Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. As die Here wil gaan ons in die volgende twee aande kyk na Jesus se verskyning voor Pilatus, ‘n man wat ‘n baie groot rol gespeel het in die verhoor en kruisiging van Jesus, maar oor wie ons nie baie praat nie. Vanaand gaan ons kyk na Lukas se weergawe van Jesus se verskyning voor Pilatus en DV sal ons moreaand kyk na dieselfde voorval maar soos Johannes dit weergee. Hierin vind ons baie inligting wat Lukas dan nie deurgee nie. 2. 23:1 Die hele menigte van hulle, lede van die Sanhedrin en hulle tempelwagte, neem Jesus na Pilatus toe om Hom aan te kla. Die Sadduseërs en Fariseërs was vyande van mekaar, maar hier is hulle saam teen Jesus. Hy het die Sadduseërs se besigheid in die tempelplein gister uitgejaag en deur die week die Fariseërs se leerstellinge en lewenswyse met sy onderrig aan die volk, verwerp. Daarom wou altwee groepe Hom om die lewe bring (Luk 19:47; 22:2). 3. 23:2 Hulle aanklag teen Jesus behels drie sake. Hulle se “Ons het hierdie een (neerhalend, manlike vorm) uitgevang dat hy besig is om ons volk te mislei” (MAW om hulle van die regte geloof af weg te lei; van die regte gedrag laat wegdraai); en die volk te verhinder om aan die keiser skattingsbelasting te betaal (foros ’n belasting wat simbool is van onderwerping en afhanklikheid); en verkondig dat Hyself ’n gesalfde koning is. Hierdie aanklagte het egter op leuens berus omrede Jesus hulle reeds tydens sy bediening oor elkeen van hierdie sake op hulle plek gesit het. Luk 20:20-26 oor die belasting, Luk 19:11-27 oor sy aansprake om as koning op te tree, Luk 5:14 oor sy lering in verband met die gebruike van sy volk. 4. 23:3 Pilatus vra vir Jesus of Hy die koning van die Jode is. En Pilatus vra nie hierdie vraag omrede hy belangstel in ‘n antwoord nie. Eintlik is dit ’n spottende, veragtende vraag, is dit hoe die koning van die Jode lyk? Ons moet in gedagte hou dat Jesus reeds deur die Sanhedrin skuldig bevind is aan laster, maar wanneer hulle Hom voor Pilatus bring is die 3 klagtes die van verraad! 5. En Jesus is voor Pilatus gebring oor die eenvoudige rede dat die godsdiensleiers Jesus wou laat doodmaak. Maar die godsdiensleiers het nie beheer gehad oor die doodstraf in Palestine onder Romeinse beheer nie. Slegs ‘n Romeinse goewerneur kon die doodstraf ople. 6. 23:4 Pilatus het egter vir die leierpriesters en die skare in die openbaar gesê: ‘Ek vind geen skuld in hierdie man nie, geen rede vir veroordeling of vonnis nie. Dit is die eerste ‘onskuldig’-uitspraak oor Jesus deur Pilatus. En hiermee beskou Pilatus die saak as afgehandel. 7. 23:5 ‘Maar hulle het aangehou deur te sê: Hy sweep die volk dwarsdeur die hele Joodse land op met sy onderrig, en het van Galilea af begin tot hier.’ ‘Tot hier’ verwys na Jerusalem (vgl. Hand 10:37). Hulle doel is om vir Pilatus te wys hoe gevaarlik Jesus vir die Romeinse owerheid is. Maar dinge lyk vreemd en uit plek uit. Pilatus blyk reeds oortuig te wees dat Jesus onskuldig is. Maar hy het ‘n probleem. As hy weier om te doen wat die skare vra mag dit ‘n opstand veroorsaak. 8. En dis een van die belangrikste dinge wat Pilatus juis wou vermy. Om vrede in sy streek te handhaaf was sy primere doel en indien ‘n opstand sou ontstaan sou hy baie vinnig sy posisie verloor het. Hy moes die vrede bewaar en sorg dat die Jode nie kopsere vir Rome veroorsaak nie. Inteendeel, dit was die enigste rede waarom Pilatus op hierdie tydstip in Jerusalem was. Pilatus se hoofkwartier was eintlik gesetel in Siseria Maritima. 9. Dis van hier af wat hy gereis het Jerusalem toe om teenwoordig te wees tydens die Paasfees aangesien hy hier die vrede en orde moes handhaaf. 