Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Vanoggend gaan ons gesels oor een van die mees kontroversiele teksverse in die Bybel. Vir mans is dit nie kontroversieel nie. Dis blykbaar vir hulle sommer ‘n straight forward teks. Ja, u het reg geraai. Ef 5:22: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is”. En soos met enige onderwerp waaroor ons in die Skrif navorsing doen is dit belangrik dat die HELE Skrif met ons sal praat oor die onderwerp. Ons kan so maklik enkele verse uitlig en dink dis wat die HELE Skrif hieroor se. 2. Nou die vrou se onderdanigheid het gedurende die laaste eeu of so baie onder die vergrootglas gekom. Vroeer is dit byna sonder uitsondering aanvaar. Baie mense meen eenvoudig dat Ef 5:21-33 heeltemal duidelik is. Die man is die hoof, die leier, sy woord is finaal, hy moet die inisiatief neem, en die vrou moet onderdanig wees, volg, luister en sy gesag en leiding aanvaar. Dis dan tog die klassieke teks oor die huwelik. As mens egter moeite doen om deur die deel te lees sien jy gou dat daar heelwat meer staan as die twee kort sinnetjies wat se: “Vrouens wees aan julle mans onderdanig” en “Die man is die hoof van die vrou” in vers 22 en 23. 3. As dit al was wat Paulus wou se, waarom het hy 12 verse hieroor geskryf? Verder sou hy maar net die reeds bestaande kultuur van daardie tyd bevestig het. Maar Paulus wil veel meer se. Nou die deel begin in vers 21 met ‘n algemene vermaning dat ALLE Christene aan MEKAAR onderdanig moet wees. Dis ‘n opdrag aan alle Christene, mans en vroue. Dit geld ook vir al ons verhoudings, en natuurlik die huwelik, want hierdie algemene vermaning is juis die inleiding tot dit wat direk hierna volg. 4. Dit is baie opvallend dat Paulus juis met die huwelik begin na hierdie algemene vermaning tot onderlinge onderdanigheid. Die vrou moet aan die man onderdanig wees en die man aan die vrou. Maar waarom dan direk daarna die opdrag spesifiek aan die vrou rig om aan die man onderdanig te wees? Wel, ons moet miskien meer versigtig na hierdie teksgedeelte kyk om dit beter te verstaan. 5. Vers 22 en 23 in die Grieks lees eintlik soos volg: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig, vrouens aan julle mans soos aan die Here”. Daar word nie ‘n tweede keer aan die vrou gese om onderdanig te wees soos in die 33 en 83 vertaling staan nie. Haar onderdanigheid vloei voort vanuit die algemene en wedersydse onderdanigheid. Al wat vir die vrou bygevoeg word is HOE haar onderdanigheid moet lyk. “soos aan die Here”. 6. Ons moet in gedagte hou dat die samelewing onderdanigheid van die vrou verwag het omrede die mensgemaakte wet dit vereis het. Hierdie was ‘n slaafse onderdanigheid. Die man het die klok geslaan en die vrou moes dans. Sy moes net huishou en kinders baar. Paulus was nie hiervoor te vinde nie. Mans moet ook aan die vroue onderdanig wees, en dit is die opdrag aan mans in vers 21. Maar terwyl man en vrou aan mekaar onderdanig moet wees, moet sy op ‘n ander manier onderdanig wees as wat die samelewing op daardie stadium van vroue vereis het. 7. Hy se nou vir die vroue dat daar ‘n ander rede is vir hul onder-danigheid. “Soos aan die Here” en nie omdat die samelewing dit vereis nie. Wat beteken dit? Hoe lyk onderdanigheid aan die Here? Ons is nie slaafs aan die Here onderdanig nie. Dis ‘n vrye besluit wat ons graag neem omrede dit ons mos gelukkig maak. En dit is natuurlik presies hoe die man ook aan sy vrou onderdanig moet wees. Paulus verwys bloot na die vrou omrede sy alreeds onderdanig is, maar om die verkeerde redes. Sy is onderdanig omrede die samelewing dit vereis. Haar rede moet voortaan wees omdat sy aan die Here onderdanig is. 8. Wat wel by die man reggestel moet word is natuurlik sy tradisionele rol as die hoof van die vrou. Ook dit kan nie onveranderd in die Christelike huwelik voortgesit word nie se Paulus. Dit was vernederend vir die vrou. Daar is voortdurend OOR haar besluit, sy was tot beskikking van die man. Bloot sy besitting. 