Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. So almal van ons, of dan nou meeste van ons, het een of ander tyd ‘n diens bygewoon wat geadverteer word as ‘n genesingsdiens. Hierdie dienste verloop min of meer almal dieselfde waartydens mense wat siek is, in rolstoele is of hoofpyne het dan vorentoe genooi word en daar word vir hulle gebid. Dit gaan gewoonlik gepaard met ander dinge soos rondvallery ens. 2. Hierdie mense maak daarop aanspraak dat hulle die gawe van genesing het en dat hulle dan genees soos die apostels en selfs Jesus dit gedoen het. En wanneer hierdie dienste verby is en jy staan by die deur soos ek al gedoen het en kyk na die mense wat die saal verlaat, sien jy steeds kreupeles en verlamdes wat uitsukkel of in rolstoele uitgestoot word. En diegene waarvan daar beweer word dat hulle dan nou genees is na die gebede, se genesings blyk baie twyfelagtig te wees. 3. Geloofsgenesers soos Kathryn Kuhlman, Kenneth Hagin, Kenneth Copeland, Larry Lea, Benny Hinn en vele ander moedig mense soms aan om eerder na hulle genesingsdienste te kom as om dokters te besoek. 4. So waarom word so baie desperate mense huistoe gestuur sonder dat hulle “hul genesing ontvang het”? Het Jesus en die dissipels nie ALMAL genees wat na hulle gebring is vir genesing nie? En hou in gedagte dat hierdie mense beweer dat hulle op dieselfde wyse genees as Jesus en die dissipels! 5. En wanneer iemand nie in hierdie eredienste genees word nie is hierdie geloofsgenesers se antwoord hierop een van twee dinge. Of dit was nie God se wil nie OF die siek persoon se geloof het tekort geskied. Baie gerieflik sou ek se. 6. Jesus genees die 10 melaatses en net een kom terug en word gelowig. Voor dit was hy nie gelowig nie want hy was ‘n Samaritaan. Genesings het nie oor die persoon gegaan nie. Dit het nie oor die persoon se geloof gegaan nie. Dit het oor God gegaan. Sodat Hy verheerlik sou word. 7. Gelowiges, of sal ek se goedgelowiges, stroom na hierdie dienste op soek na genesing. En ek het altyd gewonder maar as dit in die Skrif gewerk het, as Jesus en die apostels die mense genees het met ‘n woord of ‘n aanraking, waarom gebeur dit nie by hierdie dienste wat met groot fanfare as genesings-dienste geadverteer word nie? Ja, sommige mense getuig luidkeels tydens hierdie dienste dat hulle genees is, maar mediese bewyse hiervoor word nooit voorgele nie. Het hierdie predikers dan werklik die “gawe van genesing” om soos die apostels te genees of nie? 8. Want kom ons wees nou maar eerlik vandag! Mense is geweldig emosioneel as hulle sulke dienste verlaat en ‘n week later is elke skeet en pyn waarvoor gebid is weer terug. Ek het ‘n vriend wat ‘n Kapelaan in 1 Mil hosp was. Hy het my vertel hoe hulle die hospitaal se personeel voorberei het wanneer daar advertensies in Pta opgesit is vir genesingsdienste. Want ‘n week later, nadat hierdie mense hulle krukke en medikasie gelos het op aanbeveling van hierdie geloofsgenesers, is hulle opgeneem en dan moet mediese personeel die probleme van voor af begin behandel. 9. So waarom gebeur genesings by hierdie dienste nie soos in die Skrif nie? Want as ons eerlik is weet ons dit doen nie! En nou praat ek nie eens van die ekstreme gevalle waar jy ‘n sakdoek kan bestel waaroor gebid is en dan kan jy blykbaar hierdie sakdoek op die pyn sit en dit sal verdwyn. Of gesalfde olie waaroor gebid is wat jy deur die pos kan bestel vir watter siekte jy ookal het. Alles teen ‘n stewige prys natuurlik! 10. Miskien moet ons die belangrikste misinterpretasie uit die weg ruim vanoggend wat vir ons baie meer duidelikheid gaan gee oor waarom hier by hierdie dienste nie werklike genesings plaasvind nie. En ook waarom daar nie elke keer wanneer ons vir siekes bid genesings plaasvind nie. Want dit gebeur nie altyd gereeld nie. En as ons hierdie misinterpretasie vandag begryp gaan dit dinge vir u ook baie anders maak wanneer u in die toekoms vir iemand bid vir genesing en dit kom net nie. 11. Jesus het wonderwerke gedoen. Daaroor bestaan geen twyfel nie. Hy het genesings gedoen, op water geloop, water in wyn verander, duiwels uitgedryf ens. Maar hierdie wonderwerke wat Jesus gedoen het, het ‘n doel gehad in daardie bepaalde tyd. En dit is die belangrike ding wat ons vandag moet begryp. Kom ons plaas onsself in die eerste eeuse Jood se skoene. 