Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Ons gaan vanoggend stilstaan by die ontmoeting wat Jesus met Marta en Maria gehad het waartydens Jesus ook ‘n paar van hierdie lewensvrae Antwoord. 2. Niemand beweer dat alles in die wêreld reg is en dat daar niks met die mensdom verkeerd is nie. Daar is baie verkeerd in hierdie wereld. Ons beleef dit elke dag. Die groot vraag is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? 3. In Johannes 11 lees ons van Jesus se ontmoeting met die twee susters net na Lasarus – vir wie Jesus baie liefgehad het – dood is. 4. Lasarus is baie siek. Die susters stuur iemand na Jesus met die boodskap dat Lasarus siek is. Toe Jesus uiteindelik by hulle aankom was Lasarus al dood en begrawe. 5. En dan maak Johannes seker dat die lesers weet dat Jesus eintlik baie naby aan Betanie was. In vers 18 se hy dat Betanie, waar Lasarus gewoon het, baie naby aan Jerusalem was, omtrent 3 kilometer. En baie Jode het vanaf einste Jerusalem gekom om simpatie met die susters te betoon. Maar onthou, Jesus en sy dissipels was ook in Jerusalem. Wat Johannes eintlik hier wil se is dat indien die Jode van Jerusalem vroeg kon kom om simpatie te betuig, kon Jesus dit ook mos gedoen het. 6. Hy was in dieselfde stad as hulle en hulle kon gou by die susters uitkom. Waarom kon Jesus nie toe Hy gehoor het van die nuus dat Lasarus siek was nie, ook so gou by die susters uitkom nie? Maar dit gaan daaroor dat God verheerlik moet word. 7. En Johannes maak seker dat ons weet dat dit vier dae later is. En daar is ‘n rede daarvoor. Want as dit twee dae was sou die wonder van die opwekking nie dieselfde invloed gehad het nie. Volgens ‘n Rabbiniese tradisie het die siel van ‘n dooie persoon vir drie dae nog by die liggaam van die oorledene rondgeswerf in die hoop dat dit weer met die liggaam verenig kan word. Maar wanneer die siel sien dat die liggaam ‘n toestand van ontbinding begin ingaan, sou die siel dan vertrek het. 8. En natuurlik pas Jesus, soos in so baie ander gevalle, aan by hierdie bygeloof onder die Jode om die wonder van Wie Hy is net te bevestig. 9. En in dit wat volgende gebeur word die manier hoe ons die twee susters in Lukas leer ken het net weer bevestig. Twee verskillende geaardhede. In Luk 10 het ons gelees hoe Marta die bedrywige een was. Kos gemaak, bedien, rondgehardloop ens terwyl Maria by die voete van Jesus gesit het. Marta die aan-die-gang een en Maria die stil, teruggetrokke een. 10. En hier sien ons dit weer. Marta hoor dat Jesus op pad is en gaan ontmoet Hom buite die dorp alreeds. Sy gaan Jesus tegemoet en sê vir Hom: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Die ywerige Marta laat nie op haar wag nie, terwyl die stil Maria by die huis bly. Nadat Marta ‘n gesprek met Jesus gehad het gaan roep sy vir Maria en lig haar in dat Jesus daar is. Dan gaan Maria na Jesus toe en wat sê sy vir Hom? “Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.” Presies dieselfde. 11. Ons het hier twee susters in dieselfde omstandighede wat presies dieselfde woorde vir Jesus sê. Maar dis NB om te sien wat Jesus se reaksie teenoor hulle is. Jesus reageer verskillend teenoor hulle. …………….. Met Marta voer Jesus hierdie teologiese gesprek. Sy sê Hy het te laat daar aangekom, maar Jesus sê vir haar dat dit vir Hom nooit te laat is nie: 12. “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe al sterwe hy ook.” In vers 40 gebeur dieselfde wanneer Jesus weer ‘n soortgelyke gesprek met haar voer. Daar staan : “Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” 13. Jesus hanteer Marta se wanhoop, wys haar tereg oor haar twyfel en gee vir haar hoop. Hy het hierdie hele teologiese gesprek met haar en Hy redeneer met haar. Maria is die stil suster wat ons op die manier leer ken het. Maar Jesus se benadering tot Maria verskil radikaal van sy benadering tot Marta. Ons het mos in die kerk geleer dat Jesus gehuil het oor Lazarus wat dood is. Maar Hy het eerste oor iets anders gehuil. Toe Hy sien dat Maria en die Jode saam met haar huil, het sy gemoed vol geskiet en Hy was aangedaan. Wat is Jesus se reaksie teenoor Maria? Hy vra net: Waar het julle hom begrawe? 