9. Daarom bind hy die man se hoofskap dadelik aan Christus: “Die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof is van die kerk”. Let op, baie belangrik. Wanneer Paulus praat oor die hoofskap van die man, is hy steeds besig om met die vrou te praat. Hy begin eers in vers 25 met die mans te praat. MAW Paulus se hierdie woorde aan die vrou. Hoekom? Dit is ‘n versekering aan die vrou dat haar man ook nie meer op die tradisionele manier hoof kan wees nie. Hoe bevrydend moes dit nie vir vroue gewees het nie? 10. Mans moet nou optree soos Christus wat as Hoof kom dien het. Mans is nie meer hoof soos die kultuur van daardie tyd dit gehad het nie. Hy is nou ‘n Hoof soos Christus wat sy hoofskap op die nederigste manier denkbaar aan die kruis kom bewys het. 11. En wanneer Paulus hom direk hierna spesifiek tot die mans rig is die man se hoofskap glad nie meer ter sprake nie. Hy bind die mans net nog verder aan Christus. Hulle moet hulle vrouens liefhe soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgele het. Dit is ‘n unieke hoofskap. ‘n Hoof wat gee, wat tot die uiterste toe opoffer. Van die ou soort hoofskap wat in die Griekse en Joodse kulture floreer het bly niks meer oor nie. Van oorheers, van alleen die besluite neem, van gebied en sy moet spring, is geen teken meer nie. Nou het hoofskap ‘n opofferende diens tot die uiterste toe geword. 12. Nou ons almal weet dat vroue oor die algemeen tweede gekom het in die Skrif. Vroue was algemeen beskou as die eiendom van mans. Ons sien dit nog in die gebruik wanneer ‘n pa die bruid inbring in die kerk en dan aan die man oorhandig, al is die meeste mense nie meer van hierdie betekenis bewus nie. Tot baie laat nog in die NT kom sterk uitsprake voor in die briewe van Paulus oor die onderdanigheid van vroue. Hulle mag nie mans leer en gesag oor hulle uitoefen nie, hulle mag nie in die gemeentebyeenkomste praat nie, mag selfs nie eens vrae vra nie. 13. Alle gelowiges sal moet erken dat al hierdie aspekte nie meer werklik in die kerk toegepas word nie. Maar die vraag is natuurlik waarom nie en waar trek ‘n mens die streep? Geld hierdie onderdanigheid van die vrou net in die huwelik, of ook in die kerk en die algemene samelewing? Miskien is die ander vraag wat ons moet vra: Is hierdie onderdanigheid deel van die evangelie of was dit net deel van die kultuur van die Bybel, soos hoofbedekkings dra ens. Ons sal baie versigtig hieroor moet besluit aangesien daar heelwat tekste is waar die onderdanigheid van die vrou nie gegeld het nie. 14. In Genesis 1 tydens die skepping is daar geen sprake van onderdanigheid nie. Beide die man en vrou kry dieselfde opdragte en albei is op dieselfde wyse beeld van God volgens verse 26-30. Argumente gaan gereeld op dat die vrou gemaak is as die man se “Helper” vgl Genesis 2. En dit sou beteken dat sy minderwaardig is teenoor die man. Mense moet miskien die hele teks lees voordat sulke bewerings gemaak word. Wanneer die woord Helper genoem word in verse 18 en 20 word dit dadelik opgevolg met die woorde “sy gelyke”. Ons moet ook in gedagte hou dat God ook op verskeie plekke in die Skrif Israel se “Helper” genoem word bv Eks 18:4; Deut 33:7 en in Ps 20:3. En God is tog Israel se meerdere. Daarom kan die woord “Helper” beslis nie beskou word as dat die vrou die man se mindere is nie. 15. Dan kan ons nie praat oor hierdie onderwerp sonder om na die boek Hooglied te kyk nie. Die rol wat die meisie in Hooglied speel rym glad nie met vroue onderdanigheid