10. 23:13 Pilatus roep die leiers, die Joodse Raad en die volk bymekaar. Vir Pilatus is dit die gewone mense wat, onder aanvoering van hulle leiers, Jesus by hom kom aankla het. 11. 23:14 Pilatus begin om vir die skare aanklaers te herinner aan hulle klag teen hierdie man, dat Hy iemand is wat die volk mislei. Kyk, se Pilatus, ek het in julle teenwoordigheid MAW in die openbaar, die saak ondersoek – Pilatus se sy ondersoek was deursigtig en wettig. Maar ek kon hierdie man geensins skuldig bevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig het nie. 12. 23:15 ‘en ook nie Herodus nie, want hy het Hom na ons teruggestuur. En let op! niks wat die dood verdien is deur Hom gedoen nie’. Pilatus herinner die skare daaraan dat ook Herodes niks kon vind teen Jesus wat die doodstraf regverdig nie. MAW Ook oor sy lewe en optrede in Galilea is dus niks wat die doodstraf verdien nie. En hier is dit belangrik dat ons in gedagte hou dat Deut 19 en Matt 18 vereis dat ‘n saak teen ‘n beskuldigde MOET deur 2 of 3 getuies bevestig word. En hier is dit juis die twee regters wat die twee getuies wat vir Jesus se onskuld getuig. 13. 23:16 “Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.” Pilatus se hy weet Jesus is onskuldig, maar om die klomp rasende Jode voor hom te keer om ‘n oproer te veroorsaak sal hy opdrag gee dat Jesus onskuldig gestraf word en Hom dan vrylaat. Dit gaan nie vir Pilatus oor reg en verkeerd nie. Dit gaan vir hom oor wat die mense gaan se en doen wat dalk sy posisie by die keiser in gedrang mag bring. 14. 23:18-19 18 “Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!” Hier word geskreeu om die loslating uit die tronk van ’n lid van die Selote, die Joodse weerstandsbeweging teen Rome, wat skuldig bevind was aan opstand teen Rome en aan moord. En Jesus word nou beskuldig van die misdaad dat Hy ander mense in oproer bring. Maar Barrabas het moord ook nog gepleeg…..en steeds kies die mense hom bo Jesus. 15. Die massa neem die vonnis uit regter Pilatus se hande. In een asem eis die massa die loslating van die skuldige, om te verseker dat die onskuldige veroordeel word. 11. 23:20 Hierdie woorde “Kruisig Hom, kruisig Hom!” word in al vier die evangelies weergegee. En in al vier die evangelies word die woorde herhaal. En herhaling het aangedui hoe beslis en ernstig die skare daarop aangedring het. Pilatus het hulle weer met ’n luide stem toegespreek omdat Hy Jesus wou loslaat. 12. Waarskynlik wou hy liewer vir Jesus loslaat as hulle keuse van Barabbas, wat ’n werklike bedreiging vir die Romeinse staat was. Hy was deeglik bewus van die feit dat Barrabas weer by opstande teen Rome betrokke gaan wees wat sy, Pilatus, se werk, in gedrang gaan bring. Daarom dring hy weer aan daarop dat Jesus vrygelaat word. 12. Sien, ons kan so maklik dink dat Pilatus eintlik die regte ding wou doen. Maar in dit alles het hy net sy eie voordeel gesoek. Selfs toe dit lyk of hy werklik aan Jesus se kant is. Hy wou net sy werk en status en posisie behou. 16. 23:21 Hulle skreeu terug en die ‘heilige’ stad weerklink met ‘Kruisig, kruisig Hom.’ Nou moet ons in gedagte hou dat die Joodse straf vir ‘n godslasteraar, dit waarvan Jesus beskuldig is, was steniging (Deutr 13:10). Maar dis nie waarvoor die Jode gevra het nie. Hulle vra vir die gebruiklike Romeinse straf vir opstandelinge en rebelle. Kruisiging! 17. Daarmee se hulle iets baie meer. Eerstens se hulle dat Jesus in hulle oe nie eens ‘n Jood is nie anders sou hulle Hom vgl Joodse wette gestraf het. En tweedens, soveel erger, moet ons in gedagte hou dat Deut 21 se dat elkeen wat aan ‘n paal opgehang is, is deur God vervloek! Deur aan te dring op kruisiging as straf vra die Jode dat die vloek van God op Christus moet neerkom. Dis die uiterste waartoe hulle gaan om die onskuldige dood te kry. 18. 