Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Seile is gespan, God se Wind waai, gaan nou uit en Seil…… Johannes 6:16–21 1. Ons gemeente se leuse lui: “Span die seile, God gee die wind.” Oor die afgelope paar weke het ons saam nagedink oor hierdie waarheid. Ons het gesien dat God die Een is wat voorsien. Hy is die Een wat die wind stuur. Hy is die Een wat sy kerk onderhou, lei en bewaar. Sonder Hom kan ons niks doen nie. Maar vandag kom ons by die volgende belangrike stap. 'n Skip is nie gebou om permanent in die hawe te lê nie. Die seile word nie gespan sodat almal dit kan bewonder nie. Die seile word gespan sodat die skip kan beweeg. 2. Ons teks in Johannes 6:15–21 gee vir ons 'n treffende beeld van dissipels wat op die water is terwyl Jesus hulle stuur. Hierdie gedeelte volg direk op die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en die visse. Die skare was so beïndruk deur Jesus dat hulle Hom met geweld koning wou maak. Maar Jesus het geweier om volgens hulle planne op te tree. Hy het Homself onttrek en alleen na die berg gegaan. Markus se vir ons dat Hy die berg opgegaan het om te bid. Die dissipels het intussen in opdrag van Jesus in 'n boot geklim en na die oorkant van die see vertrek. 3. Hierdie eenvoudige gebeure wys vir ons as gemeente ‘n paar waarhede van hoe God se mense geroep word om te beweeg, om te gehoorsaam, om te vertrou en om die teenwoordigheid van Christus te beleef terwyl hulle op pad is. Die eerste waarheid wat ons hier sien, is dat die dissipels gestuur word om uit te gaan. Markus se weergawe se vir ons dat Jesus hulle aangese het om in die boot te klim en oor te vaar na Betsaida toe. 4. Hulle het nie sommer op eie inisiatief vertrek nie. Hulle was besig om die wil van hulle Meester uit te voer. Dit is belangrik. Die kerk van Jesus Christus bestaan nie bloot om bymekaar te kom nie; die kerk bestaan om gestuur te word. Van die begin af was God se volk 'n gestuurde volk. Toe God vir Abraham geroep het, het Hy gesê: “Gaan uit jou land.” Toe Hy Moses roep, stuur Hy hom na Egipte. Die profete is gestuur. Die dissipels is gestuur. Na sy opstanding sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 5. Ons praat maklik van sending asof dit 'n spesiale bediening vir 'n paar mense is. Maar sending is die hartklop van die kerk. Die kerk wat nie uitgaan nie, vergeet waarom sy bestaan. Die kerk wat net na binne kyk, verloor haar roeping. Daarom pas ons gemeenteleuse so mooi hierby. Die seile word gespan met die doel om te beweeg. As ons sê: “God gee die wind,” maar ons bly veilig in die hawe, gaan ons nooit ervaar waarvoor die wind gegee is nie. God se bedoeling is dat sy kerk op reis moet wees. 6. Vir sommige beteken dit om die evangelie met 'n buurman te deel. Vir ander beteken dit om iemand wat afgedwaal het, weer op te soek. Vir ander beteken dit om in die werkplek vir Christus te getuig. Vir ander beteken dit om betrokke te raak by evangelisasie, sendingwerk of diens aan die gemeenskap. Of om iemand te nooi na die erediens toe. Die vorm verskil, maar die opdrag bly dieselfde: GAAN. 7. Die tweede waarheid wat ons in hierdie gedeelte sien, is dat gehoorsaamheid nie altyd gemaklik is nie. Toe die dissipels vertrek het, was alles aanvanklik normaal. Maar later het die wind begin waai. Die see het onstuimig geraak. Duisternis het toegesak. Hulle het geroei en geworstel. 8. Dit is opvallend dat die storm gekom het terwyl hulle gehoorsaam was. Soms dink mense dat as ons die wil van God doen, alles maklik sal verloop. Maar die Bybel leer nie dit nie. Baie keer ontmoet ons juis teenstand wanneer ons die Here gehoorsaam. Wanneer 'n gemeente ernstig raak oor die uitbreiding van God se koninkryk, sal daar uitdagings kom. Daar sal teleurstellings wees. Daar sal mense wees wat nie wil luister nie. Daar sal tye wees wanneer dit voel asof min vrug sigbaar is. Daar sal geestelike weerstand wees. Soms sal ons moedeloos voel. 9. Die dissipels het dit ook beleef. Die wind was teen hulle. Hulle moes hard werk om vorentoe te beweeg. Dit is dieselfde in die geestelike lewe. Om passief te wees verg min inspanning. Om in die veilige hawe te bly voel gerieflik. Maar om jou seile te span en toe te laat dat God se wind jou uitstuur vra geloof, moed, opoffering en volharding. 