Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Verlede jaar met die Kerssangdiens was ons die middag vroeg hier gewees. En ek het agter in die kerk gestaan en gekyk hoe die VM mense gespartel en gestoei het met die dekor op die verhoog en om alles gereed te kry vir die diens wat sou volg. En die dekor was baie belangrik want dit dra by tot die boodskap wat uitgaan maar ook tot die atmosfeer waarin hierdie boodskap uitgedra word. Die liggies en geskenkies ens dra by tot die atmosfeer en dan ook die verstaan van wat die res van die aand beoog word. 2. Ons gelese gedeelte vandag bestaan uit drie dele, maar hierdie drie dele is tog ‘n noodsaaklike inleiding tot dit wat Matteus probeer se en wat hy beoog. Die skrywer is hier besig om die toneel gereed te kry en sy lesers voor te berei vir ‘n deurslaggewende wending in die geskiedenis met Jesus se aankondiging van die koms van die koninkryk van die hemel. Matteus het reeds in kort vir ons verduidelik dat Jesus voorberei is vir hierdie nuwe bediening – sy doop en versoeking in die woestyn. 3. Maar daar is eers ‘n paar sakies wat nog reggestel moet word voordat Jesus se bediening volstoom kan begin. EN Matteus doen dit met die invoeging van die gegewens in die drie gedeeltes wat ons sopas gelees het. Eerstens verklaar Matteus waarom Jesus noorde toe vertrek. Tweedens, vertel hy oor Jesus se aanstelling van die eerste dissipels. En derdens lig Matteus die uitstaande kenmerke van Jesus se bediening uit. En eers Hierna is alles gereed vir Jesus se groot preek in hoofstukke 5-7 – Die Bergrede. 4. Nou ons moet in gedagte hou dat Matteus seker die evangelie is wat die sterkste ‘n Joodse of OT agtergrond het. Matteus skryf vir Jode en daarom haal hy gereeld aan vanuit die OT. As voorbeeld kan ons sien in hoofstuk 1:23 haal Matteus Jesaja 7:14 aan: “Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” 5. Immanuel beteken mos “God by ons”. En hierdie saak van “God by ons” vind ons weer Jesus se belofte in die laaste sin van Matteus 28:20 wanneer Jesus se :” Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” En tussen hierdie hoofstukke vertel Matteus vir die Jode hoe God NOU by hulle teenwoordig is. 6. Matteus begin deur te vertel dat Jesus se koms en sy bediening in Galilea ‘n vervulling van ‘n profesie uit die OT is. Hiervoor haal hy Jesaja 8 en 9 aan. En soos julle my al baie hoor se het is dit belangrik om hier te let op WAAR Jesus heen gaan. Nadat Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis opgesluit is, gaan Hy Galilea toe. 7. Ons moet onthou dat Johannes hoofsaaklik in die woestynstreke van Juda gewerk het en die weg voorberei het vir die Messias. So Johannes het hoofsaaklik in die Suide gewerk terwyl Jesus dadelik na Galilea vertrek wat in die Noorde is. Hy vertrek Noorde toe om sy bediening te begin waarvoor God Hom gestuur het. 8. Die voorbereiding in die Suide was reeds gedoen. En Jesus se bediening sou beter moontlikhede in Galilea gehad het. Dit is verwyderd van die invloed van die Fariseers en die mense in Galilea was meer verdraagsaam as die in Jerusalem. Maar meer nog, die profesie van Jesaja het gese dat dinge in Galilea sou gebeur. 9. Interessant is dat Matteus, wanneer hy Jesaja aanhaal, verwys na “Galilea waar die heidene woon.” Dit was eintlik ‘n algemene verwysing na die groot heidense bevolking in Galilea. En om daardie rede het die Jode in Jerusalem, vir wie Matteus skryf, neergesien op die heidene in Galilea. Maar Matteus draai nie doekies om nie. Dis vir hom belangrik om te benadruk dat Jesus se bediening juis begin in ‘n gebied wat oorheersend heidens is. En dit is belangrik in die lig van Jesus se laaste woorde wanneer Hy juis sy dissipels na ALLE nasies toe stuur. 