Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons lees vanoggend uit die boek van Titus. ‘n Kort boek waarin ek dink juwele in die Skrif weggesteek is. En as ons lees in aan die begin van die boek in hfst 1 sien ons dat Paulus vir ons die TEMA van die boek gee. Ons lees hoofstuk 1:1-3: “Van Paulus, 'n dienaar van God en 'n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God 2 en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. 3 Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser.” 2. Die frase in vers 1 “…..kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God”. Dis die tema van die boek van Titus. En deur die brief maak Paulus die onderskeid tussen diegene wat die waarheid ken en dus gelowiges is en die wat nie die waarheid ken nie en daarmee ongelowiges is. En ons moet verstaan dat vir Paulus is die kennis van die waarheid waarna hy verwys nie net ‘n klomp inligting oor die evangelie nie. 3. Ons sien hoe hy dit beskryf in verse 11 – 14 van hoofstuk 2. “11 Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” 4. Dis die waarheid wat hy in 1:1 se wat ons behoort te weet. Die feit dat Christus Homself gegee het en gesterf het sodat ons verlos kan word. MAAR……ons verlossing moet nie daaroor gaan dat ons van die hel wil ontsnap nie, of dat ons net nie die ewige verderf wil vryspring nie. Hy het ons verlos sodat ons op grond van hierdie verlossing mense moet wees wat ywerig is om die goeie te doen! 5. En Paulus raak baie spesifiek oor die goeie wat ons moet doen. En hy praat oor die huis. Die huishouding. Die gesin. En hy doen dit in baie van sy briewe en hier is dit nog meer belangrik waarom hy oor die gesin praat. Want dit gaan oor ons redding met die oog daarop om goed te doen. 6. Want, Vaders, daar is geen beter plek as die huisgesin om te sien en te bepaal wat jy werklik glo nie. Ek bedoel, jy kan almal by die kerk bluf, jy kan almal by die werk bluf, maar vaders, jou vrou en jou kinders……hulle WEET! Mense praat oor hoe moeilik dit is om tieners groot te maak. En een van die moeilikste dinge om tieners groot te maak is om hulle te voer. 7. Maar die ander moeilike ding om 10ners groot te maak is omrede hulle lopende skynheiligheid leuenverklikkers is. Behalwe vir hulleself. Maar buite hulleself sien hulle alle skynheiligheid. En dit is die spyker in die doodskis vir enige Pa wat Christus uiterlik bely maar Hom nie innerlik LEEF nie! Want in die gesinsopset kan jy nie wegrkuip nie. Jy kan buite wegkruip, maar nie daar by die huis vanaand wanneer julle as gesin alleen is nie. 8. Sommige van julle het dit vanoggend gedoen. STORIE VAN KLAARMAAK IIN DIE OGGEND, ALMAL BAKLEI, KINDERS WIL NIE OPSTAAN NIE, KRITISEER DIE BESTUURDER, TOT BY DIE KERK…… 9. Dis waarom, wanneer mense se huwelike uitmekaar val, is die reaksie van die kerk gewoonlik ….WAT, HULLE? Want jy kan dit daarbuite wegsteek, maar nie by die huis nie. Want vaders, dis by die huis waar ons is wie ons werklik is! Jy kan nie jou masker by huis ophou nie. 10. Maar ons het gese dat Paulus praat hier binne die opset van huishouding. En in die proses gee Paulus vir Titus raad oor wat hy die mans moet leer sodat hulle aan die einde van die dag gelowiges is wat ywerig is om die goeie te doen. En ons vind dit aan die begin van hfst 2. Hy se vir Titus dat Titus die mans in die gemeente moet vertel hoe hulle moet leef, VERAL by die huis. Eerstens praat hy met die ouer mans in die gemeente. Die Griekse woord wat hier vir “ouer mans” gebruik word is dieselfde as die woord wat vroeer vir ouderlinge gebruik word, maar die konteks hier vereis dat dit vertaal word met “ouer man” soos ons dit ook in Filemon v9 kry. 11. 