Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons almal het al een of ander stadium beleef dat woorde aan ons toegedig word wat ons nooit gese het nie. En mens se eerste reaksie is die van woede. Tog is dit juis wat ons doen as ons God se Woord verkeerd uitle. Ons le woorde in God se mond wat Hy nooit gese het nie. Daarom is die vraag wat ons altyd moet poog om te beantwoord tydens Skrifinterpretasie “Wat het die skrywer bedoel met wat hy geskryf het?”. 2. Verder moet ons onthou dat ons uitleg van die Skrif altyd die een of ander implikasie het vir ons eie of ons naaste se lewens. In baie gevalle kan die verkeerde uitleg of interpretasie van ‘n teks tot baie groot hartseer lei. En dit kan God se koninkryk groot skade aandoen. Ons mag nooit dink dat verkeerde Skrifuitleg onskadelik is nie. 3. Maar kom ons raak prakties aangesien daar ‘n hele klompie voorbeelde is waarna ons moet kyk vanoggend. Een van die belangrikste aspekte wat in gedagte gehou moet word wanneer ons die Skrif interpreteer is om agtergrondkennis van die ontvangers in ag te neem. Dan word heelwat dinge wat geskryf is baie duideliker. 4. Verkeerde Bybeluitleg het al tot die dood van gelowiges gelei. Talle Christene le in die graf vandag omrede hulle geglo het dat bloedoortappings sonde is. Vandag nog glo baie mense so. En hulle standpunt kom uit Lev 7:26 -27 en Lev 17:10-14. 5. Daarin word uitdruklik aan Israel gese dat hulle nie vleis met bloed, maw rou vleis, mag eet nie en ook nie die bloed van diere mag drink nie. Verse 10 en 11 van hfst 17 se uitdruklik dat die siel van die vleis in die bloed is. En dis hier waar ons agtergrondkennis nodig het om hierdie verse reg te verstaan. Ons moet in gedagte hou dat Israel omring was deur heidense volke. Bloed het ‘n groot rol gespeel by die heidense afgodsfeeste. Die heidene het die rou vleis van diere geeet en die bloed gedrink omrede hulle oortuig was dat dit hulle die krag van die diere sou gee. 6. Daarom is Israel verbied om die bloed van diere te drink of rou vleis te eet soos die heidene tydens hulle afgodsaanbidding doen juis sodat hulle nie deel aan hierdie bygeloof sou kry soos die heidene nie. Maar baie mense, selfs gelowiges, het bloedoortappings vir hulself en hul kinders geweier agv ‘n verkeerde verstaan van hierdie tekste. En juis daarom is dit baie belangrik om agtergrondkennis van die skrywers en ontvangers te he wanneer ons begin ons bybeltekste aan te haal. 7. Dan is daar natuurlik, vir my een van die groot misdade van Skrifuitleg, om ‘n teks buite sy konteks te interpreteer. Tog is dit ironies hoe baie dit gebeur. Ons sien en hoor dit tydens elke Bybelstudie, briewekolom ens. Kom ons kyk miskien na een of twee bekendes. 8. Baie gereeld tydens Bybelstudies of bidure sal mense Matt 18:20 aanhaal. Daar staan geskrywe “……want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Die vraag moet dan egter gevra word dat indien ons hierdie vers so verklaar dat dit betrekking het op byeenkomste soos kerkdienste of bidure, beteken dit tog dat indien een persoon Jesus alleen aanroep is Hy nie daar teenwoordig nie. Want hier is die vereiste 2 of 3?? En ons weet tog dat dit nie so is nie. 9. Waaroor gaan hierdie teks dan en wat bedoel Jesus hierby? As ons die teks egter in sy breer konteks lees en by vers 15 begin lees sien ons dat dit handel oor ‘n broer wat verkeerd optree. Dan se Jesus dat jy die saak alleen met hom moet gaan uitklaar. Indien die persoon nie gehoor gee nie is die opdrag om nog 1 of 2 saam te neem want se vers 16 “…….sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word”. 