Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Om die boodskap van vanoggend in ‘n verhaal saam te vat gaan ons eers kort gedeeltes moet lees vanuit Eksodus en Numeri waarna ons dan by ons teks vir vandag gaan kom. Nou ons almal ken die verhaal van Israel baie goed. God het Moses en Aaron gestuur en deur hulle twee het Hy die volk Israel, met baie drama in die vorm van 10 plae, uit Egipte verlos. So trek die volk uit Egipte uit op pad die woestyn in. 2. Die Farao en sy amptenare kom agter dat Israel nou vir goed weg is en skielik besef hulle dat hulle die Israeliete se dienste kwyt is. Dis ‘n fout! Wie gaan nou die werk doen? Wel, Farao spring op sy strydwa, kommandeer nog 600 strydwaens op en sit die Israeliete agterna. In Eksodus 14 vind ons die volk waar hulle voor hulle eerste krisis te staan kom. Nou lees ons die volgende in vers 10 van Eks 14: “Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep. 11Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.” 3. En nou is dit belangrik om na God se reaksie hierop te kyk. Ons lees daarvan is vers 15 van Eks 14: “Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.” God word nie kwaad oor die Israeliete se gekla nie. Hy gee bloot aan Moses instruksies oor wat hy moet doen en God red hulle uit hulle penarie. 4. Net in die volgende hoofstuk, hoofstuk 15, lees ons dat die Israeliete weer nie gelukkig is met hulle omstandighede nie. So nou is hulle in die woestyn en hulle het nie water nie. Ons lees in vers 22 : ”Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie. 23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem. 24Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?” 5. Kom ons kyk weereens na God se reaksie op hierdie klaerige klomp Jode. In die volgende vers gee God bloot vir Moses die volgende opdrag: “Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword.” Weereens, God word nie kwaad nie. Hy gee bloot vir Moses instruksies oor wat hy moet doen, Moses doen dit en Bob’s you uncle. 6. Geen probleme nie. God voorsien wat hulle wil he. Maar steeds is dit einde niet. Ons kom in hfst 16:2 en ons lees dat die volk weer begin kla oor kos. “In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.” Nou ruk hierdie geklaery van Israel hande uit. Hulle verlang nou al terug na dit wat hulle in Egipte gehad het toe hulle slawe was. 7. En weereens is God se reaksie eintlik baie verbasend. Vers 4 verduidelik God se reaksie op hierdie geklaery soos volg: “Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel.” Geen woede van God se kant af nie. Bloot net ‘n antwoord vir die Israeliete se probleme. 8. Dan, vir die laaste keer, in hoofstuk 17, lees ons hoe Israel weer by Moses kla oor water. Hou in gedagte wat God al alles voor die oe van hierdie einste volk gedoen het sedert Egipte. Maar steeds is hulle ongelukkig en ontevrede. Hoor hoe kla hulle in hfst 17:2: “Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!” En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?” 3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?” 9. EN God se reaksie? Wel, dis presies dieselfde as voorheen. Vers 5 se die volgende: “Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.” 