Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hand 8: 1 – 8, en vers 25 en 9: 10 – 19 Ek sou baie meer dele wou saam lees vanoggend. Maar kom ons volstaan vir eers met net die paar. Ek was al ‘n paar keer in die moeilikheid. Een keer was dit my dogters. Ek en van my dogters het op die stoep gesit en gesels. Hulle was amper klaar met hulle studies. Dit was seker ‘n Desember gewees? Wat ek wel onthou is dat die een vir my sê: Pa, ek wil nou nie lelik wees nie maar ons wil nie vir altyd by jou bly nie. Ek sê toe: Dis wonderlik want ek wil nie hê julle moet altyd onder my dak bly nie. Ha! Dit was blykbaar toe nie so ‘n goeie reaksie van my af nie. So ek verduidelik toe: Ek wil die vreugde hê van sien hoe hulle hul seile span en groei. ‘n Ander keer wat ek in die sop beland het, was toe ek ‘n kinderdiens gebou het rondom die manne se trots: hulle groot 4x4 bakkies. Ek het oor geloof gepraat. En geloof is iets wat geleef moet word. Dis nie iets wat jy net het nie. Jy moet dit gebruik vir wat dit bedoel was. Als was okay tot hier toe. Die moeilikheid het gekom toe ek dit met die 4x4 bakkies vergelyk en sê: wat is die punt van ‘n 4x4 bakkie as jy dit net so dan en wan met dit ry en dan boonop net op die teer ry en die res van die tyd dit veilig in die motorhuis bêre. ‘n 4x4 is gebou om te werk en rowwe grondpaaie tery ook. En vir die teer. En vir Sondae erediens toe. ‘n Paar manne het nie daarvan gehou nie. Ek vermoed hulle was teerpad mense. Geloof is net so. God gee jou ‘n splinternuwe lewe, (wedergeboorte) en sê pas dit op maar gebruik dit in die koninkryk. Na Sy opstanding uit die dood – Sy oorwinning oor die dood – het Jesus vir Sy dissipels en vir die vroue en ander wat saam met hulle in die bo-vertrek weg gekruip het: Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook (Johannes 20:21). Die boek Handelinge vertel vir ons hoe het hierdie manne en vrou en al die ander gelowiges met hulle geloof gaan werk. Kyk, as geloof ‘n bakkie was, hulle het met daardie bakkies gewerk en die wêreld op sy kop gekeer. Hulle het Jerusalem laat regop sit en laat kennis neem van Jesus die Verlosser. Die Heilige Gees het gewerk en hulle was beskikbaar. Hulle het saam geeet en saam gebid en saam vasgehou aan die evangelie. En hulle het vir mekaar gesorg. En God? God het elke dag mense by die gemeente gevoeg. Hulle het hulle seile volgens die wind gespan. Die wind wat God gegee het. Daar was storms. Die Joodse raad het Petrus en Johannes gedreig. Op ‘n stadium erg laat slaan om hul stil te kry. Dit het nie gewerk nie. Hierdie mense se seile was reg gespan vir die wind wat die Heilige Gees gegee het. Iets het wel verander. Die gelowiges het nie meer so mooi gekyk hoe hulle hul seile span nie. Hulle het die opdrag wat gesê het: Julle sal die Heilige gees ontvang en julle sal MY (Jesus) se getuies wees in Jerusalem, Judea, Samaria tot die uithoeke van die wêreld toe. Hulle het met die opdrag vasgehaak in Jerusalem. Ons leef mos ons geloof, sou ek gedink het. My seile is gespan. Toe breek vervolgings in Jerusalem uit. Die druk bou op. En dit is hier waar hulle hul seile meer volgens die wind wat God gee gespan het. Baie het gevlug. Party het in Jerusalem agter gebly en die werk daar bly doen. Onder hulle was die apostels, maar daar was ook ander. Ons lees later in Handelinge meer van die gemeente in Jerusalem. Hulle het duidelik steeds hul geloof daar geleef. Die ander gelowiges het sover hulle gevlug het, die evangelie verkondig. Hulle het die hawe verlaat en hul seile gespan en waar God hulle heen geneem het, het hulle vertel dat Jesus die Seun van God is en redding net in en deur Sy Naam geskied (Hand 4: 12). En die apostels? Hulle is Samaria toe gestuur. Waarheen? Samaria. Soos die opdrag van die begin af was. En ons lees in 8:25, dat oppad terug van Samaria af het hulle in al die dorpies die evangelie verkondig. Kom ek skets ‘n paar prentjies van seile span na waar God die wind heen laat waai. Ons het nou al gewys op die gelowiges wat haastig uit Jerusalem moes padgee. Wel in hoofstuk 8 lees ons ook van Filippus. Hoe die Heilige Gees deur hom gewerk het. Vers 6ev 6 Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. 7 Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. 