Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Earnest Hemingway het ‘n kortverhaal The Capital of the World geskryf. Hierin vertel hy die verhaal van die vader en sy tienerseun wat in Spanje gewoon het. Hulle verhouding was moeilik en uiteindelik is dit verbreek – die seun het weggehardloop. Die vader begin ‘n lang reis op soek na sy opstandige en verlore seun. Hy kry hom nie. Ten einde raad besluit hy om ‘n advertensie in ‘n koerant in Madrid te plaas. Sy seun se naam was Placo, ‘n baie algemene naam in Spanje. 2. Dit was ‘n eenvoudige advertensie: “Liewe Placo, ontmoet my môremiddag om 12 uur voor die koerant se kantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou.” Die volgende dag op die bestemde tyd daag daar 800 “Placo’s” by die koerant se kantoor op – almal op soek na vergifnis. 3. As ek kyk na die reaksie en terugvoer na verlede week se diens is dit duidelik dat daar baie vaders en Placo’s ook in Deneysville en in ons eie gemeente is. Mense wat vergifnis nodig het maar ook mense wat nodig het om te vergewe. 4. Verlede week het ons gese dat God wat die mens vergewe, en mense wat mekaar vergewe, onskeibaar is. En vanoggend wil ons kyk na ‘n ander aspek van vergifnis teenoor mekaar. Nie net die noodsaak daarvan nie, maar spesifiek die grense daarvan. Hoe ver strek my vergifnis van ander? 5. Ons het gese dat my vergewing van ander eggo as ‘t ware God se vergifnis van my; wanneer ek ander vergewe, vorm dit die spieëlbeeld van wat God vir my gedoen het. Die manier waarop ek ander vergewe reflekteer my verstaan van hoe God my vergewe het. Die punt is: Wie nie bereid is om ander te vergewe nie, verstaan nie vergifnis nie en het nie regtig insig in sy of haar eie skuld voor God en waarvoor God hom of haar alles vergewe het nie. 6. Indien ons almal leef uit God se genade, indien genade die groot gelykmaker is, dwing dit ons om met ander oë na mekaar te begin kyk. Almal het dieselfde nood aan God se genade en vergifnis. En as ek deurentyd my eie foute en tekortkominge in gedagte hou, behoort dit vir ons makliker te wees om vir mekaar se tekortkominge, foute en sondes ruimte te maak en mekaar te vergewe. Dis mos logies!. Maar nou weet ons dat mense nie altyd logies optree nie, veral nie as dit by vergifnis kom nie, soos die gelykenis in ons Skriflesing illustreer. 7. En die vraag wat mense die meeste in die week vir my gevra het is die volgende: “Hoe ver strek my vergifnis teenoor ander?”. Ons het verlede week mooi verduidelik dat dit menslik onmoontlik is om te vergewe en te vergeet. Dit bestaan nie en die Bybel vra dit ook nerens van ons nie. Ons het ook gesien hoekom ons nie eintlik sal wil vergeet nie. Maar wat as hierdie persoon vir wie ek vergewe aanhoudend dieselfde dinge teenoor my doen. Wat as hierdie persoon steeds, nadat ek vergewe het, aanhou om so op te tree teenoor my? 8. Mense is mos geneig om alles te kwantifiseer. Ons probeer alles afskaal tot hanteerbare groottes en afmetings. Nie net dinge nie, maar ook mense en verhoudings. Ons is voortdurend besig om verhoudings te reël in terme van klassifikasies, reëls, wette en sosiale voorskrifte. Dis alles reels wat onsself daarstel om ons teen verdere seerkry te beskerm. Kom ons kyk hoe die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar van Matteus 18:21-35 ons help om ‘n blik te kry op die grense van vergifnis. 