Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. So verlede week was ons teksgedeelte verse 1-11 van hoofstuk 15. En vir die wat nie hier was nie en ook vir die wat hier was maar dit gemis het, net ‘n vinnige recap: Paulus het bewyse neergele dat die opstanding van Christus ‘n geskiedkundige, bewese feit is. Eerstens is die evangelieboodskap die boodskap waarin die gelowiges gevestig staan. En hierdie is die enigste evangelieboodskap waardeur ons gered kan word. 2. Tweedens is die opstanding van Christus deur die Skrifte voorspel en het dit waar geword by sy fisiese opstanding uit die dood. Derdens was daar ooggetuies van die opstainding waarvan die meeste op daardie stadium nog geleef het, so indien enigiemand die opstanding bevraagteken het was hierdie ooggetuies daar om ondervra te word. 3. En derdens was daar Paulus self, wat met apostoliese gesag gepraat het want God het hom in hierdie lyn geplaas van ooggetuies! En Paulus waarsku die gelowiges in Korinte dat indien hulle aan enige ander evangelie vashou of verander aan die evangelie wat Paulus aan hulle verkondig het, het hulle tevergeefs tot geloof gekom. 4. En nou gaan ons aan met Paulus se verdediging van die evangelie en meer spesifiek, die opstanding. Kom ons lees vers 12 van 1 Kor 15: “12 As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie?”. Nou hierdie is ‘n vraag wat aan die Grieke in Paulus se tyd gevra is, omrede hulle glad nie geglo het in die opstanding van die dooies ook nie. 5. So Paulus se vir hulle dat ons stry nou nie meer daaroor of Christus uit die dood opgestaan het nie, want ons het sopas aan julle bewys dat Hy wel opgestaan het. As Hy dan opgestaan het uit die dood, hoe kan julle dan nog beweer dat die dooies nie sal kan opstaan nie? Dit wil blyk dat daar in die gemeente in Korinte mense was wat nie gehou het van hierdie een aspek van die evangelie wat die dissipels verkondig het nie aangesien dit nie gestrook het met hulle persoonlike filosofie wat nie ruimte gelaat het vir die opstanding van die dooies nie. 6. So wat hulle eintlik gesoek het was ‘n Christendom sonder ‘n opstanding. Hulle wou ‘n Christenskap gehad het wat ingepas het by HULLE vooropgestelde idees en hulle manier van dink. So Paulus se vir hulle in die eerste plek dat hy die ware evangelie aan hulle verkondig het, en daardie evangelie sluit in die idee van die opstanding van die dooies (v1 en 2). In die 2de plek het God self die evangelie in die openbaar bevestig deur die Skrifte wat vervul is en die ooggetuies wat beskikbaar was (v3-7). 7. En nou kom hy by nog ‘n argument! Hy se vir hierdie mense dat hulle aan die een kant wil se dat hulle deel is van die gemeente in Korinte, maar aan die ander kant ook se dat hulle eie persoonlike sienings nie ruimte laat vir die konsep van opstanding van die dooies nie. 8. En ons kan nou maar vandag hier sit en se ons het darem nie hierdie probleem nie. Ek sal darem nie die konsep van die opstanding van die dooies bevraagteken nie. Maar ons almal bevraagteken wel IETS! Ons hou steeds nie baie van die idee van die hel nie, daarom soek ons ‘n Christenskap sonder hel. Nie almal hou van die idee van veroordeling nie, so ons wil ‘n Christenskap he wat nie die waarheid verkondig teen sonde nie. Nie almal hou van die idee van kerkgang nie, so ons soek na ‘n Christenskap waar kerkgang nie saakmaak nie. 9. En nou begin Paulus sy argument oor die opstanding van die dooies na ‘n ander vlak toe neem. Hy noem 7 dinge wat onafwendbaar is indien die opstanding van die dooies net ‘n fabel of verhaal was. As die opstanding net ‘n storie was soos hierdie Grieke geglo het, moes die volgende 7 dinge daarop gevolg het. 10. Kom ons lees verder in v 13: “13 As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.” Hierdie is briljant van Paulus! Hoekom? Want Paulus het sopas in die eerste deel van hfst 15 BEWYS dat Christus wel uit die dood opgewek is. Wat daarvan? Wel