nie. Inteendeel, eintlik kom die jong dame baie sterker na vore as die jong man. Wat die sake erger maak is dat tradisioneel aanvaar word dat die man die magtige koning Salomo was en die meisie ‘n jong plaasmeisie was wat in haar pa se wingerd werk. 16. ‘n Plaasmeisie kommunikeer op gelyke vlak met hierdie magtige koning! In 2:16 en 6:3 verkondig sy dat “Die man wat ek liefhet is myne en ek is syne”. Gelykwaardig aan mekaar. Daar is geen aanduiding dat die man ‘n belangriker rol in die verhouding speel of ‘n posisie bo die jong meisie beklee nie. Hier is slegs sprake van spontane wedersydse liefdesvreugde. Dit is ‘n baie belangike deurbreking van die manlike kultuur waarin die Bybel ontstaan het. 17. Ek hoop dat u reeds kan begin sien dat dit ‘n uiters gevaarlike praktyk is om teksverse buite hulle konteks maar ook in isolasie en buite die konteks van die hele Skrif te interpreteer. Onverantwoordelik Bybeluitleg van tekste soos Ef 5:22 het al menigte rusies in huwelike veroorsaak. 18. In Galasiers 3:28 lees ons die volgende: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een”. Nou ook hierdie teks moet verklaar word in die konteks van die hele brief. Aanvanklik lyk dit of hierdie teks slegs handel oor die manier waarop mens salig word. MAW almal, sonder uitsondering, word gered net deur geloof in Christus. Dit is ook duidelik die probleem waarmee Paulus in hierdie brief werk. Sy gevolgtrekking is dus dat dit nie saakmaak of iemand Jood of heiden is nie. Almal is een beteken almal word op dieselfde manier gered. 19. Maar waarom voeg hy “slaaf en vry” en “man en vrou” daarby? Die dwaalleraars het mos nie geleer dat slawe anders gered word as vry mense nie, ook nie dat mans anders gered word as vroue nie. 20. Dit lyk asof Paulus hier in Gal 3 wil se dat alle vorme van diskriminasie geen plek het onder gelowiges nie. Want op ander terreine is daar inderdaad gediskrimineer tussen slawe en vry mense, en ook op ander terreine tussen mans en vroue. Hy wil dus se dat alle vorme van diskriminasie uitgeroei moet word, nie net die verskil oor hoe Jode en Grieke gered word nie. Ook die diskriminasie tussen slawe en vry mense en mans en vroue. 21. Maar wat dan van Paulus se uitsprake dat vroue in die gemeentebyeenkomste moet stilbly (1 Kor 14:33-35; 1 Tim 2:11-12)? Hoe hanteer ons dit? Wel, ons moet eerlik wees dat selfs die mees konserwatiewe Christengroepe nie meer aan hierdie opdragte gehoor gee nie. Vroue word tog toegelaat om in die eredienste te bid, sondagskool te gee, voorsang te lei ens. So hoe moet ons na hierdie teksverse kyk? 22. Ons moet in gedagte hou dat die vroue in die tyd van die NT oor die algemeen onontwikkeld was. Die dogters het nie saam met die seuns skoolgegaan nie. Hulle is net voorberei om huis te hou en kinders groot te maak. Dit is gevolglik begryplik dat hulle nie werklik in staat was om sinvolle vrae in die openbaar te vra nie. 23. Vandag het ons ‘n nuwe situasie. Dogters kry dieselfde opleiding as seuns. Vroue kan die meeste tipes werk net so goed doen soos mans. Dit sou ‘n onreg wees om hulle kunsmatig onderdanig te hou. Wie dit nog op hierdie manier sou wou doen sou konsekwent moet wees. Dan moet alle dogters uit skole verwyder word en weggehou word van die openbare media. 24. Hierdie aspek kan beskou word soos met slawerny in die Skrif. Volgens die apostels moes slawe nog slawe bly, inteendeel hulle moes goeie Christelike slawe wees. Hulle word selfs opgeroep om onregverdig te ly omrede Jesus ook daartoe bereid was (1 Pet 2:18 ev). Dis presies wat gebeur met uitsprake oor mans en vroue in die huwelik. Eers eeue na die apostels het Christene die volle konsekwensies van die evangelie verstaan. Dit het gemaak dat Christene hulself beywer het vir die vrystelling van slawe. 