Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Hoe wonderlik is dit nie vandag om te sien hoe twee mense wat vir mekaar lief is in die eg verbind word nie? En trou is lekker. Dis lekker om getroud te wees. As jy die regte lewensmaat gevind het en saam met daardie lewensmaat die Here dien, dan is die huwelik lekker. Net soos ek weet oom Pat en tannie Irma doen. Saam dien hulle die Here. Elke sondagaand sit hulle reg voor my in die erediens op Vaal Marine en as hulle nie daar is nie dan mis mens hulle. 2. Maar die huwelik kan ook soms moeilik raak. As jy lank getroud is, selfs met die regte maat, kan dinge maar soms tog bietjie skaaf en krap. Ons almal kan daarvan getuig. En wanneer dinge begin skaaf is ons elkeen geneig om maar ons eie wil te wil he. Ek weet wat is reg en ek wil dit he. En dis mos maar waar die meeste argumente in die huwelik vandaan kom. Een of albei die partye wil HULLE wil he. Daarom wil ek graag vir alle getroude mans hier vanoggend ‘n stukkie advies gee: Vergeet al jou foute, want daar is net geen nut daarin dat TWEE mense dit moet onthou nie! 3. Maar nou kom praat God by monde van Paulus vanoggend met ons op ‘n hele ander vlak. En dit wat Paulus hier se is nie iets wat ons graag wil hoor nie. Eintlik wil ons as getroudes dit eintlik glad nie hoor nie. Want ons teks vanoggend begin met die opdrag dat ons niemand meer volgens menslike maatstaf moet beoordeel nie. 4. Alhoewel Paulus dit in ‘n brief aan die gemeente geskryf het is ek van mening dat hierdie ‘n reel is wat nie net in die kerk toegepas moet word nie maar veral ook in die huwelik. By die huis. Daar waar die tyre die teer tref. Want in die gemeente kan ons mos maklik voorgee en alles honky dory laat lyk. Maar daar by die huis, saam met ons huweliksmaat, is ons gestroop van alle voorgee. 5. Daar gebeur die dinge anders. As ons omgekrap raak glimlag ons nie soos in die kerk nie, en as ons voel dat ons te na gekom word is ons woorde nie so stroopsoet soos hier in die diens nie. Dan gebeur dinge anders. En soms se ons dinge wat kon gebly het of ons verloor ons humeur en die vrug van die Gees vlieg by die venster uit. 6. Ons is juis in Pinkstertyd, die tyd wat ons die uitstorting van die HG gedenk en die tyd wat ons die inwoning en werk van die HG in ons lewens vier. Maar as jy na sommige huwelike kyk is hulle heeltemal HG-loos en die vrug het nog nie eers begin groei nie wat nog te se van sigbaar wees. 7. En dan beoordeel ons juis ons huweliksmaat of sy of haar gedrag volgens menslike maatstaf. Presies wat Paulus se ons nie moet doen nie. Die maatstaf wat ek gestel het gebruik ek om hom of haar te beoordeel. Maar Paulus se ons moenie, nee, hy se ons mag nie! 8. Ja maar Paulus, jy was nie getroud nie, veral nie met my vrou nie! Jy het nie ‘n idee hoe dit is nie. Of Paulus, as jy getroud was kon jy my kom raad gee het, maar vir solank as wat ek met hierdie fossiel moet sukkel kan jy maar eenkant gaan sit en luister. Iemand het eendag gese “Huwelike word in die hemel gemaak…….dit is so ja, maar donderstorms, weerlig en tornados word ook daar gemaak!” 9. Menslike maatstaf! Ons kan nie daarby verbykom nie. Dis hoe ons geneig is om dinge binne ons huwelike te beoordeel. Maar Paulus het nie net gese dat ons mekaar nie volgens menslike maatstawwe moet beoordeel nie. Nee, hy het gese dat ons VAN NOU AF niemand volgens menslike maatstaf mag beoordeel nie. Goed, so as hy se van NOU af beteken dit daar het mos ‘n keerpunt gekom. Ons praat vanoggend binne die konteks van die huwelik want ons is almal hier om oom Pat en tannie Irma se huweliksbevestiging te vier. So wat bedoel Paulus as hy se VAN NOU AF? 10. Wel, hier is dit. En hierdie is werklik kosbaar. In die volgende vers se Paulus iets wat so diep en fenominaal is dat ons dit soms sukkel om te verstaan. “17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Paulus se hier dat ons as gelowiges nie meer dieselfde mense is as wat ons vroeer was nie. 11. Toe ons nog nie aan Christus behoort het nie het ons mekaar volgens menslike maatstawwe beoordeel. Maar nou, noudat ons aan Christus behoort, nou oordeel ons anders. Want die ou jy bestaan nie meer nie. Julle is nuutgemaak. Meneer, mevrou, jy is nou ‘n nuwe mens. Die oue het verdwyn. En die eerste verhouding waar jy nou moet gaan LEEF soos ‘n nuwe mens, is in jou huwelik. 