vergifnis te soek. Maar ons gaan sekerlik nie iets doen want ek weet daar is vergifnis nie ... denkend ek kan daarmee weg kom nie. 3. God is liefde. (En heilig). Verstaan asb: God is so ernstig oor Sy liefde vir jou en my dat Hy in Christus Jesus mens word, heilig lewe en dan vir ons sondes aan ‘n kruis gaan sterf om ons wat onheilig is, heilig te maak. Net sodat God se liefde, ons, in Sy teenwoordigheid wil hê. Sy heiligheid laat dit nie sommer net toe nie. Daarom, soos ‘n refrein in die Nuwe Testament, lees jy God sê “Wees heilig, want Ek is heilig.” Nadab en Abihu was besig om te doen wat verwag word. Soos hulle dit van te vore gedoen het. Net hierdie keer nie so presies nie. Bietjie onnadenkend. In plaas van kole te vat van die bronsaltaar af en daarmee die offers te begin het hulle gewone kole geneem. Die kole op die bronsaltaar is beskou as deur God gegee, deur God aangesteek. Hulle het dit geminag. Hulle het gedink hulle kan maar dinge op hul manier doen. En ek vra myself, as dit nie ek is wat verdelg word oor my sonde nie, Wie dan? Wie word verteer deur God se heiligheid en oordeel in my plek? Jesus, Christus. Die Seun van God. Vers 3 Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” Die tweede frase van belang: “Moet besef dat Ek heilig is” Namate die wêreld post Christelik word, neem mense se besef van God af. Amerikaanse styl Christelike boeke en predikers maak asof God jou beste pêl is. Hoe kan dit? En nee, die feit dat ons nog nie Nadab en Abihu se padjie geloop het nie, beteken nie dat ons reg lewe nie. Dit beteken dat God in Christus geduld het met ons en tweede en derde en 100ste kanse gee. Dit is bloot ‘n teken van genade. Jesus het by geleentheid gepraat oor hoor en doen. Kyk na Sy woorde: (Luk. 13:25-27) “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Jy wil nie hê dat die Here die deur sluit en jy bly buite nie. Geen verhouding geen toegang. Ek moet seker gehoorsaamheid byvoeg? Dit gaan tog immers oor hoor en doen. Ons het die genade so gewoond geraak dat ons ons vrees vir die Here verloor het. Ons eerbiedige respek. Ek kon nie help om te dink aan Jesaja en ander wat in die Here se teenwoordigheid kragloos neergeval het. Die derde frase: “sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” Ons ontsag vir God word gesien in hoe ons lewe. Dit word gehoor in ons woorde, dit word gesien in hoe ons dinge doen. En dit word gesien in hoe ons mense hanteer, ons gesindheid. Dit word gesien in hoe lief ons God het. In hoe ons God lief het met ons hele hart, hele verstand en al ons krag. Is dit nie tyd, dat ons meer erns maak met heilig lewe nie? Harder veg teen versoekings en eie willighied in onsself. Voorberei deur selfondersoek en skuld te bely nog voor ons eredienste toe kom. En bid vir die erediens. Dit is regtig tyd dat ons alles vir die Here doen. Selfs as jy net jou huis uitvee dan doen jy dit vir die Here. Jy dank Hom vir die huis wat jy het en die gesondheid om te kan vee en dat Hy in jou huis ook bly. Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”