Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons ken almal die manier waarop die Bybel oor God praat. Die mensvormige manier wat die Bybelskrywers oor Hom skryf. Ons lees van God se oë en mond en hande en voete. Ons lees dat Hy praat en hoor en loop en sit dat Hy ontevrede is en teleurgesteld is oor Israel se ontrouheid. Maar is God regtig so? Is dit nie maar net die manier waarop die Bybelskrywers oor Hom praat sodat ons Hom in ons taal en begrippe kan ken en verstaan nie. Die begrippe wat vir ons bekend is en sin maak. 2. Veral sekere uitsprake in die Bybel laat mense huiwer en wonder of God werklik so is en op die manier optree. Seker die belangrikste tekste wat mens laat wonder of God werklik so is, is die tekste wat se dat God berou gehad het (Gen 6:6-7; Num 23:19; 1 Sam 15:11, 35; Jer 4:28; Jona 4:2). 3. In die ouer vertalings van die Bybel lees ons dat God berou gehad het daaroor dat Hy iets gedoen het, byvoorbeeld dat Hy mense gemaak het (Gen 6:6) of dat Hy Saul koning gemaak het (1 Sam 15:11). En Jona ken God as die een wat altyd berou het oor die oordeel wat Hy oor mense aangekondig het as die mense hulle bekeer. 4. Sommige nuwere vertalings gebruik nie meer die woord “berou” nie. ‘n Mens kan dit verstaan, want “berou” word tog baie sterk met sonde geassosieer. Die ’83 vertaling, soos ons sopas gelees het, praat daarvan dat Hy bedroef is oor wat Hy gedoen het of dat Hy maklik afsien van die oordeel wat Hy uitgespreek het. Die NLV vertel dat God “spyt” was oor wat Hy gedoen het, maar soms ook tog weer dat Hy berou daaroor kry. Hoe die vertalings ookal lui, dit beteken maar in essensie dieselfde: God gaan terug op sy besluit, op wat Hy gese het Hy gaan doen. 5. Hy verander van plan. Is dit nie te menslik nie? Kan God dan van plan verander? Die Skrif is tog vol van tekste wat se dat God juis nie van plan verander nie. Die bekende vers in Num 23 se tog die volgende: “God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” Maar ons het vroeer ‘n klomp tekste genoem wat aandui dat God dit wel doen. 6. Kom ons probeer dit verstaan. Na sy aanvanklike ongehoorsaamheid gaan preek Jona in Nineve. En Jona preek ‘n oordeelsboodskap: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes” (Jona 3:4). Natuurlik wonder ‘n mens waarom Jona aanvanklik nie wou gaan nie, en hoekom hy soveel weerstand gehad het dat hy selfs van God af probeer wegvlug het. 7. Maar Jona preek, en skynbaar teen alle verwagtinge in, bekeer die mense in die stad hulle radikaal. En ons lees in 3:10 die volgende: “Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.” 8. En Jona is uit sy vel uit van blydskap! Hy is verheug! NEE!!! Lees weer. Jona is kwaad! En ons gaan later na sy rede hiervoor kyk. Maar hy gaan sit buite die stad om te sien of God Hom nie tog maar sal bedink en die oordeel oor Nineve sal voltrek nie. Deur ‘n wonderwerk gee God vir hom heerlike beskutting teen die stekende son, maar die volgende dag laat God die plant deur ‘n wurm opvreet en sit Jona en vergaan van die hitte. En weer is die man boos. 9. Dan reageer God self. Jona, se Hy, jy is begaan oor ‘n plant waaraan jy geen aandeel het nie, niks aan gedoen het nie, maar Ek, God, mag nie begaan wees oor ‘n groot stad se mense nie? ‘n Stad met meer as 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie? 10. Maar om te verstaan waarom Jona so teleurgesteld en kwaad was toe God van plan verander, is dit belangrik dat ons die verhaal binne sy konteks plaas en ietsie oor Nineve verstaan. Nineve wat die hoofstad van Assirie. Hierdie was Israel se aartsvyande. Die wreedhede van die Assiriers was oral bekend. Ons lees van God se oordeel oor hulle in Nahum 3 en die straf op die koning van Assirie in Jes 10. 11. In 2 Konings 19 lees ons hoe Hiskia God smeek om hulle te red van die wreedaardigheid en boosheid van die Assiriers. Die Assiriers was verantwoordelik daarvoor dat die volk Israel in ballingskap weggeneem is. En Nineve was die hoofstad van die Assiriese ryk. En nadat Jona gepreek het en die Assiriers hulle bekeer, verander God sy plan om hulle te vernietig en spaar Hy hulle. 12. Sou mens nie eerder verwag dat Jona in die wolke moes wees nie? Wat ‘n sukses was hy nie. Derduisende mense kom tot bekering op sy preke. Maar blykbaar by Jona werk dinge anders. Hy wou mos aanvanklik nie Nineve toe gaan nie en die Here moes hom omtrent dwing om uiteindelik te gaan. Ongelooflik wat drie dae in die kamer van ‘n Vishotel aan jou kan doen. En Jona stem in. So waarom het hy uiteindelik ingestem? 