14. Hoekom behandel Jesus die twee susters verskillend? Omdat Hy mense verstaan en omdat Hy verhoudings verstaan. Hy weet jy kan nie alle mense eenders hanteer nie. Dit sê vir ons iets van sy karakter. Hierdie ontmoeting wys vir ons dat Jesus waarlik God is, maar ook waarlik mens is. Vir Marta sê Jesus dat net God lewe kan gee. Hy sê: Ek is die opstanding en die lewe. 15. Baie mense sukkel hiermee. Hoe kan Jesus God wees as Hy hier op aarde as mens rondgestap het? Mense sukkel om te glo dat Jesus waarlik God en waarlik mens kon wees. Hulle erken dat Jesus uniek was, dat Hy ‘n uitsonderlike Leermeester was, dat Hy ‘n wysheidsleraar was, ens. Maar met sy interaksie met die twee susters is Jesus juis besig om te wys dat Hy juis dit is. 16. Maar hier is waar dit ons raak: Hier is dit waar ons in die prentjie kom vandag. Jesus eis van elkeen ‘n radikale reaksie op sy menswording. Elkeen van ons moet ‘n besluit hieroor maak. Was Hy net God, of net mens, of was Hy te alle tye albei? Moontlikhede is: Hy was ‘n bedrieër. Al Jesus se vroeë volgelinge was Jode. Die Jode se siening van God was so verhewe dat hulle nie eers sy Naam wou sê of skryf nie. Enige voorstel dat God swak vlees en bloed kon wees, sou hulle onmiddellik verwerp het. Die idee van ‘n God-mens het nooit by die Jode opgekom nie. Hy was verstandelik versteur. Daar was sulke mense wat beweer het dat hulle God was, maar hulle het gewoonlik net ‘n klein groepie aanhangers gehad. Jy kan nie mense oortuig dat jy God is as jy die normale tekortkominge van die mense het nie – dinge soos selfsug, trots, oneerlikheid … Daar is altyd mense wat naby genoeg aan so ‘n aanspraakmaker leef om uiteindelik deur hom te sien. Hy was eg – en as dit ons moontlikheid is wat ons aanvaar, dan moet ons hierdie mens Jesus aanbid as God. Kort na sy dood was daar ‘n klein groepie mense wat Jesus as God begin aanbid het. Hierdie groep het vinnig gegroei. 17. Wat ons nie kan doen, is om iewers tussenin ‘n antwoord te probeer soek nie. Elkeen van ons moet op sy aansprake reageer. Kort na sy dood het mense reeds aanvaar dat Hy Goddelik was – dit is nie iets wat eers lank na sy dood gebeur het nie. Twee dekades na sy dood skryf Paulus in Filippense 2:5 – 11. 18. So, Is Jesus God of mens? Uit Jesus se ontmoeting met Marta kry ons ‘n kykie in sy Godheid en mag – Jesus is God. Hy verduidelik dit vir haar. EK is die opstanding en die lewe……ens. Dit verduidelik nie alles wat Hy is nie, want die volgende oomblik sien Hy vir Maria en Jesus begin huil. ‘n Mens verwag tog nie dat as Jesus werklik God was Hy emosies sou ondervind nie. Wat ons hier sien is Jesus as God teenoor Marta en Jesus as mens teenoor Maria. Ten spyte van sy aanspraak dat Hy die opstanding en die lewe is, reageer Hy op ‘n eg menslike wyse toe Hy Maria se hartseer sien. 19. Beteken dit dat Jesus 50% God en 50% mens is? Nee, Hy was 100% God en 100% mens. Daar is geen ander godsdiens wat so ‘n aanspraak kan maak nie. Ook ons sukkel om dit te glo. Jesus gee vir Marta wat ons sou noem die bediening van die waarheid, want dit was wat sy op daardie oomblik nodig gehad het. Hy sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ek is God! Moenie wanhoop nie. Ek is hier en Ek