10. En dan kom ons by dit wat ek vanoggend wil uitlig. Ons het vanoggend lidmate in die ampte van ouderling en diaken bevestig. Mense wat oortuig is dat hulle biddend die saak met die Here opgeneem het en oortuig is in hulle harte dat hulle geroep is om in ‘n besondere amp diensbaar vir die Here te wees. 11. Jesus het nie net God se koninkryk op aarde kom vestig nie, maar net nadat Hy sy dissipels gekies het volgens Matteus is die eerste ding wat Jesus doen om in die sinagoges die mense te leer en om die siekes te genees. Hy begin om die mense te dien. En hier moet ons opmerk dat Jesus nie die rykes, geleerdes, welgesteldes ens gaan opsoek om te dien nie. Nee, Hy kies om die te dien wat siek was, die wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes, verlamdes. Die randfigure. Diegene wat ons ook so maklik eenkant sal skuif en maar ander pad sal kyk. 12. Daarom moet elke dienskneg in ‘n amp oortuig wees van sy of haar roeping van die Here af. Want ons staan in diens van God, nie iemand anders se diens nie. Ons is nie grondleggers en bouers van ‘n ander koninkryk nie. Ons is bouers van God se koninkryk. Ef 2:20 noem dat die gelowiges die gebou is wat opgerig is op die fondament wat die apostels en die profete met die boodskap wat hulle verkondig het, gele het. En ons bou nou verder hieraan. 13. Maar voordat die wat nou nie op die kerkraad dien of vanoggend bevestig is nie te bly raak, moet ons die volgende onthou. Die Skrif noem ons almal diensknegte van die Here is. En diensknegte word deurentyd in die Bybel vertaal met die woord Diakonos waar ons woord vir Diaken vandaan kom. So, ons is almal, elke gelowige, ‘n diaken van God. In die NT tyd was dit ondenkbaar dat daar enigsins mense in die gemeente was of sou wees wat maar net saam met die wa ry, of so met die stroom saamvloei. 14. Dit was ondenkbaar dat daar mense sou wees wat nie iewers in die gemeente hulle gawes sou uitleef nie. Daarom ook dat wanneer Paulus op verskeie plekke oor die gawes skryf hy sou noem dat sommiges het sekere gawes gekry en ander ander gawes, maar nooit sal jy vind dat Paulus noem dat sekere mense geen gawes gekry het nie en daarom niks in God se koninkryk hoef te doen nie. 15. As ons kyk na ons teksgedeelte vanoggend staan een ding soos ‘n paal bo water: Jesus het nie sekere dissipels gekies om niks te doen nie. Daar was nie iets soos ‘n vakante pos in die dissipelskapkring nie. Of eerder ‘n Minister sonder portefulje. Almal sou ooreenkomstig hulle gawes arbei in die koninkryk wat Christus kom vestig het. 16. En om ‘n dienskneg in God se koninkryk te wees verg iets. Dit verg soms heelwat. Iets gaan jy moet prysgee. Dit gaan opoffering vra. Maar dit is ons as diensknegte se verantwoordelikheid om die beeld wat mense in die wereld daarbuite het van mense in swart pakke en wit dasse en gevoude hande te verander deur die voorskoot van diens aan ander aan te trek. Om hande uit die moue te steek wanneer dit kom by die swaarkry van diegene rondom ons. 17. Want God se gelowiges is spesialiste. Op elke gebied waar ‘n spesialis in God se koninkryk benodig word, het God voorsiening voor gemaak. God het reeds die mense in ons en in elke ander gemeente geplaas wat sy koninkryk op aarde kan laat kom. Ek wil vir u se dat daar nog nooit in die geskiedenis van die kerk ‘n beter tyd was om in te val by die uitbreiding van God se koninkryk as juis nou nie. 18. Die nood in die hedendaagse wereld roep na oplossings. En as ons onsself vanoggend gelowiges noem is ons arbeiders in die koninkryk van God. Dis nie asof ons kan bedank of verlof of siekverlof kan neem nie. Ons is diensknegte van God 24/7. 19. As ons vanoggend verby Kerkrade kyk, wil ek vra: Het u al u aanstelling as dienskneg in God se koninkryk aanvaar. Ernstig aanvaar? Dat dit nie vir my saakmaak hoe of waar ek my gewig moet ingooi nie, maar dat ek dit met volle oorgawe doen omdat ek dit vir God doen. Omrede God vra dat ek in sy koninkryk sal werskaf. Met die gawes en talente wat Hy my gegee het. 20. Miskien kan ons bietjie introspeksie hou vanoggend. Is ek aktief besig om te werskaf in die koninkryk van God of is ek net saam op die wa? Dis ‘n vraag wat net tussen u en God self beantwoord kan word.