Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die belangrikste woorde wat enigiemand sekerlik kan spreek is tog sy of haar laaste woorde. Met Jesus was dit dalk anders aangesien daar geen woorde is wat Hy gespreek het wat ons kan se meer of minder belangrik as die ander nie. En Lukas vertel vir ons in ons Skriflesing vandag wat Jesus se laaste woorde was. 2. LEES TEKS!!! Hand 1:6-11 3. In Johannes 17 bid Jesus sy priesterlike gebed. En in vers 18 se Hy die volgende: “18 Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.” Ons het verlede week gesien dat God aan die werk is in hierdie wereld en Hy wil he dat ons met al ons gawes en talente by Hom moet aansluit. 4. Ons is nie gered net om te dien nie, maar ook om uit te gaan. Paulus verduidelik dit mooi in Hand 20:24 wanneer hy se “……. as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” 5. Geliefdes, dit wat ons van God geleer het kan ons nie vir onsself hou nie. Dis een ding as jy die bak roomys wat jy gekoop het vir jouself wil hou, of as jy nie wil he iemand moet in die genot van jou pak Romany Creams deel nie, maar die evangelie van verlossing waarmee God ons vrygemaak het KAN ons onder geen omstandighede vir onsself hou nie. 6. Ons is geroep om hierdie Goeie Nuus uit te dra. En wanneer ons teksverse wat handel oor sending lees soos vanoggend en die groot opdrag in Matt 28, sien ons dat Jesus nie net sommige uitstuur nie. Hy verwys nie net na die wat sekere soorte gawes gekry het nie. Dis nie net die ds, ouderling en diaken se werk om die Goeie nuus te verkondig nie. Dis ALMAL SE TAAK!. 7. Om gestuur te wees as sendeling is sekerlik die grootste voorreg wat enige mens te beurt kan val. U se miskien maar ek is nie gemaak om op ‘n vliegtuig te klim en iewers in ‘n sloot in Midde Afrika te gaan woon nie. Wel, genadiglik het God vir ons vanoggend se teksvers in die Skrif ingesluit. Kom ons kyk hoe Hand 1:8 vir ons verduidelik WAT ons moet wees en WAAR ons dit moet wees. 8. Dis belangrik dat ons in gedagte hou dat die boek Handelinge handel oor die ontstaan en die uitbreiding van die Christelike kerk deur mense wat getuies was van dit wat hulle gesien het. Nie rumours wat hulle gehoor het of skinderstories wat hulle oorvertel het nie. So in die begin van die boek word die opdrag aan die dissipels gegee om “getuies” te wees. Die woord word nie minder nie as 11 keer in Handelinge gebruik om die dissipels se werk na die hemelvaart te verduidelik. 9. Die ironie is dat die Griekse woord wat vir getuies gebruik word die woord “Martus” is. Dis waar ons Engelse woord “Martyr” vandaan kom. So ‘n getuie volgens die Skrif is ‘n martelaar. En Jesus se vir die dissipels dat hulle die HG sal ontvang en dit sal gepaardgaan met getuies wees. Dis die natuurlike gevolg van die ontvangs van die HG. Jy kan dan nie anders as om ‘n getuies te wees nie. Het u die HG ontvang…? 10. Die gebeure in Handelinge 1 speel natuurlik af in Jerusalem. Die dissipels is steeds in Jerusalem na al die gebeure. Jesus het nou al ‘n paar keer aan hulle verskyn, maar hierdie sou die laaste keer wees. En dan kom Jesus se opdrag in vers 8. Jesus se vir die dissipels dat hulle eerstens die evangelie hier in Jerusalem moet deel. Daarna is dit Judea, Samaria en dan tot in die uithoeke van die aarde. 11. Kom ons kyk of was die dissipels gehoorsaam hierin. Ons sien dat na die hemelvaart het die uitstorting van die HG plaasgevind en in hfst 2 lees ons dat die dissipels in verskillende verstaanbare tale die evangelie in Jerusalem begin verkondig het. Petrus hou sy groot toespraak en ons lees van wonderwerke wat plaasvind. Alles in Jerusalem. In hoofstuk 8:1 lees ons dat die gelowiges agv die vervolging wat begin het na Stefanus se marteling versprei het oor die gebiede van Judea en Samaria. Net soos Jesus se opdrag was. 12. Hierna het die evangelie na die kusgebiede versprei met die dissipels se besoeke aan Joppe en Seserea. Dan lees ons in hfst 13:4 hoe Paulus en Barnabas uitgestuur is na Seleukie toe om die evangelie te gaan verkondig – die uithoeke van die aarde! 