Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Kor 5:16-21 – Maak klaar met die verlede…. 1. Een van die grootste leuens wat baie mense met hulle saamdra, is die oortuiging dat hulle familiegeskiedenis die finale sê oor hulle toekoms het. Hulle kyk na geslagte van verslawing, egskeiding, armoede, mishandeling, depressie, woede, siekte of disfunksie en neem stilweg aan dat wat waar was van diegene voor hulle, uiteindelik ook van hulle waar sal wees. Hulle sê dit dalk nie hardop nie, maar diep binne glo hulle dat hulle ’n stryd voer wat hulle bestem was om te verloor nog voordat hulle gebore is. 2. Die wêreld leer dikwels dat jy die produk van jou omgewing, jou opvoeding, jou genetika of jou familielyn is. Hoewel hierdie dinge jou kan beïnvloed, definieer hulle jou nie. Die werklikheid van die evangelie is veel groter is as jou natuurlike geskiedenis. Wanneer jy jou geloof in Jesus Christus plaas, word jy deel van ’n nuwe familie met ’n nuwe identiteit, ’n nuwe erfenis en ’n nuwe toekoms. “Die oue is verby, die nuwe het gekom” se Paulus in ons teks. 3. Baie gelowiges spandeer jare daaraan om hulle familiegeskiedenis te bestudeer terwyl hulle hulle geestelike geskiedenis verwaarloos. Hulle kan jou alles vertel wat in vorige geslagte verkeerd gegaan het, maar hulle weet baie min van wat Jesus namens hulle volbring het. Gevolglik is hulle, meer bewus van geslagtelike swakhede as van verbondsbeloftes in Christus, en meer vertroud met familiedisfunksie as met hulle identiteit as kinders van God. 4. Die oomblik toe jy wedergebore is, het iets bonatuurliks gebeur. Jy is nie net vergewe nie. Jy is oorgeplaas (weggeruk) uit die koninkryk van duisternis na die koninkryk van God se geliefde Seun se Kol 1:13. Jou primêre identiteit is nie langer gewortel in jou aardse familie nie. Dit is gewortel in Christus. Jy het dalk jou vader se oë, jou moeder se glimlag of sekere persoonlikheidseienskappe van jou familie geërf, maar jou geestelike identiteit kom nou van jou hemelse Vader. 5. Paulus skryf in ons teks vanoggend: "Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens”. Die OV se jy is ‘n nuwe SKEPSEL. Let op dat hy nie sê ons word bloot verbeter of herstel nie. Hy sê ons word nuut. God neem nie net ons ou lewe en maak dit 'n bietjie beter nie. Hy gee aan ons 'n nuwe identiteit, 'n nuwe begin en 'n nuwe hoop. Iets wat nooit voorheen bestaan het nie. 6. Dit is waarom die apostel Paulus herhaaldelik beklemtoon het dat ons “in Christus” is. Die NT gebruik die term “in Christus” tussen 76 en 93 keer, afhangende van watter vertaling jy gebruik. Sommige meen dat die helfte daarvan vind ons in die boek Efesiers. Hy het verstaan dat alles verander wanneer ’n mens met Jesus verenig word. Jou verlede mag sommige van jou worstelinge verklaar, maar dit bepaal nie jou bestemming nie. Jou familiegeskiedenis mag verduidelik waar jy begin het, maar dit bepaal nie wat God jou gemaak het en waarheen God jou kan neem nie. Genade het ’n manier om verhale te herskryf en om dit wat onmoontlik gelyk het, te verander. 7. Dit beteken nie dat ons verlede nooit bestaan het nie. Dink aan Abraham. Hy het uit ’n familie gekom wat in afgodery vasgevang was. Tog het God hom geroep, hom geseën en hom die vader van die geloof gemaak. Dink aan Ragab. Haar verlede was gekenmerk deur skaamte en gebrokenheid, sy was ‘n prostituut, en tog het sy deel geword van die geslagslyn van Jesus. Dink aan Dawid. Hy was die vergete seun in sy eie familie, oor die hoof gesien deur dié wat die naaste aan hom was, tog het God hom gekies om koning te wees. 8. En wat van Maria Magdalena? Jesus het haar bevry en haar lewe totaal verander. Sy het een van die eerste getuies van die opstanding geword. Haar verlede het haar nie uitgesluit van God se plan nie. Regdeur die Skrif demonstreer God telkens dat Hy nie beperk word deur iemand se agtergrond, familiegeskiedenis of vorige mislukkings nie. Hoekom? Omdat God nie mense definieer deur hulle verlede nie, maar deur Sy genade. As God nie ons familiegeskiedenis teen ons hou nie, hoe DURF ons dit doen ? 9. Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: "Dit is volbring," het Hy nie net vir ons sondes betaal nie; Hy het ook die mag van ons verlede gebreek. Alles wat teen ons getel het, is op Hom geplaas. Die skuld wat ons moes dra, het Hy gedra. Die straf wat ons verdien het, het Hy op Hom geneem. Daarom hoef ons nie langer as gevangenes van ons verlede te leef nie. 10. Baie mense probeer steeds hulle verlede saam met hulle dra. Dit is soos iemand wat uit 'n tronk vrygelaat is, maar steeds die kettings om sy enkels wil saamdra. Christus het die kettings losgemaak. Waarom sal ons dit weer optel? Ons moet egter verstaan dat 'n nuwe lewe nie beteken ons sal nooit weer struikel nie. Christene is steeds mense wat groei. God werk daagliks in ons lewens. Soos 'n kind nie op sy eerste dag alles weet nie, groei gelowiges ook stap vir stap in gehoorsaamheid en heiligmaking. Ons is almal geredde mense wat nog onder konstruksie is. Maar die verskil is dat ons nie meer vanuit nederlaag leef nie; ons leef vanuit oorwinning wat Christus reeds behaal het. 11. Daarom hoef ons nie vas te kyk in die truspieël van die verlede nie. Daar is ‘n rede waarom ‘n motor se voorruit groter is as sy truspieeltjie. Die truspieël het sy doel, maar jy kan nie veilig vorentoe ry as jy net daarna kyk nie. Net so herinner die verlede ons aan God se genade, maar ons fokus moet op Christus en die pad vorentoe wees. 12. Die vyand hou daarvan om mense te oortuig dat hulle vasgevang is in waar hulle vandaan kom. Genade herinner jou daaraan dat jou toekoms bepaal word deur waarheen Christus met jou op pad is. Die kruis is groter as jou herkoms. Die opstanding is groter as jou familiegeskiedenis. Die bloed van Jesus spreek ’n beter woord oor jou lewe as enige fout, mislukking, swakheid of disfunksie wat moontlik in vorige geslagte bestaan het. 13. Een van die mooiste waarhede van die evangelie is dat God jou nooit vra om deur jou eie krag te oorwin nie. Hy kyk nie na jou familiegeskiedenis en sê vir jou om net harder te probeer nie. Hy wys jou na Jesus. Elke belofte, elke seën, elke hulpbron en elke oorwinning wat jy nodig het, word in Hom gevind. 14. Baie mense skep vir hulleself hierdie gevangenisse waarin hulle hul hele lewe leef met die verwagting dat die geskiedenis homself sal herhaal. Hulle berei voor vir mislukking omdat mislukking al is wat hulle ooit gesien het. Maar geloof verwag iets anders. Geloof glo dat God iets nuuts doen. Geloof glo dat wat vir geslagte onmoontlik was, moontlik kan word deur die voltooide werk van Jesus Christus. Geloof glo dat God se genade sterker is as enige patroon of familiegeskiedenis. 15. Jy word nie beperk deur waar jy vandaan kom nie. Jy word bemagtig deur die Een aan wie jy behoort. Jy word nie gedefinieer deur die mislukkings van vorige geslagte nie. Jy word nie gedefinieer deur ‘n Pa wat ‘n alkoholis was nie, of ‘n ma wat van die een buite-egtelike verhouding na die ander gespring het nie. Jy word gedefinieer deur die oorwinning van Jesus Christus. Jy dra nie die gewig van jou familie se verlede op jou skouers nie. Jesus het daardie gewig na die kruis gedra en verklaar: “Dit is volbring.” Jou familiegeskiedenis mag deel van jou verhaal wees, maar dit is nie die skrywer van jou verhaal nie. Jesus is. 16. Daar is egter iets belangrik in ons teks. Paulus sê: "Iemand wat aan Christus behoort..." Die nuwe lewe word nie gevind deur harder te probeer of deur beter mense te wees nie. Dit word gevind deur in 'n verhouding met Jesus Christus te leef. Wanneer ons ons vertroue in Hom plaas, gebeur daar iets wat ons self nooit kon doen nie. God verander ons van binne af. 17. Dieselfde God wat Christus uit die dood opgewek het, leef nou in jou. Dieselfde genade wat jou gered het, is besig om jou te verander. En God het jou nie net gedeeltelik gered nie. Hy het nie net sekere fasette van jou lewe gered en die res gelos sodat dit steeds die duiwel se speelplek bly nie. ‘As die Seun julle vrygemaak het sal julle waarlik vry wees.” Dis Johannes wat so se. Ten volle. In totaliteit. Geliefdes, dieselfde Gees wat lewe in jou geestelik dooie hart gebring het, lei jou na ’n toekoms wat nie deur jou verlede bepaal word nie, maar deur God se beloftes. 18. Jou familiegeskiedenis mag dalk se waar jy vandaan kom. Maar Jesus bepaal jou einde. Maak daarom klaar met die invloed van jou verlede. Moenie toelaat dat ‘n disfunksionele familiegeskiedenis soos ‘n swaard oor jou kop bly hang nie. Breek daarmee en leef die oorwinningslewe wat Christus vir jou bewerkstellig het.