Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Is alle godsdienste en gelowe nie maar gelyk nie? Het alle godsdienste en gelowe nie maar dieselfde doel nie? Almal kom tog maar by God uit. Noem dit wat jy wil. God, soos die Christene glo, Allah soos die Moslems dit glo, die Moksja (die staat van verlossing van alle pyn en lyding) soos die Hindoes dit glo, of die Gautama Sidarta, die Boeddha, soos die Boedhiste dit glo. 2. Het hierdie godsdienste van die wereld almal nie maar net hul eie weg na saligheid nie? Of is daar net een weg na saligheid toe? Baie mense glo die verskillende gelowe moet vir ‘n slag saam om een tafel gaan sit en konsensus kry oor hoe mens gered kan word. En as hierdie konsensus bereik kan word het ons mos ‘n wereldgodsdiens wat almal kan aanhang en dink net hoe baie moeilikheid kom dan op ‘n einde. 3. Ander mense se weer nee, godsdienste sal nooit oor alles saamstem nie, maar daar is tog ‘n beter uitweg. Kom ons stem net saam dat alle godsdienste meriete het. Hulle lei tog almal na dieselfde verlossing. Alle paaie lei mos na Rome, of hoe? Alle godsdienste loop uiteindelik op dieselfde punt van verlossing uit. 4. Hierdie groep mense wil se dat elke godsdiens is maar relatief en niemand kan een godsdiens bo ‘n ander stel nie. Volgens hulle is alle godsdienste maar gebrekkige voertuie wat ons uiteindelik by dieselfde verlossing uitbring. 5. Die afgelope klompie maande is mense weer aan die praat hieroor op godsdienstige platforms op sosiale media. En as jy die kommentare lees op hierdie plasings dan kom jy agter dat selfs gelowiges verward is hieroor. Is Jesus regtig die enigste Verlosser? Is ons nie arrogant om so te se nie? 6. Iemand het op so ‘n plasing kommentaar gelewer en gese dat God is te groot vir net een godsdiens. Sy genade is blykbaar te wyd om net Christene in te sluit. Mense raak warm onder die kraag, urelange redenasies word gevoer en sosiale media is aan die gons daaroor. 7. So, hoe moet ons ander godsdienste in Suid Afrika beoordeel? Tydens my studies was ek verplig om onderhoude met mense van ander gelowe te voer, hulle geloof en hulle belewenis daarvan te verstaan. Want hierdie mense woon tussen ons en rondom ons. Ons kan hulle nie ignoreer of wegwens nie. En ons sal ook nie wil nie. 8. En ek moet erken, hoe meer ek met hulle te doen gekry het en steeds doen, hoe meer het ek geleer om vir hulle respek te he. Biljoene mense regoor die wereld wat nie Christene is nie lewe ‘n lewe van opregte toegewydheid en hoë morele waardes volgens die leerstellinge van hulle geloof. Hulle toegewydheid, hulle erns en hulle medemenslikheid laat ons as Christene dikwels beskaamd staan. In elk geval sou dit uiters liefdeloos wees om dit wat vir ander mense belangrik is af te lag. Dit sou in elk geval ‘n uiters onchristelike optrede gewees het. 9. Maar ons respekteer nie hierdie mense omrede ons hulle godsdiens respekteer nie. Ons respekteer mense van ander gelowe omrede ons in hulle iets sien en beleef van die beeld van God. Want elke mens is geskape na die beeld van God. Mense in wie God radikaal iets anders ook kan en wil doen. Iemand het eendag gese: “Behandel jou meerderes met respek omdat dit jou plig is, jou gelykes omdat dit jou plesier is en jou ondergeskiktes omdat dit jou voorreg is” 10. Net soos wat ek nie mense wat sondig afskryf nie, maar liefhet, net so moet ek ook lief wees vir mense van ander geloofsoortuigings sonder dat ek nodig het om eerbied of ontsag en agting vir hulle geloof te hê. Mens kan egter vir hulle as mens en as mede beelddraers van God respek hê. Mense is immers meer as hulle geloofsoortuigings. 