13. Die dissipels was tot in die fynste besonderhede aan Jesus se opdrag gehoorsaam. En wat was die gevolg daarvan? In hfst 9:31 lees ons die volgende: “31 In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.” Wat ‘n besonderse getuienis van die eerste kerk. 14. Die Apostels het Jesus se opdrag in Hand 1:8 tot die fynste besonderhede uitgevoer. En die kerk het ‘n ontploffing beleef. Maar hoe pas ons nou hierdie model toe hier in 2025? Dis eintlik eenvoudig. Begin by JOU Jerusalem! Begin om die evangelie te verkondig daar waar jy elke dag is. In Mark 5 lees ons ‘n baie mooi voorbeeld hiervan. Die besetene leef tussen die grafte en wanneer hy Jesus ontmoet jaag Jesus die duiwels in die varke in. 15. Hierdie man is so dankbaar dat hy Jesus smeek om by Hom te kan bly. Hy wou saam met Jesus gaan, hy wou Jesus voltyds volg. Het u al opgemerk wat is Jesus se woorde aan hom? Markus 5:18-19: “18 Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. 19 Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” 16. Jongman, gaan na jou huis toe, na jou mense toe en vertel vir hulle…. Gaan vertel vir JOU Jerusalem alles wat God vir jou gedoen het! En Markus se in vers 20 “Almal was verbaas daaroor.” 17. Die vrou by die put in Johannes 4. Nadat sy ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, het sy teruggegaan dorp toe en vir almal gaan vertel wat met haar gebeur het. En vers 39 se dat “39 Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het…”. 18. Maar ons doen dit nie maklik nie. Ons is bang. Ons dink mense gaan nie geinteresseerd wees nie. EN dis onwaar! George Gallup, wat gewoonlik baie betroubare navorsing oor geloof in Amerika doen, het na sy navorsing die volgende statistiek bekendgestel: 65 miljoen Amerikaners behoort aan geen kerk nie, MAAR 34 miljoen se hulle sal kerk bywoon as iemand hulle sou nooi. Hierdie studie het ook gewys dat die meerderheid tieners eerder oor God sou praat as oor seks, dwelms en musiek. Jou vriende is meer geinteresseerd in God as wat ons soms dink. 19. Of ons weet dalk nie hoe om met mense te praat nie. Want ek ken nie Bybelverse nie. Die maklikste en mees effektiewe manier van getuies wees is om gelowig voor ander te leef. Al ken jy nie een Bybelteks nie. Probeer dit! Dit werk!. Petrus se ons moet altyd gereed wees om ‘n antwoord te gee oor die hoop wat in ons leef. Neem tyd en gaan skryf jou eie getuienis neer. Ook wat God in Christus vir jou gedoen het. Leer dit en dan is jy gereed. Missionary 101!! 20. Dieselfde George Gallop het ‘n opname gedoen oor hoe mense tot geloof in Christus gekom het. Luister hierna. Baie interessant! Kerkbywoning – 1% Deur Sendinguitreike – 5% Deur Kerkprogramme – 8% Deur die kerkraadsbesoeke – 10% Deur familie of vriende – 76% Spreuke 11:30 se “….hy wat siele wen, is wys.” OAV. Ken jou Jerusalem vir God? Getuig jy steeds elke dag vir Hom in jou Jerusalem? 21. Hierna is ons verantwoordelik vir Judea en Samaria. En dit gaan van ons vra om uit ons gemaksone te kom. Paulus stel dit soos volg in 1 Kor 9:22: “Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.” Geliefdes, die wereld daarbuite gaan nie na die evangelie soek nie, hulle moet gesoek word. En dis ons verantwoordelikheid. Deur een optrede, deur vir die Samaritaanse vrou by die put water te gee, het Jesus alle geloofsgrense, rassegrense en kulturele grense oorskry. 22. Biskop Fulton Sheen vertel die verhaal van ‘n geleentheid waar hy ‘n melaatse kolonie in Afrika besoek het. Hy was gewalgd deur die liggame met die gapende oop wonde waaruit vog gedrup het. En soos hy nader aan ‘n man gekom het wat daar gele het, het hy opgemerk dat die man nog een of twee ander velsiektes het. En soos Fulton oorgele het om met die man te praat, het ‘n hangertjie wat om sy nek was afgebreek. En die kruis wat aan hierdie hangertjie vas was het in een van die gapende wonde van die man geval. 