Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Het jy ‘n gunsteling teks in die Bybel. Wel, ek dink Fil 4:13 is baie mense s’n. Jy sien hierdie teks op t-hemde, op beursies gebrand, op sleutelhouers ens ens. Maar beteken dit werklik wat ons dink dit doen? Kan ons op hierdie teks staatmaak as ek vir my volgende werksonderhoud gaan, of ‘n toets moet afle, of miskien as ek probeer om my derde bord Potjiekos in te kry by die Potjieopskop dag? Op beteken dit iets heeltemal anders? 2. Wel, ek wil vanoggend he dat ons eers sal kyk na drie kritiese dinge wat ons in gedagte moet hou ten einde vir ons om hierdie vers reg te verstaan wanneer ons dit aanhaal. As ons werklik wil verstaan wat Paulus bedoel wanneer hy se dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee, dan moet ons die volgende 3 dinge in gedagte hou. 3. 1stens moet ons onthou en verstaan waar hierdie gemeente geleë is. Die boek van die Fillipense is ‘n brief wat deur die apostel Paulus geskryf is aan die gemeente wat geleë is in die stad van Fillipi. Nou Fillipi was maar ‘n klein stad gewees, ongeveer 10 000 inwoners. Fillipi is geleë langs ‘n baie besige en gewilde handelsroete genoem die VIA EGNATIA. Hierdie roete sou handelaars en reisigers na die Adriatiese See geneem het vanwaar hulle na Italie kon vaar. 4. En daarom is dit ook logies dat baie verskillende mense van verskillende kulture en agtergronde deur Fillipi sou gereis het. En dis miskien die rede waarom Paulus besluit het om ‘n kerk daar te vestig. Hiermee saam moet ons in gedagte hou dat Fillipi ‘n Romeinse kolonie was wat beteken het dat die inwoners Romeinse burgers was. So hierdie inwoners het baie voorregte gehad soos dat hulle eiendomme kon besit, van belasting kwytgeskeld was ens. Hierdie was voorregte wat hulle gehad het wat mense soos Jesus en die dissipels wat in Israel onder Romeinse heerskappy gewoon het glad nie gehad het nie. 5. Hiermee saam moet ons onthou dat Paulus ook ‘n Romeinse burger was. Dit sou hom baie gehelp het om toegang tot Fillipi te kry. Hy sou die respek van die mense gehad het wat weer vir hom deure sou oopgemaak het in Fillipi om ‘n verhouding met die inwoners te bou en die kerk te vestig. 6. Wat verder baie belangrik is, is dat volgens argeologiese bewyse was daar geen teken van ‘n Joodse gemeenskap in of rondom hierdie stad nie. Die mense wat hier gewoon het, vir wie Paulus probeer bereik het, was heidene. Vir hulle sou dit nie belangrik gewees het dat Paulus ‘n Fariseër was of onder iemand soos Gamaliël studeer het nie. Paulus sou ander manière moes kry om toegang tot hierdie stad en die mense hier te kry. 7. Maar die hoofrede waarom al hierdie inligting so belangrik is, is omrede dit vir ons vertel wat die godsdienstige toestand in hierdie stad was. Onthou, daar was geen Joodse gemeenskap nie. Die stad was ‘n heidense stad. Hulle sou die keiser aanbid het as god. En omrede Fillipi langs hierdie handelsroete geleë was sou hierdie mense blootgestel gewees het aan baie kultusse, gelowe maar ook, baie belangrik, ander filosofieë. En dit gaan later belangrik wees. 8. Nou die 2de aspek wat ons in gedagte moet hou om die teks reg te verstaan, is waar Paulus was op hierdie stadium toe hy hierdie brief geskryf het. Onthou, hierdie is ‘n brief wat Paulus geskryf het aan die mense in die gemeente in Fillipi. Dit beteken dat Paulus nie in Fillipi is nie. Om die waarheid te se, Paulus is in die gevangenis op hierdie stadium. Nou daar is baie debat oor WAAR hy in die gevangenis was, maar die grootste waarskynlikheid is Rome. Maar hoe dit ookal sy, ons moet onthou dat Paulus in die gevangenis is vir sy GELOOF. Hy is in die gevangenis toegesluit omrede hy die evangelieboodskap versprei en verkondig het. En dit het ‘n baie groot impak op hoe ons hierdie teksvers gaan verstaan. 