11. Augustinus het gese dat “God het die mens vir Homself geskep. Daarom bly die hart van die mens onrustig, totdat hy in God rus gevind het.” So, Boeddha, Mohammed, die Joodse Rabbi’s en die Hindoe ghoeroes was nie doelbewuste misleiers wat mense die afgrond in wou lei nie. Hulle was deel van miljoene mans en vroue regoor die aarde wat ernstige pogings aangewend het om by God uit te kom. Of soos hulle dit noem, hierdie hoër Wese. 12. Paulus skryf in ons teks vanoggend dat die mens uit die werke van God in die skepping duidelik kon aflei dat dat Hy waarlik God is en dat sy krag ewigdurend is. Let wel, die teks se nie dat mense uit die natuur kon verstaan wie God is nie. Dit is beswaarlik moontlik om net na die natuur te kyk en te besef wie Jesus is en hoe Hy ons verlossing bewerk het. 13. Die teks se dat die mens vanuit die skepping van die wereld af kan aflei dat God, vir wie hulle reeds ken en van geleer het, se krag ewigdurend is. Daarom dat vers 21 se dat hierdie mense van God weet maar Hom nie as God eer en dank nie. Dit is iets heeltemal anders. Die mens kon iets van die God vir wie hulle al geken het, in al hierdie dinge beleef. Maar, se Paulus verder in die gedeelte, die groot tragedie is dat die mense die bietjie wat hulle van God geweet het, verloor het. Die sonde het hulle harte so verduister dat hulle dikwels dwaalligte vir die ware Lig aangesien het. 14. Die Skrif leer ons egter dat die vonkies van lig wat die mense van ander gelowe raaksien nie genoeg is nie. Elke mens het die VOLLE Lig nodig om ons op hierdie pad te begelei. En hierdie Lig is Christus. Verlede week het ons gese: NET Christus. Dis Hy wat die weg, die waarheid en die lewe is en Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie. Daar is net een manier om gered te word en om God werklik te ken en dit is deur Christus. 15. Baie mense, soos reeds genoem, is van mening dat alle paaie lei maar uiteindelik na God toe. En alhoewel hierdie siening baie aanloklik lyk en die lewe sommer baie makliker sou maak, weerspreek dit die belangrikste boodskap van die Bybel en die uniekheid van Christus. Die Skrif is duidelik dat ons gered word deur die geloof in Christus en nie deur werke nie. Ongeag hoe edel en opreg dit is nie. 16. Maar wat is anders aan Jesus? Wat maak sy boodskap so totaal anders as die van Mohammed, Boeddha en al die ander godsdienstigters? Nou op die oog af lyk alle godsdienste en gelowe baie dieselfde. Daar is heelwat ooreenkomste tussen hulle soos bv. Almal het heilige mense, heilige plekke, heilige geskrifte, gebede en seremonies wat nogal baie ooreenkomste toon. 17. So wat maak die Chritelike geloof anders as ander gelowe, en waarom is ons oortuig dat dit die enigste weg na die ware God toe is? Wel, eerstens word die Christelike geloof verduidelik in ‘n uiters betroubare boek. Selfs ateiste het in die verlede gese dat die totstandkoming en samestelling van die Bybel oor duisende jare net as ‘n wonderwerk beskou kan word. 18. Die Bybel is verder helder en duidelik en verduidelik God se plan met die mensdom en die verlossingswerk wat Hy deur sy Seun bewerk het in geen onsekere termes nie. Tweedens is daar oorvloedige geskiedkundige en argeologiese bewyse wat die boodskap van die Bybel ondersteun. Plekke, kulture, gebeure ens. wat in die Bybel beskryf word is al male sonder tal as geskiedkundig bewys. 