2:1 “1 Maar jy moet verkondig wat in ooreenstem-ming is met die gesonde leer. 2 Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding.” Paulus se, Titus, gaan jy en gaan leer die ouer manne om volgens die gesonde en suiwer (v7) leer van die Skrif te leef binne hulle gesinne. 12. En hoe is dit Paulus? Kom ek vertel jou. Se vir hulle dat hulle nugter moet wees. En ja, hier word verwys na nugterheid wanneer dit kom by alkoholgebruik. Dis ook ‘n opdrag wat in hfst 1 aan Ouderlinge gegee word en in die volgende verse aan vrouens gegee word. Pa’s weet jy dat een van die vernederendste dinge vir ‘n kind om te sien is om sy of haar pa dronk te sien. Want ander dinge gaan daarmee gepaard. En jongmense is die wreedste spesie op aarde. Hulle spot, lag uit ens. Wil jy dit vir ou kinders he? 13. Titus, se vir die ouer mans hulle moet eerbaar leef voor hulle gesinne, verstandig teenoor hulle optree, hulle moet hulleself gesond hou, vas in die geloof staan wanneer dinge moeilike raak en met liefde teenoor hulle leef. En as dinge vir hulle moeilik raak in hulle gesin, soos tieners dit baie keer kan maak, moet hulle met volharding leef. 14. Vaders, dis hoe ons in ons gesinne voor ons huweliksmaat en kinders moet leef. Dis die beeld wat God van ons verwag ons uit te straal. Maar daar is ook jonger vaders in die gemeente. Manne wat jonk getroud is en klein kindertjies het. En Paulus het hulle nie vergeet nie. In vers 6 praat hy met Titus oor hierdie jong vaders, die aspirant vaders in die gemeente. Maar hier word die jong manne nie vermaan nie. Hierdie keer gee Paulus vir Titus opdragte oor hoe HY (Titus) moet leef voor hierdie jong manne. So Vaders, hier is nog instruksies van hoe jy moet leef voor die jong manne (en dames) in jou huishouding. 15. “6 Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra. 7 In alles moet jy self vir hulle 'n voorbeeld stel van goeie werk (werk hard by die werk, werk hard by die huis, werk hard om die evangelie te versprei), suiwerheid in die leer (Vader, jy moet die Skrif ken), waardigheid in gedrag, 8 gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie.” 16. BROERS, VADERS, luister asseblief hierna. Waarom gaan Paulus so aan in verskeie van sy briewe oor die leefwyse binne die gesinsopset? Waarom??? Is dit sodat ons as mans op ons bors kan slaan en se “ME MAN, YOU WOMAN, ME SAY, YOU DO!” nie. Nee, dit is nie!!! Die rede is want dis die eerste en beste geleentheid vir elke vader tot dissipelskap. Dis die eerste en beste geleentheid wat ‘n vader het om jongmense te slyp as dissipels van Christus. 17. En ek hou nie eers daarvan om dit te se nie. Vir een of ander onverklaarbare rede, het die Heilige, Almagtige SkepperGod, besluit om sy titel met met my te deel – VADER! En DIT maak ons taak as vaders so ongelooflik belangrik. 18. En daarom het God gese het “4En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”. Dit is niks nuuts nie. Dit kom van Deut 5 en 6 en Psalm 78 af. En hierdie prentjie van dissipels maak van ons kinders en ons kinders se kinders het niks te doen met wat ek of jy oor mans dink nie, maar dit het alles te doen met wat ek dink van Christus. 19. Waarom is dit so belangrik? Want die huisgesin is ‘n meganisme wat God vir my en jou as vaders gegee het om dissipels van ons kinders en kleinkinders te maak. Dis hoekom. Ek gaan skynheilig wees as ek die wereld vol hardloop om die evangelie te verkondig en mense dissipels te maak en ek doen dit nie in my eie huis nie! Hoe durf ek! 20. En dis waaroor Vaderskap in die eerste plek gaan. Dis ons belangrikste taak broers. Daarom is ons VADERS! Dis nie ‘n gimmick nie, dis nie een of ander program nie, dis eenvoudig omrede Christus jou beetgekry het, dat Hy jou lewe getransformeer het en jou van binne verander het. Hoe kan ons dan nie omdraai en dit weer terugploeg