hier is wat daarvan. Paulus gaan nou 7 dinge noem wat onafwendbaar MOET gebeur as die opstanding van die dooies nie ‘n werklikheid is nie. En die eerste ding wat hy noem kan nie volg nie want hy het alreeds bewys dat dit nie waar is nie. 11. “13 As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie”. Maar ek het nou net bewys dat Christus wel uit die dood opgewek is, so dan MOET die opstanding van die dooies ook waar wees. Anders kon Jesus ook nie uit die dood opgestaan het nie. 12. Dan lees ons Paulus se 2de argument in vers 14: “14 En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.” Hier is die probleem. Daar is heelwat mense daarbuite wat nie hou van die bonatuurlike dinge in die Skrif nie. Baie van hulle is selfs in die kerk en sommige is leraars in die kerk. Hulle hou nie die maagdelike geboorte nie, of die opstanding van dooies nie ens, maar terselftertyd se hulle dat die kerk doen sulke wonderlike werk, en Christenskap is darem eintlik ‘n baie goeie geloof. 13. Paulus se as julle se daar is geen opstanding nie, kon Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Nou dit het ek al vir julle verkeerd bewys. So alreeds daar het julle ‘n probleem. En nr 2, ons prediking is sonder inhoud, dis nutteloos, dis leeg! So jy kan nie se dat daar nie so iets is soos die opstanding van die dooies nie en steeds wil se dat dit ‘n goeie ding is dat ons die evangelie verkondig nie. Nee, dan is die prediking nutteloos. Nee, maar ons sal nooit se dat die prediking nutteloos is nie!! Ja jy het, want dis die logiese gevolg as jy glo dat die opstanding van die dooies vals is. 14. Derdens, dan is julle geloof nutteloos! Maar ons kan CHristenskap he sonder die ding van die opstanding van die dooies se hierdie mense. Nee se Paulus, dan is julle geloof ook nutteloos en sonder inhoud. Ons prediking is dan nutteloos en julle geloof is leeg as daar nie iets soos die opstanding is nie. Hoekom? Want die opstainding is sentraal aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat God bewys het die waarheid is! 15. Dan sit julle met ‘n evangelie wat nie ‘n evangelie is nie. Dan het julle die evangelie herontwerp, aangepas, en dan het julle tevergeefs tot geloof gekom (v2)! Nie eers Christus het dan opgestaan nie, ons prediking is nutteloos en julle geloof is sonder inhoud. 16. Nader aan vandag? Ons kan nie se dat daar nie so iets is soos die maagdelike geboorte, of hel, of dat kerk onbelangrik is en steeds wil se dat dit ‘n goeie ding is dat ons die evangelie verkondig nie. Want dan is ons prediking nutteloos en ons almal se geloof leeg, sonder inhoud se Paulus. 17. Vierdens. Kom ons lees verder: “15 Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16 As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie.” MAW se Paulus, as daar nie so iets is soos die opstanding van die dooies nie, dan noem julle my ‘n leuenaar. 18. Ek hou van hierdie een. Noem jy my ‘n leuenaar?? Nee Paulus, ek sal dit nooit doen nie. Maar jy het, nou net! Nee, nee, ek is ‘n man van vrede ek sal dit nooit doen nie. Wel jy het, jy se daar is nie so iets soos die opstanding nie, wat beteken Christus het ook nie opgestaan nie, my prediking is sonder inhoud, jou geloof is nutteloos en leeg en ek le vals getuienis af oor God. 19. So jy se nie net dat ek ‘n leuenaar is nie, jy se dat ek laster ook want jy se ek lieg oor God deur te se Hy het iets gedoen wat Hy nie gedoen het nie. Maar ek het nooit so iets gese nie. Ja jy het, want dis die logiese gevolg van jou siening! As jy se daar is nie iets soos die opstanding nie dan is ek ‘n leuenaar deur dit te verkondig. As jy glo daar is nie iets soos die maagdelike geboorte of hel of enigiets bonatuurlik nie is ons leuenaars omdat ons daaroor preek. 