Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons het gisteraand na Lukas se weergawe van die gebeure voor Pilatus gekyk. En vanaand gaan ons voort deur na Johannes se weergawe daarvan te kyk. Hier gebeur weer dinge waaroor Lukas nie berig nie, maar wat Pilatus se rol in die kruisiging van Jesus soveel duideliker maak. 2. 18:33 Pilatus se ondervraging van Jesus in die hofsaal begin met sy vraag: Is jy die koning van die Jode? (Die Romeinse reg het vereis dat die hoofklag teen ‘n gevangene drie maal aan hom in die hof gestel moes word). Uit Pilatus se vraag kan ons aflei dat die owerpriesters hulle godsdienstige aanklag van godslastering, dat Jesus Homself God maak, vir die Romeinse goewerneur verander het na een van ‘n politieke aanklag van opstand teen die regering, dat Hy ‘n Gesalfde koning is, wat die Jode verwag om hulle van die Romeinse oorheersing te bevry (Mat. 26:63-66). 3. 18:34-35 En wanneer Pilatus vir Jesus hierdie vraag vra, antwoord Jesus met ‘n vraag van sy eie: “Vra u dit uit u eie (MAW vra jy dit omrede jy belangstel) of het ander dit vir u van My gese?” Is dit ‘n persoonlike vraag wat Pilatus gevra het: het jy dit uit jouself gesê? deur Jesus dalk as koning te begin erken – ‘n spontane erkenning dat hy in die teenwoordigheid van ‘n koning is; of is dit ‘n slegs ‘n herhaling van wat ander vir jou oor Jesus gesê het – ‘n formele aanklag van die Jode. 4. Beide Jesus en Pilatus wil by die waarheid agter die voorgee uitkom: Jesus wil weet of Pilatus self tot ‘n sekere insig oor Hom gekom het, want as hy het kan dit lei tot verdere insig oor Hom. As dit bloot die Joodse aanklag is, is Pilatus reeds in die verkeerde koers sonder enige insig in wat Jesus se koningskap beteken. 5. Pilatus toon sy minagting wat hy vir die Jode het met sy teenvraag: Ek is mos nie ‘n Jood nie, is ek? Hy ontken enige kennis van Jesus behalwe dat Jesus se eie volk en owerpriesters Hom aan hom oorgelewer het. Daarom sy volgende vraag: wat het jy gedoen? – dat hulle jou aan my oorgegee het om ter dood veroordeel te word. Dit is duidelik hy is nie tevrede is met die aanklag wat die Jode teen Jesus gebring het nie. Het Jesus slegs Joodse tradisies verbreek, of het Hy werklik ‘n misdaad gepleeg wat deur die Romeinse hof gestraf moet word? 6. 18:36 Jesus antwoord nie direk op Pilatus se vraag nie, maar sê iets oor sy koningskap. Jesus ontken nie dat sy koninkryk oor mense regeer en hulle lei om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree in die wêreld nie. Maar sy koningsheerskappy oor mense se lewens het nie sy oorsprong in hierdie wêreld nie, en gebruik nie die politieke magsmiddele van hierdie wêreld met ‘n leërmag wat met geweld veg teen sy vyandige volksgenote, die Jode, nie. 7. As Jesus ‘n aardse koninkryk sou kom oprig sou Hy soos die Sanhedrin wat veiligheidswagte gehad het en Pilatus wat soldate gehad het, ook ‘n weermag gehad het. En hierdie weermag sou geveg het dat Hy nie gevange geneem word nie. Maar Hy het nie so iets nie, want Pilatus, my koninkryk is nie van hierdie wereld nie. 8. En dan sou ek nie…….en hier verwag mens dat Jesus sou se dat Hy nie aan die Romeine oorgelewer sou word nie…..maar nee, Jesus se Hy sou dan nie aan die JODE uitgelewer word nie. Hy beskou hierdie Jode as sy teenstanders. Dis dan hulle wat Hom aan Pilatus uitgelewer het. As Sy koninkryk dan van hierdie wereld was sou Hy ‘n weermag gehad het wat in die Tuin van Getsemane reeds vir Hom sou geveg het. Daarom moes Petrus sy swaard terugtrek van die hoëpriester se slaaf af, en het Jesus Homself sonder weerstand aan die Jode oorgegee. 