10. En dan sluit Jesus die stuk in vers 20 af met die woorde “…want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Die konteks van hierdie deel het hoegenaamd niks met bidure of Bybelstudies te doen nie. Dit gaan hier oor ‘n regsaak. Deut 19:15 stel dit reeds duidelik dat die wet vereis dat “n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.” Daarom is dit belangrik om ‘n teks binne die breer konteks te lees. 11. Maar wanneer ons praat van die breer konteks van ‘n teksvers, dink baie mense aan een of twee verse voor en na die teksvers. Hoe breed is konteks dan nou eintlik? Wel, die konteks van ‘n verhaal kan selfs oor ‘n paar verhale strek. Kom ons kyk na ‘n baie bekende voorbeeld. 12. Om die gelykenis van die Verlore Seun behoorlik te verstaan moet ons NIE by vers 11 begin lees nie. Ons begin by vers 1. Dan sal ons sien dat in Luk 15 is daar drie gelykenisse. Hulle het bepaalde ooreenkomste en verskille en wat in ag geneem moet word by die lees van die verlore seun. Die sleutel tot die verstaan van die gelykenis van die verlore seun le nie in die gelykenis self nie maar in die breer konteks. 13. En die belangrikste hiervan is verse 1 en 2 van Luk 15. Hier verduidelik Lukas vir ons die agtergrond waarteen ons die drie gelykenisse wat volg moet verstaan. Daar staan geskrywe “Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” 14. Hulle is uiters ongelukkig omrede Jesus saam met die tollenaars en sondaars eet. En dit dwing Jesus om drie gelykenisse te vertel. VERTEL VERLORE SKAAP, VERLORE MUNTSTUK! 15. En dan kry ons die gelykenis van die Verlore Seun. Maar die elemente in hierdie verhaal staan in kontras met die in die vorige twee gelykenisse. In hierdie gelykenis is daar wel iemand wat verlore raak (seun), en hy word ook weer gevind, maar hier kom die kruks van die verhaal. Al ooit gewonder waarom daar net soveel van die oudste seun geskryf word as die verlore seun? 16. So die oudste seun is hoegenaamd nie bly dat sy broer terug is en dat hy so ‘n groot feesmaal ontvang nie. En dit is hierdie gesindheid van die oudste seun wat Jesus aan die kaak wil stel met die 3 verhale. Die Fariseers en Skrifgeleerdes is baie bly as ‘n dier wat weg was, gevind word, en wanneer ‘n dooie ding soos ‘n muntstuk wat weg was, gevind word, maar wanneer ‘n mens wat weg was weer gevind word, is hulle suur. Dan is hulle soos die oudste broer. 17. Wanneer ons na die hele hoofstuk kyk sien ons Jesus se bedoeling is dat die Fariseers en skrifgeleerdes hulself in die optrede van die oudste seun moet raaksien. In die laaste gelykenis is die fokus nie op die jongste of verlore seun nie, maar op die oudste seun en sy reaksie op alles. 18. Daarom eindig die verhaal nie wanneer die jongste seun na sy huis toe terugkeer nie. O nee, na sy aankoms word daar nog baie gese oor die oudste seun se optrede en reaksie. En DIS die eintlike bedoeling van die verhaal! MAW as ons nie die 2 vorige gelykenisse en die openingsverse van hfst 15 gaan lees saam met die gelykenis van die verlore seun nie, sal ons nooit werklik agterkom wat Lukas met die verhaal bedoel het nie. Ons moet daarom versigtig wees om ons te laat lei deur opskrifte wat eers in die 19de eeu bygevoeg is. 19. Nog ‘n probleem met Bybelsuitleg is iets wat baie gebruik word deur gelowiges. En dit is om op ‘n allegoriese wyse met die Bybel om te gaan. Dit beteken om ‘n teks te vat en dit te vergeestelik terwyl daar nie ‘n geestelike betekenis daaraan is nie. In Matt 8:23-27 lees ons die verhaal van Jesus wat die storm stilmaak. Gelowiges gebruik dan hierdie verhaal om vir mense te troos en te se dat Jesus ook die storms in hulle lewens sal stilmaak. 