8 Daar was groot blydskap in daardie stad. Acts 8:6-8 Die resultaat was wat die Heilige Gees gedoen het. Filippus het sy seile gespan soos God gesê het en die Heilige Gees het die resultate gebring. Ek en jy is nie veronderstel om oor die resultaat te dink nie. Ek en jy is veronderstel om met ons gawes uit te gaan en te doen wat God van ons vra. Soos ‘n Dorkas. Ook genoem, Tabita. Sy het vir die arm weduwees gesorg. Soos Stefanus tot en met sy dood. Hy het as diaken gedien. En toe preek hy sommer vir die Joodse Raad ook. Hulle sê die Raad was woedend en het op hulle tande gekners. En Stefanus? Vol van die Heilige Gees het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan God se regterhand staan. God het nog altyd gewone mense geroep, gebruik, gestuur. Die boek Rigters is vol van gewone mense, Otniël, Gideon (wat weg gekruip het), vroue soos Deborah. Elisa vir wie God agter die ploeg en osse gaan uithaal het. Om net enkeles te noem. En ja vir die uitsonderlike groot goed, elkeen het geweet dit is God wat dit sê en presies wat God wil hê. En God het die werk gedoen. God het elke keer die deurslag gegee. In die Nuwe Testament, die apostels, jy weet hulle is manne wat deur die rabbies al weg gewys is as nie goed genoeg om verder in die wet opgelei te word nie. Terug gestuur is na die beroepe van hul ouers. Vissermanne. ‘n Tollenaar. Twee manne met erge humeure. Die Joodse Raad het opgemerk dat Petrus en Johannes ongeleerde en eenvoudige mensre(Hand 4: 13) was. Wat hulle misgekyk het, nie verstaan het nie, was dat hierdie einste volgens hulle, ongeleerde en eenvoudige mense, vol van die Heilige Gees van God was (vers 8). Ek onthou dat Jesus in Matteus 10 reeds vir hulle gesê het om nie te bekommer oor wat in die howe gaan gebeur nie want die Heilige Gees sal op daardie oomblik vir hulle gee wat hulle moet sê. Maw Span julle seile, God sal die wind gee. En die woorde gee. En die genesings en mense by die gemeente byvoeg. En die wind weet ons dryf ‘n seilboot aan, bepaal die spoed en koers. God bepaal ons rigting. Kom ons praat rigting. So Filippus werk met groot sukses in Samaria. ‘n Engel van die Here het vir Filippus kom sê gaan loop teen vanmiddag langs die pad wat van Jerusalem af na Gasa toe loop. Die Bybel sê dit was ‘n stil pad. Maw dit maak nou nie sin om daar te gaan loop as die werk in die stad so goed aan die gang is nie. Filippus het die seilespan ding verstaan. Hy kies gehoorsaamheid. Hy gaan. En dan lees ons van die Ethiopier, ‘n man met ‘n hoë pos aan die hof van die koningin daar. Hy kom tot bekering en die evangelie gaan Ethiopie toe. Ethiopie, vir daardie tyd, seker so iewers op pad heen na die uithoeke van die wêreld. Ek is groot gemaak met die storie dat ons hier aan die Suid punt van Afrika geplaas is om die evangelie te bring. Ons het die lig gebring en dit seker ook in sekere opsigte sommer weer dood geblaas ook. Ek onthou ‘n man wat een aand vir my vertel het van ‘n visie wat hy gehad het dat God hier vanuit Deneysville weer die lig wil laat skyn. Dit het wonderlik geklink. Daardie man is al oorlede, en ek wonder hierdie week hoe sterk skyn die lig van hier af uit. Is ons besig om Jesus te leef en met mense oor Jesus te praat en om mense na Jesus toe aan te trek met hoe ons voor Hom leef. Kan hulle die Heilige Gees sien werk en staan hulle verwonderd oor wat God doen. Ek sien in Handelinge 8 hoe die mense van van die dorpe God geloof en geprys het. Nie vir Petrus nie. Vir God. Hoe mense God raak gesien het in wat God deur gewone gelowiges gedoen het. ‘n Laaste storie. Die storie van Ananias. Kyk, Saulus het die mense in beroering Gehad. Hy het vir hulle bang Gehad met sy vuur en ywer teen die gelowiges. Ananias was ook bang. Toe die Here hom roep, toe antwoord Ananias baie mooi: “Hier is ek, Here.” Ananias het goed geweet wie met hom praat. Hy het presies geweet wat die Here vir hom sê ook. Toe die Here vir hom sê gaan bid vir Saulus, daar in Langstraat, persoon tot persoon, toe slaan die skrik en bang deur. Toe kom die verskonings. Maar God is nie ‘n God vir verskonings nie. Moses moes maar gaan. Gideon moes maar gaan. En Ananias ook. Hy het gaan doen soos die Here bevel het. En Saulus kon weer sien en Saulus het Paulus geword en die evangelie het tot die uithoeke van die aarde gegaan. Vandag lees ons Paulus se briewe. Groei sy lewe ons geloof. Ek glo dat die Heilige Gees nou ‘n nuwe hoofstuk skryf. ‘n Handelinge deel 7, of so iets. En ek wonder of ek en jy, ons stories saam met God, die stories van hoe on sons seile gespan het, hoe ons ‘ons Jerusalem, ons veilige hawens” verlaat het om werklik te dien. Al wat vanoggend oorbly om te vra is: As jy ‘n 4x4 was, God se 4x4, duurgekoop, is jy van die tipe wat in ‘n motorhuis veilig gestoor word en net so nou en dan op die teer ry as al die omstandighede gunstig is? Is jy gereed dat God vir ons, Sy kinders, kan sê: Ek wil hê jy moet jou seilespan en Jesus gaan leef. Ek, die Here jou God, sal my Woord nie leeg na my toe laat terug keer nie. Gaan ons ou klompie God se lig laat skyn, soos die Here verlede week deur Dirk aangekondig het?