10. Die derde waarheid is dat Christus sy mense ontmoet terwyl hulle onderweg is. Terwyl die dissipels gesukkel het op die see, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het nie gewag totdat hulle die oorkant bereik nie. Hy het hulle nie eers ontmoet nadat die storm verby was nie. Hy het na hulle gekom in die middel van hulle storm. In die middel van hulle nood. Johannes beskryf hoe hulle Jesus op die water sien loop. Hulle reaksie was aanvanklik vrees. Hulle het nie verstaan wat hulle sien nie. Maar toe hoor hulle sy stem: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” 11. As ons uitvaar, as ons die hawe agterlaat, gaan ons nie alleen nie. Die Here stuur ons nie weg en laat ons dan aan onsself oor nie. Hy gaan saam met ons. Eintlik, wanneer ons uitgaan om sy koninkryk te verkondig, gaan Christus reeds voor ons uit. Hy is reeds besig om harte voor te berei. Hy is reeds besig om mense te trek. Hy is reeds aan die werk lank voordat ons opdaag. 12. Hoe dikwels het gelowiges al ervaar dat God reeds in iemand se lewe besig was voordat hulle die evangelie gedeel het? Hoe dikwels het mense ontdek dat die Here reeds vrae, verlange en oop deure geskep het? Ons taak is om gehoorsaam te wees. God sal die werk doen. 13. Dit is presies wat ons gemeenteleuse uitdruk. Ons span net seile. Ons stel onsself beskikbaar. Ons gehoorsaam die opdrag. Maar die wind kom van God af. Die krag kom van God af. Die resultate kom van God af. 14. Die vierde waarheid is dat vrees een van die grootste struikelblokke vir getuienis is. Toe die dissipels Jesus op die water sien aankom, was hulle bang. Hulle eerste reaksie was nie geloof nie, maar vrees. Markus se dat hulle geskree het van vrees. Ons is bang om te misluk. Ons is bang vir verwerping. Ons is bang dat ons nie die regte woorde sal hê nie. Ons is bang dat ons nie genoeg weet nie. 15. Maar wanneer ons na die Bybel kyk, sien ons dat God nog nooit deur perfekte mense gewerk het nie. Hy werk deur beskikbare mense. Die dissipels was nie die geleerdste mense van hul tyd nie. Hulle was nie die invloedrykste of mees gerespekteerde mense nie. Tog het God hulle gebruik om die wêreld te verander omdat hulle bereid was om hulle seile vir God se Gees te span. Hierdie vrese is nie nuut nie. Die dissipels het dit ook geken. Die vroeë kerk het dit ook beleef. 16. Maar luister na Jesus se woorde: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Die oplossing vir vrees is nie groter selfvertroue nie. Die oplossing is groter vertroue in Christus. Die dissipels se moed het nie teruggekeer omdat die storm onmiddellik verdwyn het nie. Hulle moed het teruggekeer omdat Jesus daar was. Ons hoef nie op onsself te vertrou nie. Ons vertrou op die Here wat belowe het: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Wanneer ons onthou Wie saam met ons gaan, verloor vrees sy mag. 17. Die vyfde waarheid is dat God se koninkryk groei wanneer sy mense beskikbaar raak. Ons teks word nie om dowe neute voorafgegaan met die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vis nie. Vyf brode en twee vissies het in die hand van Jesus genoeg geword om duisende mense te voed. God gebruik gewone dinge. Hy gebruik gewone mense. Hy gebruik gewone dissipels. Hy gebruik eenvoudige gehoorsaamheid. 18. Die wêreld sê dat groot resultate groot hulpbronne vereis. Maar die Here wys telkens dat Hy klein dingetjies gebruik om groot dinge te doen. 'n Klein gesprek kan 'n lewe verander. n uitnodiging kerk toe kan 'n gesin bereik. 'n Gebed kan iemand se ewige bestemming beïnvloed. 'n Woord van bemoediging kan iemand nader aan Christus bring. Ons sien dikwels net die kleinheid van ons bydrae. God sien die moontlikhede van sy krag. 19. Daarom moet ons nie wag totdat ons dink ons is slim genoeg, geleerd genoeg of ervare genoeg nie. Die dissipels was ook nie volmaak nie. Tog het Christus hulle gebruik. Die vraag is nie of ons genoeg het nie. Die vraag is of ons bereid is om wat ons het in sy hand te plaas. 