20. Maar die belangrike saak hier is tog nie lewensstorms nie. So wat het die skrywer bedoel. So as ons na die verhaal kyk en ons neem weer die breer konteks in ag, sien ons dat net voor hierdie voorval genees Jesus Petrus se skoonma. Hierna genees Hy die besetene van Gadara. En dan maak Jesus die storm stil. Matteus is in hierdie konteks besig om Jesus se mag uit te beeld. Jesus heers oor siekte, Hy triomfeer oor duiwels en Hy heers oor al die natuurelemente en die skepping. 21. Matteus is besig om Jesus aan hierdie klomp Jode voor te stele n te verduidelik WIE Jesus is. Matteus se doel is om vir die Jode te wys dat Jesus heers oor elke faset van die wereld waarvoor hulle so bang was. Persoonlike lewensstorms is hier nie die kwessie nie. Ja, Jesus help ook met persoonlike lewensstorms, beslis, maar daarvoor is daar ander tekste. 22. Dan vind ons iets in die Skrif wat eintlik baie meer gebruik word as wat ons besef. HIPERBOLE. ‘n Hiperbool is bloot ‘n oordrewe stelling wat iemand maak om hul punt te beklemtoon. As ons sou se dat “die hele Pretoria was Saterdag op Loftus vir die rugby”, dan bedoel ons tog nie letterlik die hele Pretoria nie. Ons wil eintlik net se dat daar BAIE mense was. 23. Ek wil so 2 of 3 gevalle noem waar ons hiperbole in die Skrif vind. In Matt 23:24 trap Jesus die skrifgeleerdes en Fariseers behoorlik uit. En dan se Hy die volgende in vers 24: “Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.” ‘n Mens sien as’t ware voor jou oe hoe die Fariseers sukkel om met ‘n doek ‘n enkele ou muggie uit die wyn te skep en die volgende oomblik sluk hulle ‘n hele kameel in! 24. Natuurlik is dit nie moontlik nie en natuurlik is Jesus hier besig om die saak te oordryf om Sy punt te maak. Met hierdie oordrywing slaag Hy skitterend daarin om vir die Fariseers te wys dat hulle so begaan is oor elke netelige puntjie van die Wet terwyl hulle met hulle algemene optrede eintlik die HELE WET oortree. Die Fariseers het al die wette nagekom maar wanneer dit kom by geloof in God en liefde vir die naaste het hulle heeltemal misluk. 25. En eintlik word hierdie hiperbool nog erger as in gedagte gehou word dat Lev 11:4 verbied Israel uitdruklik om ‘n kameel te eet aangesien dit as onrein beskou is. Dink net hoe ontsteld hierdie Fariseers was toe Jesus se dat hulle met hulle puntenerigheid sommer ‘n hele kameel insluk. In Spreuke 17:12 kry ons ook ‘n pragtige voorbeeld van ‘n hiperbool. Dit se die volgende :” 'n Mens kan liewer 'n beerwyfie raakloop wat van haar kleintjies beroof is, as 'n dwaas met sy sotheid.” Almal weet hoe gevaarlik ‘n beerwyfie is wanneer haar kleintjies weggeneem word. God maak hier ‘n oordrewe stelling deur te se dat ‘n dwaas ‘n selfs nog groter bedreiging vir die gemeenskap is as ‘n beer wie se kleintjies weggeneem is. 26. ‘n Laaste voorbeeld van ‘n hiperbool vind ons in Matt 19:24: Daar se Jesus “Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Deur die eeue heen was daar altyd mense wat ongemaklik was met die idee dat Jesus hiperbole gebruik om sy punt te maak. 27. En mense wat so redeneer verstaan nie hoe taalfigure in verskillende taalstyle werk nie. Hulle probeer dan met allerhande verklarings vorendag kom om die probleem van ‘n hiperbool te omseil. BV. Vir hierdie teks was daar mense wat beweer het dat daar ‘n poort in Jerusalem was waar mense net gebukkend kon deurloop. Hierdie poort sou dan bekend staan as die “oog van die naald.” 