10. So in vier gevalle kla Israel oor die dinge wat hulle nie het nie, hulle kla selfs dat hulle eerder na Egipte, die plek waaruit God hulle bevry het, wil teruggaan. Daar is geen teken by Israel dat hulle op God vertrou vir hulle elkedaagse behoeftes soos kos en water nie. En in elke geval is God se reaksie dieselfde. Hy gee vir hulle dit wat hulle nodig het. 11. Maar as ons die reis saam met Israel verder aanpak, dan kom ons op iets baie vreemd af. Ons is in Numeri 11, in die woestyn, en Israel weer begin kla. En hierdie keer is dit nie agv hul eie omstandighede nie. Nee, hulle kla omrede die vreemdelinge tussen hulle “’n onweerstaanbare lus” gekry het vir vleis. Hierdie sou ons in vandag se taal beskryf as ‘n tantrum. Julle het kos, julle het water, maar nee: “Ons soek nou ander kos!” 12. Maar nou verander dinge drasties. Kom ons kyk na God se reaksie op hierdie geklaery. Vers 10 van hoofstuk 11 se die volgende: “Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë.” Vir die eerste keer lees ons dat God kwaad word oor hulle gekla. So kwaad dat vers 33 vir ons se dat die vleis wat God vir hulle gegee het nog in hulle tande was toe die toorn van die Here teenoor hulle ontvlam het. En God het baie van hulle om die lewe gebring. 13. Maar ten spyte hiervan kla die volk weer in Num 14:1 “Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!” 14. EN God? Vers 26ev vertel vir ons hoe God weer briesend kwaad geword het. Hoe Hy vir die 2de keer na Israel verwys as ‘n slegte volk. En God beloof dat nie een van hulle die beloofde land sal ingaan behalwe Josua en Kaleb nie. En vir die laaste keer in hfst 21 sien ons dat die volk bloot net ongeduldig raak en weer begin kla. Hoor net die arrogansie van die volk(v4) :“Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5 en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.” En ons ken die res van daardie verhaal. God stuur giftige slange tussen die volk in en baie Israeliete sterf. 15. So nou het ons na ‘n klomp tekste gekyk oor die reis van Israel in die woestyn. En ek hoop u het die ironie raakgesien soos ons deur die tekste gegaan het. Ja, u is reg. Met die voorvalle in Eksodus 14-17 het God elke keer op Israel se gekla bloot gereageer deur vir hulle te gee wat hulle gevra het. Maar in die voorvalle waarna ons gekyk het in Numeri, was dit heeltemal anders. God het gereageer deur elke keer briesend kwaad te word en die volk te straf. 16. En nou die jackpot vraag. WAAROM? Waarom het God se reaksie so verander? Wat het gebeur dat God tot in Eks 17 nog heel gemoedelik vir Israel gegee het waaroor hulle gekla het, maar in Numeri het Hy elke keer briesend kwaad geword wanneer hulle oor dieselfde goed kla? Het God se Geduld net opgeraak? Hy is darem die God wat ryk is aan goedheid en geduld se Eksodus. 17. Wat het dan verander? Wel, ek is bly u vra daardie vraag. Want, ja, iets het verander. En ons vind dit in Eks 24! Ons skrifteks vir vanoggend. LEES EKS 24:3-8!!!! 18. Maar ons het ‘n ooreenkoms gehad??? Ons het ‘n verbond gesluit Israel!!! En julle hou nie daarby nie. In Eksodus het God gegee wat hulle wou he, want hulle was nog net ‘n volk wat deur die Verbond met Abraham uitgekies is. Maar intussen het daar iets bygekom. Ons lees hier van die verbondsboek waaruit Moses vir die volk voorgelees het. Ons vind dit in Eks 20:22 tot Eks 23:33. U kan dit gaan lees. Daar het God die detail van die verbond vir hulle gegee. Hulle was bewus daarvan. Hulle het dit geken. Hulle het geweet wat daarin staan. 19. Ek het dan belowe om vir julle te sorg Israel as julle gehoorsaam sou bly! Julle het ingestem tot hierdie Verbond. Twee keer het julle gese “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.” 20. God se vir Israel dat hulle dan ‘n ooreenkoms gehad het. En toe hulle daarna weer begin kla soos ons in Numeri lees, het God elke keer briesend kwaad geword. Want Israel het nie gehou by die bepalings van die Verbond waartoe hulle ingestem het nie. Hulle het dan onderneem om Hom te vertrou. Hulle het self so gese! En God het dit nie ligtelik opgeneem nie. Duisende Israeliete het gesterf omrede hulle nie by hierdie bepalings gehou het nie. 21. Israel, julle het onderneem om julle kant van die ooreenkoms na te kom. Om my te vertrou, se God. Maar julle het nie. En as julle nie die ooreenkoms wat ek met julle gesluit het gaan eerbiedig nie gaan julle ‘n prys betaal. 