12. Hier is ‘n man wat op die toneel verskyn, wat praat en lyk soos enige ander man, en aanspraak maak daarop dat Hy die Messias is! En hou in gedagte dat daar baie mense in Jesus se tyd was wat dieselfde aansprake gemaak het. Waarom sal die Jode dan nou hierdie nuwe man op die toneel genaamd Jesus bo die ander glo. En dan vertel Johannes en Lukas vir ons wat Jesus dan anders gedoen het as al hierdie ander mense. En ons lees ook wat die rede vir sy optrede was: Joh 5:36 – Jesus se: “Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het.” Joh 20:30 – 31: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” Hand 2:22 – “Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het.” Joh 10:25: - “As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.” Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.” Heb 2:3-4 – “Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, 4terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.” 13. MAW die wonderwerke wat Jesus gedoen het was nie om mense gesond te hou nie, want hierdie selfde mense het weer later siek geword en gesterf. Jesus se wonderwerke, insluitend sy genesings, het een doel voor oë gehad: Om aan die wereld te bevestig dat Hy is wie Hy se Hy is! 14. So nadat Christus se werk afgehandel was het die apostels die taak gehad om hierdie nuwe evangelie in die wereld te gaan versprei en dit op skrif te stel. En om hulle boodskap te bevestig en te bekragtig het God aan hulle die gawes gegee om wonderwerke te doen, siekes te genees en duiwels uit te dryf. Ons lees in Matt 10:1 die volgende: “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en HULLE mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.” 15. En nadat die HG gegee is het die apostels voortgegaan om hierdie wonders en genesings te doen. Inteendeel, wonderwerke was so deel van die apostels se boodskap dat Paulus die gemeente in Korinte daaraan herinner het dat “Die dinge wat 'n apostel kenmerk, het ek met groot geduld by julle verrig: tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Kor 12:12). Dit was ‘n gawe wat vir die apostels gegee is om hulle boodskap te bekragtig. 16. Mark 16:20 se vir ons dat “Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.” Vir duisende jare is die mensdom onderworpe aan siektes. Behalwe vir Henog en Elia wat die dood vrygespring het en Jesus wat die dood oorwin het, is al die mense voor ons, ook gelowiges, dood aan siekte of besering of iets dergeliks. 17. Die gawe van genesing wat aan die apostels gegee is het nie ten doel gehad om gelowiges gesond te hou nie. Die doel daarvan was om die nuwe, vreeemde boodskap van verlossing wat hulle gaan verkondig het te bevestig. 18. En dit bring ons by ons Skriflesing. Petrus en Johannes was op pad na die tempel toe. ‘n Man wat van geboorte af verlam was het van Petrus en Johannes iets gevra. ‘n Aalmoes. Petrus antwoord dat hy nie geld het nie, maar wat hy het gee hy vir hom: “….in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” 19. Die woord oor die man se genesing het vinnig versprei. Die mense het na Petrus en Johannes toe gestroom en Petrus het die geleentheid aangegryp om hulle toe te spreek. Hy se vir die mense dat hulle nie verbaas moet wees oor wat hulle gesien het nie. Wat gebeur het het gebeur deur die krag van Jesus, die Een vir wie hulle gekruisig het. 20. Hou in gedagte dat Petrus besig was om met Jode te praat. Jode wat gewag het vir ‘n Messias hulle hele lewe lank. Veronderstel Petrus het bloot ingeloop en sommer blindelings vir hulle vertel dat die een wat hulle gekruisig het, dit was hulle Messias. Julle moet in Hom glo! 21. Ons kan nie dink skokkend en afgryslik dit vir hierdie Jode sou wees in die eerste eeu nie. Dit was ondenkbaar dat iemand vir hulle sou kom vertel dat hulle Messias soos ‘n krimineel gekruisig is. ‘n Tipiese Jood het geglo dat die Messias die mag sou oorneem by die Romeine en hulle verjaag het. As Petrus nie die wonderwerk met die verlamde man verrig het nie, sou hy omtrent geen gehoor gehad het nie. 22. Maar nou se 4:4 vir ons dat as gevolg van hierdie genesing het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het gelowig geword en aangegroei tot omtrent 5000. Die doel van die wonderwerk was nie om die verlamde man gesond te maak nie. Sekerlik het hy later weer siek geword en gesterf. Die doel was dat die boodskap wat Petrus en Johannes verkondig het, bevestig kon word as die waarheid. 