Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Kan u onthou toe ons op skool was het jy altyd so in graad 10 op Veldskool gegaan? Jy het in die bos gaan bly en meer oor die omgewing en die natuur geleer het. Baie opvoedkundig gewees en het ‘n mens se oe oopgemaak vir die natuur en wat elke dag rondom jou in die natuur gebeur. Nou eendag besluit Jesus om sy dissipels op so ‘n veldskool uitstappie te neem. En ek noem dit doelbewus so want hier is die rede: 2. Ons lees in vers 13 dat Jesus en sy dissipels in die omgewing van Sesarea-Filippi gekom het, dan volg ons teksgedeelte. Hierna volg Jesus se aankondiging dat Hy gaan ly en sterf, Petrus hou hom baie slim en hoogheilig en vat Jesus eenkant toe om Hom tereg te wys, Jesus leer sy dissipels wat dit is om Hom te volg en die volgende lees ons in hoofstuk 17:1 dat Jesus en sy dissipels 6 dae later by Sinaiberg is waar die verheerliking plaasgevind het. 3. Geen wonderwerke in Sesarea-Filippi nie, geen preek nie, niks nie. Jesus was net met sy dissipels besig. En terwyl hulle in Sesarea-Fillipi staan se Jesus vir Petrus dat “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”. Nou vir eeue het mense geredeneer wat hierdie beteken het en wat Jesus bedoel het toe Hy hierdie woorde gese het. Gaan Hy sy kerk op Petrus bou en gaan die poorte van Hades dit aanval? 4. Wel, hierdie is een van daardie oomblikke waar die plek waar Jesus besig is om sy dissipels te leer van uiterste belang is om hierdie teksgedeelte te verstaan. En vandag gaan ons iets oor Sesarea-Filippi leer wat die manier waarop ons na hierdie teks kyk vir altyd gaan verander. 5. Sesarea-Filippi was ongeveer 40km weg van Galilea. Jesus het hierdie stad net een keer besoek, en dit was tydens hierdie uitstappie. Maar nog meer belangrik is dat Sesarea-Filippi was ‘n heidense stad. Om die waarheid te se, Jesus se dissipels sou baie ongemaklik gewees het met die idee om selfs in ‘n stad soos hierdie te wees. Die Joodse wet was baie duidelik daaroor dat Israel moes wegbly van heidense praktyke. 6. Jode mag nie eens met heidene geassosieer het nie agv die vrees dat hulle van die Here weggelei sou word. So die algemene reel in daardie tyd was dat Jode moes wegbly van enigiets wat heidens was of ‘n heidense nasie of selfs persoon sou voorstel. 7. Maar hier lei Jesus sy dissipels in die hart van die heidendom in!! Hoekom? Want Jesus wil ‘n punt maak, maar die dissipels moes dit sien om dit te verstaan. Sien, SF het ‘n lang geskiedenis gehad van afgodsaanbidding. In die dae van die OT was hierdie ‘n gebied wat floreer het op die aanbidding van Baal. 8. Nader aan die tyd van die NT was dit ‘n gebied waar die grootste tempel in die wereld vir die afgod Pan gebou was en was SF daarvoor bekend. Pan was die god van vrugbaarheid en SF se mense het dit uitgeleef. Die mense van SF het bymekaargekom en allerhande vrugbaarheidsrituele uitgevoer by hierdie tempel. Op dieselfde plek waar Jesus en sy dissipels op hierdie oomblik staan. As jy vir ‘n Jood is Galilea gevra het wat die donkerste mees bose plek was wat hulle van geweet het, sou hulle sonder twyfel gese het dis SF. 9. Maar daar was ‘n ander plek in SF wat miskien ‘n nog donkerder skadu oor die stad gegooi het as die tempel vir Pan. Sien, SF is gelee aan die voet van die berg Hermon. Dit bestaan uit weelderige valleie met baie waterstrome. En een van hierdie strome het in gevloei tot binne in ‘n grot. En binne in hierdie grot is ‘n groot poel water. En die inwoners was oortuig dat hierdie poel gelei het tot by