20. Die sesde waarheid is dat die kerk geroep word om die hawe te verlaat. Jo Black sing die bekende liedjie SKEPE en die woorde begin soos volg: “‘n Skip word in n hawe gebou, 'N Skip lyk in 'n hawe baie mooi vir my en jou, Maar dis nie waarvoor skepe gemaak word nie.” Dieselfde geld vir die kerk. 21. Dit is goed dat ons saam aanbid. Dit is goed dat ons Bybelstudie hou. Dit is goed dat ons mekaar bemoedig. Maar al hierdie dinge het 'n doel. Dit rus ons toe vir die wêreld daar buite. Die gevaar vir enige gemeente is dat sy uiteindelik al haar energie bestee aan interne sake. Dan word die kerk soos 'n skip wat voortdurend geverf, herstel en opgepas word, maar nooit vaar nie. Jesus het nie gesê: “Bly waar julle is” nie. Hy het gesê: “Gaan dan heen.” Dikwels praat ons oor die troos, vrede en krag wat die Heilige Gees in ons lewens bring. En dit is alles waar. Die Gees troos ons, lei ons, versterk ons en vorm ons al meer na die beeld van Christus. Maar die Gees werk nie net IN ons nie; Hy werk ook DEUR ons. 22. Die wêreld rondom ons is vol mense wat sonder hoop leef. Daar is mense wat nog nooit werklik die evangelie verstaan het nie. Daar is mense wat die kerk verlaat het. Daar is mense wat seerkry, worstel en soek. As die kerk nie na hulle toe gaan nie, wie sal? 23. Die kerk kan vergelyk word met 'n hawe waar skepe voorberei word vir hul reis. In die hawe word herstelwerk gedoen. Voorraad word ingelaai. Die bemanning word toegerus en voorberei. Maar die hawe is nooit die eindbestemming nie. Skepe is gemaak om die see te vaar. Net so is die gemeente die plek waar gelowiges toegerus word, bemoedig word en geestelik gevoed word. Maar dit mag nie daar eindig nie. 24. Die sewende waarheid is dat die eindbestemming verseker is omdat Christus in beheer is. Johannes vertel dat die dissipels Jesus in die boot ontvang het en dat hulle spoedig die land bereik het waarheen hulle op pad was. Dit is 'n wonderlike afsluiting. Die storm het nie die laaste woord gehad nie. Die wind het nie die laaste woord gehad nie. Die golwe het nie die laaste woord gehad nie. Jesus het die laaste woord gehad. 25. Die kerk van Christus leef in 'n wêreld van onsekerheid. Kultuur verander. Samelewings verander. Uitdagings neem toe. Alles word bevraagteken. Soms lyk dit asof die kerk al hoe kleiner word en of die evangelie minder invloed het. Maar die Here bly Koning. Hy bou steeds sy kerk. Hy red steeds mense. Hy verander steeds harte. Hy maak steeds dissipels. 26. Die uiteinde van die verhaal is nie onseker nie. Christus sal sy doel bereik. Die koninkryk van God sal kom. Die evangelie sal vrug dra. Die Here sal verheerlik word. Daarom werk ons nie uit wanhoop nie. Ons werk uit hoop. 27. Gemeente, oor die afgelope weke het ons gepraat oor die wind wat God gee. Vandag kom die vraag na ons toe: Is ons bereid om die seile te span en uit te vaar? Nie môre nie. Nie eendag nie. Nou. Die Here het ons nie gered sodat ons bloot gemaklik kan leef totdat ons hemel toe gaan nie. Hy het ons gered om deel te wees van sy missie in die wêreld. 28. Elke mens wat tot geloof kom, elke lewe wat verander word, elke hart wat genees word en elke verhouding wat herstel word, is 'n teken dat die Koninkryk van God besig is om deur te breek. Daar is mense wat wag om die evangelie te hoor. Daar is mense wat wag vir 'n woord van hoop. Daar is mense wat wag vir iemand om die liefde van Christus sigbaar te maak. Die Here roep ons nie almal na dieselfde plekke nie. Maar Hy roep elkeen van ons om deel te wees van sy plan. 29. Miskien begin dit met een gesprek hierdie week. Miskien begin dit met 'n uitnodiging. Miskien begin dit met 'n gebed vir iemand wat ver van die Here af leef. Miskien begin dit deur eenvoudig beskikbaar te wees. Maar dit moet begin. Want die skip is nie gemaak vir die hawe nie. Die seile is nie gemaak om opgevou te bly nie. Die kerk is nie geroep om stil te staan nie. Ons Here sê steeds: “Gaan.” 30. En terwyl ons gaan, ontdek ons dieselfde waarheid as die dissipels op die See van Galilea: die Here self kom na ons toe, Hy gaan saam met ons, Hy stel ons gerus, Hy gee die wind, en Hy bring ons veilig by die bestemming wat Hy bepaal het. Mag ons daarom met geloof en gehoorsaamheid antwoord: “Here, ons sal die seile span. Ons sal uitgaan. Ons sal u koninkryk verkondig. En ons vertrou dat U die wind sal gee.” Amen.