13. Was dit dalk die idee dat HY die een kon wees wat die aankondiging kon maak dat God vir Nineve gaan verwoes? Hierdie groot Assiriese stad was tog ‘n aartsvyand van Israel. Jona sou as ‘n held na sy vaderland kon terugkeer. Hy sou die een wees wat die oordeel oor Israel se aartsvyande gebring het. Daarom het hy besluit om tog te gaan en ek is seker hy het sy preke geniet daar in Nineve om oordeel oor hulle uit te spreek. 14. Maar dan die bitter teleurstelling: Die stad word nie verwoes nie. En Jona is in opstand! Nou gaan hy in Israel bekend staan as die verraaier van sy volk wat veroorsaak het dat hulle vyande se stad gespaar word. Immers was dit hy wat hulle almal tot bekering bepreek het. 15. En nou speel Jona sy kaart. “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.” 16. Sjoe, hoe werk dit? Die profeet is teleurgesteld, diep verontwaardig omrede God goed is. Solank God vir die profeet of vir Israel goed sou wees sou dit in orde en lekker wees. Maar nou is Hy goed vir Israel se grootste vyand. En dit nadat God self gese het dat Hy hulle gaan vernietig. En nou lyk Jona soos ‘n gek! En dis waaroor Jona kwaad is. Hy het so lekker gepreek en nou drop die Here hom! 17. Wat is Jona se probleem? Wel volgens hom is dit dat Hy God nie kan vertrou nie want God verander dan altyd sy plan. Of liewer, sy probleem is dat hy inderdaad op God kan staatmaak om van plan te verander: God verander altyd van plan. Jona se mos: “Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God,…”. Geliefdes, God trek altyd die oordeel terug as daar ware bekering kom. 18. Wat gaan hier aan? Hier is twee partye, een is onveranderlik en die ander is veranderlik. Wie is nou wie? Wel, uit die teks blyk dit dat Jona die onveranderlike is want hy dring aan daarop dat God moet deurgaan met sy oordeel tsv die feit dat die inwoners hulle bekeer het. Maar God lyk dit vir my is die veranderlike, want Hy het van plan verander en besluit om sy oordeel te weerhou. 19. Natuurlik kan ons van die ander kant af kyk na hierdie verhaal en se dat God is self ook onveranderlik, maar op ‘n ander manier as Jona. Jona is onveranderlik want hy wil die straf sien wat belowe is. Ongeag die feit dat die Assiriers berou getoon het en hulle sondes bely het. Maar ten spyte van hulle berou soek Jona oordeel!. Ek meen, die man het mos nou nie verniet vir drie dae gepreek nie? 20. God is wel onveranderlik in die manier dat Hy altyd op dieselfde wyse verander: In reaksie op opregte bekering trek God altyd sy oordeel terug. Hy verander altyd op die manier sy planne en dis wat Jona se, dis hoe hy God ken!. 21. Kom ons formuleer dit anders. God se veranderlikheid, die feit dat Hy in tye van mense se berou van plan verander, beteken eintlik God is getrou aan sy eie karakter. Hy hou sy beloftes. Hy sal altyd van plan verander as daar ware berou en bekering is. Daarin is Hy onveranderlik. Hy sal van plan verander as ons verander. En dit verander absoluut niks aan die heiligheid van God se karakter nie. 22. En voor ons hierdie veranderlikheid van God bevraagteken, kom ons verstaan eers die rede WAAROM ons so onbeskryflik dankbaar moet wees dat God hierdie veranderlikheid as deel van sy karakter het. Dat God van plan verander waar daar ware berou en bekering is. Want u en ek is maar net soos die Assiriers was. Ons was ook vasgeval in sonde, ons het ook gehaat, net op ‘n ander wyse. Ons het ook mense te na gekom ens. Maar dank die Here dat Hy wel van plan verander. Want toe ons berou gehad het, het God ook die oordeel wat vir ons gele en wag het weggeneem! 23. Maar die verhaal van Jona vertel vir ons iets baie spesifieks. Eintlik twee baie spesifieke dinge. Eerstens beskryf dit God as die God wat lief is vir die hele wereld. Ja, selfs die Assiriers, die mees gevreesde volk op daardie stadium in die antieke wereld, word ingesluit by God se kring van liefde. 24. Jona, wat in ‘n tyd geleef het waar alles vir die Jode oor hulle volk Israel gegaan het en waar hulle geglo het dat die Here slegs HULLE God is, moes die regte boodskap hoor: “God is ook die God van ander nasies!”. Selfs Israel se grootste vyande! 