Hades. Dat dit gelei het tot in die onderwereld. En die grot het bekend gestaan onder die inwoners as die Poorte van Hades. “Gates of Hell” 10. Diegene wat aanbid het hier by die tempel van Pan was oortuig dat dit hulle direkte toegang gebied het tot die gode wat hulle aanbid. Dat hulle aanbidding hier by die Poorte van die onderwereld hierdie gode sou oortuig om na die bo-wereld te kom en aan hulle goed doen. Maar hier is die probleem. Die afgode van Hades was nie die enigste afgod wat hier aanbid is nie. 11. Onthou, die naam van hierdie plek is SF. En die rede daarvoor is dat dit herbenoem is om ‘n nuwe afgod te vereer – Die Keiser! U sien, nie lank voor die geboorte van Jesus nie het Herodes die Grote en sy seun Phillipus die dorp omskep in ‘n aanbiddingsplek vir die Romeinse Keiser. Dis dan ook waar die naam Sesaria = Keiser en Filippi vir Phillipus vandaan kom. 12. En met dit as agtergrond kan ons nou kyk na wat Jesus eintlik vir Petrus gese het in hierdie teks. Nou, Jesus neem sy dissipels na hierdie plek van afgodediens en promiskuiteit, miskien selfs nog tydens ‘n fees ter ere aan die afgod Pan. En Matteus vertel vir ons dat die volgende gebeur: 13. “Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die •Seun van die Mens?” So stel u die volgende voor: Jesus en sy dissipels is tussen hierdie klomp afgodsdienaars en te midde van dit alles vra hy sy dissipels: “Wie se die mense is die Seun van die Mens?” En die dissipels weet dat die Seun van die Mens verwys na die Messias. En terwyl al hierdie mense rondom hulle hul afgode aanbid, die afgode wat hulle glo hulle van onvrugbaarheid gaan red, vra Jesus vir sy dissipels “Wie se die mense is julle Redder?” 14. En kyk hoe reageer die dissipels: “Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.” So eintlik se die dissipels dat die mense se ‘n klomp dinge, daar is heelwat bespiegelinge hieroor wat rondgaan. Maar Jesus soek die regte antwoord by sy dissipels, want dis belangrik dat hulle moet verstaan. En dan raak Jesus meer spesifiek. “Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” 15. Simon Petrus het geantwoord: “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.” En dis belangrik om te sien dat hierdie sin in die meervoud geskryf is. So Jesus het hierdie vraag aan AL sy dissipels gerig. Petrus was net eerste om te antwoord. Petrus is nie uitgesonder as meer belangrik asof Jesus hierdie vraag NET vir hom sou vra nie. Maar ons moenie mis wat Petrus hier se nie en dis hoekom dit so belangrik is om te onthou waar hulle op die oomblik staan. Petrus se vir Jesus dat Hy die Christus is, maw dat Hy die Gesalfde, die Messias is, maar Petrus voeg by “die Seun van die LEWENDE God.” 16. So Petrus se eintlik dat anders as al hierdie dooie afgode wat die mense rondom ons aanbid, anders as die Keiser wat daarop aanspraak wil maak dat hy God is, is U die Seun van die Lewende God! Die enigste ware God, nie ‘n indringer God soos die klomp wat die mense in SF aanbid nie. En wat belangrik is om te onthou, veral as ons Markus se weergawe van hierdie verhaal gaan lees, is dat hierdie die eerste keer is wat enige dissipel werklik verklaar wie Jesus werklik is. 17. So kom ons kyk nou na wat Jesus eintlik vir sy dissipels hier wou leer. Hou in gedagte dat hulle staan langs die berg Hermon, wat eintlik ‘n reusagtige rots is, by die sogenaamde Poorte van Hades, en Jesus spreek hierdie woorde. In verse 17-18 lees ons die volgende : “17 Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. 