23. As daar een gawe was wat ek bitter graag sou wou he, is dit die gawe om mense met ‘n aanraking of ‘n woord te genees. Want hoeveel keer moes ek al langs vriende se kinders se sterfbeddens staan en hulle sien wegkwn, hoeveel keer moes ek al mense met kanker sien worstel net om na ‘n lang lyding te sterf. Dink net hoe wonderlik dit sou wees om in hospitaal en selfs lykshuise in te gaan en die siekes en sterwendes en selfs dooies aan te raak en hulle te genees? 24. Ek het al verskeie begeer om dit te kon doen, maar ek kan nie. En die vraag is waarom sien mens nie hierdie sogenaamde geloofsgenesers in hospitale of selfs lykshuise nie. Hulle maak tog aanspraak daarop dat hulle genesings kan doen soos Jesus en die apostels. Sou dit nie wonderlik wees as hulle hul tente en verhoë en TV ateljees sou verlaat en in die hospitale die siekes en sterwendes gaan genees nie? Maar hulle beoefen altyd hulle “gawes” in ‘n omgewing waaroor hulle beheer het, waar dinge gebeur soos hulle dit wil he en waar dinge volgens hulle skedule plaasvind. 25. Waarom vind ons hierdie mense nie in Afrika, Indie of Bangladesh waar VIGS hospitale lamle nie, waar hulle hul gawes kan gebruik om die lewe vir ander te verbeter nie? Want hulle wat kleim dat hulle die gawe van genesing het, het dit nie! Die gawe van genesing en ander wonderwerke was ‘n tydelike gawe wat gegee is om die boodskap van die apostels te bekragtig totdat die Skrif voltooi was. 26. Ons moet vandag besef dat al sou gelowiges alle siektes op aarde kon genees sou die meerderheid mense steeds nie in Jesus as Verlosser geglo het nie. Kyk na al die wonderwerke wat Jesus gedoen het en wat het met Hom gebeur? Hulle het Hom gekruisig. Die apostels het glad nie beter gevaar nie want hulle het wonderwerk op wonderwerk gedoen. En wat gebeur met hulle? Hulle is in die tronk gegooi, vervolg, en selfs doodgemaak! Want verlossing kom nie deur ervarings of deur genesings te sien nie. Rom 10 verduidelik helder dat verlossing kom deur die evangelie te hoor en dit te glo. 27. Die persone wat daarop aanspraak maak dat hulle die gawe van genesing het beroep hulle daarop dat hulle soos Jesus en die apostels genees. Kom ons kyk vergelyk dit wat ons op TV en in die sogenaamde genesingsdienste sien met die wyse waarop Jesus en sy dissipels genees het en ek gaan net 1 voorbeeld by elk noem. Hoe het Jesus en die apostels genees? Eerstens, Jesus het met ‘n woord of ‘n aanraking genees. Mark 5 vertel van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Sy het Hom aangeraak en sy is genees. – Die apostels ook: In Hand 9 lees ons Eneas wat al 8 jaar verlam en bedleend was. Petrus se vir hom ““Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Tweedens, Jesus het onmiddelik genees – Toe die 10 melaatses omdraai en wegstap is hulle genees, so ook die vrou met bloedvloeiing, so ook die offisier se seun in Matt 8. – Die apostels ook - In Hand 3 lees het ons gelees dat die bedelaar by die tempel onmiddelik opgestaan het. Geen rehabilitasie of medikasie nodig nie. Derdens, Jesus het mense volkome genees – Nadat Jesus Petrus se skoonma genees het sy onmiddelik opgestaan en hulle bedien. Daar was nie ‘n herstelperiode of medisyne wat sy nog moes neem nie. – Die apostels het ook - Ons het gesien met die genesing van Eneas dat hy dadelik opgespring het en begin dans het. Vierdens, Jesus het almal genees wat na Hom toe gekom het. Dis in teenstelling met vandag se geloofsgenesers wat lang rye mense wegwys sonder om eens vir hulle te bid en dan te aanvoer dat die HG vir hulle gewys het nie vir hierdie mense te bid nie. Luk 4:40 se “Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.” – Die apostels het ook so genees - In Hand 5:16 lees ons die volgende van die apostels: “Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.” Vyfdens, Jesus het organiese siektes genees. Hy het nie op en af in Palestina geloop en hoofpyne of rugpyne genees nie. Hy het blindes laat sien, lammes laat loop, dowes laat hoor – genesings wat nie eens sy vyande kon bevraagteken nie. – Wel, die apostels ook – Die man by die tempelhek wat deur Petrus genees is was van geboorte af kruppel. Laastens, Jesus het dooies opgewek. Die weduwee van Nain se dogter, Lasarus, Jairus se dogter. – En die apostels het ook – Hand 9 vertel vir ons hoe Petrus vir Tabita uit die dood teruggebring het. In Hand 20 lees ons van Eutigus wat by die venster uitgeval het en homself doodgeval het. Petrus het hom opgewek en aangegaan om te preek. 