9. Maar daar is een laaste aspek wat ons moet verstaan voor ons Fil 4:13 reg gaan begryp. En dit is WAAR die vers in die boek geleë is. En dit is waar van elke vers wat ons bestudeer in die Bybel. Ons moet altyd kyk wat gaan aan rondom die teks, die posisie van die vers binne die breër konteks van die boek ens. En dit maak veral hier saak. 10. Want sover, as jy die boek van die Fillipense deurlees, kom jy agter dat Paulus en die gemeente in Fillipi ‘n baie unieke verhouding gehad het. In plaas van die tipiese Apostel – Kerk verhouding was die verhouding tussen Paulus en die kerk eerder ‘n wedersydse verhouding. Die gemeente in Fillipi het Paulus se bediening op uitsonderlike manière ondersteun, en hierdie was nie regtig tipies van ander gemeentes nie. 11. Van die gemeentes in Korinte en Tessalonika was Paulus huiwerig om ondersteuning te aanvaar aangesien dit mag blyk dat hy besig is om winste uit hulle te maak. So as ons hierdie unieke verhouding verstaan wat Paulus met die gemeente in Fillipi gehad het, gaan dit ons help om ons teksvers in die regte lig te sien. Paulus skryf aan ‘n gemeente wat meer sy VENNOOT is, ‘n gemeente wat hom vir ‘n baie lang tyd ondersteun het. 12. Ons sien dit in die inhoud van die hele brief. Dis nie ‘n tipiese brief van Paulus soos met al die ander gemeentes nie. Meestal bevat Paulus se briewe aan die ander gemeentes sterk teregwysings, hy spreek probleme aan ens. Maar dit gebeur nie in hierdie brief aan die Fillipense nie. 13. Daar is enkele verse waar hy vir die gemeente vra om twee vroue wat baklei te help, maar dis dit. Meeste van hierdie brief fokus op Paulus se vervolging. Hy praat van alles wat hy moes deurgaan, hy gee ‘n verslag van sy kondisie en hy bemoedig hulle vir wanneer hulle self deur beproewinge gaan. 14. Hy is ‘n dienskneg van Christus wat skryf aan sy medediensknegte wat deel vorm van sy bediening met gemeenskaplike beproewinge. En met al hierdie mondvol dinge in gedagte kan ons nou na ons teks gaan kyk om te probeer verstaan wat Paulus werklik bedoel het met vers 13. So kom ons kyk weer na die teks. 15. In vers 10 se Paulus die volgende: “10 Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” Hierdie teks herinner ons aan alles waaroor ons sopas gepraat het oor hoe hierdie gemeente Paulus in die verlede ondersteun het. Met die eerste oogopslag lyk dit soos kritiek teen die kerk, maar kyk waarmee sluit Paulus vers 10 af: “Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” 16. Maar kyk wat se Paulus volgende, en ons moet dit nie mis nie: “11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.” Hierdie is egter ‘n redelik swak vertaling. Die punt kom duideliker deur in die Direkte Vertaling van die Bybel. “11 Nie dat ek uit gebrek praat nie, want ek het geleer om in die situasie waarin ek is, tevrede te wees.” Nou hierdie is baie belangrik. Wanneer Paulus se dat hy “tevrede” is, gebruik hy die Griekse woord “Autarkes”. 17. Maar daar is ‘n ander kant van die woord “Autarkes” wat belangrik is vir ons om te verstaan. Dit beteken ook om selfonderhoudend te wees. En hierdie betekenis verander dinge heelwat. Onthou u hoe ons gesê het dat Fillipi langs ‘n besige roete geleë is en dat hierdie mense blootgestel was aan baie verskillende filosofieë? Wel om selfonderhoudend te wees was ‘n groot deug onder die Stoisyne en die Sinisiste wat gereeld hier aangedoen het. 18. En met selfonderhouding het hulle bedoel die manier of die gawe om te oorleef en ‘n bestaan te voer net met dit wat jy het. Hierdie woord het ook die idee gehad van losmaking van die wêreld en wêreldse dinge. En hierdie betekenis sou baie bekend gewees het aan die mense in Fillipi juis omrede hulle so gereeld blootgestel is hieraan deur die mense van die omgewing en besoekers. Hierdie mense het volgens hierdie filosofie geleef. 