12. En alhoewel Paulus se dat God hierdie versoening in ons bewerk het deur Christus, word ons elke dag se lewe deur die HG beheer. Ons staan nou onder nuwe bestuur. In hierdie Pinkstertyd wat verby is het ons net weer opnuut gesien dat die HG by elke faset van elke dag in ons lewens betrokke is. Ook, en veral, jou huwelik. Binne jou huwelik staan jy onder nuwe bestuur. Leef dan soos ‘n nuwe mens, binne jou huwelik! Want die oue leef nie meer nie. Dis verby. 13. Die Skrif gebruik die huwelik gereeld as metafoor vir die verhouding tussen God en sy volk. Die Skrif is vol daarvan. Want die huwelik is die verhouding op aarde waar ons verhouding met God die beste weerspieel word. As jy wil sien hoe iemand se verhouding met God is, kyk maar net hoe behandel hy of sy hul huweliksmaat. Want dis die een verhouding waar jy nie kan voorgee nie. 14. Paulus gaan verder om te se dat die boodskap dat ons nuwe mense is, dat ons nuut gemaak is, is die boodskap van versoening. En daardie boodskap van die versoening wat God deur Christus bewerk het, is nou aan ons oorgedra. U en ek! En dis hier waar die tyre nou die teer tref. 15. Maar soos die advertensie se, “There is more”. Nou se Paulus in vers 20 dat ons aangestel is as gesante van Christus. Dit beteken ons is verteenwoordigers van Hom. Ons is gesante om hierdie boodskap van versoening uit te dra in al ons verhoudings met ander mense. By die werk, skool, kerk, op die sportveld, langs die braai. Maar waar is die eerste verhouding waar ons as gesante van Christus moet optree? Wil u raai? Binne die huwelik! 16. En dis nie net die eerste verhouding waar ek soos ‘n verteenwoordiger of gesant van Christus moet optree nie, maar ook die moeilikste een. My vrou se altyd: “Kuier is een ding, maar BLY is ‘n ander……” Ons het nie ‘n probleem om mooi en vroom gesigte op te sit as die vriende of familie kom braai nie, want hulle ry mos nou-nou. Maar dis nie so maklik om voortdurend vroom en reg op te tree wanneer almal weg is en jy bly agter saam met die persoon wat jou omgekrap het nie. 17. En dis hier, dis hier waar ons altyd moet onthou dat ons nie meer die ou mens is nie. Die ou mens sou op ‘n bepaalde manier opgetree het, maar dit bestaan mos nou nie meer nie. Nou moet ons volgens die nuwe mens se natuur optree. En in die breer konteks se Paulus dat hierdie nuwe mens ‘n mens is wat deur die liefde van Christus gedring word en besef dat Christus vir ons gesterf het (v14), dat ons nie meer vir onsself leef nie maar vir Christus leef (v15), dat ons nie meer volgens menslike maatstaf beoordeel nie (v16), omrede ons deur Christus met God versoen is en dat ons sonde ons nie meer toegereken word nie (v19), dat ons nou aangestel is as gesante van Christus (v20), en so kan ons aangaan as ons verder lees wat Paulus vir ons se. Dis hoe ons as nuwe mense moet lyk. 18. Maar nou moet ons soos hierdie nuwe mens gaan lewe, oral, maar veral in jou huwelik. Want dis hierdie huweliksverhouding waarin jou verhouding met God die meeste weerspieel word. En soms gaan jy maar hare op die tande moet he. Voordat ek en Lydia getroud is het ek nooit geweet dat iemand so passievol kan raak as jy verkeerd klere saam in die wasmasjien gooi nie. Dis blykbaar ‘n groot issue! 19. Maar voordat die aspirant getroudes dink dat dit alles gloom en doom is, kan ek jou verseker dit is nie! Want as twee mense binne ‘n huwelik leef soos nuwe mense, mense wat in Christus vrygemaak is, kan ek u belowe dit is een van die lekkerste ervarings ooit. Behalwe vir jou verhouding met God is daar net geen beter verhouding op aarde waarin jy jouself kan uitleef as wanneer twee mense wat getroud is saam besluit om soos nuwe mense te leef nie. 20. Vrygemaaktes, verlostes, mense wat besef dat hulle gesante van Christus is. Want vir nuwe mense is God se wil prioriteit. En as dit kom by jou huwelik is dit God se wil dat julle mekaar soos vrygemaakte en verloste mense sal behandel, mekaar onderdanig sal wees, mekaar se belange voorop sal stel ens ens ens. Ag gaan lees maar die Skrif. Jy sal die idee kry. 21. En dan gaan mense in hulle verhouding die teenwoordigheid van God beleef, en DAN gaan julle gesante vir Christus wees soos Hy dit bedoel het.