Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Hierdie is seker een van die bekendste en mooiste tekste wat uit Paulus se pen gekom het. En vreemd genoeg dat wanneer Paulus seker een van die bekendste dele in die Skrif en sekerlik een van die belangrikste fondamente van ons geloof wil beskryf, dan doen hy dit soos soveel kere vantevore in die vorm van ‘n regsaak. 2. So u en ek gaan vanoggend in ‘n hofsaak in. Nie baie lekker nie, want ons rol in hierdie hofsaak is nie aangenaam nie soos u binnekort sal sien. Nou in ‘n hofsaak is daar sekere rolspelers waarsonder geen saak kan plaasvind nie. Natuurlik het ons ‘n Regter vir hierdie saak nodig. Paulus se vir ons in vers 33 dat God die een is wat uitsprake lewer. So God vervul self hierdie rol van Regter. Hy is die een wat uitspraak gee en besluit wie word vrygespreek en wie nie. Dis tog die taak van die regter in elke saak. 3. Maar in ‘n hofsaak het ons ook ‘n aanklaer nodig. Dis die persoon wat die aangeklaagdes skuldig moet bewys. Dis sy werk om ‘n saak te bou tot so ‘n mate dat die beskuldige skuldig bevind kan word en gevonnis word. En in ons teks vra Paulus die vraag: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?” In vers 34 vra hy : “Wie kan ons veroordeel?”. So, iemand is besig om ons aan te kla by hierdie Regter. Iemand is besig om klagtes teen ons in te bring wat verhoor moet word. 4. Nou ek dink nie daar is enige onduidelikheid oor wie die aanklaer dan nou sal wees nie. Ons lees in Sagaria 3:1 dat hy “…..die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan het, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla.”. 5. So die duiwel sal in hierdie hofsaak die aanklaer wees. Dis sy werk om ons as gelowiges skuldig te bewys voor God. En dan moet daar iemand in die beskuldigebank wees. Want Paulus verwys na die aangeklaagdes. In vers 33 vra hy die vraag: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?” Dis die uitverkorenes van God, u en ek, die gelowiges, wat in die beskuldigdebank staan. En hierdie is nie ‘n lekker plek om te wees nie. 6. In my BC dae was ek ‘n paar keer in die hof in die beskuldigdebank, en glo my as ek vir u se, dis nie ‘n plek waar jy wil staan nie. Jou hele toekoms is in die hande van een persoon wat daaroor moet besluit. Maar Paulus se ons is daar. Ons staan in die beskuldigdebank waar nie net ons aardse toekoms op die spel is nie, maar ons EWIGE bestemming. 7. Hierdie is nie sommer net ‘n hofsaak waar ons ‘n boete of net gevangenisstraf kan kry nie. Die ewige lewe is hier op die spel. As ons skuldig bevind word is die ewige verderf ons voorland. En hierdie is nie een van daardie sake waar jy oor ‘n rooi verkeerslig gery het en jouself sommer net gou kan verdedig nie. Nee, ons het ‘n advokaat nodig……’n uiters bekwame advokaat! Iemand wat ons saak by hierdie Regter kan bepleit. 8. Maar die Klerk van die Hof, sy naam is Paulus, se dat ons nie bekommerd moet wees nie, want daar is reeds ‘n advokaat vir ons aangestel. In vers 34 se hy: “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” ‘n Klompie verse terug, in vers 26 het Paulus gese dat die HG pleit ook vir ons. Maar hou in gedagte…..’n goeie advokaat kos geld. Baie geld! So ons gaan nog hierdie advokaat se rekening moet betaal. 9. En nou moet hierdie hofsaak begin……maar wag! Hier is iets vreemds aan die gang! As ons ons teks vanoggend reg lees se die klerk van die hof, Paulus, vir ons dat daar nie ‘n hofsaak gaan wees nie! Hoe is dit moontlik? Inteendeel, Paulus se die saak is reeds verby. Ons is reeds vrygespreek. Want die aanklaer in hierdie saak het nie ‘n saak teen ons nie. Hy het opgedaag vir die verhoor, want hy doen steeds sy bes. As ons iets goeds van hierdie aanklaer kan se is dit dat hy nie ‘n lui haar op sy kop het nie. 10. Maar ons het nog nie getuig nie! Moenie bekommerd wees nie se die klerk van die hof. Iemand het sommer namens julle getuig. Wat? Namens ons getuig. Wie kan dit wees? Dan verwys hy ons na vers 16 van dieselfde hoofstuk. “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” 11. En wanneer Paulus se “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?”, “Wie kan ons veroordeel?” en “wie kan dan teen ons wees?” se hy dit eintlik op ‘n sarkastiese wyse. Dit is retoriese vrae. Hy verwag nie eintlik ‘n Antwoord op hierdie vrae nie want ons almal ken reeds die Antwoord. Want die Regter het ons reeds vrygespreek. Die antisipasie van ‘n verhoor, ‘n moontlike ewige vonnis, dis verby. Nou kan ons rus in die vryspraak. 