9. 18:37 Van Jesus se verwysing na sy koninkryk lei Pilatus korrek af dat Jesus dan tog ‘n koning is. En op sy vraag antwoord Jesus: Dit is soos u se: Ek is ‘n koning. Daarmee erken Jesus dat Hy ‘n koning is, maar nie soos Pilatus oor sy koningskap dink nie. Nadat Jesus in 18:36 gesê het wat sy koninkryk nie is nie, antwoord Hy Pilatus se vraag wat sy koninkryk wel is, die koninkryk van waarheid. 10. En dan se Jesus iets interessants. Hy bevestig dat Hy van die teenwoordigheid van God af kom (gebore) en na die wêreld toe gekom het (menswording) om oor die waarheid te getuig. Jesus se Hy is nie ‘n koning wat ‘n ander koning opvolg wat dood is nie, soos die normale gang was nie. Hy word nie koning van ‘n koninkryk wat reeds bestaan het en vroeer deur ‘n ander koning regeer is nie. Nee, Hy is as ‘n koning GEBORE. Dis juis waarvoor Hy gebore is! Hy het gekom vir die doel om ‘n heeltemal ander tipe koninkryk te stig. 11. Maar Jesus se iets anders: Hy se “Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom.” Ek kom van ‘n ander dimensie. Ek bestaan lankal reeds en ek kom van ‘n plek af wat nie hierdie plek is nie. En Pilatus, goewerneur van Rome, vang dit nie. 12. Die betekenis van Jesus se koningskap is nie om wêreldlike mag te verkry nie, maar is ‘n hemelse sending tot diens aan die waarheid; nie met geweld nie, maar deur getuienis. Sy hele lewe en wese is die waarheid van God se liefde vir die wêreld (14:6; 3:16). Sy onderdane is elkeen wat uit die waarheid is, wat sy getuienis aanvaar. Dit is dié mense wat in Hom glo. 13. 18:38a Jesus se getuienis oor sy koninkryk van die waarheid impliseer ‘n uitnodiging om deel daarvan te word. Dit plaas Pilatus voor ‘n persoonlike beslissing. Daarmee plaas die Gevangene sy regter in die beskuldigde bank, maar die oop deur na Jesus toe, om te luister wat Hy sê, word deur Pilatus ontwyk met ‘n vraag na die waarheid, sonder dat hy besef dat die Waarheid reg voor hom staan. Pilatus besef nie dat sy vraag na waarheid reeds sopas deur Jesus beantwoord is nie. 14. Hoewel Pilatus persoonlik neutraal staan teenoor Jesus, is hy oortuig dat Jesus geen politieke bedreiging inhou, soos die Jode gesuggereer het nie. Sy koninkryk van waarheid is nie ‘n bedreiging vir hierdie wereld nie. 15. 18:38b-39 Pilatus gaan uit na die Jode om Jesus onskuldig te verklaar, maar die swakkeling is te lafhartig om sy eie bevinding deur te voer. In plaas daarvan verdraai hy die reg net om die Jode gelukkig te hou. Hy gee sy reg om Jesus vry te spreek op. Hy verruil sy Romeinse reg wat hy gehad het vir die Joodse gebruik dat die goewerneur vir hulle met Paasfees een man (wat skuldig bevind is) uit die gevangenis los laat. So neem die onskuldige Seun van God die skuld van die sondaar op Hom. 16. 18:40 Hulle skreeu: nie hierdie een nie, maar Barabbas! Die aanklaers verwys met minagting na ‘hierdie een’ (Grieks) en kies die opstandeling teen die Romeinse gesag. Matteus noem hom Jesus Barabbas – MAW Jesus, seun van die Vader. Jesus (die Here verlos) Christus teenoor Jesus Bar- abbas (die seun van die vader) – die Jode kies “Jesus, seun van die Vader” wat deur geweld bevry, bo “Jesus, Seun van die Vader” wat deur liefde bevry. 17. 