19. Derdens is die veranderde lewens van miljoene mense regoor die wereld oorgenoeg bewys dat Jesus Christus ‘n realiteit is soos die Bybel beskryf. En vandag nog verander Hy lewens deur die werk van die HG en ervaar mense ‘n nuutgevonde verhouding met Hom. 20. Maar daar is egter een groot verskil: ten diepste is alle ander godsdienste self-help godsdienste, terwyl die Christelike geloof eerder ‘n God-help-ons geloof is. Alle ander godsdienste leer op die een of ander manier wat die mens alles kan en moet doen om homself te red, om ‘n spreekwoordelike brug tussen homself en God te bou. 21. Die Jode leer dat jy die wet van Moses getrou moet nakom as jy genade in God se oë wil vind. Die Moslems se vir hulle volgelinge dat hulle die 5 pilare van Islam moet onderhou. Hiermee saam moet hulle hul verpligtinge teenoor Allah nakom en jy sal met die ewige lewe beloon word. Die Hindoes verduidelik soos volg: Soek jy na Moksja, na verlossing van pyn en die lyding van die lewe? Dissiplineer jouself, sterf alle begeertes af en so sal jy reinkarnasie ontsnap en sal jy na jou dood in die salige NIKS in verdwyn. Die Boeddhis leer dat daar ‘n 8voudige pad is wat die Boeddha vir hulle aangewys het wat hulle moet volg. 22. Alles selfhelp gelowe. Doen dit dan sal jy dat kry. Maar die CHristelike geloof werk anders. Heeltemal anders. Dit vertel nie WAT jy moet doen om gered te word nie, want daar is niks wat jy kan doen nie. Inteendeel, in teenstelling met ander gelowe vertel die Skrif vir ons juis dat daar niks is wat jy kan doen nie. In plein Afrikaans: “Moenie eers probeer nie!”. 23. Ons kan God se goedgesindheid op geen manier verdien nie. As God uit sy genade ons nie red nie, is dit klaarpraat met ons. En Hy doen dit. Hy het die inisiatief geneem om ons sy kinders te maak. Ek word nie kind van God nie, Hy MAAK my kind van God. Alles wat gedoen moet word vir ons redding is klaar gedoen. Ons hoef dit net te aanvaar. 24. Die groot hartseer is dat terwyl ons Joodse, Hindoe en Moslem bure met groot inspanning en erns hul bes doen om van hulle kant af ‘n brug te bou na God toe, is hulle pogings tevergeefs. Want geen mens, hoe ingelig of toegewyd ookal, kan deur sy of haar pogings daardie kloof tussen hemel en aarde oorkom nie. Net God alleen kan dit oorkom, en Hy het reeds. 25. En nou kom die vraag: Is God se genade ook vir Moslems en Hindoes en Jode bedoel? En die antwoord is ‘n vanselfsprekende JA! Christus se kruisdood is vir ALMAL bedoel. Almal wat in Hom glo. En aan ons wat dit weet en dit beleef het, het Hy die geweldige groot opdrag en verantwoordelikheid gegee om die boodskap van sy verlossing aan alle mense oor te dra: ook die Moslem, die Hindoe en die Jood. 26. As ons vanoggend vra of die Moslems en Hindoes en Jode gered kan word, vra Jesus die teenvraag: “Waarom het jy nog nie vir hulle gaan vertel nie?” Want belydenis lei tot getuienis. As ek bely dat Jesus Christus die enigste Verlosser is dan het ek ‘n verantwoordelikheid om dit aan alle ander mense te gaan vertel, veral hulle wat God nie ken nie. Sendelinge word dikwels as arrogant beskou: “Ons het dit en julle arme drommels is ver benede ons!”. Maar dis nie hoe die Bybels van getuies van Christus praat nie. 27. Die werklike sendeling is ‘n bedelaar tussen ander bedelaars, net so swak en sondig, maar met een groot uitsondering: Ons weet waar die brood is! Ons het geeet en kan vir ander vertel waar die hand wat die brood uitdeel gevind kan word. Ons wat die genade van God beleef het en verstaan wat ons ontvang het, kan nie anders as om ander daarvan te vertel nie. 28. Paulus beskryf dit so mooi in Rom 10. Ek het vanoggend my eie vertaling vir die doeleindes van ons boodskap daarvan saamgebring. 29. 14 Jy kan nie die Here vra om die Jode, Moslems en Hindoes te help as hulle nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan hulle weet wie Hy is as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan hulle van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? 15 En hoe kan mense vir die Jode, Moslems en Hindoes van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir hierdie mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.”