23. Sy reaksie : Vir ‘n oomblik wou ek terugtree en gaan naar word, maar skielik is ek oorval met ‘n ongekende liefde vir hierdie man wat niks gehad het nie. Ek het my vingers in die seer in sy vel ingedruk EN MY KRUIS OPGENEEM! Julle moet julle kruis opneem en my volg! Julle moet uit julle gemaksone kom. 24. Gaan vertel vir jou Judea en Samaria. Daar by die werk, by die skool, op die sportveld, om die braaivleisvuur, by saterdagaand se verjaardag partytjie, waar ookal, daar vind ons ons Judea en Samaria. Gaan en vertel vir hulle as jy klaar is in jou Jerusalem. 25. Maar geliefdes, ons leef nie in isolasie hier op aarde nie. Ons moet ook vir die wereld omgee. En in die tyd wat ek gereeld op sendinguitreike gegaan het, het ek gereeld hierdie argument gehoor: “Hoekom gaan julle na ander lande toe as hier nog so baie werk in SA is om te doen?”. My antwoord was altyd dieselfde. Daar is ‘n verskil tussen onbereik en ongered. In SA is daar geen onbereikte mense nie, maar baie ongeredde mense. 26. U sien in SA kan ons oor die straat loop en jy is in ‘n kerk. Ons kan die radio aanskakel en jy luister kerk. Ons kan in ‘n Christelike boekwinkel inloop en die Bybel en baie ander geestelike boeke koop. Niemand in SA kan se dat hulle nie die geleentheid gehad het om die evangelie te hoor nie. 27. Maar glo my, in die wereld daarbuite het ons paaie al met duisende mense gekruis wat nog nie eens die NAAM JESUS CHRISTUS gehoor het nie. As ons almal redeneer dat daar nog werk in ons eie lande is, wie gaan dan vir hierdie mense vertel? 28. Hou in gedagte. Toe Jesus in Mark 16:15 vir sy dissipels gese het “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom” was dit bykans onmoontlik. Hulle kon nie op ‘n vliegtuig spring en gou na die uithoeke van die aarde toe vlieg nie. Hulle kon nie in ‘n motor klim en ry waar hulle wou wees nie. Hulle moes loop, perd ry of boot ry. Hulle het nie die internet gehad om gou in ‘n ZOOM vergadering die evangelie met iemand aan die ander kant van die wereld te deel nie. 29. Interessant genoeg word die oggendboodskappies wat ons uitstuur vanuit hierdie gemeente op hierdie stadium na ons beste wete na elke kontinent op aarde versprei behalwe Suid Amerika. Die wereld is skielik klein. Dis soveel makliker vir ons as wat dit vir die dissipels was. En dan wonder ek wat is dit wat ons keer om by sending in die res van die wereld betrokke te raak? 30. Rick Warren se: “A church that is not a missionary church, will soon be a missing church.” As ons as gelowiges nie uitgaan en die evangelie versprei en verkondig nie, versuim ons ons grootste plig en verantwoordelikheid. En dan het ons eintlik geen bestaansreg nie. Geliefdes, ons is God se PLAN A…..daar is nie ‘n PLAN B nie! 31. En die hartseer hiervan is dat geen gelowige ‘n rede het om nie sendelinge te wees nie. Ons kan se…..: Maar ek het ‘n voltydse beroep wat ek beoefen – Wel, neem deel aan ‘n twee weke sendinguitreik, Baie organisasies in SA bied sulke uitreike aan. Maar ek is te oud en siek – Kry ‘n organisasie soos GD se bidkaart en bid elke dag vir die sendelinge in verskillende lande en vir dit wat hulle doen. Of dra finansieel by om vir iemand in Korea iewers ‘n Bybel te voorsien. Geliefdes, God nooi u om by die grootste, mees belangrikste opdrag in die geskiedenis van die mensdom betrokke te raak, die enigste taak wat u kan verrig waarvan die resultate vir ewig sal hou. Ons het geen verskoning nie. 32. Ons kan vanoggend soos ‘n Moses se “Wie, ek?”, of ons kan soos ‘n Jona se “Net nie ek nie” of ons kan soos ‘n Habakuk se “Hoekom ek? – Maar ons kan ook soos Jesaja se: “Hier is ek Here, stuur my!”. Dis u keuse. Die gevaarlikste gebed wat u seker kan bid is “Here, gebruik my!” Maar ek daag u uit vanoggend om dit te doen. 33. As u wou weet waarom sending so uiters belangrik is, wil ek u antwoord met Paulus se woorde: “14 Jy kan nie die Here vra om jou te help as jy nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan jy weet wie Hy is as jy nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan mense van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? 15 En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.”