12. Om die waarheid te se, Paulus se ons is nou MEER as oorwinnaars in hierdie hofstryd. Die Grieks se ons is eintlik OORWELDIGENDE oorwinnaars in die stryd. As ons rugbytelling praat is hierdie nie ‘n 20-16 oorwinning nie, dis ‘n 120-0 oorwinning. En Paulus se bekende afsluitingswoorde in verse 38-39 se eintlik vir ons dat daar nou niks en niemand meer is wat ons kan aankla nie, want niks kan ons van God se liefde skei nie. 13. Ons is so vrygespreek dat daar nooit weer aanklagte teen ons ingebring kan word nie. Maar mnr Klerk van die hof, Paulus, hoe is dit moontlik? Sy Antwoord: “Hierdie Regter oordeel regverdig omrede Hy elkeen vryspreek wat in sy Seun Jesus glo”. (Rom 3:26). En dan draai ons na ons advokaat toe en vra: “Wat is u kostes hiervoor meneer?” “Niks nie, die werk was pro bono. Verniet. Aanvaar net die Regter se vryspraak.” En dit raak nog beter. Daar is eintlik geen rede gewees vir ons om bekommerd by die hofsaal op te daag nie. 14. Want in Openbaring 12 vertel Johannes vir ons waarom. “Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het.” Kyk asb mooi na hierde gedeelte. Johannes praat verlede tyd – IS UIT DIE HEMEL GEGOOI, AANGEKLA HET, HET SELF DIE OORWINNING BEHAAL – dit het reeds gebeur. Iewers in die verlede het dit gebeur. Nog voordat hierdie hofsaak begin het is die uitspraak al gelewer gewees. Hoe het dit gebeur? Wel, Johannes gaan aan…. 15. “……….danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het.” 16. Die kruis van Christus het elke denkbare aanklag wat die vyand moontlik teen ons kon inbring, nietig verklaar. Tot so ‘n mate dat daar NOOIT weer aanklagte teen ons gele kan word nie. Daarom begin hoofstuk 8:1 met die belofte dat daar geen veroordeling meer is nie, en eindig in vers 39 met die feit dat daar geen skeiding van God is nie. 17. En tussen dit vertel Paulus dat ons as gelowiges met die vaste wete kan leef dat Jesus ons so onbeskryflik liefhet dat Hy die hoogste prys daarvoor betaal het. En die voorsittende Regter het hierdie prys aanvaar as betaling vir enige klag wat op ons klagstaat geskryf was. Presies dit waaraan ons vanoggend herinner gaan word met brood en die wyn. 18. Ons kan so maklik tydens die nagmaal vassteek by die gebeure aan die kruis. En ja, dis waar alles gebeur het. Die kruis en die lee graf is die Alfa en Omega van ons verhouding met God. Maar dink ons ooit aan die gevolge daarvan? Wat die kruis en die lee graf teweeggebring het? Vryspraak vir ons almal. Onskuldig en ontslaan! Die noodlot wat ons le en beloer, daardie straf van ‘n ewige verdoemenis, ‘n ewige loutering, dit bestaan nie meer nie. 19. In die nagmaal word ons herinner aan die grootste hofsaak wat ooit plaasgevind het. Ons word herinner daaraan dat wat ookal die aanklagtes is wat teen ons ingebring word, hetsy vir jou verlede waar almal van ons maar geraamtes in die kas het, vir dit wat jy huidiglik verkeerd sou doen maar ook vir dit wat ons in die toekoms dalk verkeerd sou doen, dat al hierdie klagtes skoongevee is. 20. Dis weggeneem. Ons is vry. Maar ons Vryheid was nie verniet nie. Dit het ‘n baie, baie duur prys gekos. En die wonder van hierdie vryspraak is dat ons nie net vry is van enige aanklagte teen ons nie. Daar is nog meer! Paulus praat in vers 18 van die heerlikheid wat God in die toekoms vir ons sal laat aanbreek. Nog ‘n resultaat van dit wat ons vandag deur die brood en wyn onthou. ‘n Ewige heerlikheid saam met God wat alle verstand te bowe gaan. Wat meer is as wat ons kan dink of droom. 21. En vanoggend kan u en ek net uitroep: “AAN GOD AL DIE EER!”. Voorwaar, ons is vry van alle skuld. Glo dit, aanvaar dit, leef daaruit!