18 En Ek sê vir jou, jy is •Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie.” 18. Kan u sien hoe die plek en die omgewing waar hulle op hierdie oomblik staan al Jesus se woorde in perspektief plaas? Jesus se vir Petrus “Petrus, jy het dit!! Jy weet en verstaan wie ek is. Hierdie mense aanbid afgode, maar jy verstaan wie ek werklik is!”. Jesus se jy verstaan dat ek die Een is wat aanbid moet word. En langs hierdie groot rots wat Hermon genoem word, by die sogenaamde poorte van Hades, se Jesus dat op hierdie rots sal ek my kerk bou en die Poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. 19. Maar kom ons verstaan net eers baie mooi. Jesus se nie dat Hy sy kerk op Petrus gaan bou nie. Nerens anders in die Skrif vind ons dat Jesus enigsins suggereer dat Petrus die basis van die kerk is nie. Beslis sou dit ook nie iemand gebou wees wat later vir Jesus verloen nie. En indien dit Petrus was waarop Jesus sy kerk sou bou sou Hy tog gese het “op JOU sal ek my kerk bou”. Maar Jesus se op “hierdie rots”. Wat is hierdie rots? Eenvoudig. Dis Petrus se belydenis wat hy sopas uitgespreek het. U is die Christus, die Seun van die lewende God! Vind ons dit iewers anders in die Skrif? Ef 2:20 verduidelik mooi vir ons dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en die profete. Dit wat hulle verkondig het. Hulle belydenisse deur die eeue heen! 20. Maar hierdie was nie sommer net random woorde wat Jesus gespreek het nie. Op hierdie oomblik is die dissipels besig om te kliek. Hulle verstaan nou! Want hou in gedagte waarna staan hulle en kyk. So maklik lees ons dat Jesus hierdie woorde gese het, maar ons vergeet waarna die dissipels staan en kyk wanneer Jesus hierdie woorde se. 21. Hulle kyk na die Poorte van Hades, van die hel. Let wel, dis nie die kerk wat die poorte het nie, dis Hades, die onderwereld wat die poorte of dan nou die hekke het. En die woord wat Jesus hier gebruik vir “oorweldig” is die woord “katiskio” wat beteken “om sterk genoeg te wees”. So wat Jesus eintlik se is nie dat Hades ons sal oorweldig nie, maar dat die poorte van Hades nie sterk genoeg sal wees om ons te kan terughou nie. 22. Die poorte van Hades is nie sterk genoeg om ons te weerstaan nie. Ons gaan hierdie valse aanbidding, die Hades waarvoor mense so bang is, hierdie hel, ons gaan dit oorwin en die poorte van Hades sal ons nie kan keer nie! En dis die rede waarom Jesus direk hierna vir die dissipels vertel wanneer hierdie oorwinning gaan plaasvind. 23. Want net hierna kondig Jesus sy dood die eerste keer aan. Dis die tyd wat die oorwinning oor die Bose gaan aanbreek en hierna gaan die kerk die wereld ingaan om dit vir Christus te wen en die poorte van die doderyk sal dit nie kan keer nie. En dit is die roeping van die kerk se Jesus! Om die werk van die Bose in hierdie wereld teen te staan. 24. En soms is dit hartseer om te sien hoe die kerk hierdie roeping vergeet het? Dat die kerk so besig is om te stry en baklei oor randsake dat ons vergeet dat ons geroep is om dit wat boos is in hierdie wereld uit te roei. Sommiges stry nog oor die vroue in die ampte, ja ook binne die NG Kerk, sommiges stry nog of ons kelkies mag gebruik by nagmaal of nie. Sommiges wonder nog of die Bose teen wie Jesus sy dissipels waarsku langs berg Hermon enigsins bestaan. Dit was ‘n besprekingspunt by die sinodebesluit op 3Okt. 25. Die kerk stry so baie oor netelige dinge. Gemeentes stry oor onbelangrike dinge. Watter kleur die matte moet wees, of oor wie kollekte mag opneem of wat ookal terwyl boosheid in verskillende vorme