Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek het onlangs ‘n artikel gelees wat gehandel het oor die 5 prominentste en mees gewildste nuwejaarsvoornemens wat mense aangaan gedurende hierdie tyd. Die lysie het soos volg gelyk: 5de op die lys was om ‘n nuwe stokperdjie te begin 4de was om meer geld te maak 3de op die gewildheidslysie was om verhoudings te verbeter In die 2de plek was die gewildste voorneme om op te hou rook, en… Die nr 1 nuwejaarsvoorneme? Is daar iemand wat wil raai? Om gewig te verloor. 2. Wel, dis weereens tyd vir nuwejaarsvoornemens! Ek maak hulle nie want ek hou hulle nie. Maar daar is sekerlik baie meer gedissiplineerde mense as ek. Mense wat wel by hulle voornemens hou. En ek salueer hulle vanaand. Nuwejaarsvoornemens is mos maar iets wat ons onsself eintlik maar belowe om te doen sodat ons lewens op een of ander wyse bietjie beter verloop as wat dit die vorige jaar verloop het. 3. En more vier ons ‘n nuwe jaar. En regoor die wereld is dit ‘n feestelike instelling. Mense vier fees, welliswaar op verskillende wyses, maar hulle vier fees. En Psalm 30 is juis geskryf vir so ‘n feestelike geleentheid. Vers 1 se vir ons dis ‘n lied wat geskryf is vir die inwyding van die tempel. En hierdie fees, soos nuwejaar, is jaarliks gevier. En dis gevier oor dieselfde tyd as wat ons dit vier. En om dit te verstaan moet ek eers vir u ‘n laaste geskiedenisles van 2024 gee. 4. ‘n Groep Siriese Grieke het in 167vC die land Israel ingeneem en daarmee saam die tempel verower. Die fees van die inwyding van die tempel wat onder die Joodse gemeenskap bekend staan as HANNUKAH het ontstaan nadat die Makabeers (groep Jode) in 164vC hierdie Grieke uit Israel verdryf het en weer die tempeldiens herstel het. 5. Hierdie fees is jaarliks gevier tussen die tye van 25 Des en 2 Jan. Die Joodse gemeenskap het aangegaan om hierdie fees te vier maar dit sou nog 250 jaar neem voordat die naam van hierdie fees verander is na die Fees van die Ligte. Die geskiedenisskrywer Falvius Josephus was hievoor verantwoordelik. 6. Hierdie Fees van die Ligte is later deur die Christene oorgeneem om die geboorte van Christus te vier in dit wat ons ken as Kersfees. Daarom moet ons die opskrif mooi verstaan as die Psalm toegeskryf word aan Dawid wat eintlik 1000 jaar voor die inwyding van die tempel geleef het. 7. Hierdie is ‘n Psalm wat deur Dawid geskryf is maar net so oorgeneem is om die inwyding van die tempel te gedenk. Dawid was beslis nie teenwoordig by hierdie geleentheid nie. Maar dit se vir ons iets van die inhoud van hierdie gedig. 8. Dit is oujaar. Vanaand vier baie mense fees. Maar hoe? Want in mense se feesvieringe vanaand gaan ons ook kan sien wat vir hulle belangrik is. Gaan hulle prioriteite weerspieel word. En wat gaan mense se nuwejaarsvoornemens wees vanaand, en nog meer belangrik, gaan dit God insluit? 9. As ons mooi deur hierdie Psalm lees vind ons dat Dawid hierdie lied eindig met die beste nuwejaarsvoorneme wat ons sekerlik aan kan dink. In vers 13 eindig hy die psalm met die woorde: “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!” 10. Maar die vraag is: Hoe het Dawid daarby uitgekom? Hoe het hy tot hierdie slotsom gekom? Ek bedoel. Ons almal weet wat het met Dawid in sy lewe gebeur. Hoe Saul hom probeer doodmaak het, hoe hy vir sy eie seun moes vlug. Hoe hy in grotte gewoon en weggekruip het selfs nadat hy tot koning gesalf is. Toe staan hy ‘n kind aan die dood af. Hy het sy deel van swaarkry in die lewe gehad. 