9. Petrus vra in v21: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen. Selfs sewe keer?” Petrus probeer kennelik om homself te beskerm teen te veel betrokkenheid by sy naaste. Sy bekommernis spruit voort uit die vorige verse (v15-20) waar die veronderstelling is dat die gemeente volhardend betrokke sal wees by ‘n gemeentelid wat gesondig het. Alles moet in die stryd gewerp word om die lidmaat weer in te skakel by die gemeente. Maar Petrus raak bietjie benoud: Êrens moet hierdie betrokkenheid tog end kry. Hoeveel keer moet ek vergewe as my broer iets verkeerd doen teen my? 10. Die agtergrond van die vraag in v21 lê in die opvattings van die Judaïsme van destyds waar grense belangrik was en geestelike aktiwiteite getel en bereken is. Byvoorbeeld, die naaste is slegs die mede-Jood, en jou vyand moet jy haat. Met ander woorde, daar is ‘n begrensing van die verhouding met die naaste. 11. So hier ook: Daar moet ‘n grens wees aan hoeveel ‘n mens kan vergewe; slegs sewe keer, dan het jy jou plig gedoen. Dis interessant dat Petrus nogal die Joodse voorskrif van drie maal verruim as hy sewe keer voorstel. Maar dit plaas maar ook net weer perke op vergifnis, want of dit drie keer of sewe keer is, dit bly steeds beperk. 12. God se voorskrif vir vergifnis, vir ons betrokkenheid by mekaar, is egter anders: Sewentig maal sewe keer. Oppervlakkig gesien lyk dit na nog ‘n verdere beperking, naamlik 490 keer. Maar in die lig van die gelykenis wat volg, is dit klaarblyklik nie die bedoeling nie. Dit gaan hier oor oordrywing om die punt tuis te bring dat ons vergifnis van ander onbeperk is, ad infinitum, tot in die oneindigheid toe. Nog meer: Vergifnis is onvoorwaardelik. Dit blyk uit die feit dat die broer van v21 nie eens berou het of om vergifnis vra nie. 13. Die punt is: Ongeag of die vriend berou het oor dit wat hy verkeerd teen jou gedoen het, moet daar van jou kant af steeds ‘n bereidheid wees om te vergewe. Die liefde en betrokkenheid by die ander is onbegrens, dit hang alles af van hoeveel liefde jy in jou hart het. Daarom dat die opdrag om te vergewe van 70X7 aan die einde van die gelykenis in vers 35 verander na “van harte”. Onbeperk. 14. Oor die eis van sewentig maal sewe keer vergewe wil ons egter walgooi: Wie kan dit regkry? Dis te veel gevra van vlees en bloed, ‘n mens kan dit nie bekostig nie. Maar die gelykenis wat ons gelees het wil presies die teenoorgestelde sê: In die lig van die groot skuld wat God my kwytgeskeld het, kan ek dit nie bekostig om nie so te vergewe nie. 15. Hierdie gelykenis is deurvleg met hiperbole. Dit wil deur middel van oordrywing en kontraste drie dinge beklemtoon: Eerstens, wil dit by ons tuisbring hoe groot die onbetaalbare skuld van die mens by God is. Die “miljoene rand” van v24 is letterlik 10 000 talente; dit is ’n onbetaalbare groot skuld. Dit blyk uit die feit dat Galilea en Perea (die regeergebied van Herodes Antipas) se gesamentlike jaarlikse belastinginkomste destyds maar 200 talente was. 16. Die amptenaar skuld dus ’n astronomiese bedrag. Vanuit sy situasie lyk die prentjie soos volg: Hy skuld 10 000 talente, wat gelyk is aan 50 miljoen dinarii. En 1 dinarius is ’n gewone arbeider se dagloon. Dus, indien ’n dagloner elke dag sy hele dagloon afbetaal, sal dit hom 136 986 jaar neem om terug te betaal. 17. Duidelik ’n onbegonne saak. Maar dis juis die punt. Met hierdie geweldige oordrywing wil Jesus die gedagte onderstreep dat die skuld onbetaalbaar is. Daar is geen manier waarop die amptenaar sy skuld kan delg nie. ‘n Ryk man kan nie eens in ‘n leeftyd soveel geld maak nie, wat nog te sê ‘n gewone dagloner. Maar dít is ons posisie voor God: ’n Onbetaalbare groot skuld. 