onder ons neuse seevier en die kerk ander pad kyk. Dit laat die vraag ontstaan: Beinvloed die kerk vandag die wereld of beinvloed die wereld die kerk? Ons laat die wereld toe om ons te vorm en te beinvloed en op so ‘n manier kry die wereld baie outoriteit oor ons. 26. By die vorige Streeksinode het ek aan iemand gese dat die wereld nie nodig het om die kerk ‘n slegte naam te gee nie…….ons doen dit sommer self. Ons sit om tafels en stry en baklei oor nietigheid en intussen is daar mense wat vanaand nie weet wat hulle eet nie. Dan word dit die barmhartigheidskomissie se werk. Geliefdes, Jesus het nie die barmhartigheidskomissie geroep om die boosheid van armoede en hongerte teen te staan nie, Hy het die kerk geroep! En ons het dit vergeet. Ons is geroep om te verseker dat die poorte van Hades nie sal staande bly nie. In ons elke dag se kerkwees. 27. Om te sorg dat die poorte van die doderyk nie staande sal bly wanneer dit kom by die hongeres, die siekes, die armes, hulle wat nie vir hulleself kan sorg nie. Mense wat te na gekom word op grond van hulle geslag, hulle ras of wat ookal. Soos ek die Skrif verstaan is DIT waar ons Jesus sou vind. Is dit die roeping van die kerk. Ek wonder tog soms: As Jesus en sy dissipels nog op aarde was, as Paulus lid van die NG kerk was, sou ons hulle by die sinode gekry het waar hulle stry of die Bose bestaan of nie? 28. Die kerk is mos veronderstel om die morele rigtingwyser te wees in hierdie wereld. Die wereld moet na ons kyk en by ons kom leiding vra oor wat die morele weg is om te gaan. Intussen laat ons die wereld toe om ons denke te verander. Wat 30 jaar gelede sonde was is nou heeltemal aanvaarbaar vir die kerk. En die kerk het dit toegelaat. 29. Jesus se opdrag is dat die kerk moet uitgaan, na buite toe, en dit wat boos is in hierdie wereld sal aanspreek, dat ons dit wat verkeerd is gaan regmaak, dat ons die bose dinge wat die wereld veroorsaak gaan teenstaan daar buite. En intussen staan die poorte van die doderyk nog sterk daarbuite. Word hulle elke dag sterker. En ons wonder waarom kerke sukkel om te oorleef, waarom hulle toemaak en op ‘n streep saamsmelt. Want ons doen dan nie wat Jesus self gese het ons moet gaan doen nie. 30. Die kerk vandag is ongelukkig op haarself gerig. Ons moet gedurig seker maak ons kry nog geld, maak nie saak op watter manier nie. Ons fokus op klein dingetjies wat ons vervreem van mekaar, en in die proses kom ons nie by kerkwees uit nie. Dit wat Jesus in gedagte gehad het met kerkwees is myle ver verwyderd van dit wat die kerk vandag doen. 31. Edmund Burke het gese: “The only thing necessary for the evil to triumph is for good men to do nothing.” Die kerk kan nie langer sit en niks doen nie. Ons kan nie langer oor kleinighede stry en vergadering op vergadering hou oor onbenullighede nie. Die poorte van die doderyk triomfeer daar buite en die outoriteit is vir ons as kerk gegee om dit te gaan teenstaan. Ons taak is om die hongeres, siekes en armes na om te sien. Hulle wat te na gekom word. Om op te staan by elke geleentheid waar onreg plaasvind. Om diegene wat nog nie die evangelie gehoor het nie daarmee te bedien. Om ander in die leer van Christus te skool. 32. Om te wys dat ons ander liefhet, ongeag hulle sosiale stand, velkleur of wat ookal ons daarvan mag weerhou. Ons beskuldig maklik die regering vandag vir die chaos waarin ons land verkeer, en ook met goeie reg. Maar miskien is die kerk net so deel van hierdie probleem. Nie oor wat ons doen nie, maar juis oor wat ons versuim om te doen!