11. Dan begin ons Psalm 30 weer van voor af lees. Ons sien hoe Dawid in vers 2 doelbewustelik besluit om God te loof, en hy het heelwat redes daarvoor. God het hom gered van sy vyande, God het hom gesond gemaak toe hy na Hom geroep het, God het hom van die doderyk gered en hom aan die lewe gehou. 12. U sien, Dawid sê dat wanneer hy terugkyk op die nabye verlede het hy goeie tye beleef: V7 – “Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.” Maar hy het ook, soos elkeen van ons vanaand hier, slegte tye beleef: V8B – “Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword.” En wanneer u en ek vanaand hier sit en ons kyk na Dawid se omstandighede is dit verbasend om te sien hoeveel ooreenkomste ons met hom het. 13. Want as ons vanaand so vlugtig terugkyk op 2024 dan kan ons die goeie onthou. Ons kan onthou waar dit geestelik en emosioneel goed gegaan het met ons. Ons kan selfs onthou hoe dit finansieel goed gegaan het, hoe ons kinders floreer het, hoe dit met my huwelik goed gegaan het. 14. Maar net soos Dawid kan ons ook die slegte en swaar tye onthou. Ons kan onthou waar dit nie geestelik en emosioneel so goed gegaan het nie. Die tye wat dit finansieel maar swaar was. Die tye wat ons kinders ons deur die nag laat bid het en tye wat dit gelyk het asof dinge in my huwelik net nie wou werk nie. 15. En as dit vanaand vir u voel dat 2024 heelwat meer las as vreugde was, en dit voel vir u asof u baie mooi moet gaan soek om die goeie in die afgelope jaar te vind, wees verseker dat u in uitgelese geselskap is. Want die persoon langs u vanaand het dieselfde beleef. En in Psalm 30 herinner Dawid die Here meer aan die negatiewe dinge wat met hom verkeerd gegaan het as aan die positiewe dinge. 16. Maar selfs al dink Dawid hier aan die negatiewe dinge wat met hom gebeur het, is daar een aspek wat uitstaan in hierdie psalm. Nie minder nie as 22 keer in hierdie kort psalm verwys Dawid na God op een of ander wyse. Selfs al verwys hy na die slegte wat met hom gebeur het, het dit nog altyd vir Dawid oor God gegaan. In alle omstandighede het dit vir hom oor God gegaan. 17. Onthou u 2024 se swaarkry tye, die moeilike tye, die tye wat u gevoel het u kan nie meer nie? Wel Dawid het soortgelyke tye gehad. Hy het ook soms gevoel hy kan nie meer nie. Maar hy het altyd sy hart op God gerig. Daarom dat hy die lied afsluit met die woorde dat hy vir altyd God se lof sal besing. 18. Wat lê vir u en vir my voor in 2025? Ons kan vanaand ’n hele aantal dinge opnoem wat ons HOOP in 2025 vir ons voorlê, maar nie een van ons weet wat werklik vir ons voorlê nie. 2024 het nie verloop soos ek aan die einde van 2023 gehoop het nie, en 2023 het beslis nie verloop soos ek aan die einde van 2022 gehoop het nie. Ons kan hoop, maar ons weet nie. En soms is dit goed dat ons nie weet nie. Dis soms God se manier om ons te beskerm. 19. ‘n Uiters belangrike aspek wat ons in gedagte moet hou terwyl ons met hierdie onderwerp besig is, is dat die lewe nie skielik met Dawid ‘n reguit, afdraande pad begin loop het nie. Nee, Dawid was steeds bekommerd oor hoe hy van Saul gaan wegvlug en hoe hy aan die lewe gaan bly met almal wat beplan het om hom dood te maak. Kom ons dien die mite van die sogenaamde voorspoed beweging sommer onmiddelik ‘n nekslag toe. 20. Hulle wat glo dat as jy in God glo dit altyd met jou sal goed gaan. En indien dit nie met jou goed gaan nie is dit omdat jy gesondig het of nie genoeg geloof het nie. Teen hierdie tyd weet enigiemand wat in ‘n volhardende verhouding met Christus is dat hierdie siening sommer snert is. En Job, Paulus en selfs Jesus gaan met u saamstem. 