22. Ons het ook ooreenkomste met God aangegaan. Elkeen van ons hier vandag. Onthou u toe u u kinders gedoop het? Toe God hier kom se het dat Hy hulle God is en dat Hy vir hulle sal sorg en voorsien en ons geantwoord het dat ons ons kinders in die Skrif sal onderrig, hulle kerk toe sal bring dat hulle ook hier onderrig sal word, so sal leef dat hulle God deur ons lewens sal leer liefkry? 23. Onthou u toe ons belydenis van geloof afgele het. Ons het teenoor God beloof dat ons Hom sal dien, sy Naam getrou sal bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem. Miskien onthou u toe u as kerkraadslid voor God beloof het dat u die amp volgens die leer van die Skrif en met die nodige vertroulikheid sal beoefen. En dit geld vir die amp van predikant ook. 24. Of miskien toe u saam met u huweliksmaat voor die kansel gestaan het. En teenoor God beloof het dat u getrou sal wees aan mekaar en ook in die huwelikslewe God se getuies sal wees. Skrikwekkend om te sien hoeveel keer ons ooreenkomste, ‘n Verbond met God gesluit het. Nou ek se nie vandag dat God slange in jou huis gaan instuur as jy iets van hierdie verbonde nie nakom nie. Daarvoor moet ons die kruis op Golgota bedank. 25. Wat ek se is dat wanneer ons ‘n ooreenkoms met God gesluit het, dit nie vir Hom ‘n ligtelike saak is nie. En dit behoort nie vir ons te wees nie. Jesus se in Lukas 22:20 tydens die instelling van die nagmaal die volgende woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.” Sy Verbond met ons het Hom sy lewe gekos. En elke ooreenkoms wat ons met God sluit, hetsy of dit doop, belydenis, aanstelling in die amp of die huwelik is, is op hierdie nuwe verbond gebaseer. Dis nie vir God ‘n ligtelike saak nie. 26. Neem ons hierdie ooreenkomste met God met dieselfde erns op? Is dit vir ons so ‘n ernstige saak dat ons berge sal skuif om ons kant van die ooreenkoms na te kom? Sal ons berge skuif en alles in ons vermoe doen om ons kinders aan God voor te stel, so te leef dat hulle God in ons kan sien soos ons by die doop beloof het? Want God het ook ‘n Verbond met elkeen van ons gesluit. En die prys wat Hy daarvoor betaal het was BAIE duur!!!! 27. Sal ons alles in ons vermoe doen om elke sondag by die kerk te wees en saam met ander gelowiges kom aanbid soos ons by ons belydenis beloof het. Om getrou aan ons huweliksmaats te wees soos ons by ons huwelik teenoor God beloof het? 28. Of gaan ons God ook hoor se “Maar ons het ‘n ooreenkoms gehad, en jy het dit nie nagekom nie.” Want sonder twyfel het God nog altyd sy kant getrou nagekom. Numeri se vir ons dat Hy nie ‘n mens is wat kan lieg nie. Deur al ons lewensjare het God die ooreenkoms wat Hy by ons doop gesluit het nagekom. Ek hoor elke dag by baie van u hoe God oor die jare gesorg het, voorsien het, in krisisse uitgehelp het. Hy hou sy kant van die bargain. Hou ons ons kant? 29. Ek wonder soms of ons die detail van hierdie ooreenkomste nog oordink, hierdie verbonde wat ons met God gesluit het. Want dan sou dit vir my van allerbelang wees. Kom ons gaan oordink dit net weer. Kom ons gaan oordink dit wat ek en u aan God belowe het elke keer. En dan oordink ons of ons nog ons kant van die ooreenkoms nakom. Die prys wat Jesus betaal het en hierdie verbonde wat ons met God het in sy bloed geskryf het, is heeltemal te kosbaar dat ons nie ons kant daarvan sal nakom nie.