in die lewens van ons kinders nie???? 21. En nog meer, hoe kan ons as Vaders, die vormers van die volgende geslag, in die oe kyk van ‘n ander man wat nie bereid is om dit te doen nie en te se: DIS OKAY….DIS FINE! Hierdie gaan nie net oor die gesin nie, dit gaan oor die evangelie soos Paulus dit aan Titus verduidelik in hoofstuk 1. “Die waarheid wat lei tot diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe.” Dis waaroor dit in die eerste plek gaan. En die gesin, die familie, is ‘n geleentheid wat God ons gee om hierdie evangelie vir hulle te gee wat vir ons kosbaar is. Om die evangelie vir die volgende generasie oor te dra. 22. Vaders, DIS hoekom jy as vader in jou huisgesin aangestel is. Asseblief, hoor dit en moet dit nie mis nie. Dit gaan nie daaroor dat jou kinders saam met jou in die kerk sit nie. Is dit belangrik? Ja dit is, ongelooflik baie. Ek dank God daarvoor. Maar as ons kinders saam met ons in die kerk sit elke Sondag en hulle leer nie elke dag by die huis hoe die evangelie van Christus LYK nie, wat goed het ek dan gedoen? 23. Want ons kinders gaan nie gered word deur saam met ons in die kerk te sit nie, maar deur die evangelie. Die waarheid noem Paulus dit. Leef die evangelie van die waarheid voor jou kinders, en vertrou God vir die res. 24. Maar ons gee baie keer vir ons kinders die boodskap deur dat ons God nie werklik vertrou nie. Ek hoor vaders wat opreg besorgd is oor hulle kinders en hulle se vir my Dirk, ek bid so hard dat my seun die regte vrou sal kry, of my dogter die regte man. Maar ek sien net nie meer werklik goddelike jong manne en meisies nie. Waar gaan ek vir my kind ‘n goddelike huweliksmaat kry? Regtig. Genuine? 25. As God vir Adam, en vir Kain, en vir Abel goeie huweliksmaats kon kry, is die kanse redelik goed dat Hy vir jou kind ‘n Goeie huweliksmaat kan kry. As daar een man is wat dit kon se, was dit Adam!! Hy gaan slaap, hy staan op, God het voorsien! Wat ons dan eintlik se is ons wil nie leef deur geloof nie, ons wil leef deur sien. En dis wat ons dan ons kinders leer. Ek dink nie God kan dit doen nie. Ons hoef nie altyd verkeerd op te tree om vir ons kinders ‘n swak voorbeeld te wees nie. Maar wat as my kinders vir my se dat hulle dink nie hulle gaan ‘n werk in SA kry nie, of ‘n Goeie huweliksmaat nie, of Pa, daar is net nie meer goeie vriende nie. 26. Wat van die volgende? VERHAAL VAN ABRAHAM EN ISAK…..DIE OFFER. Hier is wat Abraham NIE gedoen het nie. Nie gese hy weet nie hoe hulle daardeur gaan kom nie. Nee, hy het na sy seun gekykl en gese GOD SAL VOORSIEN!!! 27. En moenie die verhaal te ligtelik opneem nie. Abraham het nie al te vrolik die berg uitgedraf nie. Hulle het nie af en toe gestop en die sonsopkoms te bespreek nie. HY WAS OP PAD OM SY SEUN DOOD TE MAAK! Sy hart is stukkend. Dis die einde van sy wereld. Dis asof God vir hom se gee terug die belofte wat ek aan jou gemaak het. En dis in daardie konteks wat Abraham se: Die Here sal voorsien. Isak moes in een insident meer van geloof en van God self geleer het as in sy hele lewe tot op daardie tyd. Want hy het geloof by sy Vader GESIEN! 28. Maar Dirk, wat moet ek doen? Ek leef die evangelie voor my gesin, maar my kinders stel nie in God belang nie, hulle wil nie kerk toe gaan nie, hulle het nie eers Bybels nie. Vaders het nie ‘n maklike taak nie. En die wereld maak dit al moeiliker vir ons. Ek kan vanoggend vir Vaders net twee stukke raad gee. Hou vas aan Christus!! Want Jesus is ons hoop, Hy is ons vreugde, Hy is ons uitkoms, Hy is die Een wat terugkom vir ons. Tweedens, bly leef die evangelie van waarheid voor jou gesin, hou aan, hou aan, hou aan! En ons verkondig Christus, en weer, en weer, en weer…..totdat ons Christus begin sien in ons huis. Want God sal sorg!