25. Wat Israel gemis het is dat reg van die begin af was dit God se bedoeling met die verbond met Israel dat Hy deur hulle uiteindelik met alle nasies ’n verbond wou aangaan. Hy is dus nie net die God van Israel nie, maar van alle nasies. Daarom dat reeds vir Abraham gesê word dat in hom (Abraham) al die nasies van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3). God maak Israel juis ’n groot nasie sodat hulle ’n sigbare teken vir die hele wêreld kan wees dat God ’n genadige God is. 26. En asof God dit wil inskerp by Abraham en sy nageslag dat hulle nie die enigstes is wat aan Hom behoort nie maar dat hulle instrumente in sy hand sal wees om alle nasies op aarde in te sluit by hierdie genadeverbond, kom hierdie gedagte herhalend voor in die geskiedenis van die volk (vgl Gen 18:18; 22:18; 26:4). Die gedagte dat al die volke van die aarde God se eiendom is en Hom moet dien, word ook bevestig in die profeteboeke waar verwys word na ’n tyd wanneer alle volke die lewende God, die God van Israel, sal dien 27. En Jona moes hierdie geweet het. Want ongeveer 240 jaar vroeer het Jesaja die volgende geprofeteer: “23Daardie dag sal daar 'n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assiriërs sal Egipte besoek, en die Egiptenaars Assirië, en hulle sal saam die Here dien. 24Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot 'n seën wees. 25Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” Jes 19:23-25. Selfs Egipte en Assirië, daardie gehate nasies van Israel, sal vir die aarde ’n seën wees. 28. Tweedens verduidelik die verhaal van Jona vir ons dat Israel eintlik maar selde hulle taak en roeping ten opsigte van die nasies verstaan het. Die feit dat hulle deur die Verbond met God bevoorreg is, het hulle eerder trots en verwaand gemaak as nederig. Hulle het hulleself as inherent beter as die nasies gesien. Veral na die terugkeer uit die ballingskap het hulle God se genadeverbond al meer eksklusief verstaan as net vir Israel bedoel, met uitsluiting van die nasies. 29. En daarom moet Israel weer hoor, aan die hand van ‘n onwillige profeet, dat God al die nasies liefhet. Ons kan se Johannes 3:16 is die samevatting van die verhaal van Jona. 30. En dit is ongeveer die situasie wat mens aantref wanneer Jesus, gebore uit die Joodse volk, sy Vader se koninkryk op aarde begin vestig. Aanvanklik lyk dit asof Jesus net op Israel fokus (Matt 10:5-6), maar gou word dit duidelik dat God se koninkryk vir alle nasies bedoel is. Jesus beweeg byvoorbeeld buite die grense van Palestina na die stede Tirus en Sidon en genees ’n Kanaänitiese vrou se dogter (Matt 15:21-28). Hy genees ook ’n besetene van Gerasa, wat semi-heidense gebied was, en so versprei die evangelie in die hele Dekapolisgebied (Mark 5:1-20). 31. En net voordat Jesus na die Vader terugkeer ná sy opstanding, gee Hy aan die dissipels die opdrag om na al die nasies toe te gaan, hulle sy dissipels te maak en hulle te leer om al sy gebooie te onderhou. Bekering en vergifnis van sonde moet aan al die nasies verkondig word se Luk 24:46. Die boek Handelinge beskryf dan hoe die Joodse volgelinge van Jesus gaandeweg bekeer moes word van hulle beperkte visie oor hoe wyd die genade van God strek. 32. Petrus moes oortuig word deur ’n hemelse gesig dat alle mense die evangelie waardig is, nie net die Jode nie(Hand 10), en die Joodse-Christene in Jerusalem moes hoor dat die heidene (die nasies) nie nodig het om eers kulturele Jode te word voordat hulle toegelaat word tot die nuwe verbond nie; hulle hoef maar net in Jesus te glo (Hand 15). 33. Paulus moes ook hard praat met die Galasiërs dat mens nie nodig het om al die Joodse wette na te kom om goeie Christene te wees nie. Trouens, hy sê ronduit dat die belofte wat God aan Abraham gemaak het, in Christus in vervulling gegaan het. Al die nasies het nou in Christus vrye toegang tot die genadeverbond (Gal 3:8). 34. So gaan die belofte van God aan Abraham in vervulling dat al die nasies van die aarde geseën sal wees. Ja, God is inderdaad die God van alle mense – ryk en arm, goed en sleg, geseëndes en vervloektes. En u en ek is deel hiervan. Deel van God se plan van die begin van die skepping af, van die tyd toe Hy met Abraham ‘n Verbond gesluit het. En Jona se verhaal wil vir ons vertel dat God nie gebind is tot een nasie, een volk, soos so baie mense dink nie. 35. Genadiglik verander God van plan as mense, mense soos u en ek, opregte berou toon. En Hy doen dit steeds elke dag, want uit elke stam, volk, taal en nasie wil God mense vir die koninkryk versamel. 36. Sy Seun is gestuur vir almal, dit was van die begin af sy plan. En ek en jy het nie net deel van daardie plan geword toe Jesus uit die graf gekom het nie. Nee, ons was van die begin af daarby ingesluit. Watter troos is dit nie?