28. Daar is egter geen bewyse dat daar ooit so ‘n poort in Jerusalem of enige ander stad bestaan het nie. Dis op sy beste ‘n geweldige raaiskoot waarvoor geen bewyse aangevoer kan word nie. Hierdie teorie het bloot ontstaan omrede mense die beeld van “’n kameel deur die oog van ‘n naald” minder absurd wou laat lyk het. Indien Jesus wel na ‘n poort verwys het sou sy woordkeuse sekerlik anders gewees het. Iets soos “Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van hierdie / die naald te kom”. Maar Jesus verwys na “N naald! Jesus begin tog ook die vers met die woorde “Ek stel dit nog sterker….” Wat impliseer dat Hy nou iets gaan se wat sy saak oor ryk mense nog sterker gaan stel! 29. Dan kry ons heelwat Eufemismes in die Skrif. ‘n Eufemisme is bloot ‘n manier om iets wat eintlik kras is sagter te stel. Ons sal mos nou nie in goeie geselskap na iemand wat dood is verwys as iemand wat gevrek het nie. Ons sal iets se soos “hy het heengegaan” of “die tydelike met die ewige verwissel”. Ons vind so iets in 1 Sam 24:4 in die OV. Daar staan “Toe hy kom by die skaapkrale langs die pad waar 'n spelonk was, het Saul daar ingegaan om sy voete te bedek, terwyl Dawid en sy manne agter in die spelonk sit.” Dit is nogals interessant om te sien wat mense met so ‘n vers maak as hulle nie besef dat hulle hier met ‘n Eufemisme te doen het nie. 30. “Om jou voete te bedek” is bloot ‘n sagter manier om te se dat die persoon ontlas het. Dit verwys natuurlik na die hurkende posisie wat ‘n persoon in die veld inneem en na die lang kleed wat dan oor sy voete val. Daarom dat die NV dit vertaal met “Hy het daar ingegaan om homself te ontlas”. 31. Hier is nog ‘n voorbeeld. In Gen 18:11 in die OV staan geskryf “dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie”. Dis bloot ‘n eufemisme om te se dat sy nie meer gemenstrueer het nie. 32. En so kan ons na baie ander dinge nog kyk wat die Bybel die interessantste boek ooit maak. Maar wat ons ookal doen, moet ons onthou dat ons ‘n plig het om God se Woord met verantwoordelikheid en die nodige respek te hanteer wanneer ons dit verklaar. Die goue reel is altyd dat ‘n mens daarna moet streef om ‘n teks te probeer verstaan soos dit deur die oorspronklike outeur verstaan is. 33. Die hele doel van Skrifuitleg is juis om te probeer vasstel watter boodskap die oorspronklike outeur met die verhaal wou oordra. Hy het dit met ‘n bepaalde doel geskryf en ons moet dit respekteer. Dit voorkom dat ons ons eie gedagtes in die Skrif inlees. 34. God het die mens geskep. Hy ken die mens deur en deur. In die Skrif toon Hy as die Maker van die mens vir ons wat die wenresep vir geluk en vrede is. Dit is in die eerste plek om met God versoen te wees. In die tweede plek moet hierdie nuwe verhouding waarin ons staan ‘n bepaalde effek op ons daaglikse lewe he. Dit word alles duidelik uitgespel in die Handleiding wat die Skepper aan sy skepsels gegee het. Dit vereis egter dat ek hierdie handleiding sal verstaan en daagliks daaruit sal leef. 35. Ek kan nie my eie idees vorm en dan teksverse gaan soek wat daarby pas nie. Die doel van Bybellees en studie is juis dat God deur die Skrif en natuurlik deur die werk van die HG my denke sal verander om mee ren meer soos Jesus te word. As ons die Skrif lees en ons raak nie bekommerd of selfs bang nie, dan moet ons weer gaan kyk na die wyse waarop ons die Skrif lees. 36. Ons het verlede week gesien dat die Herbreerskrywer se dat die Skrif het ten doel om ons diepste motiewe bloot te le. En dit moet ons bang maak. Dit moet ons noop om te verander na dit wat God wil he ons moet wees.