Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 7: 14 – 24 Ek glo dat sonde nie die finale woord op my en jou lewe het nie. Daarvoor het Jesus aan die kruis en met Sy oorwinning oor die dood gesorg. Ek glo dat God nie wil hê dat sonde my en jou lewe moet definieer nie. Ons lewens moet deur Sy Gees beheer en gedefinieer word. Ek glo dat God se doel met ons lewens is oa dat ons gelykvormig moet word aan die beeld van Sy Seun (Rom 8: ). Ek glo, soos Paulus, dat Jesus al hoe meer gestalte in ons moet kry (Gal 4). Ek glo dit en ek huil omdat ek dit daagliks ontdek dat dit nie waar is in wat ek doen nie. Ten spyte dat ek gered is. 1. So, hoekom is hierdie teks dan belangrik vir ons vandag? Want sonde staan vierkantig geplant tussen ons en God se doel met ons lewens! Dit breek my hart dat ons so blind is vir dit en steeds sonde in ons lewens toe laat! Sonde keer dat mense Jesus in ons lewens kan sien. Sonde keer dat ons ons eie-ek uitgeskop kan kry. Sonde maak dat daar soveel hartseer om ons is. Sonde maak ons blind vir mekaar. Het jy al met jou motor in ‘n swerm rysmiere in gery? Jou hele voorruit is die ene vetkolle en gemors. Jy kan amper nie eers daardeur kyk nie. En maak jy die fout om die ruitveers aan te sit, dan is dit verby ... dan sien jy niks meer nie. Jy moet maar aftrek en plan maak. Verder ry is uit. Dit is hoe sonde werk. Dit maak die ruite van jou lewe so vuil en vetterig dat God se lig glad nie daardeur kan uit skyn na buite toe nie. En ook nie inskyn na diep binne in jou nie. En ek vermoed sonde maak jou doof vir God se stem. En God word vir jou al hoe verder en verder weg. Voor ek nou sê hoe ons hierdie probleem kan oorkom, moet ons net eers na Paulus luister. ‘n Mens kan Paulus se woorde hier beskryf as hierdie oorlog wat binne in elke mens woed. Dit is die een geveg op die ander. En meer dikwels is ek en jy aan die verloor kant. Let op wat Paulus skryf: 14 Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. 15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Een stukkie troos is dat die oorlog is klaar gewen. Jesus het dit daardie paasnaweek soveel eeue gelede gewen. Die uitslag is bekend: Wie in Jesus glo het die ewige lewe. En het lewe in oorvloed nou. Maar die oorlog is nog aan die gang. Die duiwel is steeds soos ‘n brullende leeu. Jy mag dalk weet hy is vasgebind maar waag dit te naby en hy eet jou op. Paulus is hier soos ‘n wetenskaplike wat ‘n universele natuur wet ontdek. Bv die wet van swaartekrag. Paulus se ontdekking is dat sonde ‘n wet is wat dit self laat geld binne jou. Saam met die wet van die Gees. So hierbinne in jou is hierdie oorlog aan die gang tussen wet van sonde en wet van die Gees. Die wet van sonde is ‘n ou mens ding ... die sondige natuur ... wat jou terug wil trek op die bree weg ... op die doodspad. Die Gees is die stiller stem wat jou lei om God se wil te leef. En elke besluit of gedagte is of punte vir die een span of vir die ander. Kom ek probeer ‘n omskrywing: Ons het ‘n gesegde: Leë blikke maak die meeste geraas. Sonde maak geraas soos ‘n leë blik. Sonde trek jou, roep hard. Vertel met oorgawe hoe lekker en aanloklik dit is om dit of dat te doen. Hoe lekker dit sal wees om dit of dat kwyt te raak. Maar dit is doodstil oor die selfverwyte en hartseer wat jy na die tyd gaan beleef. Dit het ‘n manier om instinktief uit te pop. Asof van self. Voor jy jouself kon kry het jy dit klaar gesê of gedoen. Asof jy daarvoor geprogrammeer is. (Hou die gedagte vas). Die stem van die Gees is sag. Jesaja se omskrywing van die kneg van God is een wat nie hard roep op die markplein nie. Sag is. Soos die sagte briesie waarin Elia God se stem gehoor het. Dit is die stem wat deur gejaagdheid en besig wees verdring word. Dit is die stem wat jy doelbewus jou self op moet instel om te hoor. ‘n Stem wat jy in die stiltes leer ken. Die hartseer is dat ons meer kere in pas is met ons sondige geneigdhede en uit pas is met God. Dit is waaroor Pauus so ontseld raak. 2. Hoe breek ek hiermee? Gebed. Deur te bid word jyself ook verander. Gebed verander jou fokus. Gebed verander jou ingesteldheid. Gebed trek jou in waar jy kan oorgee aan dit wat God wil hê. Ons bid te min. En ons bid teveel vir alles behalwe wat God wil hê. Erken jou swakheid. Sê dit vir die Here. Sê dit sodat jy self dit kan sien. Jy is swak en kan slegs dit wat God gee uitleef as God jou help. Dink aan Jesus se antwoord aan Paulus toe Paulus gekla het oor die doring in die vlees. My