18. In die tweede plek handel hierdie gelykenis oor die onbegryplike grootheid van God se vergifnis. Die koning kry die man innig jammer, laat hom vry en skryf sy skuld af (v27). So handel God met ons. God se vergifnis is onpeilbaar ruim, groot, diep en onbeperk. Dit is daarom inderdaad ’n vreemde vergifnis wat aan ons geskenk word. Die manier waarop God sy vergifnis aan ons skenk, is vreemd en ongewoon. Dit kom ons nie toe nie, en tog skenk Hy dit uit genade, omdat Hy goed is. 19. In die derde plek handel hierdie gelykenis oor die onbeperktheid van die mens se dankbaarheid. Die enigste logiese reaksie van die vergeefde amptenaar sou wees: Grenslose verwondering en dankbaarheid; nimmereindigende, onbeperkte wederliefde en vergifnis. Daarom is sy gedrag teenoor die medeamptenaar so skokkend (v28). Dié skuld hom maar ’n paar rand (letterlik 100 dinarii), wat hy binne ’n jaar of twee sou kon terugbetaal. Ons eerste reaksie is dus een van walging en afkeer: Watter persoon kan so gevoelloos, so harteloos wees!? 20. Hierdie persoon moet sterf! Maar dan hoor ons uit die mond van God: Jý is die persoon. Hierdie amptenaar se afskuwelike gedrag is tekenend van jou en my! Ons onwilligheid om mekaar te vergewe in die lig van die groot kwytskelding wat ons van God ontvang het, is inderdaad skokkend. 21. Nou word dit meer verstaanbaar waarom die opmerking vroeër gemaak is: Ons kan dit nie bekostig om nie ook so te vergewe nie. Daar is net een logiese antwoord op wat God vir ons gedoen het, en dit is om 70×7 keer te vergewe, dit wil sê: radikale, grenslose, onbeperkte vergifnis van ander – tot in die oneindigheid toe, niks minder nie. Maar dis op hierdie punt dat ons ou natuur dwarsweg vasskop. 22. Wat God eis, is inderdaad te veel vir vlees en bloed. Dis onmoontlik. Geen mens kan daarby kom nie. Maar God verwag nie die onmoontlike nie. Al wat Hy vra, is dat ons sal begin om die onmoontlike te laat moontlik word. Hoe? Deur God toe te laat om deur sy Gees al meer oor te neem, die ou mens te laat sterwe, en my met die nuwe mens in Christus te beklee. Om ten spyte van my eie geïrriteerdheid met mense, my bevooroordeeldheid, my kritiek op en harde hantering van ander, nogtans daardie eerste tree te gee in die rigting van vergifnis. 23. Die feit van die saak is, om te groei in ons verhoudings met ander kan dit nie koudbloedig bereken, beperk en aan bande gelê word nie. Dis nie hoe dit werk in die koninkryk van God nie. Verhoudings moet “van harte” wees (v35). Ek moet van harte kan vergewe. “Van harte” is Jesus se uitleg van 70×7; dis wat 70×7 eintlik beteken. Daar moet ruimte in my hart kom vir ander mense se andersheid, broosheid, gebreke, tekortkominge en – sonde. Nie kille berekening nie, maar ’n hartlike bekering tot die naaste, ‘n ander gesindheid, ingesteldheid – dis die onmoontlike wat God vra, wat tog moontlik is. 24. Die punt is: Vergifnis het geen grense nie; dit hang maar net af van hoe ruim my hart is. As jy daarop staan dat elke onreg wat aan jou gedoen is (of wat jy dínk aan jou gedoen is) gewreek moet word deur woedeuitbarstings, ewigdurende stilstuipe, die koue skouer te gee, allerlei kleinlike strafmaatreëls te bedink, of deur mense hof toe te sleep – dan kan daar geen herstel van verhoudings plaasvind nie. Dan word die gom van genade wat gesinne, families en ’n samelewing aan mekaar hou, stelselmatig vernietig, dan bly alles soos dit was sedert die sondeval. 