19. Paulus gebruik die taal en konsepte wat hierdie heidene sou verstaan en herinterpreteer dit. Hy wil hê die mense van Fillipi moet verstaan dat hy op sy eie kon oorleef, met min tevrede was. Kyk maar net na wat Paulus volgende se. In vers 12 se hy “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” 20. Paulus se hy is “Autarkes”, hy is tevrede, hy is selfonderhoudend. Hy is tevrede onder alle omstandighede. En dink maar net waar Paulus nou is. Hy is in die gevangenis. Selfs daar kan hy tevrede wees met wat hy het. En dit herinner ons aan wat Jesus sê in die bergpredikasie. 21. In Matt 5:10 se Jesus die volgende: “10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” In Matt 5 leer Jesus sy dissipels dieselfde les wat Paulus hier aan die gemeente in Fillipi leer. Die woord wat Jesus egter in Matt 5 gebruik vir geseënd is die woord “Makarios”. Nou daar is nie werklik ‘n goeie vertaling vir die woord in Afrikaans nie en die woord Geseënd kom maar die naaste daaraan. Maar “Makarios” kan ook vertaal word met iets soos “Jy sal tevrede wees…”. 22. So as ons Matt 5:10 moet vertaal sou dit iets wees soos “Hulle wat vervolg word sal waarlik tevrede wees want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”. Dis wat Paulus in die gevangenis ervaar. En dis wat hy wil he die mense in Fillipi moet verstaan. Hy is nie tevrede in sy eie krag nie. 23. Sy vermoë om tevrede te wees in sy omstandighede kom van Iemand anders af. En met dit alles in gedagte kan ons nou vers 13 lees. “13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Paulus se hy kan tevrede wees in sy omstandighede, in alle omstandighede, deur Christus wat hom die krag gee. Kan u sien hoe dit dinge nou verander? 24. Hier is wat ons moet onthou wanneer ons hierdie teksvers lees. Hierdie teks gaan oor hoe ons tevrede kan wees in ons omstandighede ten spyte van vervolging wat ons ontbeer wanneer ons die evangelie verkondig. Hierdie is ‘n teks wat vir ons se dat ons ons tevredenheid in Christus vind as jy vervolg word omrede jy die evangelie verkondig. Hetsy emosioneel of fisies. Dat ons nie bekommerd sal wees oor ons mooi huise, stewige bankrekeninge, mooi karre of hoë statusse nie. 25. En dis in hierdie opsig, om die evangelie te verkondig, om sy getuie te wees, om vir Hom op te staan, wat Christus ons die krag gee om dinge te kan doen waarin ons nie goed is nie, om ons toe te rus vir dinge wat ons dink ons nie waardig is om te doen nie. Maar as dit kom by die uitdra van die evangelie KAN ons dit alles doen deur Hom wat vir ons krag gee. 26. Soos Paulus en die liggaam van Christus in Fillipi is ons op ‘n missie om die goeie nuus uit te dra. En ook vir ons gaan dit nie altyd maklik wees nie. Ons gaan nie in die gevangenis toegesluit word nie, maar mense gaan jou agter jou rug beskinder, jy gaan die odd one out wees, jy gaan met minder vriende sit ens ens ens. Maar soos ons die verkondiging van die evangelie najaag, ons lewens daaraan toewy waar ek ookal is, by die werk, by die kerk of waar ookal, waarborg God vir ons dat deur Christus is ons tot alles in staat wat nodig is om die goeie nuus uit te dra. 27. So wat gaan u en ek doen om die goeie nuus uit te dra? Hoe gaan ons ten volle op Christus vertrou om ons ook in staat te stel tot alles deur Hom wat my krag gee. Want om dit te beleef moet ons deel word van die missie waarop Paulus ook was. Miskien is vandag die dag wat God wil he dat u u onsekerhede en vrese oorkom. Daardie bang gevoel om op te staan vir Christus by die werk of om die braaivleisvuur. 28. Want as u dit doen gaan u ook soos ‘n Paulus kan sê dat u tot alles in staat is deur Hom wat my die krag gee.