genade is vir jou genoeg, Paulus. As jy swak is Ek, die Here, juis sterk. Jou eie pogings gaan gesaboteer word deur jou eie ek. Daar gaan hierdie stemmetjie opspring wat sê: Maar wat van my? Wanneer is dit my beurt? Dis onregverdig? Almal kan hoekom nie ek nie? Erken teenoor jouself en teenoor God dat jy die bal gaan laat val en die verkeerde dinge gaan doen en sê. Neem jou swakheid na die Here! Bely jou sondes. Gaan dieper –bely die bron, bely die dieper oorsaak wat agter daardie sonde sit. Kom ek verduidelik met twee stories. Een ten koste van myself. Iemand vertel my van die oumatjie wat getrou koffie gemaak het vir haar en oupa. Oupa se koffie is alles saamgegooi in die koppie: koffiepoeier, suiker en kookwater en laaste die melk. Met die teelepel regop in die koppie sodat oupa self kan roer. Ouma se koppie is ook gevul. Swart koffie so op die oog af. Tot die dag wat haar familie besef het dis nie koffie nie, al het sy getrou gaan koffie maak, hare koppie was nie koffie nie, dit was brandewyn en coke. So as jy haar koppie gaan stamp gaan jy nie koffie mors nie maar brandewyn en coke. Jy gaan nie om verskoning hoef te vra dat jy koffie gemors het nie nê? Ten spyte van maande waarin ek probeer leë-er word aan myself sodat Christus my juis kan vul met wat vir Hom belangrik is het die volgende gebeur. Ons is in Marloth. En ons wil aansit vir aandete op die stoep. En ek draai om, ingedagte, om net gou iets te gaan haal. En die dik glasskuifdeur wat ‘n minuut gelede nog oop was is toe en ek loop vir hom dat die skok tot in my stuitjie geregistreer het. En ek sê Wie die .... het die deur toegemaak? Sonde 1. Carlie 0. Vir die familie was dit skreeusnaaks. Vir my was dit verskriklik dat ek so iets kon sê. Veral in die pad wat ek meer intens probeer loop. Hoe kon ek? Later toe dink ek, is dit wat uitkom as my koppie gestamp word? Ek het dit voor God bely. Ek het dit nie afgemaak nie. Ek het hierdie verkeerde woord bely. En toe kom hierdie bewustheid dae later. Ek moet meer as net die verkeerde woord bely. Ek moet bely dat daar in my hart nog skadukolle is wat sulke woorde kan voortbring. Die probleem is nie die wêreld of ander mense nie. Die probleem is in onsself. As ek dink aan paasnagmaal. Johannes 13. Dat Jesus my voete moes was. En soos Petrus het ek op daardie oomblik toe ek bewus word dat dit dieper lê, het ek gevoel Here dan nie net my voete nie maar alles! My hele wese. Weer gereinig en geheilig vir U diens. Vra die Gees om jou te reinig. Daagliks. Jy word vuil op pad na die feesmaal. Jesus se gebed. Die onse Vader. Die dissipels wou hê Jesus moes hulle leer bid. Volgens Joodse gebruik was daar vaste gebedstye. En ook lang voorgeskrewe gebede. En die rabbies is dikwels gevra vir ‘n korter gebed wat gewone ouens tussen werk deur kan bid. Toe gee Jesus die onse Vader gebed. Let op die eerste bede. Laat U Naam geheilig word. God se eer eerste. God se grootheid eerste. Gebed gaan oor God eerste en nie soseer oor my behoeftes nie. Want God weet reeds wat my nood is so dit kan vir ‘n oomblik wag. Eie ek / sonde 0. Geesbeheersd 1. 2de bede. Laat U koninkryk kom. God se manier en God se idees en werke eerste. Weer: eie ek en my sondegeneigdheid 0. Geesbeheersd 2. So ook met die 3rde bede. Laat U wil geskied. Hierdie bede vat jou nes die voriges weg van jouself en die kans dat jy sonde gaan najaag na die punt wat waar wat God wil jou begeerte word. Sonde 0. Geesbeheersd 3. Deur ‘n sport telling hou as beeld probeer ek wys: Dit is hoe jy die wet van die sondige geneigdheid oorwin en al meer vir Christus leef. En as die verkeerde uitglip, soos in my geval, dan begin jy opnuut weer. En elke dag begin jy weer. Deur God se genade. En elke keer meer afhanklik en oortuig dat as God nie in jou werk nie dan gaan jy nie slaag nie. 3. Wat wil jy nou vir die Here sê? Dink hieroor. Die feit dat ons hierdie weerspreking in onsself ontdek beteken nie ek kan nou maar so voort ploeter in my geloof nie. Ek kan dit nie gelate aanvaar dat so dan en wan of dalk baie meer gereeld die verkeerde gaan uitkom as iemand my lewe stamp nie. Die feit dat ons nou weet wat en hoe om die stryd aan te pak beteken nie dat ons dit hierdie geneigdheid tot sonde gaan aanvat in ons nie. • Wat moet verander sodat jy Jesus passievol sal naleef? • Wat moet in jou verander sodat jy die Gees se leiding sal hoor en erken en uitleef? • Wat moet jy van hier af anders begin doen? Geleentheid vir nadenke. Geleentheid vir gebed.