25. Dit bring my by sekerlik die teks wat wederkerigheid en gelykheid in die huwelik die beste verduidelik. Ons vind dit in 1 Kor 7, en veral verse 3-5. Ek lees vir u: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. 4Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. 5Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy.” 26. In die kultuur van daardie tyd is hierdie ‘n skokkende wederkerigheid. Wat sonder teenspraak as vanselfsprekend vir die man gegeld het, geld nou net so vir die vrou ook. Dit was deel van daardie kultuur dat die man die vrou besit het. Maar nou besit die vrou ook haar man! Die vrou moes nog altyd sonder teestand haar huweliksplig teenoor die man nakom. Maar nou moet die man sy huweliksplig ook sonder teestand teenoor sy vrou nakom. 27. Natuurlik het die vrou nie oor haar liggaam ‘n se gehad nie want sy was dan die man se besitting. Maar nou het die man ook nie ‘n se oor sy liggaam nie, want hy is nou sy vrou se besitting. Nou besluit die man nie meer alleen nie, man en vrou besluit saam oor omgang in die huwelik. Ek dink nie ons het ‘n idee watse radikale ingryping dit in die huwelikstruktuur van daardie tyd was nie. 28. Wat ons hier het is nie ‘n eensydige verhouding nie, maar ‘n wederkerige verhouding. Nie ‘n verhouding waarin die man oorheers nie, maar een waarop albei op dieselfde manier inspraak het. Dis nie langer oorheersing en eensydige onderdanigheid nie, maar wedersydse inspraak en kameraadskap. Dis hoe die gelowige huwelik moet wees. 29. Nie een van onderdrukking wat gekamoefleer word met woorde soos onderdanigheid en gesubstansieer word met teksverse wat buite konteks aangehaal word nie. Per slot van sake is die verhouding met jou huweliksmaat die naaste verhouding op aarde waarin jou verhouding met God weerspieel word. 30. Geliefdes, ons kan so maklik tekste soos hierdie wanaanwend om ons punt te staaf sonder dat ons werklik moeite met die onderwerp doen. En wanneer ons kyk na die res van die Skrif oor hierdie saak vind ons dat die opdragte aan mans veel meer is as aan vroue. Petrus gaan sover om in sy tweede brief te se “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.” 31. Petrus se dat mans aan hulle vrouens eer moet bewys omrede hulle FISIES die swakker geslag is wat SAAM MET HULLE DEEL IN DIE LEWE AS GENADEGAWE. Vroue en mans deel in die lewe as genadegawe op gelyke vlak. Die een nie meer as die ander nie. 32. Vandag is dit belangrik dat ons twee dinge sal onthou en verstaan. Eerstens dat hierdie net weer vir ons wys dat, indien ons soos die paartjie wie se troue ek moes doen, hierdie teks net uithaal en dit voorhou as die HELE Skrif se houding jeens vroue, is uiters gevaarlike Bybeluitleg wat tot baie probleme en konfrontasie kan lei. Daarom is dit so belangrik dat ons sal verstaan dat ons as gelowiges met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid met die Bybel sal omgaan. 33. Tweedens is dit belangrik dat ons sal besef dat ons lewens waardeur ons getuies van die nederigheid en liefde van Christus moet wees, eerstens uiting sal vind in ons verhouding met ons huweliksmaat. Dat huweliksmaats gelykes is, venote in ‘n verhouding waar Christus soveel meer verheerlik kan word as in ‘n verhouding waar iemand die broek dra, of die sogenaamde koning, priester en profeet is soos die kerk geneig is om te se. Woorde wat nerens in die Skrif geskryf staan nie. 34. Van die begin af is man en vrou gelyk gemaak. En hierdie gelykheid vind uiting daarin dat Christus ons ook nie op verskillende wyses kom red het nie, maar op dieselfde manier. Maak nie saak of ons Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie. In Christus, se Paulus, is man en vrou gelykes!