19:9 Pilatus se angs spreek uit sy vraag waar Jesus vandaan kom – uit die hemel of van die aarde? Die vraag is telkens deur mense gevra in hierdie Evangelie (7:27-29; 8:14;9:29-30). Is Jesus mens of god? As Hy werklik ‘n god is, vrees Pilatus vir die straf van die gode op hom. Jesus swyg egter. Hy het reeds by die eerste verhoor gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (18:36). Daarop het Pilatus skepties gereageer toe Jesus gesê het Hy het gekom om van die waarheid te getuig. Hoe sal Pilatus nou kan verstaan dat Jesus die ware God is? Slegs geloof kan die misterie van Jesus verstaan. (Openb.19:11-13). En Pilatus het dit nie. 18. 19:10 Pilatus se vrees verander in wrewel oor die man wat hom nie antwoord of self verdedig nie, en sê: ‘Praat jy nie met mý nie? Weet jy nie: ék het die gesag om jou los te laat, en ék het die gesag om jou te kruisig?’ Dié gesag het Pilatus ontvang van die hoogste gesag op aarde wat hom aangestel het, die keiser van die magtigste ryk op aarde. Daarmee erken hy dat die beslissing by hom lê. Om jou hande in onskuld te was Pilatus het niks verander aan die gesag wat aan JOU toegeken was nie. 19. 19:11 Se vir ons dat Jesus egter bewus is van ‘n oneindig groter gesag as Rome, naamlik die Almagtige God, wat vir Hom in Pilatus se hande geplaas het. Jesus weet sy uur het gekom en weet wat dit behels, maar Pilatus word daardeur gedwing om te besin oor sy eie posisie en verantwoordelikheid voor dié gesag wat hy van Bo gegee is. Pilatus dra die skuld oor sy onregverdige optrede, deur iemand wat hy onskuldig bevind het, aan die haat van sy aanklaers uit te lewer. 20. Maar Jesus se vir Pilatus dat daar iemand is wat groter skuld dra as hy: die hoëpriester as verteenwoordiger van die volk van God wat Jesus ‘uitgelewer het’ (18:30). Want Kajafas, die hoëpriester, weet wat die Skrifte oor die Messias sê, is ingelig oor Jesus se leer en lewe, maar weier om Hom as God se gesalfde Verlosser te erken (11:49-53; vgl. Mark.14:61-64) – sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh.1:11). 21. 19:12 Pilatus is duidelik diep getref deur Jesus se woorde en probeer nogmaals om Hom los te laat, moontlik deur amnestie aan Hom te gee. Maar die Jode speel hulle troefkaart: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. (v13). ‘Vriend van die Keiser’ was ‘n gesogte titel in Rome wat deur die keiser aan senators en enkele vriende toegeken het. Pilatus het waarskynlik die titel gekry by keiser Tiberius. 22. Maar as Pilatus vir Jesus loslaat, is hy ‘n vyand van die keiser, ‘n baie gevaarlike posisie vir Pilatus, want die gehate keiser Tiberius was berug agterdogtig teen enigeen wat sy posisie bedreig het, en het wreed gereageer teen verdagtes. 23. Om ‘n sogenaamde koning in oproerige Palestina te ondersteun was baie gevaarlik vir Pilatus. Pilatus is in ‘n lokval gevang wat hy self gestel het toe hy die Jode wou plesier (18:39). En die ironie is dat die goewerneur in sy eie land beskuldig word van gebrek aan lojaliteit aan die keiser deur die mense wat die Romeine meer haat as byna enige ander volk in die Romeinse ryk: Die Jode laat vaar hulle eintlike klag dat Jesus God laster, en keer terug na hulle eerste aanklag dat Hy voorgee om die Messias, ‘n Koning, te wees. Pilatus weet die klag is vals, maar sy eie veiligheid is vir hom belangriker. 24. 