23:22 Nog ’n maal verklaar Pilatus Jesus se onskuld. Lukas beklemtoon dat dit die derde maal is wat Pilatus probeer om Jesus los te laat deur vir die massa te vra watter kwaad Hy dan gedoen het, aangesien hy geen rede vir doodstraf in Jesus gevind het nie (Luk 23:16, 20,22). Dit lyk amper of hy smeek om Jesus se vrylating en dat dit nie meer ’n regsuitspraak is nie. 19. Deur hulle te vra watter kwaad Hy dan gedoen het, voel die massa blykbaar aan dat hy begin om aan hulle toe te gee. Hy herhaal sy plan om Jesus met geseling te waarsku en daarna los te laat (23:16). Sy plan is ’n verdere bewys dat die massas se opinie al is wat vir hom saakmaak, nie die waarheid nie. 20. 23:23 Toe kom die druk en geirriteerdheid van die Jode tot ’n hoogtepunt. Met groot geskreeu het hulle aanhou eis dat Hy gekruisig word. Die versoek waarmee hulle na Pilatus gekom het, het nou ’n eis geword. Die luide geskreeu het die indruk gewek dat die oproer momentum kry. Hulle geskreeu het toe geseëvier. So swig Pilatus voor die massa en gee sy driemalige vryspraak van Jesus prys. Lukas se berig wys baie duidelik dat die Jode teen geen prys Jesus wou laat vrykom nie, en dat Pilatus bewustelik onreg pleeg om homself te red. Om sy posisie by die keiser te verseker. 21. 23:24 Toe het Pilatus verklaar dat hulle eis uitgevoer word. Dit is sy uitspraak. En hierdie uitspraak van hom het al sy vroeëre argumente tot niet gemaak. Lukas vermy ’n direkte uitspraak van Pilatus dat Jesus gekruisig moet word en lê die blaam vir Jesus se kruisiging op die Jode. 22. Die ander drie Evangelies sê dat Pilatus Jesus aan hulle oorgelewer het om gekruisig te word en Mattheus 27:24 beskryf die tafereel waar Pilatus sy hande in onskuld was en die hele volk toe die verantwoorde-likheid vir Jesus se bloed op hulle en hulle kinders neem. En alhoewel die volk verantwoordelikheid geneem het vir die dood van die Messias, kan Pilatus sy hande soveel keer was soos hy wil, soveel keer die skares probeer oortuig soos hy wil – HY het die mag gehad om Jesus te kruisig of vry te laat. In Johannes se evangelie se Pilatus dit self! 23. Dit maak nie saak hoeveel keer hy die skares probeer oortuig het dat Jesus onskuldig was nie, hierdie finale uitspraak het alles vervang. Hy het ‘n onskuldige, skuldig verklaar. 24. 23:25 Lukas vertel dat Pilatus die man Barrabas laat gaan het, maar Jesus het hy aan hulle wil oorgegee – en hulle wil was dat Hy gekruisig moet word. Dat God se vloek op Hom sou rus! Die een wat vir ’n dood skuldig is, word vrygelaat, en die onskuldige sterf in sy plek – maar nie net in die plek van Barrabas nie, maar in die plek van elke sondaar in die hele wêreld (vgl. Joh 1:29). 25. En dis gedoen want sonde……! Want sonde het die wereld binnegedring. Want sonde het u en my van God vervreem. Want sonde het verwydering tussen ons en God gebring. Want sonde moes uit die weg geruim word. Want sonde het Hom gedryf om sy lewe neer te le. Op hierdie manier het God, in ons plek, met sonde afgereken. 26. Waarom sal ons dan nog daaraan bly vasklou? Waarom sal ons steeds daarin volhard? Is dit wat in hierdie week gebeur het nie vir ons elkeen genoeg aanmoediging om te breek met die verkeerd in ons lewens nie? Is God aan ‘n kruis nie meer as genoeg rede vir ons elkeen om daardie troetelsondes neer te le en ‘n lewe van heiligheid na te streef nie? Daar is geen tyd so goed soos nou, op hierdie oomblik, om weg te breek van die verkeerd in ons lewens nie. Kom ons doen dit deur gebed.