28. Hoe vergelyk dit met die sogenaamde genesings wat deur hierdie mense in hulle kerkgeboue en op hulle verhoe gedoen word? 29. U sal ook oplet dat hierdie genesings almal in die openbaar gedoen is, somtyds tussen skares mense. Want die wonders is gedoen om die boodskap dat Jesus die Seun van God is, te bevestig. Johannes 20 spel dit duidelik uit. 30. Ek het vroeer gese dat die gawe van genesing in die Skrif nie gegee is om gelowiges in die tyd voor die Skrif gevorm is gesond te hou nie. ‘n Baie mooi voorbeeld vind ons in Hand 28. Publius se pa is baie siek aan maagkoors. Vers 8 se dat “Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. 9 Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak.” 31. Maar hier is die interessante wat ons nie in die Afrikaans optel nie. Die Griekse woord wat in vers 8 gebruik word vir gesond maak is “iaomai” wat dui op ‘n bonatuurlike genesing. Hiervoor gebruik die Engels die woord “healed”. Maar die Griekse woorde wat in vers 9 gebruik word is die woord “therapeuō” waar ons woord therapeutic of terapeuties vandaan kom. Dit wil lyk asof Paulus Publius se pa op ‘n bonatuurlike wyse genees het en die ander op ‘n mediese manier genees is. 32. Nou moet ons in gedagte hou wie dit was wat saam met Paulus gereis het en hier geskryf het. Lukas, die mediese dokter natuurlik! In Fil 2 lees ons dat Paulus vir Epafrodites teruggestuur het van die sendingreis af omrede hy so siek was. Hy het hom nie genees nie. In 2 Tim 4 lees ons dat Paulus vir Trofimus siek in Milete agtergelaat het. Hy het hom nie genees nie. Paulus se vir Timoteus om bietjie wyn te drink vir sy aanhoudende ongesteldhede. Hy het hom nie genees nie. Waarom? Want die gawe van genesing wat aan die apostels gegee is was nie om Christene gesond te hou nie. Dit was om hulle boodskap te bevestig. 33. So, genees God steeds? Is dit dan nutteloos om tot Hom te bid? Nee, allermins nie. Inteendeel!! Wat staan ‘n gelowige dan te doen as hy of sy siek word. Twee dinge: Bid tot God vir genesing en besoek ‘n bekwame dokter. Jesus het in Matt 9:12 bevestig dat dokters is vir mense wat siek is. Tydens siekte moet gelowiges ‘n Bybelse perspektief behou en elke geleentheid soek om God te verheerlik. Volhard in gebed en rus ook in ons siektes in die feit dat ons leef in ‘n stukkende wereld waarvan siekte en soms die dood deel is. 34. Kom ons wees maar eerlik. Almal word nie altyd van hulle siekte genees nie. Daagliks sterf gelowiges daaraan. Ons gaan nie altyd verstaan waarom ons nie genesing vind nie, maar ons moet ook onthou dat doodgaan deel van die lewe is. Elkeen van ons gaan daardie pad stap. En as dit deur siekte is dan moet ons ook daarin ‘n geleentheid soek om God te verheerlik. 35. Moet jou nie laat mislei deur sogenaamde geloofsgenesers wat daarop uit is om eerstens mense uit te buit maar ook aan mense te probeer wys dat hulle ‘n hoër status by God het en dat hulle uitverkies is om soos die apostels en Jesus wonders te doen nie. Ons moet hierdie gebeure binne die konteks van die hele NT verstaan. God genees steeds vandag, maar nie deur iemand wat een of ander bonatuurlik gawe daartoe het nie. God genees in antwoord op die gebed van gelowiges. 36. Dan gaan ons nie mislei word en in ons geloof en selfs in God begin twyfel soos ek al verskeie kere gesien het nie. Ons sal standvastig binne God se wil bly leef tsv siekte, want ons gaan verstaan wat die doel van hierdie genesings en al die ander wonders was waarvan die Skrif vol is. En wat van my siekte, my lyding, my pyn? Is daar enige sin is? Kan God help? WIL God help? 37. Siekte en lyding is deel van ons stukkende wereld. Sonde het dit so gemaak. En die gevolge van sonde raak ons almal. Selfs die skepping. Maar siekte, pyn en lyding kan deur God onderskep word soos Paulus in Rom 5 se dat ons swaarkry en lyding loop op die einde uit op hoop en egtheid van geloof. Want God is ook teenwoordig in ons lyding. Hy is daar. En selfs ons siekte en lyding, wat deel van alles is, moet vir ons geleentheid wees om God se boodskap te bevestig. 38. Want ons enigste troos in lewe en in sterwe is dat ons aan Jesus Christus behoort!