25. Alles bly dan vasgevang in ’n bose spiraal van geweld en teen-geweld. Daar kan nie iets nuuts kom nie. Christene bly dan deel van die probleem en word nie deel van die oplossing nie. Niks van God se nuwe wêreld word dan sigbaar in hierdie wêreld nie. Nee, Christene is by uitstek die mense wat geroep word om daardie bose geweldspiraal te deurbreek, om nuwe moontlikhede van herstel te genereer. 26. ‘n Samelewing kan slegs vooruitgaan as daar die bereidwilligheid is om mekaar se oortredinge te vergewe, wanneer vergifnis ‘n lewensingesteldheid of lewenshouding word. En dit behels: a. ’n voortdurende besef van jou eie sonde, onvolmaaktheid en gebrokenheid, en b. om mekaar in liefde, begrip en aanvaarding aan te kyk, te besef dat ons almal leef uit die genade van God, die groot gelykmaker. 27. Dít is so ongeveer wat dit beteken om mekaar 70×7 keer te vergewe: So gesien ken vergifnis geen grense nie. 28. Maar ons kom terug by die vraag wat ons aan die begin gevra het. Wat as die persoon oor en oor en oor seermaak? Rick Warren sê dat daar ‘n besliste verskil tussen vergifnis en vertroue is. Vergifnis hoef nie verdien te word nie, maar vertroue moet verdien word. Daarom vereis vertroue tyd – dit gebeur nie oornag nie. Vergifnis beteken nie dat vertroue onmiddellik herstel word nie. Vergifnis se fondament is genade; vertroue se fondament is werke. Jy verdien vertroue. 29. Voorbeeld: In Hand 13 lees ons hoe Paulus en Barnabas en Johannes Markus deur die gemeente in Antiogie uitgestuur word op die 1ste sendingreis. Halfpad deur die reis besluit Johannes Markus om terug te gaan huis toe – geen redes nie. In Hand 15 lees ons dat Paulus en Barnabas regmaak vir hulle 2de sendingreis. Dan lees ons in Hand 15 v37-38 die volgende: “37Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. 38Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. 39Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met 'n skip na Siprus toe vertrek. 40Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is.” Paulus het Markus net nie meer vertrou nie. En hulle vennootskap in die uitbreiding van die koninkryk van God kon nie voortgaan nie. Vertroue moet verdien word. Nerens se die Skrif dat ons mekaar net blindelings moet vertrou nie. Die Skrif se wel dat ons moet vergewe soos God ons vergewe het. 30. Christene moet vergifnis vir hulle eie geestelike gesondheid beoefen. Vergifnis is jou aandeel – of hulle nou reageer of nie, of hulle daarvoor vra of nie; of hulle selfs agterkom dat hulle vergifnis nodig het of nie. Jy vergewe vir jou onthalwe en sodat God die eer daarvoor kry. Om nie te vergewe nie is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood. 31. Vergifnis is om uit te reik, op te soek, besorg te wees, die ander se situasie te probeer verstaan, sensitief te wees vir ander se nood en behoeftes. Om as kind van God weer van vooraf te leer loop in die koninkryk van God. Om die eerste wankelende babatreetjies te gee in die rigting van ruimhartigheid. 32. Om te besef waar ék vandaan kom, hoeveel vergifnis ek self ontvang het, en ander in daardie lig te sien. Om in te sien: die bietjie vergifnis wat ek uitdeel, is maar net ‘n klein teken van God se ruimhartigheid wat Hy aan my gegee het, maar dat dit algaande ook op my begin afskuur het.