19:13 Pilatus gee boedel oor. Maar hy het sy eie manier om hom te wreek op die Jode wat hom verneder het. Hy laat haal Jesus en hy gaan sit op die regbank. Die regbank was ‘n platform vanwaar hy oor die mense kyk en sy openbare verklarings maak. Die oordeel oor Jesus word in die openbaar aangekondig. Die Jode is seker Pilatus gaan nou die doodsvonnis aankondig. Maar sy uitspraak lui onverwags: ‘Kyk! Julle Koning!’ (Nie: ‘Hy het gesê Hy is ‘n koning nie’). 25. Pilatus se veroordeling word ‘n formele en dramatiese aankondiging van Jesus se koningskap. Pilatus gee sy finale beslissing aan die Jode oor om te kies, hulle finale beslissing vír of téén Jesus. Hy stel ‘n ellendige en bebloede koning aan hulle voor as hulle koning, om sy minagting vir die Jode uit te druk. Dis asof Lukas ‘n beskuldiging na die kant van die Jode gooi: Kyk wat het julle aan julle koning gedoen! 26. 19:14 Lukas dui die plek en die tyd van die belangrikste gebeure vir die hele mensdom se verlossing aan: Dit is die voorbereiding vir die Paasfees, wat omtrent 12:00 was. Dit was die tyd wat mense begin met die slag van die lammers vir offers. Die Paasfees vier God se bevryding van Israel uit Egiptiese slawerny, met die geslagte lam se bloed aan die kosyne, wat die doodsengel by hulle huise laat verbygaan het. Met Pilatus se uitspraak oor Jesus begin die mensdom se bevryding uit die slawerny van sonde deur die Lam van God wat geslag gaan word. 27. 19:15 Die Jode skreeu hulle afkeur van Jesus woedend uit: ‘Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig Hom!’ Pilatus se laaste appèl op die Jode vestig die verantwoordelikheid vir Jesus se dood volledig op hulle: ‘moet ek júlle koning kruisig?’ Die volk se hoëpriesters, wat vir hulle moet intree by God, antwoord finaal: ‘ons het geen koning behalwe die keiser nie.’ 28. Daarmee bevestig hulle nog sterker en duideliker hulle uitspraak in 19:11. So gooi hulle die onus terug op die verteenwoordiger van die keiser om oor Jesus te besluite. Maar dit impliseer nog iets anders: God is nie meer ons koning by wie ons vir die volk intree nie, en ons verwag geen Messias-koning meer volgens die Skrifte nie, buiten die keiser van Rome, wat ons verdruk en nou die plek van God in ons lewe inneem om oor ons lewens te heers. 29. Hulle verwerp die belofte van die koninkryk van God, en gee die volk se verwagting van die Messias-koning prys. Daarmee versaak hulle Israel se roeping om die erfgenaam van die koninkryk en die verkondiger van die Godsryk aan die nasies te wees. Met een enkele uitroep gee hulle alles op wat God van die begin af vir hulle beplan het. Net die Keiser is ons God! 30. 19:16a Pilatus gee Jesus aan die Jode se wens oor, en laat Hom kruisig. So aanvaar die Joodse en die Romeinse wêreld die skuld vir die verwerping en kruisdood van die Seun van God, die Verlosser van die wêreld. Pilatus se uitroep weerklink deur Johannes se vertelling van die gebeure: “Ek vind geen skuld in Hom nie……ek vind geen skuld in Hom nie…..ek vind geen skuld in Hom nie……..hier, gaan en gaan kruisig Hom” 31. Maar u en ek, ons moet versigtig wees dat ons nie soos hierdie Jode, skrifgeleerdes en Fariseers, die Messias ook verwerp en iets of iemand anders in sy plek kies nie. Want kruisig ons Hom nie maar elke dag as ons sondig nie? Maak dit ons anders as hierdie skare? Ek huil as ek hier lees, wat hulle met ons Verlosser gedoen het. Dat die waarheid, God se waarheid, nie net voor Pilatus gestaan het nie, maar voor elke mens daardie dag. 32. En so staan God se waarheid voor ons ook, elke oomblik van elke dag. Wat maak ons daarmee?