20. Volgende. Vers 17: “17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.” As Christus nie opgewek is nie is daar geen regverdigmaking nie. Want dis waarvoor Hy gesterf het. Om ons regverdig voor God te verklaar. En as Christus nie opgestaan het nie beteken dit Hy het in die graf ingegaan met iets wat Hom daar sou hou. En die enigste ding wat Hom daar sou kon hou was sonde. So as Christus nie uit die dood opgewek was nie beteken dit Hy was ‘n sondaar. En dit beteken niemand sou die oordeel en straf van God op sonde kon afweer namens ons nie wat beteken dat ons steeds in ons sondes is en slegs wag op God se toorn om oor ons af te kom. Dan het ons geen hoop gehad nie. God MOET ons dan vernietig. Dit sou geregverdig wees. 21. Van kleins af het ons die volgende frase geleer: “Maar dis unfair”. En vir God om ons nie te vernietig nie sou unfair gewees het. Want niemand het dan vir ons sonde betaal nie, niemand het dan die skuld vir ons sonde op Hom geneem nie. Net as Iemand dit doen sou dit regverdig wees om ons toe te laat in sy koninkryk. 22. Laastens. Vers 18: “18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” Paulus, ons wil graag vashou aan Christenskap maar ons hou nie van hierdie opstanding storie. Wel, julle het 7 probleme… 23. Nr 1 – Christus het dan ook nie uit die dood opgestaan nie. En dis alreeds ‘n probleem want ek het sopas bewys dat Hy het. Nr 2 – ons prediking is nutteloos. Nr 3 – Julle geloof is nutteloos. Nr 4 – Ek is dan ‘n leuenaar en enigiemand wat verkondig dat Jesus ook uit die dood opgestaan het is ‘n leuenaar. Nr 5 – Julle is dan steeds in julle sonde vasgevang. Nr 6 – Almal wat voor julle gesterf het, het in hulle sonde gesterf. Nr 7 – Ons is dan almal die bejammerenswaardigste mense in die geskiedenis van die mensdom. 24. En hier is die wonderlike ding van die manier waarop Paulus sy argument voorhou. As daar nie so iets is soos die opstanding van die dooies nie, is al 7 hierdie dinge waar. Maar die eerste argument is alreeds bewys dat dit vals is, wat beteken dat nie net is julle verkeerd met die eerste argument nie, julle is verkeerd met al 7! Want, omrede ek aan julle bewys het dat Christus uit die dood opgestaan het, daarom….. IS daar ‘n opstanding van die dooies, Is ons prediking nie nutteloos nie maar is dit die krag van God tot redding vir elkeen wat daarin glo, Julle geloof is dan nie nutteloos nie maar deur die genade is julle gered, deur die GELOOF, Daarom is ek nie ‘n leuenaar nie maar is die evangelie wat ek aan julle verkondig het en waarin julle vasstaan, die volle waarheid, Wat beteken dat ons nie meer in ons sonde is nie. Christus het daarvoor gesterf, die regverdige vir die onregverdige, sodat Hy ons kon terugbring na God toe. Ons is nie meer in ons sonde nie, ons is vrygespreek daarvan. En dit beteken dat diegene wat ons voorgegaan het nie hopeloos was nie. Al is hulle afwesig in liggaam is hulle teenwoordig by God. En ek en jy is beslis nie die bejammerenswaardigste van alle mense nie. Niemand het nodig om ons oor enigiets jammer te kry nie want ons is gewas in die bloed van Christus wat ons voor God regverdig maak!!! 25. Die evangelie maak saak. Die inhoud van die evangelie maak saak. Alles omtrent die evangelie maak saak. Ons glo dit want die apostels het dit verkondig. Ons glo dit want God het in die openbaar die Skrifte ten opsigte hiervan vervul. Ons glo dit want daar was ooggetuies daarvan. En omrede Christus uit die dood opgewek is, dit so bewys is, daarom maak hierdie evangelie saak. 26. En dis hierdie evangelie wat ons, soos Paulus, met alle erns moet verdedig. Waarvoor ons moet opstaan en intree. Ons kan nie net aanvaar, soos daar deesdae ook in die kerk voorgehou word, dat ons sonder sekere dinge in die evangelie kan klaarkom nie. Ag wat maak dit saak of Jesus uit ‘n maagd gebore is of nie, dit bepaal tog nie ons redding nie? Wel, dis deel van die evangelie, daar is ‘n rede waarom God dit so bewerk het. 27. En as ons gaan toegee met een aspek, dan gaan die volgende kom, en die volgende, en die volgende….totdat ons met ‘n lee evangelie oorbly.