is die opstanding en die lewe.” Vir Maria gee Hy die bediening van trane, want dit is wat sy die meeste nodig gehad het. Jesus is mens genoeg om haar hartseer met haar te deel. 20. Almal van ons het op verskillende tye in ons lewe een van hierdie bedienings nodig. Nie een van ons het die temperament of geduld of insig om aan al die mense die bediening te gee wat hulle op daardie spesifieke oomblik nodig het nie. Party van ons se gawe is om ander te vertroos; party van ons se gawe is om ander te onderrig. Jesus kan beide doen en weet ook wanneer ek wat nodig het. 21. Jesus word daarom as die Leeu, maar ook die Lam beskryf. Hy kan deur die swakste onder ons genader word. Teenoor die korruptes en magtiges is Hy vreesloos. Hy is teer, maar nie swak nie; Hy is streng sonder om skerp te wees; Hy is nederig, maar nie sonder vertroue nie; Hy is magtig, maar nie onsensitief nie. Jesus Christus is God wat mens geword het. 22. Daar bly nog een vraag oor: Hoekom het Jesus mens geword? In Johannes 11:38 lees ons: Jesus kom toe, terwyl Hy in Homself diep getref was, by die graf (die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel). In vers 39 se Jesus “Rol die klip weg”. Hierdie is eintlik ‘n soort van militere opdrag. Eintlik staan hier dat Jesus kwaad was. Vir wie? Vir die dood – die mens se grootste vrees. En dis waarmee Hy nou gekonfronteer word. Maar hoekom maak die dood Hom kwaad? Die bose en die dood is die gevolg van sonde – dit was nie deel van God se oorspronklike ontwerp vir die wêreld nie. God het nie die wêreld vol siekte en lyding en dood gemaak nie. 23. Hoekom maak Jesus dan nie die wêreld net reg nie? Vee alle boosheid van die aarde af. Wel, gelukkig doen Hy dit nie. Want as Jesus alle boosheid van hierdie aarde af sou vee, sou ek en jy voor in die ry gestaan het. As Hy met die swaard van God se toorn teen die bose in hierdie wêreld sou kom, sal niemand dit oorleef nie. 24. Maar Jesus kom nie met die swaard in die hand nie; Hy kom nie om te oordeel nie, maar om veroordeel te word. Die godsdiensleiers van destyds besef onmiddellik wat Jesus gedoen het toe Hy Lasarus uit die dood laat opstaan het. Hulle besef Hy is vir hulle gevaarliker as wat hulle gedink het. Daarom lees ons: Van daardie dag as was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak (11:53). 25. Jesus het dit besef. Hy weet dat as Hy Lasarus lewend uit die graf sou bring Hy self in die graf sou moes gaan. As Jesus ons van die dood wil red, sal Hy self die pad van die kruis moes loop. Hy sal die oordeel wat ons moet verdien, dra. Hy weet dit alles, maar tog laat Hy Lasarus uit die dood opstaan. Jesus het gehuil (11:35). Jesus huil nie net vir Maria en die Jode saam met haar nie, maar ook vir ons. 26. God het na die wêreld wat Hy goed gemaak het, gekyk. Hy sien die mens is besig om sy wêreld te vernietig deur hulle rug na Hom te draai. Daarom stuur Hy sy Seun om die wêreld reg te stel. Ons vraag was: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? Ons antwoord is: Jesus Christus. 27. Want Jesus gee om. Hy huil saam met die wat huil, Hy treur ook saam met die wat treur. Hy verstaan elke emosie wat u en ek deurgaan, want Hy was 100% mens ook. Hy verstaan jou worsteling, jou hartsere, jou vreugdes, jou swaarkry en jou bekommernisse. Want Hy was ook mens, net soos ek en jy, maar net sonder sonde. 28. Wat jou ookal laat wakker le in die nag, wat jou ookal hartseer maak, bekommerd maak, he die vrymoedigheid om dit na Jesus te neem. Ken hom daarin. Hy weet wat ons elkeen deurgaan en hy verstaan dit. Want die mens is nie aan Hom onbekend nie, en die dinge waarmee ons as mens moet worstel is Hy goed mee bekend. Vertrou Hom dan met dit alles.