21. Maar ten spyte van Dawid se omstandighede, wat steeds nie altyd rooskleurig was nie, vind hy steeds die geloof om hierdie belofte aan God te maak: Vir altyd sal ek U loof!!! 22. So, wat moet ons dan doen hier aan die begin van 2025? Wat kan ons doen om te verseker dat hierdie jaar seepglad verloop. Dat al my nuwejaarsvoornemens waar word en dat ek aan die einde van die jaar kan terugkyk met die woorde “Ek het dit gemaak” in my gedagtes. Wat kan ons doen om te verseker dat hierdie jaar presies verloop soos ek dit wil he? 23. Wel die antwoord is eenvoudig: NIKS NIE!!! U sien, die verloop van hierdie lewe en ook die verloop van 2025 le nie in ons hande nie. Daar is sekerlik ‘n paar dinge wat u en ek kan doen om te verseker ons trap nie in so baie slaggate soos in die verlede nie. Maar oor sekere dinge het u en ek net geen beheer nie, al sou ons so graag wou he. 24. Maar alhoewel u en ek nie veel kan doen om die verloop van 2025 te beinvloed nie, ken ons die Een wat elke klein detail van 2025 in Sy hande het. Wanneer die slegte en moeilike tye in die komende jaar ons tref, oor ons pad kom, dan ken ons die Een wat ons daardeur kan neem. En dis hoe Dawid dit gedoen het. Net in die volgende Psalm, 31:15, se hy hierdie woorde: “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God.” 25. U sal saam met my stem dat enige ander voornemens maar wankelrig is en dat dit bloot afhang van myself. Dis beslis nie die soort wankelrigheid waarmee ons hierdie nuwe jaar wil aandurf nie. Maar om God vir hierdie onbekende te vertrou wat voorle is beslis nie wankelrig nie. Dit was die Hebreerskrywer wat gese het dat geloof is die VASTE vertroue….. 26. Die vraag waarmee ek wil afsluit vanaand: Leef jy reeds in 2025 en bekommer jy jou oor die jaar wat voorle, of leef jy in die oomblik met dankbaarheid teenoor God dat jy die heel laaste dag van 2024 mag beleef? Dat jy 365 dae saam met God kon reis en dat hierdie reis nie nou ophou nie. 27. Dan wil ek u uitdaag vanaand: Wees elkeen van die 31 557 600 sekondes van hierdie jaar wat voorle dankbaar vir alles. Dat ons dankbaarheid gesetel sal wees in Christus. Vir wie Hy is en wat Hy doen. Dis iets wat Dawid nie gehad het nie. Hy het nie die vryspraak van Christus en inwoning van die HG gehad nie. In die OT was die dood die einde van alles. Vir hulle het daar niks bestaan na die dood nie. 28. Luister hoe verduidelik Dawid dit in vers 10: “Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit u trou verkondig?” Die dood was vir hulle die einde. Ons leef in die NT. Ons weet wat na die dood gebeur, en ek kan nie help om te wonder hoe Dawid se Psalms sou geklink het as hy hierdie kennis gehad het wat ons vandag het nie. 29. En dis met hierdie dinge in gedagte dat ons niks anders kan doen as om ons nuwejaarsvoornemens aan te pas nie. Hoe goed dit ookal bedoel word, is daar slegs een voorneme wat kan verseker dat ons hierdie nuwe jaar met vrymoedigheid tegemoet kan gaan. Here my God, in 2025 sal ek U loof!.